|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
KERK, STAAT EN MAATSKAPPY Vrouediakens - 'n stap vorentoe! ... of agtertoe?- DS HENNIE VAN WYK - PRIMROSE -
GEPUBLISEER IN DIE KERKBLAD, MAART 2003, BL 23 - 25
Met meerderheid van stem is besluit om vroue tot die diakenamp toe te laat. Vir diegene wat daar was, was dit duidelik dat dit nie 'n groot meerderheid was nie. Waar plaas dit die kerk en die vrou in die kerk?Die Sinode van 2000 het duidelik gesê: Dit is duidelik - met die lig wat ons het - dat vroue nie tot die drie besondere ampte toegelaat kan word nie. Daarom is studiedeputate aangewys om te gaan kyk watter rol vroue wel in die kerk moet vervul in die lig van die Skrif. Die rapport wat teruggekom het, was deurmekaar: die meerderheidsrapport het 'n minderheidsaanbeveling gehad en die minderheidsrapport 'n meerderheidsaanbeveling.
Waaroor het dit gegaan? Myns insiens alles behalwe wat die opdrag was. In plaas van nuwe velde te gaan ondersoek, is weer na die drie besondere ampte gaan kyk, en toe het daar in drie jaar 'n nuwe lig opgegaan - die emosionele lig. Waar die lig van die Skrif nie geskyn het nie, het die lig van die emosie geskyn. Daar is sekere aspekte wat beter ondersoek moes word: Hoe funksioneer die mens as beeld van God in die Kerk? (Gen 1,2 en Ef 5)
As ons drie ampte (dienste) in die kerk onderskei, is dit die enigste gawes/funksies wat daar in die kerk is?
Wat is die omvang van die diakenamp?
Wat is die pad vorentoe?
Die mens as beeld van God
Toe God die mens as sy beeld geskep het, het Hy hulle (beeld - enkelvoud) man en vrou geskep. Ons leer in die katkisasie dat hierdie beeld waarheid, geregtigheid en heiligheid is.
Vir die individu - man of vrou - is dit inderdaad waar. Daar is egter 'n ander aspek wat ons nie uit die oog moet verloor nie: deel van die beeld-wees is dat man en vrou elkeen ander eienskappe van God uitbeeld.
Dit moet duidelik wees dat in die skepping man en vrou - beeld van God - gelyk was. Elkeen het sy eie eienskappe gehad - geen mens (óf man óf vrou - getroud of ongetroud) kon die volle beeld-wees van God uitbeeld nie. God gee dus aan die man sekere van sy eienskappe en aan die vrou ander. Gelyk. Ons moet besef dat God nie teen die man diskrimineer as Hy sekere eienskappe nie aan hom gee nie, dieselfde met die vrou.
Hoewel die praktyk gemaak het dat die vrou in die Ou Testament nie 'n prominente rol gespeel het nie, maak dit nie die skepping van God kragteloos nie. Lees gerus deur die wette van die Ou Testament en kyk hoeveel meer die Here die regte van die vrou beskerm as die regte van die man:
'n Man moet met sy broer se weduwee trou sodat sy versorg is.
'n Meisie se goeie naam moet beskerm word as haar man beweer dat sy op haar huweliksnag nie 'n maagd was nie.
Selfs heidense vroue mag nie sorgloos gelaat word as 'n man sy belangstelling in haar verloor nie.
Waar egskeiding toegelaat is, mag die vrou nie sonder sorg gelaat word nie.
Dit is duidelik dat die Here nooit die vrou as minderwaardig beskou het nie. Die mans kon dit gedoen het - God het nie. Hierdie beeld-wees is ook duidelik in die Nuwe Testament wanneer die gelykheid weer beklemtoon word in onder andere Efesiërs 5.
Daar word baie geskryf oor diskriminasie teen vroue. Daar is selfs voorbeelde daarvan in die Skrif: die Fariseërs bring slegs die vrou wat op owerspel betrap is na Jesus - maar God keur nooit hierdie optrede (van die mans) goed nie - let maar op Jesus se antwoord: aan die skuldige mans sê Hy dat die onskuldige die eerste klip moet gooi - en aan die skuldige vrou sê Hy dat sy nie meer moet sondig nie. So ook sal God in sy kerk nie diskrimineer teen die man omdat hy 'n man is en die vrou omdat sy 'n vrou is nie.
Drie ampte?
Ons onderskei drie ampte in die kerkorde: predikant, ouderling en diaken. O ja, en vinnig voeg ons die amp van gelowige by. Hierdie vierde "amp" het egter in die praktyk van die gemeente baie leemtes: 'n Mens word nie formeel bevestig nie; dit het nie status nie; en 'n mens kan nie ontslag vra nie. Is die klem wat op hierdie vierde "amp" gelê is, nie maar gebruik om die vrou tevrede te hou nie?
Kyk ons na die funksionering van die Nuwe-Testamentiese kerk, lees ons van ander take wat in die kerk aanwesig was: wonderdade, gesondmaking, leiding gee en tale. Voeg nou hierby die gawes van die Gees en die vrugte van die Gees, en vergelyk dit met die "vereistes" vir diakens en ouderlinge, kom 'n mens gou agter dat ons in ons kerke nog baie het om te bestudeer oor die funksionering van die gawes in die gemeente.
Selfs in die rapport van sowel die studiedeputate as die kommissie wat weer hierdie rapport bestudeer het, is daar baie duidelik gesê dat oor ouderling en predikant die Skrifgetuienis redelik duidelik is dat dit 'n man moet wees. Oor die diakens is daar twee teenoorgestelde standpunte gestel - waartussen 'n keuse gemaak moet word.
Indien ons dink dat kerkwees slegs be-perk is tot drie ampte, maak ons 'n baie groot fout. Lees weer 1 Korintiërs 12: die liggaam bestaan nie net uit drie dele nie. Daar word in die kerk en kerkorde 'n redelike sterk saak uitgemaak dat ons nie moet praat van "ampte" nie, maar eerder van "dienste" - omdat die mens in diens van God staan. Kan ons nie onderskei tussen "dienste" en "funksies" nie? Die gawes is nie beperk tot die drie "ampte" nie - God laat Hom nie so beperk nie.
Kyk 'n mens na die eienskappe wat God aan die vrou gegee het as sy beeld, en ons kyk na die gawes wat Hy aan sy kerk gee, sien ons duidelik dat ons kerke nie net mag bestaan uit die huisbesoek van diaken, ouderling en predikant nie (wat moontlik praktyk in baie gemeentes is). Dit is die leemte in die studierapport wat voor die Sinode gedien het en myns insiens juis die opdrag was. Dit is waarom daar gedink word dat daar teen vrouens gediskrimineer word as hulle nie in een van die drie "ampte" bevestig word nie.
Die omvang van die diakenamp
Op die Sinode is 'n redelik sterk saak uitgemaak dat vroue uiters geskik is vir barmhartigheidsdiens. Dis inderdaad waar. Dit is egter nie al wat diakens moet doen nie. Sinode 1979 het 'n uitgebreide studie oor die diakenamp aanvaar. Daar is baie duidelik gesê dat die diakens nie kollektante is nie (wat net bydraes afhaal en geen ander werk in die kerk hoef te doen nie) en ook nie net barmhartigheidswerk verrig nie (armsorg). Lees gerus die formulier: diakens moet huisbesoek doen, lidmate onderrig om hulle liefde daadwerklik teenoor mekaar te bewys, hulle het die taak dat lidmate nie deur enige gebrek aan die uitleef van die liefde van die geloofsgemeenskap vervreemd raak nie.
Voordat vrouens dus in die amp van diaken bevestig word, moet kerkrade hulle deeglik vergewis van die volle omvang van die dienswerk wat die Here aan die kerk se diakens gee, en kyk of hulle inderdaad die volle omvang van God se opdrag kan uitvoer - soos wat die kerkraad inderdaad moet doen ook as manne verkies word.
Die pad vorentoe
God het man en vrou elk unieke eienskappe gegee. Ja, daar is oorvleueling, ja, daar is leemtes. Maar ... dit is nie God se fout nie. Hy het met 'n doel sekere take aan die man en ander aan die vrou opgedra. Solank ons besef dat God nie foute maak nie - ook in dit wat die Heilige Gees geïnspireer het.
Met sondige oë kyk ons na God se openbaring. Hy het met sy goeie rede gedeeltes laat opteken wat "diskriminerend" teen vroue is. Wat maak ons daarmee? Skeur dit uit die Bybel uit? As ons nie sy redes verstaan nie - is dit God se fout? Kan ons maar dan besluit waartoe ons emosies ons lei, óf die hedendaagse uitroep na menseregte óf pragmatisme?
Dis so maklik om die gedeeltes in die Bybel te ignoreer wat ons nie pas nie. Ons moet egter vra: Waarom het God dit laat opteken? Ek dink spesifiek aan gedeeltes soos 1 Korintiërs 14 (veral verse 34, 35), 1 Timoteus 2 (veral verse 9-15), 1 Timoteus 3 (veral verse 2, 4, 9), en 1 Timoteus 5. Ons moet net besef: sodra ons tekste begin ignoreer of verdraai, gaan ons uiteindelik met geen Bybel sit nie of, soos 'n kulte, die gedeeltes wat ons nie pas in die Bybel nie, anders "verstaan en verklaar".
Hierdie besluit kan die GKSA ook ekumenies in 'n lugleegte plaas. Van die kerke met wie ons in korrespondensie is, het reeds hierdie besluit as onbybels getipeer, en ons sal maar moet sien wat gaan gebeur. Verder moet ons ook besef dat daar in die gereformeerde kerke wêreldwyd soortgelyke besluite geneem is wat tot kerkskeuring gelei het.
Daar is baie studie nodig om werklik die vraag te kan beantwoord oor hoe die GKSA in elke gemeente as liggaam van Christus die beeld van God kan uitdra. As ons nie hierdie studie doen nie, en ons bly vaskyk daarteen dat roepingsvervulling slegs tot drie ampte beperk is waarin 'n mens bevestig mag word, verskraal ons die beeld-wees van die kerk tot 'n geraamte.