|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
'N SAAK VAN ETIESE WAARDESIn sy beleidsverklaring stel mnr Asmal die ideaal: die uitskakeling van alles wat eiesoortig en absoluut is tot 'n humanistiese eenvormigheid. Daarom word veral die Afrikaanse universiteite vir sy kritiek uitgesonder. Hoewel hulle al 'n groot persentasie volksvreemde studente akkomodeer en diesulkes op Engelse lesings aandring, het hulle na die minister se sin steeds ver te veel van 'n eie identiteit, karakter en voertaal.
Algehele uitskakeling van groepswaardes sal volgens die kommuniste tot die verwesenliking van die Marxistiese ideaal lei. Die taal, kultuur en aspirasies van minderheidsgroepe moet stelselmatig uitgeskakel word, want almal moet één en soos die meerderheid wees.
Die gevolge, soos alle Suid-Afrikaners dit daagliks beleef, is allesbehalwe utopies. Kenmerkend van die morele insinking wat die stelsel onder Suid-Afrikaners tot gevolg het, is die omvattende voorkoms van korrupsie wat op alle samelewingsvlakke voorkom, in maatskappye, die staatsdiens en die openbare sektor. Soos pas berig, gaan daar 'n nasionale teenkorrupsieforum gestig word. Dit ten spyte van die Heath-eenheid, die nasionale vervolgingsgesag, die openbare beskermer, die polisie en nog ander wat veronderstel is om korrupsie uit te roei of minstens onder bedwang te hou.
Kommunisme het elders in die wêreld misluk en ook in Suid-Afrika dui die galopperende materiële, administratiewe en geestelike verval op 'n naderende ineenstorting.
Die belangrikste probleem van die kommunisme is op die gebied van die sedelike. Dit is ook die hoofrede waarom hierdie ideologie op die lange duur nie kan slaag nie.
Enige moraal is ondergekik aan die kommunistiese ideaal en in diens daarvan. Van 'n vaste sedelikheid waaraan alles moet voldoen, is daar geen sprake nie. Net dit wat die kommunisme dien, is van waarde. Kommunisme kom dus in die plek van God.
Omdat nie geglo word aan 'n natuurlike sedelikheid wat 'n mens op grond van sy skepping na die beeld van God het nie, word daar ook nie aansluiting by hierdie innerlike sedewet gesoek nie. Alle godsdienste is minstens van gelyke waarde en waarheid en moet verkieslik plekmaak vir 'n universele ateïsme.
Met sy beginsel dat die doel die middel heilig, dra die kommunisme die kiem van sy eie vernietiging. Die mens wat hom tydens die rewolusie tot buitensporige geweld gewend het, word nie oordag 'n engel van wetsgehoorsaamheid wanneer die kommuniste die bewind oorgeneem het nie.
Dit sien ons maar te duidelik in Suid-Afrika waar die kultuur van wetteloosheid ons land oneindig skade doen. As Boere-Afrikaners moet daarteen gewaak word om nie self ook in hierdie spiraal vasgevang te word nie. Dit kan slegs gedoen word deur in die Christelike geloof staande te bly.