Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
HOOFARTIKEL
DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?
Territoriale Staatseenheid
DIE VERKIESINGSUITSLAG
... WAT NOU ?
Territoriale Staatseenheid
Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.
Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.
"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.
As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).
Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.
R
SKRIFOORDENKING
"Mag die Here jou insig gee in alles" - DS LH STAVAST - (EM) HUMANSDORP -Dink na oor wat ek sê en mag die Here jou insig gee in alles! Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is, volgens my evangelie ... 2 Tim 2 : 7, 8 |
Daarvan kan Paulus dankbaar getuig: "Ek dank God , wat ek van my voorouers af in 'n rein gewete dien ... (2 Tim 1 : 3). En daardie genadegawe is ook Timotheüs se deel: "en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat - daaarvan is ek oortuig - ook in jou is (2 Tim 1 : 5).
Verbondsgenote was hulle en in Christus dus ook Bloedfamilie! Saam gereinig deur die offerbloed van Jesus Christus. Daarom kon daar ook so 'n innige liefdesband tussen Paulus en die jong "dominee" Timotheüs ontstaan: "my ware kind in die geloof" noem Paulus hom in 1 Tim 1 : 2 en in ons brief: "my geliefde kind" (2 Tim 1 : 2).
As jy sulke naby familie is, kan jy ook oor intieme, persoonlike sake openhartig en reguit met mekaar praat, sonder om bang te wees dat daar "uitgepraat", geskinder sal word, of dat die ander sal kwaad word omdat jy hom op sy foute en gebreke wys.Paulus waag dit om homself teenoor Timotheüs "die grootste van alle sondaars" te noem (2 Tim 1 : 15). Maar dan aarsel hy ook nie om die gespanne, bangerige en dikwels mismoedige Timotheüs van tyd tot tyd stewig by die kraag te gryp en om hom reguit te vermaan nie. Watter soort Christen is jy dan nou? "Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing" (2 Tim 1 : 7).
In die hoofstuk waaruit ons teksvers geneem is kry Paulus, so te sê, ook eers vir Timotheüs voor stok: hy tree op soos 'n soldaat wat hom, terwille van aardse gewin aan die stryd onttrek; soos 'n atleet wat, omdat hy die wenpaal nog nie kan sien nie, maar langs die baan gaan sit; soos 'n boer wat 'n ruklank op die akker gewerskaf het en dan te ongeduldig, te bang of te mismoedig is, omdat hy nog nie die vrug van sy arbeid sien nie (2 Tim 2 : 3 - 6).
Ook uit die res van sy briewe aan sy "geliefde kind" en uit ander briewe van Paulus kry ons die indruk dat Timotheüs, ondanks sy "ongeveinsde geloof" een van daardie slaphand-Christene is wat meen dat geloof sonder roepingsvolharding en sonder voortdurende strydvaardigheid, voldoende is.
Dit is die gevolg van insig, sê Paulus. Insig beteken vir 'n Christenstryder dat jy God se werk en God se plan duidelik voor oë het en hou. En vir daardie "insig in alles", in jou gesukkel, geworstel en bekommernis van elke dag; in elke huislike, ekonomiese, politieke, kerklike en persoonlike situasie bid Paulus nou vir Timotheüs. 'n Gebed wat ons seker ook maar elke dag nodig het in die strydperk waarin ons staan of waarlangs ons "verbondsfamilie" so dikwels moedeloos sit en kyk hoe ander nog maar aanhou baklei vir 'n skynbaar hopelose saak. Ons het dié "insig" dikwels ook maar broodnodig.
En wat is daardie "insig"? Dat Jesus Christus uit die dode opgewek is! Ons het 'n lewende Here! Hy is uit die geslag van Dawid en dit beteken aan die een kant dat Hy koninklik alles regeer. Lees byvoorbeeld maar eens Esegiël 34 vanaf vers 23. In vers 24 staan: "En, Ek, die HERE, Ek sal vir julle 'n God wees, en my kneg Dawid 'n vors in julle midde. Ek die HERE het dit gespreek." Jesus Christus, die groot Dawid, bestuur alle dinge, groot en klein, in my lewe, in my land en in my wêreld vandag.
Dit gee aan die burger moed! As Hy regeer, Hy wat die dood oorwin het, hoef ek, mág ek en kán ek mos nie moedeloos die stryd vaarwel sê nie? Aan die ander kant is Hy, wat God uit God en lig uit lig is, juis omdat Hy uit die geslag van Dawid is, ook waaragtige (en volkome) mens. Hy regeer maar nie as 'n soort van hemelse diktator onbewoë en ysigkoud oor mense, volke en rasse nie. Nee, maar ons nood is sy nood, ons stryd sy stryd en ons oorwinning sy oorwinning. Hy het mos die ergste vyand oorwin: Satan, hel en dood!
Dié wat daardie insig ontvang sal nie aarsel en wankel nie. Paulus sê: Onthou dit nou maar gedurig! Hy gebruik daar 'n woord wat beteken: altyd, vanselfsprekend. Onthou dit soos jy onthou om vanaand te gaan slaap en môre-oggend weer op te staan. Daar dink jy nie by nie: dit doen jy sommerso as dit die tyd is daarvoor.
Daarom kan Paulus ook sê dat dit sy Evangelie is: God het aan hom die genade verleen om Christus te ken as die gekruisigde én opgestane Here. Dit raak in die besonder sy veelbewoë lewe. Van dié Heiland kan hy nooit meer loskom nie. Daardie Heerser oor alles, uit die geslag van Dawid, woon deur die Heilige Gees in hom. Dié Gees herinner hom, volgens Christus se belofte in Joh 14 : 26 vv, aan alles wat ons Verlosser gesê het. Paulus onthou dit en daarom kan hy ook alles verdra en verduur: tronke, stenigings, verlating, veragting en al die dinge wat 'n roepingsbewuste en strydvaardige Christen maar kan verwag.
Daarom sê Paulus: "Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Christus" (vers 3). Laat ander, binne en buite die kerk maar veg en spot en trag om jou te isoleer. Jy het insig. Jy weet dat Jesus Christus lewe. En omdat jy ook van sy Bloedfamilie is, is sy lewe ook jou lewe. Daarom is sy Evangelie dan ook die blye Boodskap dat die HERE "nimmer sy verbond vergeet nie"!