|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
KERK, STAAT EN MAATSKAPPYDIE VERHOUDING TUSSEN DIE KERK EN DIE STAAT VOLGENS DIE SKRIF
- 3 - - PROF ROELOF MARè - 5. Roeping van die kerk(Voorwaardes vir gehoorsaamheid aan die staat)
5.4 Toerusting van lidmate (vervolg)
Die kerk leer sy lidmate dat dit 'n bevel van God is dat hulle aan die owerheid belasting moet betaal (Matt 22:15-22; Rom 13:6-7).
Wat moet Christene doen wanneer hulle deur 'n vreemde owerheid onderdruk word?
Het Christene die reg tot burgerlike ongehoorsaamheid (byvoorbeeld deur protes wat inhou: openbare kritiek en afkeur - mondelings en deur geskrifte), of tot verset (wat lydelik, of aktief, en selfs gewelddadig kan wees?
Alhoewel onderdane deur die Skrif tot gehoorsaamheid aan die owerheid verplig word, is absolute gehoorsaamheid nie aan die owerheid verskuldig nie - dit kom net God toe!
In die Bybel is daar verskeie voorbeelde van mense wat met reg teen die owerheid opgetree het, byvoorbeeld:
die vroedvroue wat teen die Farao se bevel handel omdat hulle God vrees (Ex 1:17);
Jonatan het met die verbond wat hy met David gesluit het, die koning (sy vader) in sy moordplanne gestuit (1 Sam 20);
Obádja wat honderd profete weggesteek het toe die koningshuis van Agab al die profete van die HERE wou uitroei (1 Kon 18:3-4,13);
Daniël ''oortree'' die verbod van Darius omdat hy getrou aan die ware God bly (Dan 6:11);
Paulus verkondig die Evangelie wat in stryd met die bevel van die owerhede in Thessalonika was (Hand 17:7).
In al hierdie gevalle was daar optredes téén die owerheid ''ongehoorsaamheid'' aan die gesag wat oor die betrokkenes gestel was. Elke keer was dit 'n geval waar 'n keuse tussen die mens en God gedoen moes word en besluit is (in die woorde van Petrus) dat ons God meer moet gehoorsaam as mense (Hand 5:29). Maar elke keer was dit optrede sonder geweld teen die gesagsdraer. Maar is daar ook voorbeelde waar selfs deur middel van geweld teen owerhede opgetree is?
Die optrede van een owerheid teen 'n ander in die vorm van oorlog is duidelik en hoef nie verder beredeneer te word nie. In 'n sogenaamde ''geregverdigde oorlog'' roep die owerheid sy onderdane tot die stryd op.
Dit het meermale gebeur dat Israel deur 'n vreemde oorheerser onderdruk is. Dan was die ''owerheid'' dié van die oorheerser. Het die burgers van Israel die reg tot geweld teen dié oorheerser gehad? In Jeremia 27 word die volk verbied om in opstand teen Nebukadnésar te kom. Hulle moet hom en sy volk dien. Diegene wat weier om dit te doen, sal deur die swaard, hongersnood en pes sterwe.
Calvyn (Inst. IV.20.27-28) sê hiervan dat die volk 'n wrede tiran moes dien omdat hy volgens 'n hemelse bevel op die troon gekom het. Hy sê dat, omdat selfs die slegste konings deur God aangestel word, daar nie eers opruiende gedagtes by ons mag opkom nie (:1853). Verder beklemtoon Calvyn die feit dat Israel vir Babel se voorspoed moes bid, want daardeur sou Israel self voorspoed hê. Israel mog hulle nie verset nie, want die Here sou op sy tyd die onregverdige owerheid onttroon en vervang (:1856).Moet ons Calvyn in sy uitleg navolg? Wanneer ons die hermeneutiese reël dat elke teks en elke Skrifgedeelte binne sy verband verstaan moet word, hier toepas, blyk dit nie so voor die hand liggend te wees nie. Daar moet altyd vasgestel word of die Here in 'n teksvers of -gedeelte aan ons 'n algemeen geldende voorskrif gegee het, en of dit 'n uitspraak in 'n bepaalde konkrete situasie was. Om dit hier vas te stel, moet ons nagaan of die verband van Jeremia 27 self op 'n onbepaalde reëling dui en of daar soortgelyke situasies in die Bybel voorkom waar 'n ander opdrag vir die volk gegeld het.
Dat hierdie opdrag van die Here net in 'n bepaalde geval en vir 'n bepaalde tydperk gegeld het, is reeds duidelik daaruit dat die bevel aan Israel nie onbepaald gegeld het nie. Daar het 'n dag gekom dat Israel nie meer gehoorsaamheid aan die oorheerser moes betoon nie - die ballingskap het tot 'n einde gekom. Natuurlik moet dit dadelik gestel word dat die Here sy volk Self daaruit verlos het en dat hulle hulself nie gewelddadig daaruit bevry het nie.
Kyk ons na die rigtertyd, dan word 'n ander aspek duidelik. Tóe het die Here telkens sy volk aan 'n oorheerser oorgelewer wanneer hulle van Hom afvallig geword het. Maar wanneer Hy sy volk verlos het, was daar groot geweld. Die burgers van Israel skreeu: ''Die swaard van die HERE en van Gideon!'' as hulle op die Midianiete afstorm (Rigt 7:20). Later bevry die Here sy volk van die Ammoniete deur 'n ''baie groot slag'' (Rigt 11:33), in die oorlog wat Jefta in die krag van die Gees van die Here (vs 29) voer. Die kinders van Israel het maar weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, sodat Hy hulle in die mag van die Filistyne oorgegee het vir veertig jaar lank (Rigt 13:1). Toe Hy sy volk weer verlos, was dit deur geweld soos Simpson dit uitgeoefen het.
Dit is dus nie waar dat die Bybel leer dat dit 'n algemene beginsel is dat 'n Christenvolk wat deur 'n ander volk verdruk en oorheers word, nooit tot geweld mag oorgaan nie. Hoe 'n volk uit dwingelandy uitkom, word deur God bepaal. Dit mag wees dat Hy dit op 'n onvoorsiene wyse wonderdadig mag doen, of dit kan wees dat Hy 'n leier beskik wat die volk in 'n oorlog saamsnoer ten einde die juk af te werp. Geweld kan dus prinsipieel nie uitgesluit word nie.
Eintlik gee Calvyn dit self ook toe as hy sê dat God mense uit sy diensknegte wek om as openbare wrekers die oorheersers te straf. So het Hy Moses ge-bruik om Israel van die dwingelandy van Farao te verlos. Of, sê Calvyn, God beskik die toorn van mense. God gebruik Otniël om sy volk uit die geweld van Kusan uit Sirië te bevry (Rigt 3:9). Calvyn verduidelik dit pragtig: Wanneer God mense uit sy eie volk gebruik om sy volk te verlos, is hulle dade wettig. Toe hulle die wapens teen die konings opgeneem het, het hulle daarmee nie die majesteit wat God aan die konings gegee het, geskend nie,omdat hulle uit die hemel bewapen is en die kleiner mag van die koning met die groter mag van die Here bedwing het (:1856 - kursivering: RM)Vandag se realiteit is, onder andere, dat dit die Here nie behaag om tans met direkte verskynings of openbarings of persoonlike opdragte sy wil in 'n konkrete situasie bekend te stel nie. Dus moet ons die beginsels wat in die Woord vervat is, eerbiedig en met verantwoording aan Hom konkretiseer. Dan kan ons weet dat Hy in beheer is en dat Hy daaroor in sy almag en op sy wyse sal beskik.
Wanneer 'n onderdrukker van gelowiges verwag om in stryd met die wil van die Here te handel, dan word dit 'n roeping om die onderdrukker te weerstaan. Owerheidsbevele mag nooit die gehoorsaamheid aan God bo alles wegneem nie. In die lig hiervan moet byvoorbeeld die vryheidsoorloë in Suid-Afrika (die verset teen imperialisme) en die tagtigjarige oorlog van Nederland teen koning Filips II van Spanje verstaan word.
5.4.6 Optrede te midde van verdrukking deur die eie owerheid
Onder die vorige punt is die situasie van die onderdaan wat deur 'n vreemde oorheerser onderdruk word, bekyk. Nou kom die vraag na die etiek vir die onderdaan wat deur sy eie regering onderdruk word aan die orde.
Onder 'n monargie skuil die gevaar van tirannie. 'n Aristokratiese regering kan maklik ontaard tot 'n oligargie. Die demokratiese stelsel is ook nie so ideaal en onskuldig as wat ons gewoonlik dink nie - anargie kan hieruit ontstaan, soos wat dit vandag in Suid-Afrika reeds in 'n mate ervaar word. In die hedendaagse toepassing van die demokratiese stelsel kan die persoon van die leier so op die voorgrond tree, dat dit 'n bedekte tirannie word.
Hoe mag die Christen-onderdaan teenoor 'n verworde regering optree, veral as 'n groot deel van die volk saam met die regering afwyk van wat God vir die owerhede verorden het, en die saak nie by 'n stembus reggestel kan word nie?
Calvyn (Inst. IV.20.31) verwys na volke wat volksamptenare aangestel het om die teuelloosheid van konings aan bande te lê:
Nou sê Calvyn dat individuele persone hulle nie in hulle private hoedanigheid teen die owerheid mag verset nie, maar dit wel deur middel van hierdie volks-amptenare mag doen. Hierdie amptenare mag hulle kragtens hulle amp teen die owerheid verset. Dit is bekend dat Calvyn verset teen die eie owerheid onder leiding van sodanige ''mindere magistrate'' verdedig het.
Mindere owerhede mag deur verset die volk teen staatsuitbuiting en -onderdrukking beskerm. Hulle het nie net die reg daartoe nie, maar ook die plig. Gehoorsaamheid aan die owerheid is nie 'n vrypas tot onderdrukking van die onderdane nie.
Merkwaardig dat Calvyn die reëling deur ongelowige state goedkeur. Sy standpunt is inderdaad korrek, want deur gemelde maatreëls kon daardie owerhede verwording van die Godgegewe staatsmag teenwerk, al het hulle die ware God nie geken nie.
In hierdie verband is dit ook nodig om na Romeine 13:1-7 en 1 Petrus 2:13-17 te kyk. Daar word onder meer gestel dat elke mens hom aan die owerheid moet onderwerp, omdat dit deur God ingestel is; dat aan die koning eer bewys moet word; en dat die onderdane belasting moet betaal. Dit is weer eens belangrik om na die verband van diie uitsprake te vra.
Eerstens word daarop gewys dat daar baie spesifieke redes gegee word wat te doene het met God se bedoeling met die owerhede. Hy wil die owerheid as sy dienaar gebruik. Die owerheid moet dus God se wil uitvoer. Wanneer hy dit doen, strek dit ons ten goede. 'n Burger wat nie kwaad doen nie, hoef niks van die owerheid te vrees nie. Dis die kwaaddoeners wat moet vrees. Die owerheid het juis die swaard ontvang om hulle te straf - nie om dié wat goed doen, te onderdruk nie. Wanneer gesê word dat die owerheid diegene wat goed doen, prys, word bedoel dat 'n slagoffer van kwade handelinge deur die regsproses beskerm en vrygespreek word sodat sy naam in ere herstel word. So word hy ''geprys''. 'n Owerheid wat sy roeping getrou vervul, verdien die eer van sy onderdane.
In die tweede plek moet weer vasgestel word wat die verband van die teksverse is. Dit is deurslaggewend belangrik in die verstaan van enige plek in die Bybel.
As daar byvoorbeeld in Handelinge 16:31 staan: "...Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word ...", dan kan dit nog nie bloot op sigwaarde as 'n totaal alles-insluitende uitspraak opgevat word nie. Wie dit sou doen, verklaar daarmee dat geen baba gered kan word nie - babas kan mos nog nie glo nie ... . Nee, die agtergrond van die woorde is belangrik. Dit is woorde wat aan 'n volwassene wat tevore nie in Christus geglo het nie, gerig was. Vir só iemand geld dié opdrag.
Net so: Romeine 13 en 1 Petrus het ook 'n bepaalde agtergrond: dit naamlik dat die woorde geskryf is terwyl die Romeinse owerheid van die dag oor die algemeen 'n goeie regering uitgeoefen het, al was dit 'n heidense een. Misdadigers is gestraf en goeie burgers beskerm. Toe die brief aan die Romeine geskryf is (in die jaar 56 of 57), was die Christene nog nie deur die Romeine vervolg nie. Nero het eers sewe tot nege jaar later met die vervolginge begin! Neem nou hierby vers 3 wat sê: jy wat 'n goeie burger is, hoef nie die owerheid te vrees nie. Paulus sou dit nie geskryf het nie as sy lesers dag vir dag vir hulle lewens gevrees het, omdat die Romeine hulle (wat vreedsame burgers was) enige oomblik oor hulle geloof kon vermoor nie. Romeine 13 se uitsprake oor die owerheid geld die normale gang van sake.
Dieselfde geld van 1 Petrus 2. Alhoewel hierdie brief lank na dié aan die Romeine geskryf is, was dit ook nog vóór die Romeinse vervolging van Christene (vergelyk die Bybel met Verklarende Aantekeninge wat oor vers 15 onder meer sê: " Die apostel Petrus het, as hy die brief skryf, nog die vertroue dat die Romeinse beamptes aan die belasterde Christene reg sal verskaf" (Die brief is ook geskryf voordat die vervolginge van staatsweë tydens Nero losgebars het).
Die kerk mag nie pasifistiese oogkleppe aan hê en daardeur alle kwaad wat 'n owerheid maar mag bedink, vergoelik nie. Deur sommige Christene word naief-vroom beweer dat 'n Christen nooit geweld mag toepas nie, maar net bereid moet wees om te ly. Dan word byvoorbeeld na die volgende gebeure rondom die Here Jesus se lewe verwys: Jesus bestraf die dissipels wat wil hê dat vuur uit die hemel moet daal om die Samaritane wat Hom nie wou ontvang nie, te verteer (Luk 9:55); Jesus beveel Petrus om die swaard te bêre wanneer hy Malchus se oor afkap (Joh 18:10-11). Hierdie mense maak van dié uitsprake algemeen-geldende waarhede, terwyl hulle nie raaksien dat Hy as die Christus daardeur dade afgewys het wat sy Messiaanse werk in die weg staan en sou verhinder nie. Die mense vergeet andersins ook dat Hy 'n sweep van toutjies gevleg het ... (Joh 2:18).
Verder moet Handelinge 5:29 ook hier weer betrek en aan vasgehou word: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan mense. Wanneer iemand (selfs die owerheid) van ons iets verwag wat in stryd met die Woord van God is, toon ons deur ons dade dat ons niemand bo Christus liefhet nie!
(Slotaflewering in die volgende uitgawe - Red)