Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
HOOFARTIKEL
DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?
Territoriale Staatseenheid
DIE VERKIESINGSUITSLAG
... WAT NOU ?
Territoriale Staatseenheid
Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.
Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.
"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.
As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).
Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.
R
KERK, STAAT EN MAATSKAPPY
WARE BETEKENIS VAN DIE CALVINISME
P VAN DER KOOI
CALVINISME IS SINONIEM AAN GEREFORMEERD-WEES VIR DIE WETENSKAP EN DIE PRAKTYK VAN DIE LEWE |
10. GROEN VAN PRINSTERER 1801 - 1876 (5)
Prof dr S du Toit het die betekenis van Groen van Prinsterer vir ons tyd beskryf in 'n brosjure: "Teen die Revolusie die Evangelie", (ongedateer), uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Calvinistiese Uitgewersmaatskappy (SACUM (BPK). Hy gebruik sitate van Groen wat hy voortreflik in Afrikaans weergegee het. In die vorige asook hierdie aflewering maak ons gebruik van sy werk. Hy skryf verder as volg, met Groen se woorde tussen aanhalingstekens:
Die Revolusieteorie is
anti-ChristelikOns weet as Christene dat die mens uit homself tot die kwaad geneig is; ons weet dat die vorm deur die wese en nie die wese deur die vorm bepaal word nie, sodat elke staatsvorm nut of onheil stig al na gelang van die beginsels waardeur dit leef. En as ons "die hele inhoud van die stelsel saamvat; as ons bedenk dat van die welslae 'n onafsienbare toekoms van heil vir die mensheid tegemoet gesien word; as ons hierteenoor stel die onverbiddellike van die geopenbaarde waarheid ... sou ons dan betwyfel of ook op hierdie terrein vyandskap tussen die saad van die vrou en die saad van die duiwel onvermydelik is? Is daar in 'n eg revolusionêre staat verdraagsaamheid teenoor die lewende evangelie denkbaar? ... Alleen deur hom teen God te verset, alleen deur God te versaak, alleen deur soos God en in die plek van God te wil wees, alleen deur die wens om, as dit moontlik was, God vernietig te sien, bly 'n mens aan jou eie beginsel gelyk as jy eenmaal op die bodem van 'n stelselmatige goddeloosheid geraak".
En al deins die meeste aanhangers van die leer vir hierdie konsekwensie terug en al wil hulle dit nie aanvaar nie, in beginsel doen dit aan die juistheid van die gevolgtrekkingniks af nie.
Maar behalwe anti-Christelik is die rewolusieteorie ook anti-histories. Seker, die volgelinge daarvan het hulle dikwels op die geskiedenis beroep. "En skynbaar nie sonder grond nie: die oppervlakkigheid waarmee die geskiedenis behandel is, was voordelig vir elkeen wat steunsels vir ongerymde leerstellinge gesoek het. ... Van die fakkel van die nuwe wysheid is gretig gebruik gemaak tot beligting van die hele veld van die geskiedenis. So het hulle verval in wat Montesquieu - wat daar self gedurig in verval het - tereg die vrugbaarste bron van historiese dwalinge genoem het en het in volke en tye die voorstellinge oorgebring wat daaraan ten enemale vreemd was. En, soos die drome teruggegee wat die denkvermoë oordag besig hou, is dit nie vreemd nie dat 'n mens die trekke van die manne van die revolusieteorie hulle vas in hulle geheue en gemoed ingeprent het, terugvind in die droombeelde wat hulle vir historiese waarde te koop aanbied. Die geskiedenis word 'n vvalse getuie; hierdie valse getuienis word 'n verdere kragtige middel om die openbare mening in die tuig van die revolusionêre rigting te drywe. Die geskiedenis het 'n museum geword vol revolusionêre modelle, 'n wapenhuis vol revolusionêre wapentuig, tot vermoording van die waarheid".
Maar ondanks hierdie beroep op die geskiedenis is dit 'n wesenlike trek van elke revolusie wat uit hierdie leer voortkom, dat dit breek met die verlede. En ook dit is 'n konsekwensie van sy beginsel. Dit kom inners met die pretensie dat dit die enigste juiste oplossing het vir alle moeilikhede. Voordat dit opgetree het, was alles verkeerd. Daardie verkeerde elemente moet uit die weg geruim word. "Wie hierdie teorie huldig, strydig teen die wese van elke staat, kan hoegenaamd nie deur die wegneem van ou misbruike tevrede gestel word nie maar waan hom geroepe om al wat die wysheid van die vaders en die loop van die tye opgerig het, te vernietig. ... Sloping is onmisbaar waar dit nie gaan om verbouing nie maar om 'n gebou op 'n heeltemal ander grondslag op te rig. Skroomvalligheid kom nie te pas by die omverwerping van wat - soos hulle gesê het - gedurige skending van die regte van mens en burger was nie. Teen die verskeuring van die weefsel van die verkreë regte deur die volkslewe gespin, het hulle geen beswaar gehad nie. Die ware lewe van die nasie sou eers begin met die dagteke-ning van die nuwe regeringsvorm." So wou die teorie dit. En hoe was die praktyk? ...
Tot hiertoe prof dr S du Toit se beskrywing van Groen van Prinsterer se kritiek en grondliggende motivering ten opsigte van die staatkundige revolusie van sy tyd. Vertoon dit nie ontdekkende ooreenkomste met die revolusie wat óns tans ervaar nie? Is die prinsipiële grondslag van sy denke nie ook geldig vir vandag se omstandighede nie? Staan ook vandag nie die mens sentraal in die opset van die staat en samelewing in plaas van die almagtige Skepper van hemel en aarde, die enige soewereine Wetgewer en Beskikker van die lotgevalle van die volkere en die voorsienige Bepaler van die verlede, hede en toekoms nie? Groen van Prinsterer se werk behoort in hierdie tyd besondere aandag te geniet met die oog op die fundering van Christelike nasionale politiek.
"Tereg wys dr Smitskamp - in 'n Nederlandse uitgawe van Groen se werk (P v d K) - daarop dat die woorde van Groen ná die tweede wêreldoorlog nog net so aktueel bly. Ons staan immers nog teenoor 'n beliggaming van die revolusie- gedagte en wel in 'n nog afgrysliker gedaante. Groen het hierdie toestande reeds in die negentiende eeu vooruitgesien. Hy het gewaarsku dat Europa 'n puinhoop sal word as die revolusiegedagte en die verwerping van die Evangelie veld win. En daarom kan hy ook vir ons nog 'siener' wees", aldus prof S du Toit. Dit geld ook ten aansien van die revolusionêre "Nuwe Suid-Afrika".