|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
OPROEP TOT REFORMASIEHiermee verklaar die kerkraad opnuut sy eie verbintenis:
n Verbintenis tot onderworpenheid aan die onfeilbare gesag van die Bybel as Woord van God soos tradisioneel deur Gereformeerde kerke aanvaar (NGB Art 2-7).
n Onvoorwaardelike verbintenis tot die Drie Formuliere van Eenheid, te wete die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerrëels as getroue belydenis van die Woord van die Here.
n Verbintenis om daarna te streef om waarlik n eietydse gereformeerde kerk te wees. Onder die begrip "gereformeerd" word verstaan: in pas wees met die Reformasie van die sestiende eeu, wat impliseer n terugkeer tot die absolute en onfeilbare gesag van die Woord soos dit bely word in die gereformeerde belydenisskrifte.
n Verbintenis om sorg te dra dat die gemeente n produk sal wees van die Woord en Belydenis en nie van die moderne tydgees en humanistiese behoeftes van die mens nie.
Die kerkraad bely in ootmoed waar hy ook moontlik in die verlede konkrete gehoorsaamheid aan die Woord en gereformeerde belydenis nagelaat het. Dit is die kerkraad se begeerte dat hierdie gemeente aan Christus gehoorsaam sal lewe. Dit is ook die kerkraad se begeerte om in eenheid te leef met almal wat op hierdie wyse wil terugkeer na die Here se Woord en die gereformeerde belydenis.
Die kerkraad is verontrus oor die volgende dinge wat binne die NG kerk aangevoel word:
die stortvloed van uitsprake van teoloë en leraars waaruit dit blyk dat die Hoër Kritiese manier van omgang met die Heilige Skrif aan die orde van die dag is. Hierdeur word die onfeilbare gesag van die Woord geloën en word wegbeweeg van ons belydenis in NGB Artikels 2-7. Die kerkraad oordeel dat die verval in die kerk hier sy wortel het.
vanuit die Skrifgesagkrisis vloei allerlei ongereformeerde sieninge soos byvoorbeeld die sieninge oor homoseksualiteit, die bediening van nagmaal aan persone wat nie belydenis van geloof afgelê en godvresend lewe nie, die vreemde standpunte oor dobbelary (in besonder staatslotery), ensovoorts. Skynbaar ry die humanisme die kerk bloots. Al hoe meer word gehoor dat die Woord by die mens en sy behoeftes aangepas moet word. Dit alles plaas n vraagteken oor die gereformeerde gehalte van ons teologiese opleiding.
klaarblyklik het "die waarheid" iets relatiefs geword en word daar weggeskram van "absolute waarheid". Daarom word daar wegbeweeg van ons gereformeerde belydenisskrifte as vorm van absolute waarheid en gesag. Die kerkraad is daaroor bekommerd dat die drie belydenisskrifte bloedweinig in die kerk funksioneer.
die kerkraad is voorts verontrus oor die ongerefor-meerde wyse waarop "die sinode", "die ASK" en "sinodebesluite" die plaaslike kerkraad oorheers. Die plaaslike gemeente is immers die ware gestalte van die kerk van Christus. Die Sinode, as uitdrukking van die kerkverband, dien slegs die doel om die plaaslike kerke te dien. Die ASK het dus geen reg (om soos n wafferse Pous) uitsprake te maak wat deur geen kerkraad aan die Woord en Belydenisskrifte getoets is nie! Geen Sinodebesluit of uitsprake van n kommissie mag bo die Woord en Belydenis gestel word nie! (Vergelyk NGB Artikels 7, 30, 32). Dit is die gevolg van n ongereformeerde "sinodokrasie" waarvolgens die plaaslike kerk slegs as 'n " takafdeling" van die Sinode gesien word en wat onvermydelik tot n hiërargiese vorm van kerkregering lei. Dit is onbybels en in stryd met ons belydenis.
die funksionering van die tug. Skynbaar kan teoloë en leraars uitsprake maak wat indruis teen die Woord en belydenis en geen haan kraai daaroor nie! Wat het geword van leertug? Is die kerk nie die draer en beskermer van die Waarheid nie? (1 Tim 3:15). Moet die dwaling nie op ferme wyse deur die tug aan bande gelê word nie?
die wyse waarop die Pentakostalisme as "vernuwings-truuk" in die kerk ingespan word. Die kerkraad oordeel dat die Gereformeerde spiritualiteit onversoenbaar is met n pentakostalistiese spiritualiteit. Die kerkraad is ook verontrus met die praktyke wat BUVTON propageer om vernuwing in die kerk te bring. Hierdie praktyke vertoon tekens van n Rooms-Anglikaanse spiritualiteit wat vreemd is aan die Gereformeerde tradisie.
bo alles, is die kerkraad verontrus oor die feit dat die NG Kerk al meer die tekens van n "vals kerk" vertoon, soos ons dit bely in NGB Artikel 29. Dit gebeur wanneer die kerk aan homself en sy eie besluite meer gesag toeskryf as aan die Woord van God. Ook wanneer die kerk meer op mense vertrou (humanisme) as op Christus en selfs diegene vervolg wat wel getrou wil wees aan die Waarheid. Ook bedien die valse kerk die Woord nie suiwer nie (Skrifkritiek en Skrifgesagkrisis), die sakramente nie suiwer nie en word die tug verwaarloos.
Hierdie sake veroorsaak n gewetenskrisis by lidmate en dit roep om ware reformasie. Die kerkraad glo dat die tyd ryp is vir hernude reformasie, n ware terugkeer na die Woord en die gereformeerde belydenis! Hiermee wil die kerkraad alle gemeentes en kerkrade hiertoe oproep. Gemeentes wat werklik in gehoorsaamheid aan die Woord wil lewe, moet sigbaar na vore tree en in eendragtige eenheid-in-die-ware-geloof (Heidelbergse Kategismus, Sondag 21) begin om te reformeer.
Geteken te Eendekuil op 20 Junie 2000
Ds C Saayman: Voorsitter van die kerkraad ...