Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
HOOFARTIKEL
DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?
Territoriale Staatseenheid
DIE VERKIESINGSUITSLAG
... WAT NOU ?
Territoriale Staatseenheid
Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.
Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.
"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.
As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).
Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.
R
Persrubriek
SKRIFKRITIEK BETWIS TYDENS OPENING VAN APK TEOLOGIESE SKOOL
Tydens die opening van die Teologiese Skool van die Afrikaanse Protestantse Kerk op 2 Februarie 1999 en ook op die "Teologiese Dag", die volgende dag, het onder andere prof Roelof Marè voordragte gelewer. DIE BOODSKAPPER, van April 1999, berig op bl 8 daaroor:"Prof Marè het die opening waargeneem en toe gepraat oor een spesifieke ontwikkeling in die Teologie ten opsigte van die Bybelse leer van die versoening deur die bloed van Jesus Christus. Binne die Gereformeerde kerkfamilie is daar vandag opnuut teoloë wat die leer van die versoening van God met sy kinders deur dié bloed van die Lam nie alleen bevraagteken nie, maar ook verwerp. Die sondeloosheid van ons Middelaar word bevraagteken. Hy sou dan nie God wees nie. Hy het nie geweet dat die kruisdood op Hom wag nie (al sê die Bybel Hy het).
Waar die Bybel die Here Jesus as Versoener voorstel, moet ons onthou dat Johannes nie 'n historikus was nie, maar 'n teoloog. As teoloog sou Johannes neergeskryf het wat hy persoonlik gedink het die Here Jesus moes beteken. Bybelskrywers het neergepen wat hulle graag wou (nie wat die Here beskik het dat hulle onder inspirasie van die Heilige Gees moes skrywe nie), of wat in die gemeente se opvattinge geleef het.
Waar die Bybel sê dat die Here Jesus vir baie moes ly, beteken dit maar net dat Hy 'n voorbeeld was vir baie ander mense: hulle sal ook ly, al is hulle onskuldig (regverdig). So sê byvoorbeeld prof Den Heyer, wat Nuwe Testament (!) aan die Teologiese Universiteit van die Gereformeerde Kerken in Nederland doseer. Hy sê menigeen het vandag moeite om te glo dat Jesus uit die dood opgestaan het.
Op 3 Februarie het prof Marè gepraat oor die hantering van die Bybel deur teoloë van die sogenaamde histories-kritiese metode van ondersoek. Die Bybel sou dan uitgedien wees, niks meer vir ons te sê hê nie, blote mensewerk wees, net die geloof en gedagtes van mense bevat (en nie openbaring deur God nie). Daarom word nie geglo wat in die Bybel staan nie. Oor wonderwerke (ook oor dié van die Here Jesus) glimlag hierdie teoloë maar ewe verdraagsaam - dié dinge gebeur nie vandag nie, en kon daarom destyds ook nie gebeur het nie. Die Bybel het nie vir ons waarde nie omdat dit niks sê van byvoorbeeld elektrisiteit en mikroskopiese lewe nie. God kan nie 'n gevangene van sy eie besluite gemaak word nie.
Ook hier in Suid-Afrika is onlangs deur 'n voormalige teoloog - prof Willem de Klerk (P v d K) - daarop gesinspeel dat God Homself verskillend aan verskillende volkere kan openbaar (is bedoel: hier as die God van die Bybel, maar elders as byvoorbeeld Allah?).
Hierdie skokkende uitlatings sal God se uitverkore kinders nie van die bybelse pad aftrek nie. Ons weet dat ons 'n profetiese woord het wat baie vas is (2 Pet 1:19). Dis vir ons 'n lamp wat in die donker van ongeloof skyn. Die boodskap van die Bybel is nie fabels nie (vers 16). Geen profesie van die Bybel is maar mensewerk nie - dis geskryf deur mense wat deur die Heilige Gees gedrywe is (vers 21). God het die hele Skrif ingegee (2 Tim 3:16). Daardeur rus Hy sy kinders toe - óók om staande te bly teen die aanslae van heidene en van "Gereformeerde" teoloë wat nie kinderlik buig voor die gesag van die Woord van die Here nie. (Lesers moet tog weer gaan lees hoe ons oor die Bybel bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis, Art 2 - 7).
Ons weet dat die Here Jesus die enigste soenoffer vir ons is om ons van die ewige verdoemenis te verlos (Sondag 15 van die Heidelbergse Kategismus). As ewige Hoëpriester het Hy God se toorn versoen (NGB, art 21). Daar is talle ander plekke in ons belydenisskrifte waar ons op grond van die Skrif bely dat die Here Jesus plekbekledend vir ons sondes betaal het." ®