Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Afrika-renaissance

AKTUEEL: Terug na Dordt

SKRIFOORDENKING: "Mag die Here jou insig gee in alles" - 2 Tim 2:7,8

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (3)

'n Goeie Belydenis

Die nuwe Psalmberyming
Waarom 'n geslote saak?

Ds JP Coetzee geëmeriteer

BOEKBESPREKING:  WJ de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (3)

Die Dordtse Leerreëls
Dordt teenoor die Arminianisme

Saak van die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen vroulike diakens
Diakonesse in die Kerkgeskiedenis
Metodistiese opwekkingsbeweging in SA (1859)

OPVOEDING EN ONDERWYS:
"Rassisme" in die Onderwys?!

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (10)

Die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika

PERSRUBRIEK: 
Vroliker sang in Eredienste?

Skrifkritiek betwis tydens opening van APK Teologiese Skool

KOMMENTAAR: 
Repliek op professorale diskreditering van kritiek
Prof Amie van Wyk vra antwoord

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (6)

"Moet ons aanvaar dat die Kerk deur die eeue die leiding van die Gees verkeerd verstaan het?"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Palliatiewe Sorg

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 4  Julie  1999

 

HOOFARTIKEL

DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?

Territoriale Staatseenheid

 

 

DIE VERKIESINGSUITSLAG

... WAT NOU ?

Territoriale Staatseenheid

Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.

Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).

Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.

Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,

uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.

Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.

"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.

As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).

Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.

R

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

KINDERKOMMUNIE:
REFORMASIE OF DEFORMASIE?

DS  T DANZFUSS  -  (NGK)  WITFIELD

(Derde Aflewering)
(Tweede Aflewering)
(Eerste Aflewering)

'n Soteriologiese Perspektief

'n Mens skrik as jy hoor met hoeveel arrogansie sommige (gereformeerde) teoloë vandag oor die kindernagmaal praat. Prof Adrio Konig skrywe byvoorbeeld in 'n onlangse uitgawe van DIE KERKBODE as volg: "Die bediening van die nagmaal aan kinders, is eintlik 'n uitstaande skuld wat die NG Kerk nou eers begin betaal." 1 Dit is nie net arrogant nie, dit herinner ook sterk aan die humanistiese gronde waarop die Wêreldraad van Kerke kindernagmaal bepleit het. " ... in a world in which children are part of the oppressed, hungry, powerless and disenfranchized. Oppression is not limited to the Third World. In all societies children are often oppressed by educational structures, social injustice and hypocricy. Part of the Church's mission is to work for their liberation ... welcoming them to holy communion can also be seen as a sign of hope which should be complemented by other actions of the church." 2

Die rede waarom die gereformeerde kerke al die jare nie aan kindernagmaal geglo het nie, het egter niks te doen met die onderdrukking van of diskriminasie teen kinders nie. Dit gaan oor 'n veel dieper teologiese saak, naamlik hoe verstaan ons die bybelse verlossingsleer? In die skripsie: Kinderkommunie: Reformasie of Deformasie?" 3 word 'n hele afdeling gewy aan kinderkommunie vanuit 'n soteriologiese perspektief (Soterologie beteken: die leer van die verlossing). Daar word gewys op die interessante verband tussen kindernagmaal en soteriologie deur die geskiedenis, en dan word op verskeie raakpunte gewys. Die historiese verhouding tussen kindernagmaal en soteriologiese dwalinge kan kortliks so opgesom word.

In die Apostoliese tyd: Suiwer soteriologie en geen kindernagmaal nie.

Eerste twee eeue na Christus: Wettiese verlossingsleer en geen kindernagmaal nie.

Derde en vierde eeu: Eerste woorde ten gunste van kindernagmaal (Cyprianus 251 n C) gaan gepaard met sakramentalistiese soteriologie en foutiewe eksegese van Joh 6 : 53. Cyprianus het nagmaal aan kindertjies met wyn alleen bedien.

Vierde tot die vyfde eeu: Kindernagmaal word nou wyer bekend. Augustinus was die groot voorstander daarvan. Weereens het dit met ernstige soteriologiese dwalinge gepaard gegaan. Augustinus bou voort op die soteriologiese dwalings van Cyprianus. Hy baan ook die weg vir 'n dwaling wat later in die Roomse kerk floreer, naamlik die "ingestorte geregtigheid". Hy onderskei twee soorte genade, naamlik "gratia operans" en "gratia co-operans". Berkhof verduidelik dié dwaling so: "The grace of God freely given, does not concist primarily in the forgiveness of sins - which is in fact a minor point in Augustinus's system - but in regeneration, in the infusion of a grace which enables man to do good works and to merit everlasting life." 4

Die Roomse kerk vanaf die sesde eeu tot diep in die Middeleeue: In die tyd swaai die pendulum vanaf suigelingnagmaal, via geen nagmaal tot by kindernagmaal en eindig by 'n "halwe nagmaal". Hierdie verwarring gaan gepaard met 'n soortgelyke verwarring in die verlossingsleer. Die kerk beskik in 'n groot mate oor die heil wat soos genade-inspuitings (gratia infusa) toegedien word en wat die heil ex opere operato bewerk.

Die Reformasie en daarna: Hier kry ons weer die suiwer verlossingsleer, en geen kinderkommunie nie. Die klem lê op kategese en openbare geloofsbelydenis as toegangsweg tot die nagmaalstafel.

Die Oosterse Ortodokse kerke deur die eeue: Suigelingkommunie wat gedra word deur groot soteriologiese dwalinge. Hul verlossingsleer kan beskrywe word as 'n mistiese, liturgiese en sakramentalistiese siening van die heil.

Daar is sover ons kon vasstel dwarsdeur die kerkgeskiedenis, tot aan die begin van die twintigste eeu, nie 'n enkele voorbeeld van kindernagmaal wat nie met 'n groot dwaling in die verlossingsleer gepaard gegaan het nie!

Vandag maak voorstanders van kinderkommunie weereens verskeie gevaarlike foute, wat ernstige soteriologiese implikasies het. Weens beperking word slegs 'n paar daarvan genoem.Vir 'n meer volledige bespreking hiervan kan na die genoemde skripsie verwys word.

(1) Kindernagmaal bots in verskeie opsigte met die vyf grondwaarhede van die gereformeerde soteriologie.

(2) Dit impliseer 'n foutiewe siening van die genadeverbond en kom baie naby aan die dwaalleer van die veronderstelde wedergeboorte.

(3) Daar word 'n baie simplistiese lyn tussen pasga en nagmaal getrek wat nie eksegeties verantwoord kan word nie.

(4) Dit betref 'n valse teenstelling tussen die "sola gratia" en die "sola fide".

(5) Die verhouding tussen Woord- en sakramentsbediening word in so 'n mate vertroebel dat die sakrament 'n grootheid op sy eie word.

(6) Die onlosmaaklike verhouding tussen geloof en sakrament word misken. Die gereformeerde vereiste van ware geloof word vervang met 'n Roomse siening van "solank daar geen hindernis is nie".

(7) Die "notae fidelium" waaroor Calvyn en ook die Nederlandse Geloofsbelydenis so duidelik praat word nie ernstig geneem nie.

(8) Die sogenaamde "korporatiewe denke" van die Bybel word misbruik, sodat dit presies die teenoorgestelde sê as die konteks waarin die Bybel dit gebruik. Geloof word nou 'n korporatiewe in plaas van 'n persoonlike saak.

(9) In die vraag na die waardige en onwaardige gebruik van die nagmaal verskuif hulle, net soos Rome, die klem van die "hoe" na die "wie". In beginsel staan jy dan op dieselfde dwaling as Rome met sy leer oor die "man-ducatio indignorum" (maaltyd van die onwaardiges).

(10)  Die bekende gereformeerde definisie van 'n ware geloof wat 'n sekere kennis veronderstel word met 'n leë inhoudlose soort geloof vervang.

(11) Dit betref ten slotte 'n valse skeiding tussen die fides qua (persoonlike geloof) en die fides quae (die algemene ongetwyfelde geloof).

KONKLUSIE: Die Gereformeerde verlossingsleer laat geen ruimte vir kindernagmaal nie.

1. Adrio Konig. DIE KERKBODE. 9 April 1999.
2. Müller-Farenholtz. ... and do not hinder them. An ecumennical olea for the admission of children to the eucharist. Faith an Order Paper No 109. Geneva. World Council of Churches. 1982. bl 16.
3. Theo Danzfuss. Kinderkommunie: Reformasie of Deformasie? UP. 1998.
4. Berkhof.L The history of Christian doctrines. The Banner of Truth. 1937. bls 208.