|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
Aktueel
DR PIETER VAN DER DUSSEN SKRYF OOR DIE KERK IN NOOD
Ek het lanklaas geskryf en ek moet erken dat ek ook nie so gereeld lees nie - daarvoor is daar goeie rede. Omdat omstandighede in en rondom die GKSA nou in n warboel is en in krisis beland het waaruit ons met Skrif, Belydenis en Kerkorde moet loswoel teneinde die orde te herstel tussen diegene wat een van hart en sin oor hierdie saak is, reageer ek nou op onlangse skrywes.
(Anoniem - PvdK) is reg, so ook die wat voor en na hom geskryf het. Niemand van ons wil of mag wanordelik optree nie. Waterberg (Dolerend) se doel is uitdruklik om die ineengestorte orde te herstel. En dit is reeds aan die gang, ook al is daar nog geen formele besluite daaroor van ander kerkrade nie. Daar is egter reeds lidmate, kerkvolk, wat die Here dank dat Hy reeds vir hulle n tuiste geskep het omdat hulle kerkrade sonder meer die Sinodebesluite waarteen daar beswaar is en wat die eenheid en orde verbreek het, ingevoer het. Sekerlik is dit so dat daar nie oorhaastig opgetree moet word nie, maar aan die ander kant stem ek volmondig met (anoniem - PvdK) saam dat daar ook nie onnodig lank aan "eenheid=vrede" vasgeklou moet word terwyl daar geen "eenheid=vrede" is nie. Dit is die krag van Waterberg se doleansieverklaring: Dat hulle die orde, die eenheid, die gemeenakkoord tussen enersvoelendes wil herstel. (n Vriendelike versoek: Ek weet die uitdrukking "gemeenakkoord" word in sommige kringe met n frons aangehoor. Laat ons ons asseblief nie laat aflei deur nou daaroor te redekawel nie. Laat ons die woord aanvaar soos hy in Afrikaans en in Afrikaner-gereformeerde kringe ervaar word. Later kan ons lekker daaroor diskusseer as ons wil, nadat die orde herstel is.)
...........................................................................................
Nou enkele opmerkings om oor na te dink:....................................................................................1. Onderlinge orde kan net bestaan as almal wat betrokke is, dit onderskryf. Dit is nou juis die probleem: Die onderlinge orde het weggeval!
...........................................................................2. Dit impliseer dat die "ordelike weg" nie meer altyd gevolg kan word met almal nie. Kerkraad XYZ wat willens en wetens die gewraakte besluite invoer, wetende dat daar ernstige beswaar by van "sy" lidmate is, tree onordelik op, veral as hy dit doen sonder om die besluite ooreenkomstig Art 31 KO te toets. Wat staan die beswaarde lidmate te doen? Hulle tot drie jaar lank aan die toestand onderwerp totdat die volgende sinode die saak weer bekyk het. En as daardie sinode die besluite handhaaf, weer drie jaar wag... en weer drie jaar... en weer drie jaar...??? Intussen word die beswaardes aan gewetensbinding van die ergste graad onderwerp ten opsigte van sake wat sonder meer duidelik nie meer die ware kerk soos Art 29 NGB dit beskryf, weergee nie..............................................................
3. Die argument: "Die Sinode het besluit en die Kerkraad moet gehoorsaam die besluit uitvoer" word gemaklik aangevoer. Met ander woorde, die gesag van "die Sinode" word bo alle twyfel gestel en "sy" besluite sonder meer as vas en bindend aanvaar. So Rooms soos die Roomse pous se ex catedra uitsprake wat met die Woord gelykgestel word. Ons noem dit "sinodokrasie". En lees ons Art 29 NGB, sien ons dat dit die eerste kenmerk van die valse kerk is, naamlik om aan sy eie besluite meer gesag as aan die Woord toe te ken. Maar die ordelike weg sou kamtig vereis dat die lidmaat die weg van beswaar en appél volg en wag en wag en wag totdat daar eendag dalk n ommekeer kom. Intussen word die lidmaat se gewete deur n onskriftuurlike wyse van optrede gebind.............................
4. Ongetwyfeld het die GKSA na 144 jaar op die kruispad gekom en moet hy kies soos Israel by Karmel moes kies, soos Paulus tot keuse gedwing is, soos Luther en Calvyn moes kies, ensovoorts. Is daar tyd om te huiwer? Is daar werklik tyd om op tegniese detail soos die Handelinge te wag? Ek dink Waterberg (Dolerend) het die weg aangedui, so ook Die Kandelaar en ander kerkrade wat reeds hulle gesindheid getoon het. Dit gaan om die Kerk van die Here, nie om n menslike instelling nie, soos (anoniem hierbo - PvdK) baie mooi aangetoon het. Dan moet ons oppas dat ons nie so versigtig en so takties en so strategies optree om tog maar die eenheid te probeer bewaar nie. Ons glo die leer van die uitverkiesing en roeping, of ons glo hom nie...................................................................................
5. Alles inaggenome reken ek die antwoord is dat ons ons langsaam moet haas met die klem op haas. En dan pleit ek by die predikante in die Gereformeerde Kerke in SA: Kom n slag van u studeertafel af weg waar alles pragtig mooi uiteengesit word in die Kerkorde en waar die ordelike weg so mooi uiteenval, en sien n slag die werklikheid raak wat hom reeds afspeel: Ouderlinge wat reeds ontslag moes vra omdat hulle in hulle gewetens gebind word - ja, broeders dominees, die nie-ordelikes volg nie die ordelike pad nie! Lidmate wat om dieselfde rede tans "kerkloos" is, moet soek waar daar n ware kerk is. .
5. Nou die vraag: Is daar werklik iets nuuts om langs die ordelike weg oor die sake te sê waaroor dit gaan? Is alles nie gesê wat gesê kan word nie, soos (anoniem - PvdK) duidelik aandui. Die vernuwings-denkendes erken dat volgens die Gereformeerde hermeneutiek: so sê die Here HERE!, mog die vrou nie in die amp dien nie en moes die Messiaanse inslag van die hele Ou Testament en besonderlik die Psalms erken word. En toe ontdek hulle "deur navorsing" n nuwe hermeneutiek en voer dit op wanordelike wyse in en vervang Sola Scriptura: So sê die Here HERE!, met n sosiologies historiese mensgesentreerde Skrifbeskouing. "Navorsing" openbaar aan die mens van vandag dat die Bybel ook vanuit die mens se omgewing in-sy-historiese-verband gesien moet word. En daaraan word dan oorheersende gesag bo Sola Scriptura verleen. En dit is volgens Art 29 NGB die eerste sigbare eienskap van die valse kerk - dat die gesag van die Woord nie meer die enigste.en laaste gesag van en vir die kerk is nie. Ook in hierdie opsig pleit ek by die Gereformeerde predikante: Kom weg van die netjiese studeertafelmodel en betree die werklikheid van die strydperk waar die koeëls om jou fluit en die bomme bars. En ek kan u verseker: Ek het hulle reeds meegemaak. Want hoe ordelik en versigtig ons optree, hoe liefdevol ons die hand uitreik, hoe naarstig ons die eenheid probeer bewaar - die fiole van nyd is reeds oopgetrek. Ook daarvan kan ek getuig. Te midde van dit alles weet ons en sien ons reeds: Die HERE is daar en Hy hou die wag totdat die donker uur omgaan. En sy kerk hou Hy in stand, Sy ware kerk, vir elkeen wat glo en soos Israel in die woestyn in doodsangs na die slang op die paal opkyk om gered te word. Net: Ons kyk op na die Gekruisigde aan Wie alle mag en gesag gegee is tot in alle ewigheid. En daarom kan alles rondom ons maar vergaan, kan alles ineenstort, kan ons orde in wanorde ontaard - Sy orde sien ons elke dag in die dagbreek, in die son wat stiptelik op tyd opkom en ondergaan, in die maan wat sy pad bestendig vind, in die bome wat op die regte tyd hulle blare afgooi - alles tekens van die orde wat God in sy voorsienigheid daargestel het om vastigheid en sekerheid sigbaar te maak terwyl ons Hom prys en sy Naam loof wat bo alle name verhewe is.