Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Afrika-renaissance

AKTUEEL: Terug na Dordt

SKRIFOORDENKING: "Mag die Here jou insig gee in alles" - 2 Tim 2:7,8

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (3)

'n Goeie Belydenis

Die nuwe Psalmberyming
Waarom 'n geslote saak?

Ds JP Coetzee geëmeriteer

BOEKBESPREKING:  WJ de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (3)

Die Dordtse Leerreëls
Dordt teenoor die Arminianisme

Saak van die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen vroulike diakens
Diakonesse in die Kerkgeskiedenis
Metodistiese opwekkingsbeweging in SA (1859)

OPVOEDING EN ONDERWYS:
"Rassisme" in die Onderwys?!

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (10)

Die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika

PERSRUBRIEK: 
Vroliker sang in Eredienste?

Skrifkritiek betwis tydens opening van APK Teologiese Skool

KOMMENTAAR: 
Repliek op professorale diskreditering van kritiek
Prof Amie van Wyk vra antwoord

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (6)

"Moet ons aanvaar dat die Kerk deur die eeue die leiding van die Gees verkeerd verstaan het?"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Palliatiewe Sorg

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 4  Julie  1999

 

HOOFARTIKEL

DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?

Territoriale Staatseenheid

 

 

DIE VERKIESINGSUITSLAG

... WAT NOU ?

Territoriale Staatseenheid

Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.

Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).

Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.

Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,

uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.

Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.

"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.

As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).

Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.

R

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

PERSRUBRIEK

VROLIKER SANG IN EREDIENSTE?

Dr Klasie Heystek skryf in RANT-KRANT, nuusblad van die Gereformeerde Kerk Wapadrant, 7 Maart 1999, in die rubriek "Rant-Aktueel", onder die opskrif: "Kan ons sang nie vroliker wees nie?" soos volg daaroor:

Die internasionale pastorale deskundige, prof JE Adams, het 'n aantal jare gelede 'n kursus in Potchefstroom aangebied. By dié geleentheid het hy ook 'n erediens gelei. Al wat student, predikant en professor was, het na hom gaan luister. Daar is met oorgawe gepreek, gesing en gebid. Vir die doppers was dit 'n besielende ervaring. Die Amerikaners kan mos so verstommend helder en prakties wees!

Ná die erediens vra iemand aan Adams: Hoe het jyself as liturg die erediens ervaar? Delighted, sê hy, ... but o, your songs are so sad ... so sad!

Dit is ook die versugting wat ek jaar na jaar by ons katkisante hoor: Dominee, kan ons nie vroliker sing nie? Ons kan nie die Psalms sing nie! Ons vind onnself nie daarin nie! By die ander kerke is dit so anders!

Ek weet dat baie huisgesinne in ons gemeente hieroor praat. Dieselfde stemme gaan ook op in ander Gereformeerde kerke in Suid-Afrika. 'n Mens wil tog met oorgawe sing. Die sang van 'n gemeente moet buitestaanders trek.

Sang moet tot opwekking van ons gees en inspirasie van ons gemoed dien. Allermins behoort sang jou terneergedruk te stem. Ook God moet met vreugde en welbehae daarna kan luister.

Nou waarom sukkel ons dan so? Of sukkel ons nie? (Ek weet van enkeles wat ons eredienste soms bywoon juis ter wille van die sang!)

Antwoord:

Ek giet my antwoord in stellingstyl om spasie te spaar:

a. Die Psalms van die Bybel is en sal altyd die mooiste kerkliedere op aarde bly. Hoekom? Omdat die Heilige Gees self hulle aan ons gegee het. Geen ander liedere buite die Bybel het die geestelike diepte en bybelse harmonie van die 150 Psalms en ander berymde gedeeltes van die Bybel nie. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat hiermee verskil nie. Daarom is die Psalms nou weer herdig (deur prof TT Cloete) en sal dit vroeg in 2000 beskikbaar wees. Baie melodieë bly. Maar die onsingbare melodieë word vervang. Dit is iets groots om na uit te sien.

b. Ons sing liedere in die erediens (en daarbuite) om drie redes: (1) Om God te dank te loof en te prys (lofliedere). (2) Om ons skuld te bely en tot God te bid (smeekgebede). (3) Om die evangelie te verkondig en mekaar op te wek tot gehoorsaamheid (leringe- en opwekkingsliedere). Dit spreek van self dat elkeen van hierdie soort liedere op 'n eie melodie en singwyse aanspraak maak. 'n Gebed word tog anders as 'n loflied gesing!

c. Goed 60% van die liedere in ons Psalmboek is gebede. Nagenoeg 25% is verkondiginge en opwekkinge, terwyl net 15% uit lof- en dankliedere bestaan (persentasies is na skatting). Dit verklaar waarom ons so baie liedere (gebede in die mineur sing. Jy kan nie skuldbelydenisse en smeking in die majeur sing nie!

d. Kerklike liedere is nie bedoel om die mens lekker te laat voel nie. 'n Erediens is nie 'n sing-song occasion nie, maar 'n ontmoeting en gesprek met die Grote God. Hier praat en sing ons wat by dié besondere ontmoeting pas. Die Gees van God bring vreugde en rus in ons harte deur die regte woorde en 'n melodie wat daarby pas. Waar die woorde en melodie stry, bring dit ongemak en onvergenoegdheid vir God en die gelowige. Die norm is nie dit wat lekker en aangenaam vir my is nie, maar dit wat goed en reg voor God is.

Dit is 'n besliste keuse wat ek maak. Die lewe het so relatief en divers geraak. Ek moet in elk geval oor alles kies. Kies wat reg is vir God. As dit God behaag, sal jy ook verseker baie vreugde daaruit put. Beproef dit maar!

Dit gaan dus nie om vroliker sing per se nie, maar om reg en godvrugtig te sing. ...

Redaksionele kommentaar:  Hierdie artikel onderskryf ons graag betreffende die gebruik van die Psalms vir die kerksang , maar ons het bedenkinge en besware teen die voorgestelde "herdigting" van prof TT Cloete, wat sonder kritiek vermeld en "as iets groots om na uit te sien" beskryf word. Vergelyk die artikel "DIE NUWE PSALMBERYMING  -  WAAROM 'N GESLOTE SAAK?"  van ds JP Coetzee, in hierdie uitgawe.                                                                                                 ®