Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die fondament van die Christelike geloof

AKTUEEL:
Is God se wysheid dan dwaasheid vir hierdie teoloë

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Is die NG Kerk nog die NG Kerk

Oproep tot Reformasie

Islam en sy profeet, Mohammed

Leerstellige suiwer liedere vir die erediens

Omstrede uitspraak van vroulike NG Kerk teoloog maak opspraak in die openbare pers

Die simbool van die Kruis

Die aantasting van ons waardestelsel

Waarom ons lotery veroordeel

President Krugerkinderhuis in krisis oor voortbestaan

Geloftefees

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Jesus Seminaar met sy filosofiese vooroordeel oor "Historiese Jesus"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Matriek-Eksamens ARSO-Skole

Wat staan CVO-skole te doen?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Reformasie of Rewolusie

Volksverootmoediging - Hoe vertoon ons volkslewe?

PERSRUBRIEK: 
NG Kerk trap klei oor afvalliges vryhand het


"Voordag God 'n man geword het, was sy 'n vrou"

Kritiese beskouing oor belydenisskrifte in die Hervormde Kerk

KOMMENTAAR: 
"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Ouerskap Fiasko

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 6 November 2000

PRESIDENT KRUGERKINDERHUIS IN KRISIS OOR VOORTBESTAAN

'n Saak van Christelike barmhartigheid

Die President Krugerkinderhuis, Pretoria is in 1939 deur die destydse Minister van Welsyn, mnr Grobler, wat self 'n lidmaat van die Gereformeerde Kerke was, gestig. Die rede vir hierdie stigting was die arm-blanke vraagstuk van daardie tyd en die oorlogs-weeskinders van die Gereformeerde Kerke. Later is die konstitusie gewysig om ook voorsiening te tref vir onversorgde kinders wat op die bestuur se weg sou kom. ''Vandag beskou ons dit as 'n evangelisasie-projek wat die Here vir ons op ons voorstoep geplaas het", aldus die bestuur. Daar het 'n krisis ontstaan as gevolg van die huidige Departement van Welsyn se instruksies vir'n "gewysigde besigheidsplan".

Die Bestuur van die Kinderhuis het die volgende skrywe gerig aan kerkrade om hulle te ondersteun:

Die stigting van hierdie kinderhuis deur die Gereformeerde kerke was in die eerste plek om Gereformeerde kinders en sodanige behoeftige kinders wat op die weg van die kerk mag kom, te versorg en op te voed in die vrese van die Here en so ons deel by te dra om 'n godvresende nageslag te lewer. Vir baie jare kon ons dié missie uitvoer en met die genade van die Here kon ons altyd vrug op die arbeid sien, alhoewel die vrugte nie ons s'n is nie. Ons kan egter manne en vroue in die samelewing uitwys wat hul merk in die lewe gemaak het en 'n trots is vir die Gereformeerde Kerke en ons volk.

Meer as 90% van die kinders wat deur die kinderhuis gevloei het, het uit vrye keuse lidmate van die Gereformeerde Kerke geword en by wyse van aansoek om belydenis van die geloof te doen. Hierdie roeping, om die kinders in die vrese van die Here op te voed, kan ons nie verloën nie, en dit bly ons erns om kinders van die Here op te voed wat goeie landsburgers sal wees

Nou het ons 'n probleem. Die Kinderhuis is deur die departement van Welsyn gevra om 'n besigheidsplan vir die toekoms op te stel. Hul idee is om die diens wat die kinderhuis lewer, te koop. Dit is nou in die plek van die subsidie. Die departement koop dus net die diens wat hy wil hê, en godsdiens is beslis nie een daarvan nie. Nadat hulle ons besigheidsplan bekyk het, is ons opgeroep om die plan te verduidelik aangesien dit nie in die raamwerk van hul idee van 'n kinderhuis val nie. Met ons ontmoeting is dit aan ons gestel dat die ''gereformeerde godsdiens'' wat ons hier toepas nie vir hulle aanvaarbaar is nie. Trouens, die kinders moet kies of hulle hier in die Bybel onderrig wil word of nie. As Hulle nie wil nie, hoef hulle nie en hulle moet ook nie gevra word om kerk toe te gaan nie.

Die kinderhuis moet voorsiening maak vir alle gelowe en elke kind moet sy eie keuse uitoefen ten opsigte van sy godsdiens indien enige, byvoorbeeld, Islam, Rooms, of wat daar ook mag wees. Dit is onmoontlik om dan behoorlike dissipline toe te pas of om ons missie uit te voer wat ons glo 'n opdrag van die Here is. Juis daarom is die kinderhuis hier.

Skrywe van Departement

Na ons besoek aan die Departement het ons 'n skrywe ontvang dat ons 'n gewysigde besigheidsplan moet opstel wat ons vóór 21 Maart moes ingedien het. Uittreksels uit dié brief is onder andere:

"Management, personnel and children of Pres Kruger Childrens Home Pretoria are all from previously advantaged communities . It appears that you focus only on a specialised target group ... this is of great concern to us. One of your aims is to educate the children in the Reformed Church principles and beliefs. The Home is part of such structure, There is no space for children who are not Reformed to practice their own religion. Rights of children must be met. The business plan which was handed in on 15 March 2000 was incomplete and a new business plan must be submitted in English by 24 March 2000. A multi-purpose service will be of value in the future. Costing will change in future."

Hoe nou verder?

Dit is vir ons onmoontlik om ons roeping te versaak. Vir dissipline het ons hier 'n positiewe voorregtestelsel wat bedoel is dat vir alle goeie gedrag meer toegewings en voorregte toegelaat word. 'n Persoon kan sy eie inkopies doen en verskeie ander toegewings en voorregte verdien as hy sy punte verbeter. Daarsonder is dissipline onmoontlik. Die Departement meen dat die stelsel die kind se menseregte benadeel en hulle koop dit nie.

Dit is ons voorneme om by die volgende deputate-vergadering aan die hand te doen dat ons van die subsidie moet vrykom ten einde ons taak te kan uitvoer. Die voedingsbron, hoofsaaklik 'n gedeelte van Wes- en Noord-Transvaal en Pretoria, sal dan moontlik gevra word om maandeliks 'n bedrag van R 500-00 uit gegoede gemeentes en, die wat dit nie kan opbring nie, dalk R 200-00, aan hierdie kinderhuis oor te dra.

Volgens ons berekening sal ons dan ons verplgtinge kan nakom en gereformeerde kinders opvoed. As ons daarenteen aan die subsidie vasbly sal ons verplig word om die opvoeding van die kinders volgens gereformeerde beginsels te laat vaar, wat vir ons onmoontlik is. Ons roeping is dan daarmee heen.

Die Kinderhuis

Die kinderhuis is 'n pragtige gebou geleë in 31e Laan 728, Villieria, Pretoria, net langs die Gereformeerde Kerk, Oos-Moot. U is altyd welkom om enige dag ons te kom besoek en te kom kyk wat hier gedoen word. Ons kinders is 'n sieraad in die katkisasie, kerk en in die gemeenskap. Die diakens van Gereformeerde kerke in Pretoria doen wonderlike ondersteuningswerk hier, maar hulle sal sonder subsidie dit nie alleen kan bybring nie. Die breë kerkverband sal moet saamstaan, naamlik ons voedingsareas.

Met die uitsondering van twee het al die kinders verlede jaar hul skooleksamens geslaag. Vier dogters het matriek geslaag en ons soek nog werk vir drie van hulle. Die personeel is voltallig nadat sr Corrie de Jager, van die gemeente Kameeldrift as versorgingsassistent aangestel is.

Met hierdie nuusbrief wil ons u net 'n kykie gegee het van die probleme wat die bestuur in die gesig staar. Ons verwag dat ons op u ondersteuning kan staatmaak. Ds Faan Smit, ouderling Willie Cilliers en die hoof, Kobus Vorster, is bereid om gemeentes en belangstellendes te kom toespreek en meer detail inligting te kom gee. As u ons nooi kom ons graag.

Willie Cilliers - Voorsitter

Kobus Vorster - Hoof

Kinders en Personeel

Die Krugerkinderhuis het tans 65 (almal blanke) kinders waarvan 37 dogters en 28 seuns. Die ouderdomme wissel van 4 tot 18 jaar. Die personeel bestaan uit: 5 versorgingspersoneel. ('n Sesde versorgingspersoneellid is onlangs, as gevolg van die groter terapeutiese verantwoordelikheid wat die personeel moet dra, aangestel.) Twee personeellede is verantwoordelik vir die voorbereiding van etes. Dan is daar nog 'n maatskaplike werker, 'n opvoedkundige sielkundige (vrywillig), 'n sekretaresse, 'n naaldwerkster en die hoof en sy vrou. Die skoonmaakpersoneel is uitgekontrakteer.

Wie is die kinders?

Al die kinders is gekommiteerde kinders deur die hof na die tehuis verwys. Oorsake vir verwydering is, onder andere, onvoldoende versorging, molestering, gesinsgeweld, drankmisbruik, afwesigheid van ouers, ensovoorts. Dié kinders is soos enige ander kind in enige ander huis, met die verskil dat hy/sy soms vroeg in sy/haar lewe deur een of ander gesinsomstandigheid getraumatiseer is. Die behoeftes van dié kinders verskil nie veel van enige ander kind in gewone gesinssituasies nie.

Daar is vanjaar 6 nuwe kinders opgeneem. 'n Ge-sinnetjie van 4 dogtertjies, 5, 6, 11 en 12 jaar onderskeidelik. Twee kinders is in pleegsorg by ander families uitgeplaas en een seun is in sy eie ouers se sorg teruggeplaas.

Die Kinderhuis-Vriendekring

Die kinderhuis het 'n vriendekring wat al baie jare lank goeie werk by die tehuis doen. Hulle maak veral voorsiening vir die verjaarsdagpakkies van die kinders en sorg vir die talentvolle kinders om klasse soos byvoorbeeld ballet, sang, klavier, ensovoorts, te kan bywoon. Hulle betaal ook vanjaar die bestuurskool wat die kinders help met hul bestuurslisensies. Jaarliks sorg die vriendekring ook vir die speelvermaak van die kinders.

Redaksionele Kommentaar

Dit is aan ons vermeld dat persoonlike donasies vanselfsprekend ook verwelkom word. Dit word heelhartig aanbeveel vir u finansiële ondersteuning.

Die adres vir kontak en bykomende inligting is:

Die President Krugerkinderhuis Pretoria
31 ste Laan 728, 0186 VILLIERIA.
Telefoon (012) 332 1366/7. Faks(012) 332 3976.