Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die fondament van die Christelike geloof

AKTUEEL:
Is God se wysheid dan dwaasheid vir hierdie teoloë

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Is die NG Kerk nog die NG Kerk

Oproep tot Reformasie

Islam en sy profeet, Mohammed

Leerstellige suiwer liedere vir die erediens

Omstrede uitspraak van vroulike NG Kerk teoloog maak opspraak in die openbare pers

Die simbool van die Kruis

Die aantasting van ons waardestelsel

Waarom ons lotery veroordeel

President Krugerkinderhuis in krisis oor voortbestaan

Geloftefees

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Jesus Seminaar met sy filosofiese vooroordeel oor "Historiese Jesus"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Matriek-Eksamens ARSO-Skole

Wat staan CVO-skole te doen?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Reformasie of Rewolusie

Volksverootmoediging - Hoe vertoon ons volkslewe?

PERSRUBRIEK: 
NG Kerk trap klei oor afvalliges vryhand het


"Voordag God 'n man geword het, was sy 'n vrou"

Kritiese beskouing oor belydenisskrifte in die Hervormde Kerk

KOMMENTAAR: 
"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Ouerskap Fiasko

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 6 November 2000

LEERSTELLIGE SUIWER LIEDERE VIR DIE EREDIENS

-  DS JP COETZEE  -  EM PRETORIA-MEINTJESKOP   -

OPDRAG OOR BESINNING

BERYMINGS VAN DIE HEIDELBERGSE KATEGISMUS

DEUR DS SCHUTTE VENTER

DRIE VOORBEELDE: HK SONDAE 12, 16 EN 33

CHRISTUS EN CHRISTEN

HK, Sondag 12 (v/a 31, 32)
Melodie: Jeugsangbundel 16 (Jesus groot bo almal ...)

- 1 -
Christus, U is Gesalfde
U is Gestuurde, U kom van God die Vader,
U is ons Heer - U's uit die hemel,
Geest'lik versterkte, - U kom vir ons.

- 2 -
Christus, U is ons Leraar
leer ons die Here, U maak ons altyd seker:
Die Here red - so werk die Vader.
Ons hoor u, Here - praat met ons.

- 3 -
Christus, U is ons Hoëpriester,
enigste offer, U het gesterf, O Here.
U bid vir ons - daar by die Vader.
Grote Vertrooster - U is vir ons.

- 4 -
Christus, U is ons Koning,
ewige Here, u Woord en Gees die lei ons.
Regeer ons Heer - U is beskermer,
U is bewaarder, - U is by ons.

- 5 -
Christen, lid nou van Christus,
jy is gelowig, jy deel die Heer se salwing.
Bely sy Naam - praat van die Here,
dank so jou Koning, - dien so die Heer.

- 6 -
Christen, jy is 'n priester,
jy is 'n offer. Jy is ook koning, heersend.
Jy's Christuskind - stry teen die sonde
veg teen die duiwel - jy sal regeer.

JESUS STERF SODAT ONS KAN LEEF

HK, Sondag 16 (v/a 39 - 44)
(Melodie: Psalm 45 of Skrifberyming 41)

- 1 -
U kruisdood, Christus, was vervloek,
dis hoe U sterf, U gee u bloed.
Nou leef ek vry en sonder klad,
die vloek van God is weggevat.

- 2 -
U diepste lyding was so groot:
Gods reg en waarheid eis u dood.
O, Seun van God, dat U moes sterf
sodat ek hier die lewe erf!

- 3 -
U sterf en gaan tot in die graf.
My dood is nou vir my geen straf:
Ek los die sonde agter my,
en gaan na U toe, ewig vry!

- 4 -
So gee u kruisdood my die krag,
my sondes gaan ook in die graf.
Begeertes heers nie meer oor my,
ek kan met dank my aan U wy.

- 5 -
U hele lewe het vertel:
die angs en smart en skrik was hel!
U lei al erger hier vir my -
van helse angs en pyn bevry!

DIE HERE LEI MY TOT BEKERING

HK, Sondag 33
Melodie: Gesang 190 of Psalm 136

- 1 -
Heer, ek wil my hart bekeer,
U moet my u weë leeer.
Lei my op die ware weg
telkens weer na wat is reg.

- 2 -
Ek het in my hart berou
dat ek, Heer u wet nie hou.
God se woede wys beslis
dat ek voor Hom skuldig is.

- 3 -
Sonde haat ek meer en meer,
ek moet wegvlug, elke keer.
Slegte lewe, oue mens,
jy moet doodgaan, is my wens.

- 4 -
Net deur Christus red God my,
Hy bekeer my, ek word vry.
In my leef die nuwe mens,
so gee Hy my wat ek wens.

- 5 -
Vreugde in die God en Heer
word diep in my hart geleer.
Lus en liefde laat my sien,
ek wil goed die Here dien.

- 6 -
In geloof leef ek nou voort,volg ek daagliks God se Woord.
Heerlik leef ek tot sy eer,
net deur God die weg geleer.

Die saak van leerstellige suiwer liedere vir gebruik in eredienste het op die Nasionale Sinode 2000 aandag ontvang. Daar is geargumenteer dat die dwaalleer in die kerke deur sang ingedra word en nou moet die suiwer leer ''ingesing'' word om sodoende die dwaalleer ''uit te sing''.

Verbasend!

Is dit nie die aangewese kerklike weg nie, om maar net die onskriftuurlike liedere aan te wys opdat die Gereformeerde Kerke hulle nie sal gebruik nie?

Genoemde Sinode het aan sy Deputate vir Psalmberyming opdrag gegee om oor hierdie beginsel te besin. Uiteraard het hulle nog nie gerapporteer nie. Dalk selfs nog nie met die besinning begin nie.

Die vraag kan gestel word of 'n artikel soos hierdie nie nou voortydig is nie. Die antwoord op so 'n vraag is maklik. Eerstens bestaan daar in die kerkregering van die Gereformeerde Kerke nie so iets dat met 'n opdrag aan Sinodale Deputate mense se gedagtes moet smoor en hulle monde snoer nie. 'n Artikel soos hierdie word stellig nie deur 'n nie-bestaande sinodeheerskappy belet nie. Ook staan dit kerkregtelik vas dat 'n saak wat deur deputate ondersoek (moet) word, nie as 'n beskrywingspunt op kerklike vergaderings kan of sal dien nie. Hierdie artikel is dus nie bedoel as 'n beskrywingspunt nie en ook nie as 'n agendapunt vir 'n kerklike vergadering nie.

Tweedens is die rapport van die Deputate oor die onderhawige saak reeds voorgespring. Minstens een Gereformeerde Kerk in Pretoria oefen reeds vóór die aanvang van die erediens wat die berymings van die Heidelbergse Kategismus (HK), 'n deel van die Nederlands Geloofsbelydenis (NGB) en selfs 'n nuwe Skrifberyming insluit. Hierdie liedere is uit die hand van dr Schutte Venter, soos dit op die gepubliseerde pamflet aangedui word. Hierdie gesange word nog nie in die kerkverband aanvaar om in die eredienste te gebruik nie. Maar wat is die doel van dié oefening dan?

Tydens die herstigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, in 1859, het dit oor die handhawing van die suiwere leer van die Bybel gegaan. Baie van die destydse Evangeliese Gesange was strydig met die leer van die Bybel. Toe op dié wyse dwaalleer in die kerke ''ingesing'' is, is die suiwer weg in die uitsluitlike gebruik van die Psalms vir die kerksang gesien. Dink ons almal in die Gereformeerde Kerke nog net so? As tydens 'n volgende Sinode oor die rapport van die Deputate vir Psalmberyming besluit het, sal hierdie vraag beantwoord word.

OMDIGTINGS

Die sogenaamde leerstellige gesange waarna verwys is, word aangedien as ''omdigtings'' Maar dit kan onmoontlik as omdigtings getipeer word. Met ''omdigting'' word immers bedoel dat 'n bestaande gedig op digterlike wyse omgesit word in 'n ander vorm. Maar die digter TT Cloete het dit in 'n artikel oor sy omdigtings duidelik gestel dat hy van die ou Psalms ''nuwes'' maak.

Die HK, die NGB en Handelinge 1 en 2 is en was egter nooit gedigte nie. Die liedere van Schutte Venter, daar is dertien van hulle, is in wese berymings, Mens wonder of die term ''omdigting'' nie dalk bedoel kan wees om hierdie gesange op gelyke voet met Psalm-omdigtings te stel nie? hoe dit ook al sy, die term ''omdigting'' is hier onvanpas.

ALGEMENE KOMMENTAAR

Belydenisskrifte is sistematiese uiteensittings van die bybelse leer. In belydenisskrifte het ons te doen met dogma.

Dit vereis noukeurige bewoording wat in besonderhede die bybelse waarheid verklaar en leer. Dit het 'n bepaalde afgeleide gesag. Daarom gebruik die Gereformeerde Kerke die Heidelbergse Kategismus in die besonder as leerboek.

Die aard van gedigte is anders as 'n dogmatiese leerboek. In 'n gedig word die gevoelsontroering van die digter oor-gedra na die hoorders of lesers. Dit is in die eerste plek gevoelskommunikasie. As sodanig is dit 'n fyn kunsvorm waarin verstand en gevoel (moet) saamwerk en waarin be-paalde oortuigings (of afwykings) ook na vore kom.

By 'n beryming van die HK behoort die eienskappe van dogma en gedig te harmonieer. Dit is uiteraard geen kleinigheid nie. Die HK leer en bepaal nou al eeue lank die geloofsoortuiging van Gereformeerdes. 'n Beryming daarvan mag in geen geval en beslis nie die gees adem van ander geloofsoortuigings nie. Mens moet in gedagte hou en te besef dat poësie met die verloop van die geskiedenis voortdurend ander gestaltes aanneem wat nie noodwendig en konsekwent dieselfde gees as dié van die belydenisskrif adem nie. Die ''gestalte'' van 'n gedig is daarom nie onbe-langrik nie.

Ook die melodieë is van groot belang. Alle melodieë of wysies is nie geskik vir liturgiese gebruik nie. Daar is talle melodieë wat eie is aan denominasies met ander leerstellige aksente as dié van die HK. Vir die beryming van liedere vir die gebruik in Gereformeerde Kerke moet 'n bepaalde en passende metrum (versmaat) en melodie in gedagte gehou word. Dit is ongeoorloof dat 'n beryming met 'n vreemde ritme en melodie gebruik word om die karakter van die Gereformeerde erediens te verander.

Berymings wat nou ter keuring voor ons lê, behoort deeglik aan hierdie norm getoets te word. Die opset van DIE KERKPAD en die beperkte beskikbare ruimte maak dit nie moontlik om 'n gedeë studie oor die dertien berymings nou te publiseer nie. Buitendien is dit nie onmoontlik nie dat daar reeds meer as hierdie dertien voorgestelde gesange bestaan. Hiervan maak een aanspraak op begronding in die NGB en 'n ander dat dit 'n nuwe Skrifberyming is.

Daarom het ons hiermee volstaan met die aanduiding van riglyne wat vir toetsing gebruik behoort te word. Dit is bruikbaar maar nie volledig nie. Die doel hiervan is om die gedagtes oor hierdie saak te prikkel. Van die genoemde berymings publiseer ons nommers 5, 12 en 13 (HK Sondae 12, 16 en 33) as voorbeelde vir die hierbo vermelde toetsing.