|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
AMPTELIKE BLAD VAN DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE KERK, APRIL 2003, BLADSY 9 Koersvas - só is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika waarskynlik deur baie gereformeerde gelowiges in ons land en daarbuite beskou. Daar was wel altyd ook nog die verskille. Maar die koersvasheid en gehegtheid aan die gereformeerde leer en kerkinrigting is waardeer.GKSA SINODE 2003
NOG OP KOERS, OF TRAP HULLE UIT DIE SPOOR?
KOMMENTAAR GEPUBLISEER IN DIE BOODSKAPPER,
In die laaste klompie jare het dinge egter begin verander. Vir ons wat van buite kyk, lyk dit of die Gereformeerde Kerke maar agter die tendense wat ook deur die NG Kerk ingeslaan is, begin aanloop. Weliswaar loop nie almal saam nie. Getuie van die onrustigheid en die weerstand teen die ingeslane koers , is byvoorbeeld die totstandkoming van Die Kerkpad - 'n blad wat krities op dié tendense in veral die Gereformeerde Kerke reageer.
Nou het die GKSA in Januarie 2003 sy Nasionale Sinode gehou. Belangrike sake vanuit ons oogpunt het onder andere gehandel oor homoseksualiteit, evolusionisme, die gebruik van die Liedboek van die Kerk, die eredoktorsgraad wat die PU vir CHO aan biskop Tutu toegeken het, en die vrou in die besondere kerklike ampte.
'n Paar mooi besluite (vanuit ons oogpunt) is oor sommige van hierdie sake geneem. Homoseksueel is prinsipiëel verwerp (met behoud van die pastorale betrokkenheid by diesulkes) en gelowiges is opgeroep tot 'n Godverheerlikende uitlewing van hulle seksuele lewe. Die sinode het beswaar gemaak teen die invoer van evolusionisme as 'n verpligte deel van die skoolkurrikulum vanaf 2004 terwyl die Darwinistiese evolusieleer verwerp is - tot irritasie van die minister van onderwys.
Wat ons ook raak, is die besluit om die 2001-Psalm-omdigtings by te voeg by die bestaande 1936-berymings om, saam met ander liedere, waaronder 12 uit die Liedboek vir die kerk, die nuwe Psalmboek vir die Kerk te vorm. Waar van toepassing sal die openbaringshistoriese verband met die Messiaanse vervulling van Psalms met voetnote aangedui word.
Tutu
Die Partikuliere Sinode Bosveld het 'n beskrywingspunt na die Sinode gebring waarin die kerk versoek is om hom te ditstansieer van die PU vir CHO wat 'n eredoktersgraad aan biskop Tutu toegeken het. Hieraan is nie gevolg gegee nie, met die motivering dat die Universiteit selfstandig is. In die oë van vele gelowiges sal die gedagte egter waarskynlik naleef dat die kerk, toe die geleentheid op sy weg gelê is, hierin nie 'n genoegsame profetiese woord laat val het nie en hom dalk tog maar op die "politiek-korrekte" weg wil bevind.
Vrouediakens
Die besluit wat by ons waarskynlik die meeste kommer sal wek, is dié om die vroue tot die amp van diaken toe te laat. Die AP Kerk het sedert sy ontstaan getoon dat hy die besondere kwaliteite wat die Here aan die vrou gegee het, waardeer en benut. Maar die aandrang op die toelating tot die besondere kerklike ampte (asof die vrou onderwaardeer sou word indien die ampte slegs vir mans toeganklik bly) kom uit 'n bedenklike oord. Die uittredende redakteur van die amptelike blad van die GKSA, Die Kerkblad, gee in die uitgawe van 29 Januarie 2003, bladsy 5, duidelike bewys van van sy kommer oor dié verandering. Hy toon, met verwysing na gesaghebbende teoloë, aan dat die besluit om vroue tot die besondere kerklike ampte toe te laat telkens 'n verskuiwing ten opsigte van die beskouing oor Skrifgesag en die gebruik van die Skrif vergesel. Ons deel daardie siening. Dit is maar die voet in die deur.
Dit lyk dus of die GKSA sy koersvastheid verloor het en uit die spoor begin trap. As die strewe om politiek korrek te wees en om die tendense van die tyd ter wille te wees hieragter skuil, is dit die begin van die einde vir 'n ware gereformeerde kerk.