Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Is ons nog Gereformeerd?

AKTUEEL: Die Kerk in nood (Dr Pieter van der Dussen)

SKRIFOORDENKING:
Ten grond oor gebrek aan kennis

Mag ons die Bybel interpreteer?

Fundamentalisme ....

Gereformeerde Kerk Waterberg (dolerend)

Gelowige Skrifverklaring ....

Lykverbranding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Geref Kerk Aranos aan GKSA

Geref Kerk Orania ....

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Asmal - plan vir godsdiensonderrig

Asmal wil sinkretisme deur dwang bewerkstellig

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
"Nkosi sikel 'iAfrika"

Mosie kongres HNP

Prinsipiële kritiek op plasing van afbeelding van Jesus

Vrouediakens - 'n stap vorentoe! of agtertoe?

PERSRUBRIEK: 
Vereniging van nie-blanke kerke

Vervlakking in die kerk

Nuwe godsdiens, nie hervorming

GKSA Sinode 2003

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Pynbehandeling al sterf die pasiënt

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 3 Mei 2003

Hoofartikel

IS ONS NOG GEREFORMEERD?

Wat beteken dit om Gereformeerd te wees? Is dit slegs 'n benaming sonder spesifieke inhoud? Of is dit 'n onderskeiding in die geloof en oortuigings wat sekere mense en geloofsgemeenskappe in die samelewing besonder maak? Wat is die onderkeidende kenmerk(e) van Gereformeerd wees en kom dit nog tot uitdrukking in die handel en wandel van lidmate van kerke, sogenaamd op gereformeerde grond-slag, en is dit nog van toepassing op die gemeentes en verbande van gereformeerde kerke in ons land en elders waar hulle hulself as soda-nig beskou en tipeer?

Gereformeerde Kerke (wêreldwyd) asook sy lidmate behoort te glo, te bely en daarby vas te staan dat hulle die "enige katolieke of algemene kerk" verteenwoordig: " 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees." Juis omdat hierdie kerk "daar was van die begin van die wêreld af en tot die einde daar sal wees, (en) Christus 'n ewige koning is, wat nooit sonder onderdane kan wees nie", eis die Here dit van sy kerk- en verbondsvolk. "Hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tydlank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab seweduisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie.

"Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig." (NGB, art 27)

Onder vandag se omstandighede met die opsigtelike verval en sekularisering van die kerke (algemeen) maar besonder ook van dié kerkverbande en plaaslike kerke wat hulle tot dusver as gereformeerd beskou en tipeer, is dit van uiterste belang om dit te toets aan die inhoud van hierdie belydenisartikel.

Dit is opmerklik dat in die geskiedenis vanaf die begin die mense herhaaldelik ontrou aan die Here geword het, maar dat God ook elke keer weer terugkeer, reformasie, bewerkstellig het. Dit het reeds begin in die Paradys, waar God vir Adam onderrig en met hom gepraat het en Adam met Hom gewandel het. Nie te lank nie of Adam raak ongehoorsaam en ontrou, hy oortree die "proefgebod" en val onder die strafbedeling wat God van die begin af aangekondig het. Dis God self wat ruimte vir die toekoms van die menslike geslag daargestel het met die "moederbelofte", die saad van die vrou wat die verlossing deur voldoening sou bewerkstellig (Gen 3; NGB, art 20, 21). Van toe af geld die antitese, die prinsipiële teenstelling tussen die ware kinders van die Here en diegene wat in hulle self genoegsaam is, die kinders, "seuns van God", en die kinders, "dogters van die mense" (Gen 6:1,2).

Vroeg al, nadat die geslagslinie van Adam-Set vermeerder het, is die Naam van die HERE deur sy getroue kinders aangeroep, sê maar: is reeds eredienste gehou (Gen 4:26). Tog was die lidmate van die "kerk" vóór die Sondvloed in die minderheid en het nie almal opreg die Here gedien nie. Ons sien die resultaat daarvan dat God uiteindelik slegs Noag, sy vrou en seuns en die vroue van sy seuns gespaar het van die verderwing deur die vloed (Gen 6).

So het dit ook maar aldeur gegaan met die verbondsvolk van Israel, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob. Die HERE het sy insettinge en wette gegee: "As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde ... . Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insetttinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal ..." (Deut 28:1vv en 28:15 vv). Dis die verbondsbelofte en -eis in die Ou Testamentiese bedeling. Die essensie, die erns daarvan bestaan voort onder die Nuwe Testamentiese bedeling. Tot vandag toe bind die Here sy verbondskinders aan dieselfde belofte en eis.

Dit is die rede om klem te lê op die suiwere Woordverkondiging. Dit begin by die bewaring van die onvervalste waarheid van God se Woord. Daarom is die kwessie van 'n onbetroubare Bybelse grondteks en Bybelvertaling die vertrekpunt van dwaalleer, wat getolereer word as reeds geldigheid daaraan verleen is. Boonop ontstaan dan die gevaar waar die belydenis, (NGB, artikel 31) op wys, van die kerk wat as vals beskou kan word - dit het ook betekenis ten opsigte van sy lidmate: "Dit skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf."

As die vertaling van die Bybel saamhang met die parafrasering daarvan (parafraseer beteken volgens die woordeboek: verklarend anders stel of omskryf), dan word die Bybel anders geïnterpreteer as in die geval van 'n konkordante, 'n meer letterlike vertaling waar die Bybel homself verklaar deur teks met teksvergelyking in die verband van die Skrif as 'n geheel. Dis juis die gevolg van "interpretasie" volgens menslike, rasionele denke waar die konflik tussen waarheid en dwaling ontstaan. Vandaar die ketterye van die verlede en hede, kerkskeurings en aan die ander kant reformasie en terugkeer na die suiwere Woordverkondiging en vergadering van die Here se Kerk.

Vandag het ons te doen met 'n sogenaamde "Nuwe Hervorming", wat niks anders is as 'n vorm van ongeloof in die heilsfeite wat in en deur Jesus Christus vervul is. In die Gereformeerde Kerke (GKSA) het ons aktueel te doen met rasioneel-sosiologiese interpretasies van die Bybel wat breek met die tradisionele geloofsoortuigings dat die essensie van die Ou en (in Christus vervulde) Nuwe Testamentiese bedeling gehandhaaf moet word in die vergadering en regering van die Kerk. Dit behels geen onsinnige verstarring nie. Daar is voortgang en verandering van omstandighede, kultuur en tyd. Maar die vorm wat die Bybel leer vir die geloof en inrigting van Christus se Kerk bly die eeue deur dieselfde. Dit betref ook die onderskeid tussen man en vrou, wat nie maar net 'n kultuurkwessie was en is nie, maar 'n skriftuurlike beginselsaak wat dateer vanaf die skepping, sondeval en moederbelofte in die Paradys. Die man is die meerdere van die vrou, sonder om oor haar te heers. Dit bly onveranderd. "Die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; ... . Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hulle eie mans wees" (Ef 5:23, 24).

Sowel die aanvaarding van die Cloete-Psalmomdigting asook die aanvaarding van die vrou in die amptelike bediening in die kerk, ook die gebruik van kelkies in plaas of naas die gemeenskaplike drinkbeker(s) by die viering van die Heilige Nagmaal in die Kerk, berus op betwisbare interpretasies van die Bybel wat in die hand gewerk word deur die aanvaarding en gebruik van die 1983 parafraserende Bybelvertaling. Daarom mag die saak van suiwer Bybelvertaling nie van ondergeskikte belang geag word nie.

"Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue dienaars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van die hoorders mag strek" (Dordtse Leerreëls, slotparagraaf).