Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Is ons nog Gereformeerd?

AKTUEEL: Die Kerk in nood (Dr Pieter van der Dussen)

SKRIFOORDENKING:
Ten grond oor gebrek aan kennis

Mag ons die Bybel interpreteer?

Fundamentalisme ....

Gereformeerde Kerk Waterberg (dolerend)

Gelowige Skrifverklaring ....

Lykverbranding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Geref Kerk Aranos aan GKSA

Geref Kerk Orania ....

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Asmal - plan vir godsdiensonderrig

Asmal wil sinkretisme deur dwang bewerkstellig

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
"Nkosi sikel 'iAfrika"

Mosie kongres HNP

Prinsipiële kritiek op plasing van afbeelding van Jesus

Vrouediakens - 'n stap vorentoe! of agtertoe?

PERSRUBRIEK: 
Vereniging van nie-blanke kerke

Vervlakking in die kerk

Nuwe godsdiens, nie hervorming

GKSA Sinode 2003

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Pynbehandeling al sterf die pasiënt

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 3 Mei 2003

LYKVERBRANDING

-  DS (EM) AH MULDER  -

Hierdie saak het nou in Pretoria en elders in ons land geweldig ter sake geword nadat by bepaalde kerke (nie Gereformeerde Kerke nie) gedenkmure gebou is met nisse daarin waar die as ná die verbranding geplaas kan word. So 'n nis kan dan vóór die tyd gekoop word en die kerk sal dan later as dit nodig is, 'n gedenkplaatjie daarby aanbring.

Die Sinode van die Gereformeerde Kerke het in 1933 en 1952 baie goeie besluite ten aansien daarvan geneem. Waar so baie lidmate in ons dag hieroor praat, dat daar nie meer plek vir begraafplase is nie, asook om gesondheidsredes, het daar 'n versoek gekom om hieroor gedagtes te wissel, waaraan ek graag voldoen. Kom ons kyk eers na ons sinodes se besluite wat daaroor geneem is.

"Die Sinode het oor die toenemende gebruik van lykverbranding in ons land besluit dat hy met leedwese opmerk dat lykverbranding toeneem en is van gevoele dat dit nie nagevolg moet word nie en wil daarteen waarsku omdat dit van heidense oorsprong is en in stryd met die eeue-oue gebruik van begrafnis soos dit voorkom in die Ou en Nuwe Testament. Verder kan die Christelike kerk hom nie met lykverbranding verenig nie, want met die skynargument dat dit om gesondheidsredes gedoen word, skuil agter lyk-verbranding 'n materialistiese wêreldbeskouing. Vir die Christen met sy geloof aan die wederopstanding het die begrafnis die simboliese betekenis dat die liggaam aan die aarde toevertrou word as 'n graankorrel wat eers moet stergf om later heerliker te voorskyn te kom."

Kom ons kyk nou na die beginsel van die Heilige Skrif en ons neem enkele teksverse oor die onderwerp. Dit is egter 'n onbegonne taak om al die Skrifgedeeltes wat op die saak betrekking het uit te lig.

Die menslike liggaam is 'n tempel van God en daar mag nie eers tatoeëermerke daarop aangebring word nie (Lev 19:28: "Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE."  Die HERE stel die beginsel van begrawe duidelik in Genesis 15:15: "Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word."

Mense wat getrou was in die HERE en in hulle geloof, sal begrawe word. Ons lees 1 Kon 14:13: "En die hele Israel sal hom beklaag en hom (Abia) begrawe, want hy alleen van Jerobeam sal in 'n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jerobeam." In Handelinge 2:29 lees ons die volgende: "Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe." In Johannes 19:40 lees ons dat begrawe die gewoonte was. "En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met speserye, soos die gewoonte was om te begrawe."

Dit was ook 'n afskuwelikheid om nie begrawe te word nie: "Die een wat van Jerobeam in die stad sterwe sal die honde eet, en wat in die veld sterwe sal die voëls van die hemel eet" (1 Kon 16:4). Hoor net die geweldige woord in Prediker 6:3: "As 'n man honderd kinders verwek en baie jare lewe en die dae van sy jare baie is en sy siel nie genoeg kry van die goeie en hy ook nie 'n begrafnis het nie, dan sê ek: 'n MISGEBOORTE is beter as hy."

Paulus sê dat ons begrafnis in Christus volledig is: "Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel." (Rom 6:4)

Om 'n liggaam te verbrand was net in 'n geval van 'n gruwelike sonde, soos onder meer bloedskande: "En as 'n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hóm en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie." (Lev 20:14) Lykverbranding is ook 'n skending van die verbond van die HERE: "En hy wat in die besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en 'n skanddaad in Israel begaan het." (Jos 7:15)

As iemand uit vrye wil verkies om sy liggaam na afsterwe te laat verbrand, kan God se Naam daar nie by betrek word nie. Dan vra 'n mens jou die vraag af, hoe kan so 'n diens dan sonder God se Naam gelei word? Amos sê in hoofstuk 6:10: "En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder, en iemand wat in die agterste vertrek is, sê: Is daar iemand by jou? En hy antwoord: Nee - dan sal die eerste sê: Bly stil, want dit is nie gepas om die naam van die HERE te vermeld nie!"

As kinders van die Here moet ons onsself baie duidelik oor die daad van begrafnis of kremasie vergewis. Dit is nie maar net 'n eenvoudige handeling wat daar plaasvind nie, maar die begafnisgangers tree as saaiers van God op om daardie koringkorreltjie aan die aarde toe te vertrou tot op dié dag wanneer God dit uit die dood sal opwek tot 'n nuwe verheerlikte mens, verenig na liggaam en siel (1 Kor 15). As jy bewustelik dié koringsaad gaan verbrand, bly daar mos geen saad oor om te plant wat kan groei nie? Daarom kyk die boer met groot omsigtigheid na sy koringsaad en versorg dit dat daar geen skade by kan kom nie. So waak God ook oor ons, want ons sal eendag by die wederkoms van Christus in verheerlikte staat opgewek word (1 Joh 3:2-4).