Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die fondament van die Christelike geloof

AKTUEEL:
Is God se wysheid dan dwaasheid vir hierdie teoloë

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Is die NG Kerk nog die NG Kerk

Oproep tot Reformasie

Islam en sy profeet, Mohammed

Leerstellige suiwer liedere vir die erediens

Omstrede uitspraak van vroulike NG Kerk teoloog maak opspraak in die openbare pers

Die simbool van die Kruis

Die aantasting van ons waardestelsel

Waarom ons lotery veroordeel

President Krugerkinderhuis in krisis oor voortbestaan

Geloftefees

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Jesus Seminaar met sy filosofiese vooroordeel oor "Historiese Jesus"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Matriek-Eksamens ARSO-Skole

Wat staan CVO-skole te doen?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Reformasie of Rewolusie

Volksverootmoediging - Hoe vertoon ons volkslewe?

PERSRUBRIEK: 
NG Kerk trap klei oor afvalliges vryhand het


"Voordag God 'n man geword het, was sy 'n vrou"

Kritiese beskouing oor belydenisskrifte in die Hervormde Kerk

KOMMENTAAR: 
"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Ouerskap Fiasko

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 6 November 2000

WAAROM ONS LOTERY VEROORDEEL

-  PROF JD DU TOIT (TOTIUS) IN: DIE KERKBLAD, 18 NOVEMBER 1931  -

Soos verwag kon word het die Nasionale Staatslotery die samelewing op hol laat slaan om te probeer van sy voordele te ontvang. Sake-Beeld van enkele weke gelede vermeld dat dié lotery reeds meer as R1 miljard van deelnemers ingesamel het en dat sy trekkings al 21 miljoenêrs opgelewer het. Meer as agt miljoen mense het een of ander tyd iets gewen, al is dit net R25-00, sommige met net een kaartjie van R2-50. ''Mense is nie dom nie - as hulle moet kies tussen 'n halwe brood en die lotery, sal hulle weet wat om met die geld te doen'', aldus mnr Humphrey Khoza, die uitvoerende hoof van Uthingo, die Nasionale Loterymaatskappy.

Eerder het ons gesien wat die wortel van lotery is, naamlik verlating van God en verwerping van die gesag van sy Woord. Nou sal ons nagaan, prinsipieel sowel as prakties, wat die gronde is waarop ons lotery veroordeel.

Gebruikmaking van die lot is 'n ernstige saak. Die Christelike moraliste of sedeleraars het dit beskou as 'n streng godsdienstige handeling, waarby feitlik plaasvind 'n aanroeping van die Here se hoogheilige Naam. Vandaar dat hulle die onderwerp behandel onder die derde gebod.

Uit die Heilige Skrif is ons drieërlei soort lot be-kend: (1) die lot van voorspelling, (2) die lot van raadpleging en (3) die lot van verdeling. Die eerste het betrekking op toekomstige dinge. 'n Voorbeeld van dié loting vind ons in die raadpleging van die Urim en Thummim in die borstas van die Hoëpriester (Num 27:21; Ex 28:30). Die tweede soort, naamlik die raadpleging, vind ons in die geskiedenis van Israel toe deur loting uitgemaak is dat Agan diefstal gepleeg het by die inneming van Jerigo (Jos 7). Van die laaste soort lot, aangewend om tot verdeling of tot opheffing van 'n geskilpunt of moeilikheid te kom, vind ons 'n voorbeeld by die apostelkeuse, toe tussen Josef en Matthias geloot is (Hand 1:26). Dit is dié lot waarvan Salomo sê: Die lot laat die geskille ophou en maak die sterkes uitmekaar (Spr 18:18).

Nou was dit die gevoele van ons groot moraliste dat vir die Christen nog net die laaste soort loting geoorloof is, naamlik dié wat oplossing bring in gevalle waarin daar vir ons geen ander oplossing moontlik is nie. Die ander twee behoort spesiaal by die diens deur God vir die Ou Bedeling ingestel. Van dié twee soorte lot kom daar dan ook in die Nuwe Testament geen voorbeeld voor nie. Dit is wel opmerklik.

Alleen van die lot van verdeling mag dus deur ons gebruik gemaak word en dan onder bepaalde voorwaardes: daar moet geen ander weg oop wees om die moeilikheid op te los nie; waarby ons dan nog vermaan word om met eerbied en vrees tot die lot te nader, omdat loting feitlik 'n gebed is om 'n besondere openbaring van die Here se voorsienigheid. Ten laaste het ons sedeleraars nog gestel dat die lot alleen gebruik moet word by regverdige en geoorloofde, ernstige en belangrike sake. ook hier geld die Skrifwoord: ''Die Here is naby almal wat Hom in waarheid aanroep'' (Ps 145:18).

Uit hierdie oorsig wat Gods Woord ons openbaar aangaande die lot, moet dit vir die leser al duidelik wees dat ons teenswoordige geldlotery 'n onnodige en ligsinnige spel is en as sodanig deur Gods wet verbode. Onnodig, omdat hier geen verskil aanwesig is wat om dadelike oplossing roep nie. Ligsinnig, omdat die erns wat ons by die loting net soos by die gebed pas, ten enemale ontbreek.

Geldlotery is 'n misbruik van die lot: dit is 'n ydellike gebruik van die Naam van die Here, 'n sonde dus teen die derde gebod. Maar dit is nie al nie. Geldlotery ondermyn die ware godsdiens wat ons in die eerste gebod beveel word, deurdat in die plek van die lewende God geskuif word die fortuin, kans, toeval, en deurdat die mens daarop sy vertroue stel in plaas van op die enige ware God.

Die hele toeleg van geldlotery is om nie langs die weg van Gods ordinansies, deur eerlike arbeid nie, maar deur die gril van die fortuin gou-gou geld in te samel en ryk te word.

Geldlotery sondig verder teen die wet van die liefde, want dit spekuleer op die swakheid van die naaste om sodoende homself met die se geld te verryk. Geldlotery ondermyn ook die burgerlewe, deurdat die mens afgetrek word van strenge troue arbeid om dit nou met die luiaards kwekende kansspel te probeer.

Eindelik lê daar 'n prikkel in om die mens nog meer te dryf en te jaag na 'n skat wat hy tog nie in die ware sin van die woord vind nie. Die stille lewe in huis en die arbeid word versteur en die wêreld nog onrustiger gemaak as wat hy reeds is.

Van watter kant die mens dan ook die lotery besien - dit is en bly in hoë mate 'n onsedelike en ongodsdien-stige handeling, en dit betaam 'n Christen nie om, in watter vorm ook al, daaraan deel te neem nie.

Tog bly die sonde voortwoeker in ons Christelike maatskappy, en daar is Christenlande waar die staatslotery al inheems is. Dieselfde sal met ons land gebeur as gehoor gegee word aan die stem van die mense wat onder ons propaganda drywe vir staatslotery. Ook het invloedryke persone en korporasies hulle al ten gunste daarvan uitgespreek.

Nou weet ons dat daar sekere argumente gebruik word om die staatslotery by die mense aan te beveel en goed te praat, maar dié argumente is konsensie-pleisters. Gewoonlik word beweer dat die mense tóg speel, tóg dobbel en dat dit daarom beter is dat die staat dit regle-menteer. Dan hou hy (die staat) sy burgers uit die klou van geheime swendelaars en gee hy aan die onderneming 'n behoorlike vastigheid.

Maar as mens op die manier wil argumenteer - waar sal jy dan uitkom? Dan moet die staat ook maar die ontug reglementeer want - dit is dan die redenasie - die mense wil nou eenmaal ontugtig wees. Vir die publieke gesondheid is dit dan beter dat die staat kontrole hou ook oor dié oneerbaarheid!  Nee, al sou die private lotery toeneem, as daar geen staatslotery is nie, dan nog mag die staat geen sodanige voorbeeld gee nie. Maar die omgekeerde is waar: as die staat voorgaan, sal die burgery in sy private of half-private lewe des te harder volg.

Die oorsprong van staatslotery is dan ook nie die toeleg om die volksonde van speelsug en hebsug te beperk nie, maar (nes by ons) was dit die bedoeling om die staat uit finansiële nood te help.

Helaas, as 'n staat so weelderig en onoordeelkundig bestuur word, dat dit hopeloos in skuld raak. Helaas, as hierdie sonde dan weer geneutraliseer word deur 'n ánder sonde. Helaas, as só die diepdonker kant van die sonde openbaar word, naamlik dat die sonde net sonde baar, totdat die ongeregtigheid van die mens die aarde oordek soos dit onmiddellik voor die sondvloed gewees het.