Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 3 No 4 Julie 1999
HOOFARTIKEL
DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?
Territoriale Staatseenheid
DIE VERKIESINGSUITSLAG
... WAT NOU ?
Territoriale Staatseenheid
Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.
Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).
Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.
Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,
uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.
Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.
"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.
As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).
Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.
R
DIE NUWE PSALMBERYMING
WAAROM 'N GESLOTE SAAK?
- DS JP COETZEE - (EM) PRETORIA/MEINTJESKOP -
D
ie Kommissie (Psalmkommissie) wat uit verteenwoordigers van verskillende kerkverbande bestaan, swyg oor die nuwe psalmberyming. Selfs teenoor die Nasionale Sinode GKSA van 1997 het die betrokke deputate die sluier oor dié saak dig gehou. Dit is verbasend, veral as in gedagte gehou word dat kerklidmate die Psalms met liefde en oorgawe kan moet sing. Die gedagte is blykbaar om die beryming eers as dit geheel voltooi is aan die kerke voor te lê vir aanvaarding en gebruik. Die vraag is egter of daar op een enkele Sinode tyd en ook die nodige kundigheid beskikbaar gaan wees om sinvol oor die nuwe psalmomdigting te kan oordeel. Psalmberyming is immers, net soos die vertaling van die Bybel, 'n vorm van aktuele Skrifgebruik.Daarom is dit redelik om te verwag dat so 'n nuwe psalmberyming eers na studiedeputate verwys sal word alvorens dit by die kerke vir gebruik aan te beveel. Aan die ander kant is dit nie onmoontlik nie dat die nuwe beryming dieselfde weg sal gaan as die 1983-Bybelvertaling. Ten spyte van al die besware wat op die Nasionale Sinodes, tot op 1985 aangevoer en gehandhaaf is, is dié nuwe vertaling tóg aanvaar. Baie gebruikers daarvan weier tot nou toe selfs om krities daarna te kyk. Laat ons hoop dat dit tog nie net so sal gaan met hierdie nuwe psalmberyming nie.
Daar ontwikkel tans 'n interessante verskynsel rondom dié nuwe psalmberyming. Uit verskeie oorde en van kerklike instansies kom daar nie slegs verset teen die Psalmkom-missie se beleid van geheimhouding oor die nuwe beryming nie, maar ook verset teen die gebruik van die 150 Psalms as 'n geheel. Dit is 'n tendens wat enersyds blykbaar verband hou met die nuwe belangstelling in die liturgie. Andersyds is daar letterkundige en eksegeties gefundeerde kritiek op die psalmomdigting van TT Cloete.
Laasgenoemde is daarop gesteld dat hy eintlik die enigste berymer in die huidige proses van psalmomdigting sal wees. Hoewel hierdie kritiek uitgesproke is, word dit tans nie amptelik deur kerke ondersteun nie. Dit werk juis 'n toekomstige stryd en verdeeldheid oor die saak in die hand. Die bedoeling van hierdie artikel is dan ook om die kerklidmate in die amp van die gelowiges aan te moedig om nou reeds duidelik ag te slaan op, en kerklik belang te stel in die saak van die nuwe psalmberyming (omdigting). Sonder om die name van kritici te noem, word na die spanning verwys wat tans rondom die psalmomdigting ontstaan.
Dit word nou al hoe meer duidelik dat die Cloete-beryming uit die 1983-Bybelvertaling kom en nie, soos destyds dié van Totius, op die oorspronklike Hebreeuse en ander grondtekste gegrond is nie. Om dit te illustreer vermeld ons hieronder die beryming van Psalm 68 : 1 en dan Totius s'n langs die "omdigting" van Cloete. Die betrokke gedeelte uit die onberymde Psalm 68, sowel dié van die 1933/53 en 1983 vertalings word tegelykertyd vermeld.
KOMMENTAAR:
1. Totius het die eerste vers (strofe!) van sy beryming bepaal tot die onberymde verse 2 en 3. So is dit ook in die Nederlandse beryming van 1773. Cloete se eerste strofe behels die stof uit verse 2 tot 5 van die onberymde 1983 vertaling.
2. In die Hebreeus is die woorde: "God staan op ..." in die werkwoord wat sowel in die teenwoordige as toekomende tyd vertaal kan word. Dus: God staan op (en tegelyk) God sal opstaan. So gee die Psalm die gevolg weer van wat gebeur as God opstaan. Maar die 1983 vertaling gee hierdie werkwoord verkeerd weer met die voorwaardelike vorm: "As God verskyn ...". (Dit kan vertolk word, dat as God nie verskyn nie, "die vyande" dan ook nie "uitmekaar spat" nie.) So het die onberymde weergawe van 1983 die taalkundige en logiese onderskeid tussen voorwaarde en gevolg prysgegee. In die tweede deel van Totius se eerste vers gebruik hy wel die terminologie en die woordjie: as: As U, o HEER, in mag verskyn ..." . Hier lê hy, as woordkunstenaar, nie 'n voorwaarde in dié beryming nie, maar gebruik hy as kenner van Afrikaans die woordjie as om die verdere gevolg van God se verskyning te verwoord. Dit lyk asof die 1983, onberymd, oor hierdie taalkundige vertolking van Totius gestruikel het. Want die "as" formulering word in die 1983 toepassing, by die aanvang van vers 1 as die end van vers 3 gebruik. Van Cloete se "as" is in die oorspronklike vertaling geen sprake nie, maar die 1983 onberymde vertaling "is so maklik en lees so lekker!" Cloete volg dit klakkeloos na. Die vraag is of die geslotenheid van die Psalmkommissie uiteindelik nie tog 'n oorsaak gaan wees dat van die psalmsingende lidmate van die kerke só uiteindelik met 'n ongewenste Psalmboek opgeskeep word nie!
Onberymd - 1933/53 - Psalm 68
: 2 en 3: |
Onberymd - 1983 - Psalm 68 : 2
- 4: |
Psalm 68 : 1 Die HEER sal opstaan tot die stryd; |
Psalm 68 : 1 Sy vyand vlug as God verskyn; |