|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
IS DIE NG KERK NOG DIE NG KERK?| Dit is vir die kerkraad van die NG Kerk, gemeente Memel, duidelik dat die huidige toedrag van sake in die Kerk in hom die kiem dra om nie net die gereformeerde karakter van die NG Kerk te vernietig nie, maar dat dit ook in hom die kiem van nog 'n kerkskeuring dra! |
Die Kerkraad van die NG Gemeente Memel het met groot kommer en besorgdheid kennis geneem van tendense in die NG Kerk wat op gemeentevlak die gereformeerde belydenis en karakter van die Kerk in die gedrang bring.
Talle lidmate is hieroor verontrus, omdat hulle aanvoel dat dit wat tans aan die gang is in die NG Kerk n wesenlike verskuiwing verteenwoordig. Dit wil voorkom of die vrysinnige gees van die sekulêre wêreld waarin elkeen maar net eenvoudig maak soos hy wil, ook soos n golf deur die Kerk spoel. Hierdie toedrag van sake bring verwarring, vervreemding en verontrusting by hierdie lidmate omdat hulle in toenemende mate nie meer tuis voel in die NG Kerk nie. In hierdie verband verwys ons na enkele praktiese voorbeelde:
1. Daar is n toenemende ongelukkigheid onder talle lidmate wat sê dat hulle nie meer tuis voel in hul eie kerk en veral nie in die erediens nie. Hulle sê dinge het so verander dat hulle kerk nie meer hulle kerk is nie. In sommige eredienste is daar min of geen sprake meer van die gereformeerde liturgie of eredienskarakter nie. Die erediens word charismaties ingeklee en aangebied. Dikwels word die predikant ook n charismatiese leier, in plaas van herder en leraar vir die gemeente wat afgesonder is om in terme van Kerkorde Arikel 9 sy bediening rondom prediking, pastoraat en huisbesoek na vore moet laat kom.
2. Gebruike wat vreemd is aan ons kerk se gerefor-meerde karakter word subtiel en soms minder subtiel ingevoer ter wille van vernuwing of ter wille daarvan om n charismatiese spiritualiteit te akkomodeer. n Mens kry die indruk dat daar leraars en kerkrade is wat deur hul pogings tot die charismatisering van die kerk, die gereformeerde karakter en identiteit van die NG Kerk en sy gereformeerde belydenis by die venster uitgegooi, of dit minstens afgewater en, in sommige gevalle, selfs onherkenbaar vermink het.
Die onversoenbaarheid vann charismatiese spiritualiteit met die gereformeerde spiritualiteit binne een geloofsgemeenskap sonder die aantasting van die eenheid van so n geloofsgemeenskap is voor die hand liggend as in gedagte gehou word dat die charismatiese spiritualiteit se wortels nie opkom uit die Gereformeerde tradisie nie. Dit is gebore in die dampkring van die Pentekostalisme. Dit het n metodisties-Arminiaanse basis wat haaks staan op die Calvinisties-reformatoriese spiritualiteit en wat geestelike groei hoofsaaklik vind in "ervaringe", eerder as in die Woordmatigheid van die Woord.
3. Die kansel met sy besonder plek en simboliek in ons Kerk is vir sommige dominees en kerkrade nie meer goed genoeg nie en moet nou plek maak vir die verhoog.
4. Die sentraliteit van die Woord in die erediens moet plek maak vir allerlei vermaaklikheidskunsies en truuks en foefies om die kerkganger te trakteer.
5. Orrelbegeleiding met sy eie besondere aard en karakter moet plek maak vir die orkes op die verhoog, sodat die gemeente "lekker" kan sing en die charismatiese gees aangeblaas kan word.
6. Sommige dominees en kerkrade ignoreer eenvoudig die Kerkorde. Nagmaal word byvoorbeeld in en deur selgroepe in die gemeente bedien - iets wat natuurlik totaal in stryd is met die wyse waarop die Kerkorde die bediening van die nagmaal reël. (Het daar al iewers enige haan hieroor gekraai?)
7. In n onlangse amptelike kennisgewing in Die Kerkbode het die skriba van die ASK daarop gewys dat sekere individue wat nóg oor die bevoegdheid van predikant, nóg oor die bevoegdheid van proponent in die NG Kerk beskik, hulleself aanbied as predikante en/of deur kerkrade genooi word om eredienste te lei. Is dit nie simptomaties van die tans vrysinnige gees en ordeloosheid in die Kerk as kerkrade daarop gewys moet word dat sulke optrede in stryd is met die Kerkorde en kerkrade "dringend versoek " moet word om kerkordelike bepalinge te gehoorsaam? (Hoeveel kerkrade en dominees gaan hulle aan hierdie "dringende versoek: steur?)
Hierdie tendense in die kerk word toenemend n onderwerp van bespreking onder ons lidmate wat vir hulle kerk en sy bepaalde gereformeerde karakter omgee. Hulle vra met reg: "Wat gaan deesdae in die N G Kerk aan?" Waarheen is die kerk met ons oppad?" "Is die N G Kerk nog die NG Kerk?"
Ons lidmate vra toenemend ook n ander vraag: "Waarom is ons kerkleiers en ons meerdere vergaderinge oor hierdie toedrag van sake so stil? Hoekom hoor ons nie die kerk se stem en word daar nie duidelike uitsprake en leiding gegee oor hierdie en ander soortgelyke sake nie?"
Enkele kerkleiers laat wel so af en toe in Die Kerkbode en ander forums hulle stem hoor, maar dis ook al. Van optrede is daar geen sprake nie! Hoe is dit te rym met n kerk wat in sy Kerkorde, Artikel 2 bely dat "die Woord van God eis dat in die gemeente van Christus alles welvoeglik en ordelik moet toegaan (1 Kor.14:40) ..."
In n publikasie wat in 1998 verskyn het, getiteld "Is die NG Kerk nog die NG Kerk?", vra professor Pieter Potgieter die vraag: "Het ons nie dalk by n krisistyd in die bestaan van die Ned Geref Kerk gekom nie?" Die kerkraad van Memel is van mening dat dit nie meer n vraag is óf die kerk n identiteitskrisis beleef nie. Die vraag is nou eerder hoe diep en hoe wyd die identiteitskrisis in die kerk sny.
Daarby moet gevra word in watter mate hierdie dinge die gereformeerde karakter en belydenis van die Kerk aantas.Dit is immers tog nie moontlik om in één kerk en in één gemeente en in één erediens die charismatiese (en pentakostalistiese) spiritualiteite te akkomodeer, sonder om die eenheid en dienooreenkomstig die gereformeerde belydenis prys te gee nie.
Die kerkraad van die NG Gemeente Memel stel derhalwe opnuut sy verbondenheid aan en vereenselwiging met die gereformeerde belydenis - by name die Drie Formuliere van Eenheid - en identiteit van die NG Kerk. Te midde van die geroep wat uit sommige oorde opgaan dat die Kerk moet vernuwe en verander en gelowiges van alle spiritualiteite moet akkommodeer, is daar vir die Kerkraad vier onverskuifbare grense:
1. Die Bybel as Woord van God in terme van ons gereformeerde Skrifbeskouing.
2. Ons gereformeerde belydenis soos uitgedruk in die Drie Formuliere van Enigheid.
3. Ons gereformeerde identiteit. (As ons nie meer is wie ons sê dat ons is nie, wie is ons dan?)
4. Ons gereformeerde bedieningskarakter.
As ons die toekoms van ons kerkwees nie op hierdie vier standpunte stel nie, sal die vraag inderdaad gestel kan word: Is die NG Kerk nog die NG Kerk?
Dit is ten slotte ook vir die Kerkraad duidelik dat die huidige toedrag van sake in die Kerk in hom die kiem dra om nie net die gereformeerde karakter van die NG Kerk te vernietig nie, maar dat dit ook die kiem van nog n kerkskeuring in hom dra!
Ds Pieter de Kock.
Voorsitter van die Kerkraad.
17 Mei 2000