Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Afrika-renaissance

AKTUEEL: Terug na Dordt

SKRIFOORDENKING: "Mag die Here jou insig gee in alles" - 2 Tim 2:7,8

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (3)

'n Goeie Belydenis

Die nuwe Psalmberyming
Waarom 'n geslote saak?

Ds JP Coetzee geëmeriteer

BOEKBESPREKING:  WJ de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (3)

Die Dordtse Leerreëls
Dordt teenoor die Arminianisme

Saak van die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen vroulike diakens
Diakonesse in die Kerkgeskiedenis
Metodistiese opwekkingsbeweging in SA (1859)

OPVOEDING EN ONDERWYS:
"Rassisme" in die Onderwys?!

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (10)

Die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika

PERSRUBRIEK: 
Vroliker sang in Eredienste?

Skrifkritiek betwis tydens opening van APK Teologiese Skool

KOMMENTAAR: 
Repliek op professorale diskreditering van kritiek
Prof Amie van Wyk vra antwoord

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (6)

"Moet ons aanvaar dat die Kerk deur die eeue die leiding van die Gees verkeerd verstaan het?"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Palliatiewe Sorg

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 4  Julie  1999

 

HOOFARTIKEL

DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?

Territoriale Staatseenheid

 

 

DIE VERKIESINGSUITSLAG

... WAT NOU ?

Territoriale Staatseenheid

Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.

Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).

Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.

Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,

uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.

Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.

"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.

As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).

Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.

R

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

AKTUEEL

TERUG NA DORDT

Konfessionele Eenheid versus Praktiese Verdeeldheid

-   P van der Kooi   -

Meer as ooit te vore is ons volk verdeeld. Dit geld in talle opsigte. Op die terreine van die politiek en landsregering; insake die onderwys vanaf die primêre tot die tersiêre vlakke; oor die gesag van die Skrif of dit konfessioneel gehandhaaf of situatief verklaar en toegepas sal word, ensovoorts. Dit geld veral ten opsigte van die samelewing in die verskeidenheid van kerklike verbande, waarbinne die bogenoemde verdelingslyne op talle wyses kulmineer.

Ons onderskei op geestelike vlak die Rooms-Katolisisme en, aanverwant, die Anglikanisme; die Lutheranisme; die Calvinisme; die Metodisme; Pinksterkerke; Charismatiese Bewegings en ander, wat op die aanvaarding van die Bybel as die Woord van God gefundeer is. Maar daartussen lê drumpels wat nie sommerso oorgestap kan word nie. Dit betref 'n geestelike verdeeldheid en kerklike verskeurdheid waarna die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), in artikel 29, verwys: "dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei watter kerk die ware kerk is, aangesien al die sektes wat daar vandag in die wêreld is, hulle ten onregte die naam kerk toeëien ... ons sê dat 'n mens die liggaam en die gemeenskap van die ware kerk moet onderskei van al die sektes wat beweer dat hulle die kerk is".

Die meeste van ons Boere-Afrikaners behoort aan die Calvinisties georiënteerde Gereformeerde kerkverbande, die sogenaamde "susterkerke", wat tans bestaan uit die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK) en die Nederduitse Gereformeerde Kerke (NGK). Daar kan nog bygevoeg word die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA), waarin 'n toenemende getal voormalige NGK predikante 'n tuiste vind nadat hulle hul van 'n plaaslike gemeente onttrek het.

Binnekant hierdie diverse verbande bestaan daar al weer uiteenlopende leerstellige en ideologiese stromings, wat moeilik en selfs onmoontlik versoenbaar is. Dié verskynsel is alge-meen en veroorsaak konflikte wat reeds tot persoonlike onttrekkings gelei het en uiteindelik tot kerklike skeuring en/of afskeiding kan lei. Die vraag ontstaan of daar onder laasgenoemde omstandighede opnuut kerkverbande gestig (voortgesit) moet word of dat liewers die eenheid van die ware (Gereformeerde) gelowiges uit die betrokke verbande gesoek en nagestrewe moet word.

Is daar 'n praktiese en skriftuurlik toepasbare beginsel waarvolgens gelowiges uit die verskillende (Gereformeerde) kerkverbande mekaar kan terugvind in die sigbare eenheid van die ware kerk van Jesus Christus? Wat is die onderlinge verskille wat oorgekom, wat is die drumpels wat oorgestap moet word, alvorens te kan verenig op die basis van eenheid in leer, diens en kerkregering? Menslikerwys onmoontlik! Die tradisies en strydpunte van die verlede is veranker in menslike gevoelens wat nie maklik prysgegee word nie. Dit geld in talle opsigte en aan alle kante.

Tog dwing die huidige omstandighede, naamlik die situatiewe toepassing van die Skrif en die prinsipiële en ideologiese geskille oor die al dan nie huldiging van die eenheidstaat van die Nuwe Suid-Afrika, tot optrede. Dit raak ook die kerklike besluitneming oor, soos dié (in die NGK) die toelating van vroue in die kerklike ampte; die sogenaamde kinderkommunie en die strewe vir die aanvaarding van die Belharbelydenis; asook die stryd in die GKSA wat basies gaan oor die liturgiese vernuwings, die besware teen voorgestelde aanpassings van die kerksang, die beweging in die rigting van of aanpassing aan die praktyk van die NG en NH "susterkerke", naamlik die aanvaarding van vroue in die kerklike ampte, die gebruik van kelkies vir die nagmaalvierings en die oorheersende gebruik van die 1983 dinamies-ekwivalente vertaling van die Bybel.

Dit alles kan in die grond van die saak herlei word na 'n bepaalde Skrifbeskouing wat gehuldig word. Die dialektiese Skrifkritiek en die postmodernistiese benadering van die kerklike bestaan wentel om vrae en kritiek soos dié wat onlangs gestel is deur prof Bennie van der Walt, in die "Someruitgawe" van WOORD EN DAAD, oor die "'Requiem' op 'n sterwende kerk". Die kerk word nie meer gesien as die liggaam van Christus om sy Woord te bewaar en te predik en om as "gemeenskap van die heiliges" te funksioneer nie, maar as 'n sosiale instelling om die samelewing te "verbeter" en 'n politieke rolspeler te word. Dit realiseer in die sogenaamde ekumeniese aksies, rade en konvente. Dit hef die vermelde leerstellige onderstromings en die daaruit voortspruitende konflikte nie op nie. Daarenteen verwar en verdeel dit die lidmate van die kerke juis al hoe meer.

Daar is slegs een wyse, een pad waarop ons, as Boere-Afrikaners, weer kerklike eenheid kan nastreef en vind. Dit is, soos die titel hierbo dit aandui: "Terug na Dordt". Terug na die leerstellige en kerkregtelike besluite van die groot Ekumeniese Sinode van Dordrecht (1618- 19) en terug na die planting van die Gereformeerde Kerk in Kaap die Goeie Hoop, in 1652. Dit betref die aanvaarding en uitlewing van die Gereformeerde belydenisskrifte, die Drie Formuliere van Eenheid. Voorts 'n indringende, dalk langdurige debat oor die Skrifgetroue liturgie en kerkregering, wat onder andere impliseer: die saak van die vrou in die kerklike ampte, die besware teen die sing van evangeliese gesange en die gebruik van die 1983 Bybelvertaling tydens die eredienste, asook die heroorweging van 'n algemene aanvaarding van die (aangepaste) Dordtse kerkorde.

Die alternatief is om in verskillende denominasies al meer te versplinter en te worstel met die vraagstuk van die kerk wat, volgens NGB, art 27, "soms 'n tydlank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het". Die liefde vir die Here en sy diens, die strewe vir die eenheid van die ware kerk, moet ons aandryf om mekaar weer te vind, te herken en te aanvaar in die ware geloof. Daarom nie 'n demonstratiewe multi-kulturele en ras-geïntegreerde een-wêreld (globalistiese) kerkbeskouing nie, asook geen "regse" polities gemotiveerde eenheid nie. Eerder 'n geestelike eenheid en verband van kerke wat vas staan op die konsekwente handhawing van die onbetwyfelde gesag van die Heilige Skrif, teenoor die sistematiese, rasionele relativering en verwerping van die bybelse gesag deur middel van Skrifkritiek wat op talle wyses vandag tot uitdrukking kom.

Dit geld ook met die oog op die staatkundige revolusie wat deur die Skrifkritiese, situatiewe toepassing van die Bybel bevorder is. Jurie le Roux, tans professor in die fakulteit teolo-gie van die Universiteit van Pretoria, bevestig dit met die vermelding dat prof Ferdinant Deist, direk en indirek, deur sy invloed, die teologiese fondamente vir die Nuwe Suid-Afrika gelê het: "By means of his many books, articles and study guides he shaped the minds of his students and equipped them theologically for a new society", aldus prof Le Roux (DIE KERKPAD, 3.2, Maart 1999, bl 7) .

Skrifkritiek die teologiese fondament, regverdiging, van die "Nuwe Suid- Afrika"?! Daarteenoor staan die behoudende, profetiese getuienis ten opsigte van, en 'n prinsipiële verwerping van die multi-religieuse eenheidstaat weens sy pragmatiese regeringsbeleid en 'n owerheidsgesag wat die Goddelike voorskrif om Hom as almagtige Skepper en die Beskikker van ons lotgevalle te erken en te eer, ignoreer - vgl Psalms 95 - 97 en ander Skrifgegewens, asook die aanhef van die voormalige (1961) Grondwet - en wat daarenteen die staat en openbare samelewing op die grondslag van humanistiese en sosialistiese "menseregte" fundeer.