Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Is ons nog Gereformeerd?

AKTUEEL: Die Kerk in nood (Dr Pieter van der Dussen)

SKRIFOORDENKING:
Ten grond oor gebrek aan kennis

Mag ons die Bybel interpreteer?

Fundamentalisme ....

Gereformeerde Kerk Waterberg (dolerend)

Gelowige Skrifverklaring ....

Lykverbranding

KERKLIKE JOERNAAL: 
Geref Kerk Aranos aan GKSA

Geref Kerk Orania ....

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Asmal - plan vir godsdiensonderrig

Asmal wil sinkretisme deur dwang bewerkstellig

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
"Nkosi sikel 'iAfrika"

Mosie kongres HNP

Prinsipiële kritiek op plasing van afbeelding van Jesus

Vrouediakens - 'n stap vorentoe! of agtertoe?

PERSRUBRIEK: 
Vereniging van nie-blanke kerke

Vervlakking in die kerk

Nuwe godsdiens, nie hervorming

GKSA Sinode 2003

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Pynbehandeling al sterf die pasiënt

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 3 Mei 2003

SKRIFOORDENKING

TEN GRONDE WEENS 'N GEBREK AAN KENNIS

Matteus 22: 23 - 33

-  DS HT DE VILLIERS  -  PRETORIA (PAUL KRUGERKERK  -

Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.        (Matt 22 : 29)

Ons is maar geneig om alles aards te beredeneer. Daarmee staan ons soms direk teenoor die wese van wat Paulus in Kolossense 3:2 sê: "Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie."

Christus se antwoord hieroor, op die Sadduseërs se versoeking, is 'n dringende waarskuwing vir sy Kerk van alle eeue.

Konfrontasie

Die Sadduseërs se aardsgerigtheid het hulle in konfrontasie met Christus gebring. Hulle was 'n klein elite in Israel, beïnvloed deur heidense gedagtes, vol dwalings. Hulle het slegs die vyf boeke van Moses aanvaar as die Skrif of Thora. Hulle was die "Verligtes" - mense wat nie bang was vir vernuwing nie. En die bestaan van engele en die wederopstanding uit die dode het hulle nie geglo nie. Dit rym mos nie met die "gesonde" verstand nie!

Dit was oor die laaste wat hulle 'n strikvraag aan Jesus stel oor die fiktiewe storie van 'n vrou wat met sewe broers, die een na die ander se afsterwe sonder kinders, getroud was. Dan volg die vraag: "Wie se vrou gaan sy in die hiernamaals wees?..."

Ontbloting

Die Here ontbloot hulle verkeerde gesindheid heel eenvoudig. Hulle wil die geestelike en ewige verklaar vanuit hulle aardse kennis. Daarmee staan hulle los van God en sy Openbaring.

Hulle ken nie die Skrifte nie. Buiten dat hulle die grootste deel van die Ou Testament verwerp het, verstaan hulle nie eens dit wat hulle behou het nie.

Dit is waarom hulle ook nie die krag van God ken nie. Soos vandag ook, het hulle sy mag om wonders te kan verrig wat bo die rasionele denke uitgaan, verwerp.

Openbaring

Christus se antwoord maak ons iets van die heerlikheid wat kom bekend.

Hy weerspreek die Sadduseërs en leer ons van die nuwe volmaaktheid wat kom. Maar wat die Here eintlik sê, is dat hulle kyk en hoor, maar nie glo nie. Dit pas nie in by hulle geloof, patroon en agenda nie. Die gevolg?

Wanneer Jesus Lasarus opwek, is hulle reaksie om Hom dood te maak. Wanneer Hy Self uit die dood opstaan, betaal hulle die soldate om 'n leuen daaroor te versprei.

Hoe kan mense so blind wees?

Dit is omdat hulle verstand versluier was, aldus Paulus. Die sonde se blindheid is groot!

Sien dieselfde blindheid maar deur die hele geskiedenis, veral nou ook weer:

Tekste word uit verband geruk; Dele van die Bybel word gere-lativeer en selfs geloën;  As 'n teks nie sê wat jy wil hê dit moet sê nie, gaan jy eenvoudig daaraan verby.

Verbond verbreek

Deur God se verbond word ons verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid ... aan Hom. Waaraan moet ons gehoorsaam wees? Aan sy wil en wet. Waar vind ons dit? In die hele Skrif!

Ongehoorsaamheid aan die Skrif en eiewillige hantering daarvan is bondsbreuk! Weer eens: Wie hom losmaak van God se Woord, maak hom los van God.

Ons ken die gevolge van bondsbreuk in die geskiedenis van Israel. Veral in die tyd van Christus toe Hy, in die gestalte van 'n mens op die aarde vertoef het. Hulle het die Woord omgebuig en vertrap. Hulle het nie meer God se wil gedoen nie. Hulle het die hoeksteen geloën en verwerp: die Woord wat vlees geword het.

Vandag?

Of mense dit wil erken of nie: die simptome bly nie meer net simptone nie! "Nuwe" benaderings van die Skrif, invloede van buite (sonder om nou alles te noem), relatiwisme, buig vir druk van die openbare mening en die media van kerklike en sekulêre pers, TV en radio, laat merke wat nie meer kan weggesteek word nie.

Ook 'n Bybelvertaling waarin nie meer gevra word na wat die Heilige Gees sê nie, maar "hoe het die mense (die eerste hoorders) dit verstaan?" (daarbenewens al die ander gebreke van die 1983 NAV).

Relatiwisme!  - weens gebrek aan kennis

Dit is waarom lidmate vra of dit nou so ernstig is wat jy sing, hoe jy eredienste hou, Nagmaal gebruik, en of die "Messiaanse tekste" werklik 'n belangrike saak is.

Luister! Hoor die Here se vervloe-kinge oor almal wat sy Woord geweld aandoen. Sy oordele is nie maar slegs afskrikmiddels nie, maar 'n verskriklike werklikheid.

Sy Woord roep ons tot kinderlike gehoorsaamheid, volledige geloof, om nie een vir een die hoekpale van die Kerk te laat val nie.

Ken die krag van God! Hy sal bewaar, al spot die spotters en bedink die nasies nietige dinge. Ons moet met ootmoed en nederigheid met hierdie Woord omgaan. Dit is die ewige lewe,

Aanskou Hom in sy heerlikheid. Bedink wat daartoe behoort en behou elke jota en tittel van sy goddelike, heerlike en volkome Woord.