|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 3 Mei 2001
SKRIFOORDENKING
VERWAG DIE STAD VAN GOD
- DS HT DE VILLIERS - PRETORIA -
| "Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word , nie ontstaan het uit sienlike dinge nie." (Hebr 11:3) |
In Hebreërs 12: 4 lees ons die volgende van die ontvangers van hierdie brief: ''Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie." Dit sê die skrywer, nadat hy voorbeelde genoem het van ander gelowiges in hulle tyd se standvastigheid onder vervolging (Hebr 11: 35vv).
Hoofstuk 11 se plek in die brief is om die kleinmoedige lesers aan te moedig om te volhard in die geloof:
Kyk na die mense van die ou tyd, van Abel af tot Daniël en sy vriende (vs 4 - 34). Henog het getuienis ontvang dat hy God behaag het en Abraham het die stad verwag waarvan God die oprigter is, want hy hy het verlang na selfs 'n beter vaderland as die aardse wat hom beloof is, naamlik 'n hemelse.
Hoe kan die skrywer sy lesers aanmoedig? In hoofstuk 11: 1-3 word die antwoord beklemtoon: VOLHARD IN DIE GELOOF!
Deur in die geloof te bly, soos hierdie geloofshelde gedoen het, kan hulle die stryd volstry. Volhard, en glo dat God is, en 'n beloner is van die wat Hom soek (vs 6).
'N DEFINISIE VAN GELOOF?Hier word nie vir ons 'n definisie van geloof gegee nie, maar eerder word een aspek, een kant van die geloof genoem: Volharding en trou aan die HERE is 'n uitvloeisel van 'n ware geloof. Die sekerheid wat uit die geloof kom, dra gelowiges om te volhard onder selfs die uiterste vervolging.
Geloof is 'n lewensuitkyk, 'n lewenswyse, 'n lewenswysheid wat nie uit mense gebore is nie.
GELOOF AAN DIE SKEPPINGDit is hier waar vers 3 sy plek vind.
Voordat hy hierdie bekeerde Hebrëers bemoedig met voorbeelde uit hulle eie volk se geskiedenis, neem die deur die Heilige Gees geïnspireerde skrywer hulle na die openbaring oor die ontstaan van alle dinge.
Hulle het eeuelank al in noue kontak geleef met die heidenvolke, en was bewus van al die verklarings en spekulasies oor die ontstaan en sin van alle dinge.
Dit is deel van die fondament van hulle geloof dat hulle VERSTAAN en WEET dat alles deur die een, die enige God gemaak is en onderhou word. Wat 'n voorreg het God aan sy volk Israel gegee! Hulle kon weet dat Hy deur sy Woord en Gees alles geskape het (Ps 33: 6). Die sienlike het ontstaan uit die onsienbare! Hulle moet dit gaan stel teenoor al die mites en spekulasies van die heidene, en versterk word: Hoe logies en duidelik teken die Woord van God dit nie.
Deur die geloof word God se Raadsplan helder geteken. Skepping . . . sondeval . . . verlossing . . . her-skepping!
SKEPPINGSOPENBARING VERSUS EVOLUSIETEORIEéAs gelowiges moet ons hierdie vers in verband met die res van die Skrif sien:
Menslike gedagtes oor die ontstaan van die heelal en alles wat bestaan en lewe kan maar net teorieë bly. Sonder God se openbaring is dit onmoontlik om die waarheid te ken. (En dit geld in die be-sonder vir ons verstaan van Genesis 1 - 3). As mens nie die gawe van geloof van die HERE ontvang om die onsienlike te sien nie, sal die antwoorde altyd gesoek word in die sienlike. Daar is dit nie te vind nie!
Mens verloor dan ook die spoor in die verklaring van hierdie teks. Wat die HERE met hierdie woorde sê, is dat jou geloof in sy bestaan asook in die skeppings- en herskeppingswerk in Christus, jou deur al die aanslae van die Satan sal laat vol-hard. Jy sal die saligheid nie kwytraak nie! Geloof bring volharding. Dit raak ook oor jou geloof aangaande die skepping van die mens.
Ons, die mens, is as die kroon van God se skepping geskape. God maak die mens anders as die diere, na sy beeld en gelykenis. In ware geregtigheid en heiligheid.
Wanneer Adam aan die diere name gee, vind hy nie 'n maat wat by hom pas nie. Die mens se doel, plek, betekenis en bestemming in die skepping is veel hoër. Val die mens dan daarna in sonde, dan neig hy om te verdierlik - (net die teenoorgestelde van wat die aanhangers van die evolusieteorieë beweer, wat glo aan 'n proses waarin die mensheid 'n soort van goddelikheid sal bereik).
Abraham, Moses, Dawid, Daniël en ander kon alleen deur die geloof die pad sien wat God deur die sonde-doolhof vir ons gebaan het. Hulle vertroue was - saam met baie ongenoemde gelowiges - op die onsienlike. Hulle kon deur die geloof die werk van die onsienlike God ervaar. Hulle kon volhard in 'n lewe na God se wil, waarmee hulle hul afgesonder het van die hoofstroom van die mensheid wat in sonde gelewe het.
Hulle geloof het nie berus in evolusieteorieë vir die ontstaan van die sienlike dinge nie. maar slegs in die Weg, die Waarheid en die Lewe: ons Here, Jesus Christus, deur Wie God ons met Hom versoen het; uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge (Rom 11:36). In dié geloof het hulle Hom verwag en op sy werk as Middelaar gesteun. Vir hulle het die verlossing slegs van bo, uit God se liefde gekom!
Nie deur die evolusionisme se troostelose miljoene jare van ont-wikkeling kom daar verlossing en 'n vermeende heilstaat op aarde nie, maar NOU. Deur dié geloof het hulle gelewe en lewe ons ook. Ons word nuut gemaak, wedergebore, deur die werk van God die Heilige Gees. Ons verwag die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is . . . DEUR DIE GELOOF!
Die boodskap vir ons lui om in dié geloof te VOLHARD!