|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
GELOFTEFEES - DR PH KAPP - RAU 1979 - Vir die Afrikaner het die begrip volksfees 'n kultuur-politiese en godsdienstige begrip geword wat uiting gee aan die nasionale bewussyn en strewe van die volk, en is as sodanig dus nie 'n handeling wat 'n tradisie ter wille van 'n tradisie handhaaf nie. Daarom word die volksfeeste van die Afrikaner nie deur sinlose handelinge of uitbundige vreugde gekenmerk nie. Dit moet 'n bepaalde funksie vervul, naamlik om die volksgevoel te versterk en die nasionale strewe uit te bou. Die Afrikaner se belangrikste volksfeeste is nie 'n Europese erfenis nie, maar is in Suid-Afrika uit sy besondere geskiedenis gebore. Van hierdie feeste is Geloftefees een van die belangrikste hoogtepunte.Hoewel Geloftefees, die oudste van die Afrikaner volksfeeste, uit 1838 dateer is dit opvallend dat die werklike opbloei van die historiese feeste aan 'n bepaalde tydperk of tydperke en die Afrikaner se geskiedenis gekoppel kan word.
Geloftefees is ná 1838 op 'n uiterst beperkte skaal deur enkelinge of klein groepies gevier. Selfs die besluit van die NG Kerk van Natal in 1864 om 16 Desember op kerklike wyse as 'n dankdag te vier, en die besluit van die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1865 om 16 Desember tot openbare vakansiedag wat as 'n dankdag gevier moes word te verklaar, het nie tot 'n besondere belangstelling in die dag gelei nie. Dit was eers na die eerste anneksasie van die ZAR, in 1877, deur Theophilus Shepstone dat daar 'n openbare belangstelling in die fees ontwikkel het. Die besef dat hulle hulle vryheid verloor het, het by die Transvaalse Afrikaners 'n herwaardering vir hulle eie verlede laat ontstaan. Stryd en oorwinning, geloof en Godsvertroue was vir hulle die besondere kenmerke van hulle volksgeskiedenis. Daarom het hulle opnuut die betekenis van die slag van Bloedrivier en die Gelofte ontdek. Die groot Geloftefees op 16 Desember 1879 by Wonderfontein het meegebring dat die fees vir die eerste keer tot die gewone volk deurgedring het.
Die Paardekraalfees wat van 12 tot 16 Desember 1880 gevier is en waar tussen 4 000 en 5 000 burgers hulle by wyse van 'n klipstapeling verbind het om vir die onafhanklikheid van die ZAR te veg, het tot gevolg gehad dat die Gelofte en die oorwinning van Bloedrivier vir die Afrikaner nuwe betekenis gekry het. Die feit dat die Paardekraalfees gevolg is deur die oorwinning oor die Britse magte by Amajuba, op 27 Februarie 1881, het meegebring dat Geloftefees hierna nooit weer in onbruik sou verval nie. Dit het dan ook periodiek gebeur dat rondom Geloftefees groot volksfeeste oor die hele land georganiseer is, wat op alle terreine - godsdienstig, kultureel en polities - 'n baie groot invloed op die Afrikaner se volkslewe uitgeoefen het. Die vyfjaarlikse Paardekraalfeeste in die ou Transvaalse Republiek, die 1938-simboliese Ossewatrek, toe die hoeksteen van die Voortrekkermonument in Pretoria gelê is, en die groot fees met die inwyding van die monument in 1949 is enkele voorbeelde van die kragtige uitwerking wat die fees op die Afrikaner gehad het.
Geloftefees het die patroon gelê vir die ontwikkeling van die historiese feeste. Majubafees, ter herinnering aan die oorwinning oor die Britse magte by Amajuba, was die eerste van hierdie feeste. Reeds op 31 Mei 1882 het die Transvaalse Volksraad besluit dat 27 Februarie as openbare vakansiedag gevier sal word ''ter verootmoediging voor die Here vir die groot dinge op dié dag aan die volk gedoen''.
Krugerfees het reeds tydens die lewe van Paul Kruger begin vorm aanneem. Dit het ontwikkel uit die gebruik om die verjaarsdae van die presidente van die Vrystaat en Transvaal te herdenk. ... In Transvaal het dit as Krugerfees bekendgestaan , in die Vrystaat as Kruger-Steynfeeste en in die Kaapprovinsie as Heldefeeste.
Hierdie feeste het 'n veel wyer terrein as geloftefees gedek en was daarom 'n gunstige geleentheid om die ganse geskiedenis van die Afrikaner te betrek. Dit het ook nie so 'n ernstige godsdienstige karakter gedra nie en daarom is die geleentheid gebruik om die Afrikaanse letterkunde, sang en musiek te bevorder. Krugerfees het meer die stempel van 'n kultuurfees begin dra.