|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
ISLAM EN SY PROFEET MOHAMMED (2)Marié Bosman - Pretoria
Hierdie artikel is aanvanklik geplaas in DIE BOODSKAPPER (APK), Julie/Augustus 2000 (bl 5, 6 en 8). Marié Bosman het spontaan meegewerk om dit vir publikasie in ons blad beskikbaar te stel
WAT BETEKEN DAARDIE WOORD? KORAN: Quran (al Quran) word ook "al Kitab", Die Boek, genoem en dit beteken letterlik die verklaring. Islam aanvaar dit as die finale, onfeilbare openbaring van God se wil. Dit is die boek wat seker die meeste gelees word, sekerlik die een wat die meeste gememoriseer word en die meeste invloed uitoefen op hulle wat dit lees. SUNNAH: Die Sunnah (ook die tweede bron genoem )bestaan uit die gesegdes en opgetekende dade van Mohammed - alles wat van Mohammed gerapporteer is naas die Koran. HADITH: Ses groot versamelings van Mohammed se oorgelewerde spreuke, waarvolgens die tradisie van hoe daar opgetree moet word, bepaal is. SHARIA: Die Islamitiese wet of Goddelike Wet, soos vervat in die Koran, is volgens Islam vir die hele mensdom deur Allah gegee, en dis dwingend en onveranderlik. Dis die grondwet van die Moslemgemeenskap. SHAHADAH: Die geloofsbelydenis van Islam bestaan uit een enkele sin: "Daar is geen God behalwe Allah en Mohammed is sy boodskapper". Dit is die eerste en die belangrikste van die pligte van die Moslem, die sogenaamde vyf "Pilare van die Geloof". SALAT: Gebedsritueel of pliggebed, die tweede pilaar, is nie n spontane gebed of "doea" nie maar n ritueel met baie reëls en regulasies. RAMADAN: Die maanmaand van verpligte vas gedurende die dagligure van elke dag is die vierde pilaar. Ramadan is die maand in die Arabiese kalender waarin Mohammed sy opdrag ontvang het. JIHAD: Die sogenaamde heilige oorlog was n plig wat op die gemeenskap rus met die doel om die ganse aarde onder die politieke en militêre bestuur van Islam te bring. SUNNI: Anders as wat dikwels verkondig word, is Islam nie verenig en vry van sektes nie. Die Sunnis of Sunniete is die ortodokse Moslems wat glo dat alle openbaringe en kennis afgesluit is met die Koran en die Sunnah. SHIA: Die Shiiete glo dat die leierskap in Islam slegs direkte afstammelinge van Mohammed toekom. Die Imam of leier het goddelike eienskappe, en hy is sondeloos en onfeilbaar. In Iran is dié faksie oorheersend. ZOROASTRISME: Persiese godsdiens waardeur Mohammed
beïnvloed is. Dis in die 7de eeu deur Zoroaster (Zarathrusta) gestig is. Ahoera Mazda is
as die bron van alle goedheid |
DIE KORAN
Thomas Carlyle het gesê: "Dis die vermoeiendste lesery wat ek ooit aangepak het, n vervelige, deurmekaar spul, kru, onsamehangend. Niks behalwe n pligsgevoel sal n Europeër ooit deur die Koran dra nie. " Dis onvolledig, vol foute, teenstrydige uitsprake en eindelose herhalings en sonder n begin of n einde. Daar is geen vergelyking met die Bybel nie.
Ten spyte daarvan dat die teendeel in onder andere die Ensiklopedie van Islam bewys word, glo Moslems steeds die Koranaansprake dat alle Arabiere direk van Abraham afstam, dat Abraham in Mekka gewoon het en dat hy die Kabah herbou het. Hulle beweer dat Abraham n Moslem was, omdat hy onderdanig aan God was en homself onderwerp het. Die opvatting dat alle Arabiere afstammelinge van Abraham se seun, Ismael is, is ook verkeerd. Die Arabiese volk is n samestelling van mense uit baie woestynstamme van verskillende herkoms.
ALLAH EN GOD
Die woord, "Allah", is nie deur Mohammed uitgedink of vir die eerste maal in die Koran geopenbaar nie. Dit kom van die samegestelde Arabiese woord, al-ilah, die god - n suiwer Arabiese woord. Allah is n eienaam, slegs van toepassing op die spesifieke godheid van die Arabiere en nie n algemene naam vir God (of n god) nie.
Die naam is gebruik as die persoonsnaam van die maangod, getroud met die songodin, en die vader van drie godinne, "die dogters van Allah". Hulle vyf was die "hoë" gode, die belangrikste in die Arabiese godedom. Die Quraysh-stam was besonder toegewyd aan die maangod. Mohammed se pa se naam was byvoorbeeld Abd-Allah. Omdat die sekelmaan oral in die Midde-Ooste die simbool van die aanbidding van die maan-god was, het dit as teken van Islam die bekering van mense tot die nuwe geloof in dié streek vergemaklik.
Dat alle gelowe dieselfde God onder verskillende name aanbid, is bloot n sentimentele opvatting, omdat die wesenlike verskille wat godsdienste verdeel, daardeur oor die hoof gesien word. Onkunde oor die verskille tussen die Allah van die Koran en die God van die Bybel en Moslempropagande, gemik op die werwing van Westerlinge vir Islam, laat oningeligtes glo dat Allah net n ander naam vir die Here is. In die Arabiese vertaling van die Bybel uit die tiende eeu word God as gevolg van politieke en godsdienstige druk op die ver-talers wel Allah genoem.
Die God van die Bybel kan geken word, want Jesus Christus het gekom sodat ons God kan ken. Allah is egter onkenbaar, verhewe. Die God van die Bybel is n persoonlike wese met intellek, gevoel en n wil, maar om Allah as n persoon of n gees te bestempel is vir die Moslem lasterlik. Die God van die Bybel word beperk deur sy eie onveranderlike en onveranderbare wese. Hy kan nie enigiets en alles doen nie; Hy kan nie lieg nie; Hy kan nie teenstrydig met sy goddelike natuur optree nie. Hy is volkome beginselvas en betroubaar.
Volgens die Koran kan Allah enige tyd enigiets op enige plek doen, en as ons sy optrede in die Koran bestudeer, is hy heeltemal wispelturig en ongeloofwaardig. Liefde is die hoofkenmerk van die Bybelse God, maar Allah se verhewenheid is sy belangrikste kenmerk. Hy het nie gevoel vir die mens nie en hy tree nie persoonlik (soos God in Jesus Christus) tot die geskiedenis toe nie, maar hy werk deur sy woord, profete en engele. Die beroemde 99 kenmerke van Allah is almal negatief gestel en dui net aan wat Allah nie is nie. Die Koran gee ook geen begrip van genade by Allah nie. Daar is geen verlosser, geen middelaar nie. Die Koran ontken ook uitdruklik die Goddelike Drie-eenheid.
MOHAMMED EN JESUS
Die valse bewering dat Jesus en Mohammed gelykwaardige profete van Allah was, word deur die verskil in hulle wese en optrede weerspreek. Mohammed het self nooit op goddelike afkoms aanspraak gemaak nie. Hy was net n mens en daarby beslis nie n sondelose mens nie. Hy kon ook nooit wonderwerke doen nie. In teenstelling met Mohammed het Jesus die liefde van God verkondig en bewys, n hoë morele voorbeeld gestel en nooit geroof of gemoor nie.
Westerse navorsers het dus tot die slotsom gekom dat Allah nie God is nie, Mohammed nie n profeet is nie en dat die Koran nie die Woord van God is nie. Die Arabiese geleerde, Nazar-Ali, meld dat Islam baie aspekte van die heidense godsdiens behou het. Prof AH Strong het gesê: "Islam is die heidendom in monoteïstiese vorm".
Christene word vandag (selfs deur Christenteoloë) mislei oor die ware identiteit van die Moslem en sy geloof. Islam word as nog n pad na die hemel voorgehou. Wat Islam bely, is egter heeltemal teenstrydig met die enigste geloofsweg wat die Here vir ons in sy Woord voorhou.
Sendingwerk onder die Moslems is werk in n moeilike veld. Sendelinge noem dit soms vriendskaps-evangelisasie. Jy bereik niks as jy hulle of hulle godsdiens kritiseer nie, want hulle leer dat Islam alleen reg is en bo kritiek verhewe is. Jy moet ook met hulle debatteer of redenaar nie, want dit gee hulle die geleentheid om te stry, en daarvan hou hulle.
n Sendeling onder die Moslems moet die gawe hê om te luister, bereid wees om n vriend te wees wat omgee, verstaan. Hulle vertroue moet gewen word voordat daar enigsins oor die evangelie gepraat kan word.
BRONNELYS
Classe, Cyril: The Concise Encyclopedia of Islam Londen: Stacey International
Moray, Robert: The Islamic Invasion Harvest House Publishers
Oosthuizen, GC: Die Godsdienste van die Wêreld Pretoria: NG Kerkboekhandel
Sper, David: The Message of the Prophets Grand Rapids: RBC