Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
HOOFARTIKEL
DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?
Territoriale Staatseenheid
DIE VERKIESINGSUITSLAG
... WAT NOU ?
Territoriale Staatseenheid
Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.
Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.
"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.
As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).
Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.
R
BOEKBESPREKING
"DIE VREEMDE GOD EN SY MENSE"
Prof JC Lombard (em) UOVS: Dept Bybelkunde
(Derde Aflewering)
(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)
"Die vreemde God en sy mense" - Outeur: WJ de Klerk Uitgewer: Human en Rousseau, 1998 |
Vrysinnige Leer oor die Verlossing:
WJ de Klerk se Paradoks-ontsporings:
De Klerk se vrysinnigheid vloei voort uit sy afvallige geloofskeuses, soos dit reeds in die vorige twee artikels uitgelig is. Hy loop sommer 'n kort reguit pad na sy postmodernistiese leerdwalings. Sy paradoks uitsprake en mistastings vorm deel daarvan. As deel van sy hermennneutiese sleutels vir Bybeluitleg verdiep dit sy afwykings van die gereformeerde leer en verwring dit sy interpretasie van Skrifgedeeltes.
Die HAT Afrikaanse Woordeboek beskryf dat 'n paradoks 'n uitspraak behels wat nie in ooreenstemming met die gangbare mening is nie. Dis 'n uitspraak wat skynbaar teenstrydig, maar by nadere betragting dit nie is nie (bl 820). 2 Kor 6 : 10 word as voorbeeld genoem.
By De Klerk staan die paradoks egter vas en hy kanoniseer dit soos sy dialektiese geesgenote. Hy verabsoluteer en dogmatiseer dit in plaas daarvan om die skynbare teenstrydighede hermeneuties en eksegeties te ontsluit. Sy gemaklike kortpad oplossing is: ons weet nie, dit is 'n doodloopstraat en daarmee is alles gesê. Dan gebruiik hy die paradoks-slagspreuk om dwalinge wat hy geponeer het daarmee te regverdig. Dit geld veral ook ten opsigte van sy leer van die algemene versoening in die "vreemde", die onbekende God, wat hy eensydig uitlig as sleutel in die geloofsleer. Dit in lyn met die dialektiese teologie van Karl Barth, cum suis, wat die transendensie van God só oorbeklemtoon het dat hulle tereg verwyt is van parsiële deïsme en agnostiek waarvan De Klerk nie vry te spreek is nie.
Sören Kierkegaard het ruimskoots met die paradoks gewerk in terme wat wissel van "onbegryplik" tot absurd. Barth het dit binne sy sy eie konteks voortgesit, onder andere met die oorbeklemtoning van God se transendensie en sy Todeslinie tussen God en mens wat die mens nooit kan oorsteek nie.
In Nederland was onder andere die Nederlands Hervormde teoloog prof TH Haitjema 'n getroue epigoon van Barth met sy stelling dat geloofswaarhede "paradoksaal" is. Van die pastoraat kom in hierdie uitspraak niks tereg nie! Die dialektiese paradoksiete het skynvroom gesê dat die paradoks die kruis van die gelowige denke is om ons nederig en beskeie te maak voor God. Ds JC Sikkel van die Gereformeerde Kerken in Nederland het daarteenoor gesê, dat volgens die oplossing wat die Barthiane bied, die paradoks, dat dit die asiel vir die lui denkers is. Die uitleg van die "paradoksale" Skrifgedeeltes word nie, of nie korrek gedoen nie, maar net met JA en NEE gestempel. Byvoorbeeld: Jesus Christus ís God én mens - die groot paradoks - JA en NEE. Of: Jesus sterf aan die kruis en oorwin - dis JA en NEE - 'n paradoks!
Volgens ons is dit nie paradokse nie maar heilshistoriese openbaring, waarin albei kante van dié uitsprake in direkte samehang die misterie beskryf. Dit is nie denkteenstrydighede nie. Tereg sê prof K Schilder: God breek deur sy openbaring nie sy denkwette nie, maar wel óns denksondes. Die geopenbaarde misteries van die Nuwe testament wat die begrip te bowe gaan, druis nog nie in teen die verstand nie. Die begrippe wat mekaar oënskynlik uitsluit of kanselleer is vir die Calvinisme, aldus HG Stoker, 'n positiewe teenstellende harmonie.
De Klerk se Paradoks uitsprake as sodanig:
Op bladsy 47 van sy werk kies De Klerk die "tweede opsie insake die versoening in Christus as hy die algemene versoening onderskrywe, naamlik dat die heidene ook die saligheid deelagtig word. Hy voeg aan hierdie dwaling wat hy glo toe: "dit is as paradoks ('n skynbare teenstrydigheid) en 'n misterie ('n onbekende onvatbare gegewe)". Hy kies dus die dwaling en besluit tegelyk dat dit 'n paradoks is. Dit is 'n gerieflike kamoeflage met verwarrende terme, en dit nog wel teenoor 'n fundamentele waarheid in die Skrif aangaande die antitese tussen geloof en ongeloof en dat God se soewereine genade in Jesus Christus se versoening eksklusief en uit-verkiesend is.
Op bladsy 54 lees ons van die paradoksale opvatting dat, volgens De Klerk, die Bybel God se Woord én menslike woorde is ... dis antwoord TWEE. Hy vervolg: "Hierdie boek wil-wil antwoord TWEE aanvaar, maar die oorbeklemtoning dat God aan die woord is en die onderbeklemtoning dat dit menslike geskrifte is, maak 'n mens sku om die antwoord van ganser harte te aanvaar." Dit is juis ook hier dat sy radikaal vrysinnige, dualistiese inspirasieler onomwonde uitgespreek word.
Elke gelowige wat begryp wat met die gereformeerde "organiese" inspirasieleer bedoel word sal krities vra waarom De Klerk dit as 'n paradoks kwalifiseer. Dit is tog nie net in 2 Petrus 1 : 21 en 2 Timotheüs 3 : 16 glashelder nie? Ons lees in die Ou en Nuwe testament ook hoe God in sy alwyse voorsienigheid mense en menslike middele onfeilbaar aanwend as tweede oorsake om die Kanon te verwerklik. Ons erken dat "organies" nie die beste term vir dié begrip is nie, maar dié feit en dié saak staan in die Bybel wat deur God se Gees geïnspireer is.
De Klerk skep en formuleer self sy paradokse en dan verklaar of ontvlug hy dit weer met dwaalbegrippe in die vorm van eiewillige oplossings - juis in terme van die irrasionele paradoks uitroepteken!
Die onbegryplikheid van God
Op bladsye 55 en volgende asook bladsye 67 en 68 duik verskeie dwaalbegrippe op, maar veral die paradoks van God se onbegryplikheid wat De Klerk as die hoofopskrif van al sy paradokse proklameer. Dit is ook sy slagspreuk om die bybelse waarhede waarmee hy probleme het, maklik te systap en te ontvlug. "Dis 'n misterie", dis onbegryplik, "die wêreld van die vreemde God is onbegryplik", as die Bybel oor hierdie onbegryplikhede skrywe, "kry die Bybel dit ook nie reg om dit aan ons te verduidelik nie" (bl 67).
Die skrywer se willekeurigheid en eensydigheid kom na vore in die volgende veelseggende ontsporing: "Hierdie boek betoog dat die onkenbaarheid van God meer sentraal moet staan in die christelike belydenis en belewing. Dis 'n sentrale boodskap van die Here, dat Hy onkenbaar is. Daarom moet die belydenisskrifte dit uitvoeriger saamvat. Alles wat ons nie van God weet nie en nooit op aarde sal verstaan nie, moet oorheersend wees in prediking en belydenis. Daar is bladsye in die belydenisskrifte wat met te ingewikkelde argumente paradokse probeer uitlê wat onuitlêbaar is ... ". Tot sover die skrywer.
Naas die genoemde aanmatige vrysinnigheid lees ons nog op bladsy 69 sy uiters aanvegbare opinies, spekulatief, oor hoe God die wêreld regeer, al "oefen Hy nie volkome beheer daaroor uit nie." De Klerk meen dat hy dit weet!
Die volgende ter saaklike kritiek oor die bogenoemde uitsprake, op bladsy 68, oor die prediking en die konfessies. Daar ontbreek by De Klerk dogmatiese en leerstellige insig en perspektief oor die bybelse waarhede wat onverbreeklik, samehangend en tegelyk onderskeidend bely moet word. Dit geld met name oor die leer van God Drie-enig waar die skrywer die onbekende en onbegryplike verwarrend eensydig uitlig. Het die skrywer dan nooit die Skrifgetroue dogmatici gelees nie of het hy hulle vergeet, of afgeskryf? Waarom verwring hy die dogmenhistoriese ontstaan en agtergrond van die gereformeerde en ekumeniese belydenisskrifte? Was sy eie Gereformeerde Kerk ook slagoffer van die paradoksale konstruksies en inleg in die Drie Formuliere van Eenheid? Het De Brés, Olevianus, Ursinus en die vroom manne van die Dordtse Sinode met paradokstegnieke die belydenisskrifte aanmekaar getimmer of biddend gewerk met die geopende Bybel? Wat van al dié uitsprake in die Skrif oor die belofte aan die Here se Kerk oor die leiding en verligting van die Heilige Gees?
Ter wille van beperking wys ons ten slotte nog op twee belangrike waarhede waaraan De Klerk, soos ook die dialektiese teologie dit doen, verbygaan. Dit laat aldus 'n frustrerende leemte in die christelike geloofsdenke.
1. Die heilshistoriese nabyheid van God Drie-enig in Jesus Christus deur die werking van die Heilige Gees. Dit is 'n transendente en heilige God,volgens onder andere Jesaja, hoofstukke 6 en 40, maar nie 'n vreemde God van ver op wie die geloofsoog deur paradoksnewels verblind is nie. Hy is ons Vader en Verlosser oor die hele heilsweg vanaf sy Raad, die uitverkiesing, die verbondsluiting en deur al die genadewerk aan ons as 'n eenheid, tot by die heiligmaking en verheerliking.
2. Die duidelikheid en nabyheid van die Woord. Hierdie aspek is ruimskoots eksegeties en dogmaties verantwoord. Is die God van die pragtige vryheidslied, Psalm 119, "vreemd en ver" en is die Woord wat deur ons besing word vol paradokse? (Vergelyk ook Rom 10 : 8; Ps 119 : 105, 130; Luk 24 : 32; HK, Sondag 12 - die profetiese amp van die gelowige).
De Klerk se ommeswaai
In 1961 het WJ de Klerk 'n geskrif gepubliseer onder die titel: "VADER, LEER MY LOOP - GESPREKKE MET VERDWAALDES". Op bladsy 52 en volgende handel hy oor die sentrale plek van die Bybel en skrywe onder andere: "Daarom sê ons: die Bybel is die Woord van God. Elke sin, elke hoofstuk, elke boek ... ons weier om aan die Bybel te kap" Hy skrywe ook: "Daar is 'n boeiende eenheidsgedagte in die Bybel. Elke hoofstuk is 'n tweegesprek tussen God en die leser".
So naby is die Here en sy Woord aan ons in 1961, teenoor De Klerk se "vreemde God" en die paradoksagtige Woord van 1998. Hier geld slegs die gebed: Vader, lei my terug --- Begenadig my met die gees van Jeremia 20 : 7: "Here, U het my oorgehaal; U was te sterk vir my en het oorwin."