|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
Hoofartikel
KERK EN KONINKRYK
Die Bybel noem in sy vertaalde weergawes nie die woordjie kerk nie. Nogtans is dit 'n grondliggende deel van ons Christelike geloof en word dit in die belydenisskrifte getipeer en beskryf as 'n gemeente wat deur die Seun van God vir Hom, deur sy Gees en Woord in die eenheid van ware geloof, uit die hele menslike geslag tot die ewige lewe uitverkies is en wat Hy van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou. Daarenteen word op talle plekke in die Bybel tog wel en spesifiek na die koningskap van Jesus Christus en die koninkryk van die hemele verwys. Handel dit oor dieselfde geloofsbegrippe of moet daar verskillende betekenisse aan geheg word? Is dit belangrik om dit te onderskei en waartoe lei dit in die toepassing en belewing van die Christelike, en meer in die besonder, met betrekking tot die Gereformeerde geloof?Die kerk word deur Jesus Christus vergader van die begin van die wêreld af, dit beteken dat hy reeds in die Ou Testament konkreet aanwesig was. Dit vind sy verbale vertolking in, byvoorbeeld Exodus 12: 3 by die instelling van die Pasga: "Spreek tot die hele vergadering van Israel ...". Ander tekste wat onder andere ook daarna verwys is Psalm 26: 12: "Ek sal die HERE loof in die vergaderings" en Psalm 74: 2: "Dink aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Sion waar U op gewoon het". Psalm 22 vertolk sterk die lofprysingskarakter van die samekomste van die Ou Testamentiese Verbondsvolk:
"Ik wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys" ... "Van U kom my lof in 'n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees" (Ps 22: 23 en 26). Waar dit, soos in die laasgenoemde Skrifgegewe die eenheidsbegrip aandui is dit in die grondteks weergegee as gemeente. Hierdie twee Afrikaanse weergawes van die oorspronklike (Hebreeuse) teks vertolk op 'n bepaalde wyse die begrip kerk in die Ou Testamentiese bedeling. Dit was die gemeenskap van (slegs) almal wat die teken van die besnydenis ontvang het en daarom gedeel het in die beloftes van die verbond wat, Ou Testamenties, heengewys het na die vervulling in Jesus Christus, soos die HERE God dit in die "moederbelofte" (Gen 3: 15) geprofeteer en aan Abraham, Isak en Jakob bevestig het.
Tydens en na die ballingskap van die volk Israel het daar veranderde omstandighede ontwikkel. Toe die tempeldiens nie meer waargeneem kon word nie, het daar vergaderings en gemeenskappe van Jode wat op die Sabbatte byeengekom het om die heilige geskrifte en die Thora te lees en onderwysing daaruit te verkry, ontstaan. Hierdie byeenkomste het die naam sinagoge ontvang wat ook verleen is aan die gebou waarin saamgekom is. Die betekenis van die woordjie sinagoge kom van die werkwoorde saambring en byeenkom. In die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuagint, word die woord ecclesia genoem, wat veral die begrippe van oproep en sameroeping verteenwoordig. Hierdie twee woorde, sinagoge en ecclesia, kry met die formasie van die Nuwe Testamentiese Christelike kerk uiteenlopende betekenis. Eersgenoemde bly verbind aan die byeenkomste en die lokaliteite van die Jode (tot op vandag). Daarenteen het ecclesia die verbale uitdrukking geword vir die kerk van Jesus Christus, soos Hyself in Mattheus 16: 18 daarna verwys het: "... op hierdie rots sal Ek my gemeente bou ...". Ecclesia kom voor in talle plekke in die Griekse weergawe van die Nuwe Testament, soms in die betekenis van die kerk as geheel, en andersins ook in die aanduiding van die plaaslike gemeentes. "Ecclesia wijst ons op het feit, dat Christus ons tot één geheel geroepen heeft, zodat het is één Herder en één kudde", aldus ds JG Feenstra (1950:343).
Gemeente, ecclesia, beteken dus 'n byeengeroepte vergadering. God roep sy gelowige kinders, sy verbondsvolk, byeen. Dus mag niemand van hulle hom/haar daarvan afsydig hou nie. Daarom mag die onderlinge byeenkomste ook nie versuim word nie ... "Die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie" (Hebr 10: 25 en 38).
Die naam Kerk is taalkundig afgelei van die Griekse woord kuriaka, wat die eiendom van Kurios, die eiendom van die Here Christus, beklemtoon. Die woord kurie hang ook saam met die begrippe uniekheid en regering. In die Rooms-Katolieke Kerk is dit die betiteling van die pouslike regering en alle pouslike beamptes wat die kerkbestuur uitoefen.
Sorgvuldig en met groot oplettendheid behoort uit die Woord van God onderskei te word wat die ware, die wettige kerk van Jesus Christus is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien (NGB, art 29). Ons laat dit verder daar en volstaan hiermee om, volgens die opskrif hierbo, te onderskei tussen kerk en koninkryk waarmee ons, aangaande albei, die soewereiniteit van Christus erken en bely.
Toe die Romeinse bevelvoerder, Pontius Pilatus, in die regspraak wat tot Jesus se kruisiging gelei het, aan Hom gevra het of Hy 'n koning is, bevestig Hy dit met die voorbehoud dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie ... U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem" (Joh 18: 33 - 37). Hierdie woorde sluit aan by die moederbelofte in die Paradys (Gen 3: 15), die antitese, die stryd wat aangekondig is, die twee fronte van God teenoor die mag wat aan die Satan verleen is, asook dié van die Goddelike waarheid teenoor die sataniese leuengees waarmee hy die mense, asook die kinders van die Here, trag om te verlei. Die Jode is in hierdie antwoord die teëstanders van die Here en staan aan die kant van die Satan om Christus en die waarheid waarvoor Hy gekom het om daarvan te getuig, te verdraai en Hom as die Verkondiger van dié waarheid aan die wêreldlike gereg oor te lewer om gekruisig te word.
Gesaghebbend betoog Hy in die posisie van die veroordeelde Messias aan Pilatus: "U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie" (Joh 19: 11). Christus troos sy apostels en daarmee ook die kerk van alle eeue tot aan sy wederkoms met hierdie woorde, dat aan Hom alle mag in die hemel en op die aarde gegee is en dat Hy met ons tot aan die voleinding van die wêreld sal wees (Matt 28: 18 - 20). So verwys die apostel Paulus ook daarna met te beklemtoon dat daar geen mag, behalwe van God is nie, en die wat daar is, deur God ingestel is, "sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan ..." Rom 13: 1 en 2).
Dit is dus duidelik dat Christus met koninklike gesag en mag beklee is. Sy gesag en mag oefen Hy uit te midde van die mense. Te midde van dié wat sy gesag aanvaar en diegene wat dit verwerp. Die Christelike Kerk wat volgens sy leer en apostoliese ampsbediening daargestel en oor die hele wêreld verspei is, is sy eiendom. Daarvan is Hy die enigste soewereine Hoof en Wetgewer, deur sy Woord en Gees geopenbaar, wat gehoorsaam moet word. Sodra die kerk daarvan afwyk, die evangelie nie meer suiwer preek nie, die sakramente nie meer suiwer bedien soos Christus dit ingestel het nie, en die kerklike tug nie gebruik om die sondes te straf nie, dan word hy vals, onwettig, dan word Christus se gesag nie meer eerbiedig nie, dan raak sy koninklike heerskappy in die gedrang: "Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie" (NGB, art 29).
Die Christelike kerk se taak is om die Woord onvervals te bewaar en te profeteer in en teenoor die wêreld. Dit is nie sy taak om 'n kerk- of Christelike staat, afgeskei van die sekulêre samelewing, tot stand te bring nie. Die gelowige kinders van die Here lewe in die wêreld wat deur die Satan beheers word maar vereenselwig hulle nie daarmee nie. Christus het daarvoor tot die hemelse Vader gebid: "Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar ..." (Joh 17: 15). Dit betref die antitese, enersyds, tussen die koninkryk van God wat op die onderhouding van sy gebooie en die bybelse norme in die samelewing gerig is, en daarenteen die mag van die Satan wat hy uitoefen deur middel van die leuengees, en in wetgewing wat die gesag van Jesus Christus misken en die gelowiges plaas onder die juk van oorheersing en onderwerping aan norme wat uit en deur die mens is en uitsluitend tot sy humane en materiële welstand moet dien.
Die koninkryk van God funksioneer deur middel van die amp van die gelowiges as hulle gehoorsaam in die samelewing Hom navolg en dien, soos dit in die Bybel geleer word. Dit behoort rigtinggewend te wees in die sake van die opvoeding en onderwys, in die ekonomie en wetgewing. Ook in die besluitneming oor die al dan nie deelname aan die parlementêre regering van ons land; in die stel en toepassing van die skriftuurlike antitese.®