|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 3 Mei 2003
REDAKSIONEEL
Hierdie uitgawe verskyn kronologies tussen die datums, waarop in die sogenaamde "kerklike jaar", Paas- en Pinksterfees gevier word. Tog vind ons in die kerke wat meer of minder aan God se Woord vashou en daarop gegrondves is, verskillende beklemtonings. In die Oosterse Ordodokse kerke word veral die Paasfees as fees by uitnemendheid gevier en in die Pinksterkerke en Charismatiese Bewegings en sektes wat hulleself aan geesdrywery skuldig maak, is die herdenking of gewaande oorbelewing van die uitstorting van die Heilige Gees die hoogtepunt. In albei gevalle is daar sprake van skeiding van Woord en Gees.Ons poog hiermee nie om met die badwater ook die kind uit te gooi nie. Daar is 'n herdenking van die Pinkstergebeure wat in die vorm van intensiewe Bybelstudie gedoen word en waar die uitstorting van die Heilige Gees nie as 'n op sigself staande heilsgebeure benadruk word nie. Tog kan gevra word of dit in die tyd waarin ons lewe 'n skriftuurlike eis is om die dae tussen hemelvaartsdag en Pinkster te vier soos die dissipels van Jesus tydens dié dae "in gebed en smeking eendragtig volhard het" (Hand 1:14).
Ons bely die Goddelike Drieëenheid, Vader, Seun en Heilige Gees, wat onderskei word maar nie geskei mag word in die werk van ons heerlike verlossing nie.
Die algemene geloof is en bly "dat ons die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid moet eer" (Geloofsbelydenis van Atanasius). Om die Gees los te maak van die Woord lei uiteindelik na 'n mistieke godsdienstige belewing met vermeende regstreekse inspraak van die Heilige Gees. Om die inspirasie van die Gees los te maak van die Woord lei weer tot eiesinnige Bybelinterpretasies waarin nie alles voor waaragtig gehou word nie, maar die Bybelse teks onderwerp word aan die menslike rede, soos ons dit tans ontstellend ervaar.