|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
GESPREK MET DIE LESERS
REDAKSIONEEL
Weens my verhuising na 'n ander adres en ook onvoorsiene omstandighede in verband daarmee, verskyn hierdie uitgawe nie op die beplande tyd aan die begin van Meimaand nie. Gevolglik sal die uitgawe wat vir Julie bestem is, dalk ook een of twee weke later gereed wees. Let daarop dat ons telefoon en faksnommer nou verander het na die nommer 012 546 2846.
Ondertussen het ons baie aansporing ontvang om voort te gaan met die redaksionele aksie van ons blad. Dit blyk uit die finansiële bydraes wat ons ontvang, waar talle intekenare 'n donasie by hulle jaarlikse herintekening bygevoeg het. Andersyds blyk dit ook uit mondelinge en skriftelike boodskappe wat ons ontvang. Ons noem graag een voorbeeld, van 'n vroulike intekenaar/leser van ons blad. Tesame met die herintekening skryf sy die volgende:
" 'n Opregte dank word uitgespreek vir so 'n suiwer tydskrif. Moet nóóit ophou met dié tydskrif nie - ons het die leiding bitter nodig in 'n verwarrende samelewing. Veral nou, na die sinodesitting in Januarie.
Hou aan praat met ons - "So sê die Here ...". Die talle teksverwysings daarmee te same gee vir ons vastigheid. God's rykste seën word jul toegebid."
Hierdie uitgawe is nog sterk toegespits op die jongste Sinode van die GKSA, Januarie 2003. Daar heers tans verdeeldheid in die kerke oor die toepassing van besluite wat geneem is. Talle kerkrade is nog onseker oor wat hulle gaan doen in verband daarmee. Van die lidmate verlaat, met of sonder attestaat, gemeentes waaraan hulle tot dusver behoort het om aan te sluit by 'n gemeente wat meer hulle standpunt deel. Daar was nog nooit in die geskiedenis van Die Gereformeerde Kerke, sedert sy stigting, 'n verwarring soos tans nie. Die redaksie van Die Kerkpad bly getrou aan die skriftuurlike pad en die eise van God se Woord ten aansien van die vergadering van sy kerk en wil diensbaar wees aan die bou van sy koninkryk.
Laat almal wat behoudend is en wil bly, die rus en die wysheid vind om te doen wat God van hulle vra in plaaslike omstandighede ten aansien van besluite wat die waarheid geweld aandoen en nie die toets van God se Woord kan deurstaan nie. Die Here self sal dié wat getrou is troos en lei op die pad van ewige vrede!