|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSASMAL WIL SINKRETISME DEUR DWANG BEWERKSTELLIG
- ARTIKEL ONDER DIE HOOF "ASMAL WIL VAN AFRIKANERKINDERS HEIDENE MAAK" IN: DIE AFRIKANER, 4 APRIL 2003 GESKRYF DEUR JAKKIE BASSON -KADER ASMAL, daardie ideologiese kommunis wat die ANC in die pos van Minister van Onderwys aangestel het, wil ten alle koste deur sy godsdiensbeleid van die Afrikanerkind n heiden maak. Sy godsdiensbeleid is daarop ingestel om te verbied dat Afrikaanse skole n Christelike karakter aanneem.
Afrikaanse skole het nog altyd, selfs onder Britse bewind, n Christelike karakter gehad. Skole is in die oggend geopen met Skriflesing en gebed tydens saalopening. Op ander dae open onderwysers die dag se verrigtinge in die klas met gebed. Onder Asmal is die doel dat dit verbied moet word.
Skole het nog altyd Godsdiensonderrig as nie-eksamenvak aangebied. Daartydens is die Christelike lewenswandel aan leerlinge oorgedra. Dit moet nou heeltemal uitgefaseer word.
In die plek daarvan moet multi-religieuse godsdiensonderrig kom waartydens leerlinge ingelig moet word oor alle belangrike godsdiensvorme van die wê-reld. Dit sluit egter ook die plaaslike voorvader-aanbidding van die swartes in, wie se hoofgod in "Nkosi Sikele iAfrika", die ANC se volkslied vir die Nuwe Suid-Afrika, besing word.
Inderdaad is hier-die Asmal-beleid nie n nuwe godsdiensbeleid nie Dit is al geruime tyd gelede bekendgestel. Al wat nou gebeur het, is dat die godsdiensdokument waarop die beleid gegrondves is, bekendgestel is. Nou word kommentaar daaroor ingewag.
Wat Asmal se optrede des te meer diktatoriaal maak, is dat hy, na die bekendstelling van sy beleid in 1999, n taakspan onder voorsitterskap van n swarte, Daniel Muleleke, aangestel het om in te gaan op besware wat daarteen geopper is. Nou kom Asmal, en stel n dokument bekend wat basies sy vorige godsdiensbeleid bevestig, nog voordat die taakspan in staat was om verslag te lewer of kommentaar te lewer op die kritiek wat daaroor geopper is.
Hoe skelm die kommunistiese ANC-regime die hele saak hanteer, blyk daaruit dat dit beskikbaar gestel is gedurende die skoolvakansie, en dat diegene wat daarop wil reageer, dit voor 7 April moes doen. Dit is die dag waarop die skole in die PWV weer heropen. Dus word van veral onderwysers wat daarteen beswaard is, verwag om in die vakansietyd daarop te reageer. Dit gee ook nie vir skoolhoofde die geleentheid om dit met sy personeel te bespreek nie, aangesien hulle tans met vakansie is.
Asmal speel ook die tipiese speletjie van die kommuniste van een tree agteruit, twee tree vorentoe. Derhalwe is daar in die dokument wel n klein toegewinkie, en wel in hierdie sin dat, indien skole wel aandag wil gee aan n bepaalde godsdiens, dit hulle nie verbied word nie. Hulle mag dit egter nie in skooltyd doen nie, maar dit moet na skoolure aangebied word.Die aanbieding van godsdiens as vak waar aandag aan alle godsdienste gegee moet word, moet volgens Asmal "neutraal" wees, sonder om voorkeur te verleen aan enigeen van die godsdienste. Die Christendom gaan vanuit die Bybel van die standpunt uit dat daar net een ware godsdiens is, en dat al die ander vals is. Verlossing loop slegs deur die bloed van Jesus Christus aan die kruis, en enige ander godsdiens wat dit nie wil aanvaar nie, is bestem vir die verdoemenis. Dit sluit Islam, Boeddhisme, Hindoeïsme, Judaïsme, voorvadergeeste-aanbidding en alle ander valse godsdienste in.
Asmal se uitgangspunt is die sinkretisme waarvolgens alle godsdienste dieselfde oorsprong het, en dat al die gode wat aanbid word, maar almal een en dieselfde god is. Dit is net die aanbiddingswyses wat verskil. Hierdie konsep moet ook aan die skoolleerlinge oorgedra word. Dit is ook in dieselfde gees as wat die Kodesa-openinge waargeneem is, onder andere deur prof Johan Heyns van die NG Kerk, en prof Koos Vorster van die Gereformeerde Kerke, asook deur Desmond Tutu, hoof van die Anglikaanse Kerk tydens die inhuldiging van Nelson Mandela as president.
Die uitgangspunt van Asmal is dat die nuwe onderwysbeleid verdraagsaamheid teenoor alle godsdienste moet bevorder. Deur Christene egter te dwing om "neutraal:" van ander godsdienste te leer, en dit oor te dra aan onvolwasse kinders met oop gemoedere, is erger as lewensgevaarlik. Hulle is ontvanklik vir vreemde gedagtes en kan hulle heeltemal op n dwaalspoor laat beland. Dit is, om die minste daarvan te sê, hoogs verwarrend vir n onvolwasse kind wat nog koers in die lewe moet kry.
Die Asmal-beleid is onopvoedkundig en onverdedigbaar. Hierdie tipe van godsdiensaanbieding is vir die Christen totaal onaanvaarbaar en verwerplik.
Kerke het reeds saamgekom om teen die nuwe onderwysbeleid beswaar aan te teken. Politieke partye het hulle reeds daarteen uitgespreek. En daar is reeds sprake daarvan om die saak hof toe te neem, sou Asmal met sy planne voortgaan. Wat hy beoog, is direk in stryd met die ANC-regime se eie Grondwet.
SKOOL WAT MET ARSO GEASSOSIEER IS, SING NOU "NKOSI SIKELEL' IAFRIKA"
Die skoolbestuur van die Johannes Calvynskool, uitgaande van die Vrye Gereformeerde Kerk(e) te Pretoria en geassosieer met Arso, het besluit om, terwyl hy "die saak dringend ondersoek het" om die ANC volkslied by die skool te laat sing: "Daar ons egter geen geldige rede kon vind om dit te verbied nie, het ons die skoolhoof opdrag gegee om hierdie lied weer by gepaste geleeenthede te laat sing."Volgens die skoolbestuur "moet ons as Christene die owerheid gehoorsaam in dit wat hulle vra, solank dit voor God verantwoord is. Dit beteken dat ons die kinders by die skool moet leer van die landswapen, volkslied, landsvlag en so meer. As ons dit nie doen nie, ondermyn ons die gesag van die owerheid. Sien Heidelbergse Kategismus, Sondag 39, vr/antw 104."
In 'n verweerbrief word dit aldus gestel: "'n Mens kan verstaan dat dit vir baie blankes in Suid-Afrika moeilik is om die lied sommer net so te aanvaar. Ons het die lied voorheen net geken as 'n ANC-lied. Ons het dit derhalwe altyd geassosieer met rewolusie en kommunisme en met beelde van swartmense wat die lied by begrafnisse sing met gebalde vuis. Dit is verstaanbaar dat blankes 'n weersin teen die lied opgebou het. ...
"Die lied is so Christelik van karakter dat dit vir die ANC self 'n verleentheid is. Sekere ANC-leiers doen pogings om die inhoud van die lied so te verklaar dat dit vir die nie-christene in sy geledere aanvaarbaar is. (Hulle verklaar byvoorbeeld dat die Gees van wie daar hulp gevra word nie die Heilige Gees is nie, maar die gees van die voorvaders.) Hierdie verklaring is egter onmoontlik omdat daar in die lied gepraat word van die 'Moya o yiNgewele' (Heilige Gees). As daar dan gevra word: 'Wie is die Gees, die Heilige Gees'? dan sal enige Christen-swartman baie duidelik kan stel dat dit inderdaad die Heilige Gees is wat uitgaan van die Vader en die Seun.
"Die situasie met betrekking tot Nkosi Sekele' iAfika is vergelykbaar met die vierde vers van 'Die Stem'. Die woorde is so uit en uit Christelik dat dit vir heidene in die land moeilik is om dit heelhartig saam te sing. Die feit dat baie ongelowiges dit wel sing, mag egter nie vir Christene rede wees om die lied af te skryf nie. Ons behoort juis dankbaar te wees dat ons 'n volkslied het wat 'n duidelike Christelike karakter dra."
Vergelyk ons kritiese kommentaar wat gepubliseer is in KERK EN WOORD, September 1994, DIE KERKBLAD, 19 Oktober 1994, BYBEL EN VOLK. Oktober 1994 en DIE KERKPAD, Mei 2000.