|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
MEDIESE ETIEKDikwels word gelowiges met die onderwerp van die sogenaamde geloofsgenesing gekon-fronteer. Ons word geteister deur mense wat daarop aanspraak maak dat God enige siekte kan en wil genees, indien ons maar in opregte gebed genesing van Hom sou vra. Soms word daar sover gegaan as om te beweer dat dooies deur die kragtige gebed opgewek kan word. Dit is belangrik dat ons as gelowiges die saak van die gebed vir die siekes in die lig van die onfeilbare Woord van God sal benader.SIEKTE EN GEBED
- DR MC DURAND -
In albei, die Ou en die Nuwe Testamente, kry ons talle voorbeelde van gebede: Daar was gebede vir genesing van siektes, waarvan sommige verhoor is (1 Kon 13: 6; 2 Kon 20: 1-3; Matt 8: 1-4, 5 - 13; Mark 5: 18; Joh 11: 41-42) en ander wat nie verhoor is nie (2 Sam 12: 16). Daar was gebede vir die genesing van onvrugbaarheid wat telkemale verhoor is (Gen 25: 19-23; 1 Sam 1: 9-13). Daar was ook gebede om dooies te laat opstaan (1 Kon 17: 20-21; 2 Kon 4: 32-37; Matt 9: 18). Daar was selfs gebede om te sterf, waarvan een verhoor is (Rigt 16: 28-31) en van anderes wat nie verhoor is nie (1 Kon 19: 4; Num 11: 15; Jona 4: 1-9).
Sou ons van hierdie lys gebede 'n ondersoek doen waarom God hulle al dan nie verhoor het? Sou ons probeer vind dat gebede op grond van die geloof of die gehoorsaamheid van dié een wat aanbid, verhoor word? Sou ons in enige van diegene wat bid se harte kan kyk, om met sekerheid te weet wat daar aan die gang is? Sou ons insig in God se raadswil hê om stellig te weet waarom God die een gebed verhoor en die ander nie verhoor het nie? Daar is min dinge wat so persoonlik en intiem is as om te ly. Wie sal presies die aanslag, die angs, die pyn, die effek van lyding in die hart van 'n mens kan bepaal? Tydens die siekte raak God die mens op 'n heel direkte en persoonlike wyse. Wie sal die geloof, die opregtheid, die hoop, die nederigheid in die hart van die een wat ly, kan bepaal?
Die Skrif leer ons dat God se volk Hom in alles aanroep. Die Skrif leer ons ook dat dit Hy is wat bepaal of 'n gebed al dan nie verhoor sal word en nie eerstens die vroomheid of opregtheid van diegene wat daarvoor bid of gebid het nie. Die Skrif leer ons eweneens van die berusting in die antwoord van die Here.
Ons weet dat al die ellende sowel asook voorspoed uit die hand van God ontvang word. Die Skrif openbaar ons dat God, vóór die gebed alles reeds weet. Ons glo ook dat slegs Hy weet wat vir ons die beste is en nie onsself nie. Die Bybel leer ons dat ons eerste doel op aarde nie is om liggaamlik te vorder nie. Daardie doel is om aan God gehoorsaam te wees. Dit beteken dat ons in ons verhouding met God moet vorder. Ons moet aan sy beeld al meer gelykvormig word. Maar watter sondige mens kan op sy eie die verhouding met God herstel? Watter sondige mens kan op sy eie aan die beeld van God al meer gelykvormig word? Is daar een sondige mens wat sonder God se liefdevolle kastyding kan vorder?
Wat sal ons dan bid by ons eie siektes en dié van ons geliefdes en andere? Sal ons nie in die gebed van die pyn, die smarte, die hartseer, die teleurstellings en die angs wat die siekte meebring aan God vertel nie? Sal ons nie aan God die bystand en die krag vra om die lyding van die siekte te kan dra nie? Sal die gelowige nie ook vra dat, as dit God be-haag en as dit sy wil is, dat hy dan dié siekte sal genees nie? Maar sal ons al hierdie dinge doen sonder om ook in die gebed besig te wees, en dan veral met die oorsprong en doel van die lyding wat God oor ons beskik het nie?
Die oorsprong van lyding is die toorn van God oor die sonde wat in die paradys begaan is en wat steeds in ons soos 'n fontein opborrel. By die gebed vir genesing en verlossing van pyn sal die gelowige sy hart ondersoek en dit meet aan die Skrif. Die gelowige sal met skaamte sy sondes ontdek en bely. Die bede om genesing kan nie sonder die smeking van vergifnis vir die sondes gebid word nie.
Die doel van die lyding by die kind van die Here is die tugtiging. Deur die kastyding vorm God die seun wat Hy aangeneem het. Die gelowige sal by die gebed om genesing ook God se weg soek waarlangs hy moet vorder. Hy sal die geopenbaarde wil van God bestudeer om sy eie wil daaronder te buig. Die gebed om herstel sal nie sonder die smeking van krag om God se Woord te bestudeer en vir die krag om staande te kan bly teen die aanvegtinge van die Satan, die verdorwenheid van die eie hart en die verleidings van die wêreld, wees nie. Ons sal nie bid vir genesing asof ons nie terselfdertyd die oorsaak van dié lyding was en God daardeur nie die doel om ons te beproef sou hê nie.
Die lyding en ellende van siekte herinner ons aan God se getrouheid en sy terapie tot ons verbetering. By die gelowige dien herstel van siekte en lyding die verhouding met God. Die verhouding tussen gelowiges en God is dié van kind tot Vader, kneg en leerling tot Meester, ellendige tot Saligmaker, skuldenaar tot Verlosser, skepsel tot Skepper, uitverkorene tot Genadige.
Indien dit God se wil is dat die lyding moet voort-duur, sal die gelowige dan ook nie die vertroue in God hê om dankbaar te wees dat Hy met hom besig is, en alles sal doen om hom van bederf te bewaar nie? God sál alles doen om ons te bewaar tot die einde van ons aardse bestaan, al verg dit soms groot smart, pyn en lyding van ongeneeslike siektes. Die gelowige sal só die 'Ja' van God met net soveel dankbaarheid aanvaar as sy 'Nee'.