|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
OPVOEDING EN ONDERWYSDIE MULTI-GODSDIENSTIGE BENADERING IN DIE NUWE ONDERWYSSISTEEM
Net die punt van die groot wêreldwye intergeloofs-,
New Age ysberg.
Afgesien van die beoogde implementering van Multigeloof Godsdiensonderrig in alle staatskole, is die bogenoemde intergeloofsdoelwitte en beginsels reeds lankal vervat in die sogenaamde "UITKOMSTE" van uitkomsgebaseerde onderwys. Verder is die Intergeloofs / New Age denke in verskeie van die nuwe Kurrikulum 2005 Handboeke ingevleg - veral in die leerarea van "Lewensoriëntering" wat spesifiek voorsiening maak vir onderrig oor godsdienste. In sommige van hierdie boeke word kinders nie alleen vanuit 'n Intergeloofsperspektief van verskillende godsdienste geleer nie, maar word hulle ook aangesê om, as deel van klasprojekte en werksopdragte, deel te neem aan die rituele en praktyke van ander godsdienste - soos byvoorbeeld Boeddhistiese meditasie, voorvadergees rituele, sterrewiggelary, ensovoorts. Deurgaans word hierdie nie-Christelike praktyke dan ook in 'n positiewe of neutrale lig en as heel onskadelik vir die Christenkind voorgehou. Die indruk word geskep dat eksperimentering met hierdie praktyke geen negatiewe uitwerking op die kind se Christelike geloof sal hê nie.
New Age studiemetodes soos Suggestopedie, waardeur kinders deur meditasie - en visualiseringstegnieke in 'n veranderde bewussynstoestand geplaas word, het reeds talle skole in ons land geïnfiltreer. "Educational Kinesiology" oftewel "Breingym", wat op Oosters godsdienstige tegnieke soos joga en akupunktuur gebaseer is, is selfs ingeskryf in die nuwe Kurrikulum en wel in die leerara Kuns en Kultuur.
In Mei 2000 het die Minister van Onderwys, prof Asmal, en die werkgroep wat deur hom aangestel is, 'n besprekingsdokument oor "waardes" in die onderwys gepubliseer, getiteld: "VALUES, EDUCATION AND DEMOCRACY". Hoewel die woord "waardes" nogal aanloklik vir baie Christene kan klink, is dit by nadere ondersoek gou duidelik dat ons in hierdie dokument nie werklik met Christelike waardes te make het nie, maar weereens tot 'n groot mate met intergeloofs-"waardes". So byvoorbeeld word die waarde van "Tolerance", oftewel verdraagsaamheid, soos volg omskryf: "Tolerance means understanding, accepting and respecting each others culture ... and religion". In dié dokument stel Minister Asmal voor dat daar geput moet word uit die "gemeenskaplike en ewige" rykdomme van die verskillende godsdienste om sodoende vir ons 'n "nuwe identiteit" as nasie te skep. Uit die verskeidenheid van godsdienste moet ons vir ons 'n stel "GEMEENSKAPLIKE WAARDES" saamstel op grond waarvan ons as verskillende mense kan verenig. Verder word daar aanbeveel dat kinders in skole moet deelneem aan musiek, dans en teater waardeur hulle "blootgestel" kan word aan 'n "verskeidenheid van kulturele tradisies en ervaringe", om sodoende ons ryke "ver-skeidenheid te vier" en groter "verdraag-saamheid" te bevorder. Die verskillende kulture en godsdienste sê dié dokument, moet "doelbewus" in die etos van die skool geïnkorporeer word. Volgens mnr Edcent Williams, Direkteur Generaal van Onder-wys en segsman van die Minister, moet die etos van staatskole berus op die be-ginsel van "UNITY IN DIVERSITY" - een-heid in verskeidenheid - 'n baie populêre begrip in intergeloofs- en New Age kringe.
Die Godsdiens Departement van UNI-SA, wat oorwegend bestaan uit intergeloof georiënteerde teoloë, was veral in die afgelope aantal jare verantwoordelik vir 'n groot geestelike PARADIGMAVERSKUIWING in die rigting van intergeloofsdenke. Dit was teoloë uit hierdie geledere wat verklaar het dat Jesus Christus nie die Enigste Weg tot God is nie. Volgens hulle "Pluralistiese" siening kom alle godsdienste van dieselfde God af en lei hulle almal ook na Hom terug. In 1997 het dié Departement van Godsdienswetenskap en die Navorsingsinstituut vir Teologie en Religie van UNISA 'n konferensie oor Multigeloofs-Godsdiensonderrig gehou. Uit hierdie konferensie het die stigting van die "National Association for Multireligious Education: (NAME) voortgevloei. In hulle eerste nuusbrief berig hulle dat die destydse Minister van Onderwys sy "volle steun" aan die doelwitte van NAME gegee het, wat onder andere die implementering van multigeloof godsdiensonderrig en die opleiding van onderwysers vir hierdie doel behels.
Verskeie handboeke vir opleiding van onderwysers in multigeloof is reeds deur die Godsdienswetenskap Departemente van UNISA en die Universiteit van Kaapstad geskryf. NAME het reeds talle onderwysers opgelei. Die huidige Minister van Onderwys, Kader Asmal, is uitgesproke ten gunste van multi geloofsonderrig. Die Wêreld Konferensie vir Godsdiens en Vrede (WKGV-SA) se 1992 intergeloofsdoelwitte vir die onderwys staan dus op die punt om verwesenlik te word!