Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL: Afrika-renaissance

AKTUEEL: Terug na Dordt

SKRIFOORDENKING: "Mag die Here jou insig gee in alles" - 2 Tim 2:7,8

KINDERKOMMUNIE  -  REFORMASIE OF DEFORMASIE? (3)

'n Goeie Belydenis

Die nuwe Psalmberyming
Waarom 'n geslote saak?

Ds JP Coetzee geëmeriteer

BOEKBESPREKING:  WJ de Klerk se: "Die vreemde God en sy mense" (3)

Die Dordtse Leerreëls
Dordt teenoor die Arminianisme

Saak van die vrou in die leer- en regeerampte van die kerk

KERKLIKE JOERNAAL: 
Beswaar teen vroulike diakens
Diakonesse in die Kerkgeskiedenis
Metodistiese opwekkingsbeweging in SA (1859)

OPVOEDING EN ONDERWYS:
"Rassisme" in die Onderwys?!

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Groen van Prinsterer (10)

Die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika

PERSRUBRIEK: 
Vroliker sang in Eredienste?

Skrifkritiek betwis tydens opening van APK Teologiese Skool

KOMMENTAAR: 
Repliek op professorale diskreditering van kritiek
Prof Amie van Wyk vra antwoord

POLITIEKE KRONIEK: Die ANC teenoor die Gereformeerde (Christelike) geloof (6)

"Moet ons aanvaar dat die Kerk deur die eeue die leiding van die Gees verkeerd verstaan het?"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK:  Palliatiewe Sorg

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 3  No 4  Julie  1999

 

HOOFARTIKEL

DIE VERKIESINGSUITSLAG ... WAT NOU?

Territoriale Staatseenheid

 

 

DIE VERKIESINGSUITSLAG

... WAT NOU ?

Territoriale Staatseenheid

Die uitslag van die afgelope verkiesing het vir baie van ons mense, ook van die lesers van ons blad, geskok en verwar. Talle telefoonoproepe is aan ons gerig met die vraag: "Wat nou?" Dat daar so 'n swaai weg van die sogenaamde (Afrikaner-) "volksgerigte" partye, die Vryheidsfront (VF) en die Afrikaner Eenheidsbeweging (AEB), plaasgevind het, is deur die voorstanders van die deelname aan die verkiesing oor die algemeen nie verwag nie. Die enigste gevolgtrekking wat hieruit afgelei kan word is dat baie voormalige ondersteuners van die VF en die Konserwatiewe Party (KP), óf nie gestem het nie, óf pragmaties vir die Demokratiese Party(DP), die Federale Alliansie (FA) en die African Christian Democratic Party (ACDP) gestem het. Daar is uitsonderings met betrekking tot ander partye, maar dit blyk uit waarneming dat dit die oorheersende stempatroon van die Afrikaner was.

Dit is normaal dat wanneer 'n saak skeef geloop het, gevra word, wat nou? "Wat moet ons nóu doen om dié mislukking weer te probeer regmaak?" As die ongeluk 'n mens getref het, staan hy anders teenoor 'n saak as daarvóór, toe dit vol moed en met hoopvolle verwagting aangepak is. Hoe moet ons hierdie terugslag verwerk en aanvaar óf ... dalk nie aanvaar nie? Dit is die vraag wat op hierdie oomblik by talle bekommerde volksgenote heers. Tog behoort dié uitslag van die verkiesing nie te verbaas nie. Wat die blankes, en des te meer die Afrikaner deel van die bevolking raak, is die oorweldigende getalle-oorwig van die swartes wat in die een-mens-een-stem bedeling op gelyke voet meegeding het. Die blanke kieserspotensiaal het hoofsaaklik dáárom, pragmaties, op 'n ander wyse as voorheen gesoek na die voor die hand liggende beste hantering van sy maatskaplike en persoonlike belange. Dit is waarom ontleders van die verkiesingsuitslag die swaai weg van die volksgerigte partye, die VF en die AEB, verklaar dat, "wit kiesers gestem het vir 'n geloofwaardige wit party wat hulle glo hulle voorregte sal beskerm. Witmense glo die DP sal hulle kan beskerm van wat hulle sien as 'n totale aanslag" (BEELD, 8 Junie 1999).

Dit bevestig helaas die huidige ruggraatloosheid en beginselloosheid van die merendeel van ons Afrikanervolk. Korttermyn-oplossings en materiële belange is die prioriteit van die oomblik. Dog binne die territoriale staatseenheid van ons land kán die Afrikaner nie sy kulturele en politieke selfbeskikking en die verwesenliking van sy oortuigings en belange herwin nie, tensy deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, wat met die staatkundige revolusie van 1994 formeel beëindig is. Na aanleiding van die Franse Revolusie het 'n Franse skrywer, Albert de Broglie, hom in 1860 as volg uitgelaat oor staat-kundige stelsels wat soortgelyk as die grondslag van die huidige RSA dien.

Wat as die ou régime bekendstaan, het onherroeplik ondergegaan; maar noudat die mense niks anders as gelyke individue meer is nie, wat elk op sigself magteloos is, maar oppermagtig as hulle tot 'n eenheid verbind word, staan jy sonder verweer teenoor die grillige alvermoë van 'n meerderheid. ... As hulle my vertel dat binne 'n volkryke nasie, oorlaai met al die goedere van 'n nuwe beskawing, die algemene stemreg 'n diktatuur tot stand bring, dan weet ek dat ek daarmee te staan kom teenoor 'n gesag wat van onderaf legitimiteit ontvang,

uit die krag van eenheid, verhonderdvoudig deur die mag van getalle. Dan sidder ek en ek voel dat dit 'n vyandelike mag is wie se toekoms deur die gewete en die menslike waardigheid betwis moet word, aldus De Broglie.

Die vrywillige deelname aan die verkiesing veronderstel die aanvaarding van 'n stelsel waarbinne die tirannie van die getallemeerderheid heers. Ek ken geen nasie wat uit 'n algemene stemreg gebore word nie, maar 'n volk wat in die volkshistorie gewortel is, sê die anti-revolusionêre Nederlander, Mr G Groen van Prinsterer. Dit beteken in ons omstandighede, volksgerigte politiek. Daarby aansluitend verwys dr Abraham Kuyper na die nagevolge van die Franse Revolusie ten aansien van die Nederlandse volk, dat die wankele mure van hulle volksbestaan omvergehaal en sy stene afgekap is, slegs om dit op 'n hoop te stapel sonder om te begin met die oprigting van 'n nuwe gebou. Die Liberalisme is anti-sosiaal omdat dit individualisties is en in 'n volk niks anders sien as 'n aantal siele binne 'n bepaalde grondgebied.

"En dit bederft en verderft heel ons volksleven. Dit loopt uit op een losrijten van alle banden, om de eenlingen die vijftig minus een zijn, door de eenlingen die vijftig plus een uitmaken, te tyranniseeren. Zoolang men daarin volhardt, komt er dan ook geen beterschap. Dán eerst als de deelen van het volkslichaam weer elk in hun eigen functie zullen kunnen werken, zal de gezondheid van dat volkslichaam weerkeren", aldus dr Abraham Kuyper.

As redaksie van DIE KERKPAD het ons tot dusver 'n lae profiel gehand-haaf oor die aangeleenthede van die politiek. Ons wou nie diegene wat dit ernstig gemeen het, om deur deelname aan die verkiesing die saak van ons Boere-Afrikanervolk te bevorder, openlik teenstaan met betrekking tot die benadering van die politieke stryd nie. Nou is dit die tyd om 'n heldere en ondubbelsinnige antwoord te verskaf. Dit behels die prinsipiële verwerping van die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat met sy rasionele grondslag van die sogenaamde menseregte. "Die miskenning van gemeen-skappe of volke se reg op selfbeskikking en die idee dat die bevolking van Suid-Afrika net uit, sê maar, dertig miljoen individue bestaan en dat die helfte-plus-een meerderheid van hierdie massa individue 'demokraties' vir almal besluit, maak van 'demokrasie' 'n tirannie van getalle. ... In Suid-Afrika sal 'n stelsel van een mens een stem, op politieke volksmoord neerkom. NP van Wyk Louw het teen hierdie gedwonge gelykheid gewaarsku en gesê, jy sal dit bereik net oor die dooie liggame van 'n hele volk heen! Daardie soort liberale 'demokrasie', toegepas op Suid-Afrika, is die dood in die pot vir ons volk - of vir enige ander volk", aldus dr AP Treurnicht (13 Julie 1990).

Daarmee kom ons terug by die vraag waarmee ons hierbo begin het: Wat nou? Daarop die antwoord: om weg te kom van vermeende korttermyn-oplos-sings en pragmatiese besluitneming en vas te staan by die Goddelike oorsprong van die taal-, kultuur- en volkereverskeidenheid! Dit is Sy besluit om teenoor die menslike sug na magsontplooiing, wêreldvrede en strewe na horisontale "versoening" en 'n nuwe wêreldorde, wat materiële welvaart moet verseker: "dit wat hulle van plan is om te doen", om dié menslike hoogmoed deur die spraakverwarring (Gen 11 : 5 - 9), te laat misluk. Dit motiveer en regverdig 'n prinsipiële verset teen en die weerstaan van die strewe tot die voorgestane nasionale eenheid van die "reënboognasie" en "versoening oor die onreg van die verlede", die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Daardie strewe, dié eenheid en daardie "versoening" kán en sál nooit werk nie.

R

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

DIE SAAK VAN DIE VROU IN DIE LEER- EN REGEERAMPTE VAN DIE KERK

DS  BC  SMIT  -  BRITS-WES

In die beswaarskrif van die Suidelike Part Sinode wat gedien het op die Nasionale Sinode (GKSA) 1997, word beweer dat "... die posisie van die vrou ten opsigte van die dienste/ampte in toenemende mate in die GKSA 'n brandende en aktuele vraag geword het." (Acta 1997:549, 2.1.2). Aangesien dit tans onder oorweging (sub judice) van studiedeputate is, wil ons nie nou daaroor argumenteer nie. Ter syde miskien tog wel dit: Die misverstand bestaan by baie dat die studiedeputate aanbevelings oor die aanvaarbaarheid van die vrou in die besonder ampte, al dan nie, moet maak. Die opdrag aan die studiedeputate is egter alleen om die eksegetiese materiaal vervat in die beswaarskrif van die Suidelike part Sinode te gaan toets en met 'n aanbeveling daaroor die volgende sinode (DV Januarie 2000) te adviseer.

Agter eksegetiese vraagstukke en studies sit daar sonder uitsondering voorveronderstellings of dan hermeneutiese standpunte en metodologie. Wanneer die hermeneuse van Skrifverklaarders verskil, is die kanse gering dat eenstemmigheid oor eksegetiese vrae bereik sal word. Met erkenning aan 'n artikel van Andreas J Köstenberger: "Gender Passages in the NT: Hermeneutical Fallacies Critiqued", word in hierdie artikel enkele van die voorveronderstellings in die huidige debat oor die vrou in die besondere ampte al dan nie, uitgelig en bespreek.

1. Geringskatting van Voorveronderstellings

Totale objektiwiteit in die beoordeling van Skrifgedeeltes is 'n onbereikbare ideaal. Hoe graag eksegete ook wil, kom hulle nie los van hulle teologiese begronding wanneer daar omgegaan word met God se Woord nie. Ongetwyfeld is alle voorveronderstellings ook nie ewe geldig of aanvaarbaar nie. Elke eksegeet is immers die produk van 'n eie agtergrond, ervaring, eksegetiese proses, kulturele en sosiale agtergrond, geslag, opvoeding en nog vele meer. Bloot die bewustheid en erkenning van voorveronderstellings help egter om die debat te laat vorder.

Toegepas op die huidige debat sal dit ongetwyfeld baat as die pro- en kontra-kampe 'n keer deeglik gaan nadink oor eie voorveronderstellings. Is die verwyte deur mev Susan Coetzee-Van Rooy (BEELD, 10 April 1999) oor "diskriminasie teen die vrou" en gelykluidende briefskryfsters, byvoorbeeld vry van die radikale feministiese invloede van ons tyd? Is dr Irma Kroeze (BEELD, 15 April 1999), wat op haar dae aan die PU vir CHO al bekend was vir haar feministiese standpunte en uitsprake, werklik objektief in haar siening? Is daar in werklikheid sprake van objektiwiteit as daar geredeneer word slegs vanuit die situasie terwyl God se Woord oor die saak wat in diskussie is verswyg word? As daar aan die ander kant bewyse is van manlike chauvinisme by dr Callie Coetzee, ds Hennie van Wyk en die uwe, moet dit ook aangetoon word sodat die debat sonder verdenking van mekaar se motiewe voortgesit kan word.

2. Gebrek aan balans in die hermeneutiese proses

Eksegete sal oor die algemeen erken dat die proses van Woordverklaring sekere stappe insluit, byvoorbeeld die vasstelling van die genre van die boek waarin betrokke verse voorkom, 'n kultuurhistoriese verantwoording oor gebeure, sintaktiese en woordstudies, 'n verkenning van die gedagte-opbou van die gedeelte en 'n beoordeling van die gewig wat toegeken word aan elke deel van die proses. (Watter van die prosesse is byvoorbeeld deurslaggewend in die argumentasie?) Eksegete (ook maar mense) vergeet egter (soms) om die hele pad te loop en dit het ernstige gevolge vir die resultaat van hulle gevolgtrekkings.

Neem as voorbeeld die gedeelte 1 Tim 2 : 8 - 15, wat sowel in die rapport van die studiedeputate aan die Sinode 1988 as die beswaarskrif van die Suidelike Part Sinode groot aandag ontvang het. Sonder ewewigtige eksegese wat aandag gee aan al die stappe in die verklaringsproses, kan die resultaat wat verkry word ernstig onder verdenking kom. Oorbeklemtoning van die woordstudie kan daartoe lei dat tot verkeerde gevolgtrekkings gekom word. Byvoorbeeld: "Omdat 'gesag-uitoefen' (NAV) of "heers" (OAV) moontlik dui op 'beheer deur dominering', en regering in die kerk eerder plaasvind deur diens en toerusting, kan dit in 1 Tim 2 : 12 nie gaan oor 'n verbod tot amptelike diens deur vroue nie" (Acta 1997:5502.2.1). Sou dit nie 'n meer verantwoorde weg  wees nie om ook die sintaktiese getuienis en die konteks in ag te neem in die bepaling van die betekenis van hierdie woord wat slegs een maal, hier in 1 Tim 2, gebruik word?

Waarvoor daarom gepleit word is dat deputategroepe, veral wanneer dit gaan oor hierdie brandende kwessies, moeite sal doen om ewewigtig die volle eksegetiese pad sal loop en die verskillende tekste te ondersoek. Uiteindelik is daar nie soveel tekste oor die saak dat die taak te groot word om in drie jaar af te handel nie. Die kosbare werk wat reeds afgehandel is in vorige rapporte, maak die opdrag nog meer hanteerbaar.

3. Onderskatting van die belang van Ou Testamentiese agtergrond in Nuwe Testamentiese tekste

Daar is redelike eenstemmigheid oor die ter saaklike tekste in die Nuwe Testament oor die vrou in die amp. Die tekste wat gewoonlik genoem word is: 1 Kor 11 : 2 - 16; 14 : 33b - 36; Gal 3 : 28; Ef 5 : 21 - 33; Kol 3 : 18 - 19; 1 Tim 2 : 8 - 15 en 1 Pet 3 - 1 - 7. Dit word ook algemeen aanvaar dat Gen 1 - 3 grondliggend is vir die verstaan van die NT tekste oor die vrou. Vergelyk byvoorbeeld die volgende tekste uit die briewe van Paulus met die uit Genesis: 1 Kor 11 : 2 - 16 (vgl 14 : 33b - 36) met Gen 2 : 18, 21 - 23; Gal 3 : 28 met Gen 1 : 27; Ef 5 : 21 - 33 (vgl Kol 3 : 18, 19) met Gen 2 : 24 asook 1 Tim 2 : 8 - 15 (vgl 3 : 1 - 5) met Gen 2 : 7, 21 - 22; 3 : 1 - 1 - 6.

Hierdie opmerklike ooreenkomste is natuurlik nie toevallig nie. Die vraag bly egter steeds onbeantwoord in die hele debat waarom Paulus so teruggryp na die gesagverhouding in Genesis. Geld dit bloot as "illustrasiemateriaal"? Is Genesis vir hom dalk so gesaghebbend dat alle teëspraak deur dié aanhalings tot niet is? Hoe sou die eerste lesers hierdie verwysings ervaar? Waarom verwys die apostel telkens terug na Genesis en nie so gereeld na die gebruike van sy tyd of aanvaarde sosiale standaarde nie? Kan dié gebruik van die Genesis-tekste deur die apostel op enige ander wyse gesien word as deurslaggewend en gesagvol in die vraagstuk oor die plek van die vrou?

4. 'n Arbitrêre onderskeid tussen "kernverse" en verse met sogenaamde beperkte betekenis

Hoewel hierdie arbitrêre onderskeid tussen verse in die hele debat oorsee 'n groot rol gespeel het, moet in alle eerlikheid erken word dat die kwaal (nog) nie kenmerkend is van die huidige debat in die Gereformeerde kerke nie. Dit beteken egter nie dat 'n tydige waarskuwing nie nodig is nie.

Die teks wat dikwels uitgesonder is as die kernvers in Paulus se siening oor die vrou in die amp, is Gal 3 : 28. Vanuit hierdie vers, en veral dan die woorde: "... daar is nie meer man en vrou nie, want julle is almal een in Christus Jesus" word dan al die ander tekste, byvoorbeeld 1 Tim 2 : 8 - 15; 1 Kor 11 : 2 - 16 en 14 : 33 - 36 verklaar. Maar is die punt wat die apostel maak in Gal 3 : 28 werklik hoe Christus die verhouding tussen mans en vroue verander het? Die konteks maak so 'n verklaring onmoontlik. Paulus is immers in hoofstukke 3 en 4 besig met die heilshistoriese gebeure eerder as sosiale, ras of geslagsverskille. Gal 3 : 28 moet immers gelees word in verband met Gal 3 : 16. Daar redeneer die apostel dat Gen 12 : 17 nie verwys na Abra-ham se baie nakomelinge nie, maar na een, dit is Christus. Die stelling in Gal 3 : 28b verwys nou terug na die belofte van God aan Abraham wat sonder onderskeid aan alle gelowiges behoort. Dit is ook presies die konklusie waartoe gekom word in vers 29: "En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename."

Ons is dus sonder diskriminasie deelgenote van God se belofte aan Abraham. Geen onderskeid word gemaak tussen Jood en Griek, slaaf en vryman of man en vrou nie. Wie daarom hierdie verse direk wil betrek op die verhouding tussen man en vrou en die gelykheid van ampsdiens in die kerk, mis die punt van die argument.

5. Fragmentariese Eksegese

Die gevaar van 'n gefragmenteerde siening van die Skrif, is in hierdie hele debat ook nie denkbeeldig nie. Vergelyk maar die briefwisseling onlangs in BEELD en dit val dadelik op hoeveel keer 'n bepaalde standpunt aan Paulus toegedig word asof sy geskrifte die produk van sy denke is, eerder as van die inspirasie deur die Heilige Gees. Daar word by geleentheid selfs in een brief gewag gemaak van die organiese inspirasie wat onderskryf word, net om daarna te kla dat die apostel darem erg eensydig in sy benadering van sake was.

"Ek is totaal oortuig dat die Woord van God deur die Heilige Gees geïnspireer is, maar ek besef ook dat die brief aan die Korintiërs deur 'n man geskryf is wat in 'n gees van baie onsekerheid 'n ordelike kerk moes skep. ... Dit is egter baie jare later en ek is jammer om te sien dat ds Van Wyk net soos Paulus steeds bedreig voel oor die rol van die vrou in die kerk", aldus Hanna Scheepers (BEELD, 15 April 1999).

Dit is met hierdie gefragmenteerde siening van die Skrif ook nie vreemd nie dat daar 'n patriargale siening van die vrou in die Ou Testament onderskei word, waarteenoor Jesus as die groot bevryder van die vrou beskou word. Paulus word dan óf afgemaak as 'n vrouehater, óf geprys as die stryder vir vroueregte. So 'n siening laat mens altyd wonder: Wat dan van die heilige Gees wat die hele Skrif geïnspireer het?

Moet daar nie veel eerder en meer gesoek word na die kontinuïteit in die Skrif as dit gaan oor die rol van die vrou in die gemeente nie?