|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
AKTUEEL
Is God se wysheid dan dwaasheid vir hierdie teoloë?
Twee onlangse uitgawes van DIE KERKBLAD (dié van 6 en 20 September) het in die redaksionele hoofartikels van prof GJC (Jorrie) Jordaan en Brandpuntartikels van ds HLJ Momberg en dr HG Stoker indringend geantwoord op verwerplike geloofsienings wat deur sekere teoloë in kerklike byeenkomste en in die pers geuiter is. Die sekulêre pers het dié ketterye bevorder deur dit op 'n uitdagende wyse onder aandag van sy lesers te bring. Daaroor handel dr Henk Stoker se bogenoemde Brandpuntartikel waaruit ons instemmend - selektief - in hierdie "Aktueel" siteer.
Die afgelope paar weke is ons deur middel van die media oorspoel met berigte oor uitsprake van Suid-Afrikaanse teoloë. Soos wat 'n mens dit lees en die ophef sien wat die koerante van hulle maak, kom verskeie Byb
elgedeeltes by jou op. Een daarvan is 2 Pet 3 : 16, waar Petrus sekere leermeesters van destyds "ongeleerde en onvaste mense" noem, omdat hulle die Skrif verdraai "tot hulle eie verderf ". ...'n Openheid ... vir leuens
In die berigte wat die afgelope paar weke in die media verskyn het, is dit verkondig dat die tydsgees waarin ons nou leef, dié van "openheid" is en moet wees. Onder hierdie openheid word verstaan dat ons oop moet wees vir ander gedagtes rondom die Bybel, Jesus Christus, en die sogenaamde waarhede wat deur ander godsdienste verkondig word. In Rapport van 27 Augustus 2000 word in 'n artikel hierop ingegaan. Daar word verwys na die menings van Sakkie Spangenberg en Willem de Klerk dat 'n "groter openheid" in die teologiese gesprek gekom het. De Klerk word dan aangehaal dat hierdie openheid in die huidige denkstroming "van die post-modernistiese era" staan.
In 'n referaat wat pas by die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap gelewer is, beskryf 'n ander oudpredikant van die Gereformeerde Kerke, Hans van Deventer, die post-modernistiese paradigma waarin Spangenberg en andere opereer as: "Absolute waarheid is nie bereikbaar nie - wat waar is, is relatief." Dit word dan deurgetrek na die Bybel wat hiervolgens bloot "woorde oor God" is. Hierdie manier van kyk na dinge staan teenoor die vroeëre siening dat die Bybel die Woord van God is en dat ons ons daarop kan beroep omdat dit die waarheid is.
Na twee wêreldoorloë wat die vernietigingskrag van die eens verheerlikte wetenskap getoon het, het die na-moderne mens gekom wat skepties oor sogenaamde feite is. Die waarheid is nie meer iets wat daar staan en ons kan almal deel daarvan kry nie. Nee, in elke mens, in elke idee, in elke godsdiens steek daar waarheid. Niemand het meer alleenreg op wat reg en waar en goed is nie. Daar is nie meer 'n vaste norm om iets aan te meet nie. Dié wat wil, kan trou en dié wat wil saambly, kan saambly.
Die Bybel bevat goeie idees van mense, maar so ook die Koran, en ander "heilige boeke" van die wêreld. Die Christelike godsdiens leer mense positief lewe, maar ook die Boeddhisme en die ander wêreldgodsdienste.
Wanneer 'n mens die klomp koerantartikels van die afgelope weke lees, dui dit wat gesê word daarop dat teoloë soos Spangenberg en Christine Landman ingesuig is deur die denksisteme van ons tyd. Dit verklaar waarom hulle hulle verhef bo die Bybel in dié sin dat hulle self besluit oor wat reg is ten opsigte van seks voor die huwelik, of verlossing regtig net alleen deur Christus is, en oor die duidelike uitsprake in die Woord van God wat die valse godsdienste afwys. Onder die term van "wetenskaplikheid" besluit elkeen sommer self wat vir hom/haar aanvaarbaar is in God se Woord en wat nie.
'n Mens verstaan eers waar hierdie mense aan hulle eiesinnige idees kom wanneer jy dit lees teen die agtergrond van die denksisteem van ons tyd. As alle waarhede relatief en subjektief is, moet dit mos ook vir die Bybel geld. Dit bring teoloë daarby uit om die Bybel as bloot menslike woorde oor God te beskryf. As dit eers vir mense waar is, is die pad vir hulle oop om hulleself te oortuig dat hulle self tot beter en dieper kennis kan kom as die Bybel-skrywers van destyds.
Dit is juis teen die destyds gangbare opvatting en verdraaiings van die Skrif dat Paulus "met die wysheid wat aan hom gegee is ... dinge in sy briewe (skrywe) wat moeilik is om te verstaan" (2 Pet 3 : 15 - 16). Op die oog af lyk dit of die twee dinge mekaar weerspreek. 'n Wyse man moet mos weet om dinge op 'n maklik verstaanbare manier oor te dra. Dit is waar. Paulus se briewe is dan ook nie op 'n onverstaanbare wyse geskryf nie. Dit "wat moeilik is om te verstaan" vir mense, is dinge wat anders is as hul gewone denke. Daarom dat die Woord van God beklemtoon dat nie net ons gees nie, maar ook ons gedagtes, nuut moet word, moet verander.
In 'n wêreld wat op die mens, sy waarhede, sy spiritualiteit, gerig is, sal die sogenaamde openheid vir ander standpunte net so ver strek as tot daar waar mense met hierdie nuwe wêreldse kyk na dinge saamstem. Soos oor al die eeue gebeur het, sal gelowiges wat in gehoorsaamheid aan die Here dit durf waag om teen die tydsgees in te gaan en te bly vra na God se Woord en dat sy wil geskied, verguis word.
Dit is dan ook duidelik uit die koerantberigte van die afgelope tyd dat die sogenaamde openheid van die nuwe tydsgees nie Bybelgetroue Christene insluit nie. Die standpunt van diegene wat nog glo in God en wat Hy aan ons openbaar, is in een artikel afgemaak as "eng gereformeerde fundamentalisme". Hierteenoor word diegene wat met hulle standpunte teen dit wat God in sy Woord ons leer, ingaan, beskryf as "briljant" en word volbladsy-artikels oor hulle gepubliseer.
Weereens is dit duidelik: Dié wat met die tydsgees van die dag verskil, sal al minder verdra word. en nie verstaan wil word nie. Onthou egter: Al maak mense watter geleerde uitsprake oor God, as dit nie waar is nie, is dit nie waar nie. Dan wil die nuwe openheid ons uiteindelik maar net oopmaak vir leuens. ...