|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
GESPREK MET DIE LESERS REDAKSIONEEL BY DIE VOLTOOIING VAN VIER JAARGANGEDit is gepas om aan die einde van hierdie jaargang allereers die Here te dank vir die genadegawes wat Hy vir ons as redaksie en u as lesers geskenk het in die reëlmatige verskyning van ons blad. Hy het ons bygestaan en die krag en gesondheid verskaf as ook die insig en kennis om die redaksie tot eer van sy Naam te behartig. Daarbenewens het Hy ook die bereidwilligheid bewerk met betrekking tot die finansiering van die koste wat met die uitgawe van 'n blad gepaardgaan. Ons kan met dankbaarheid vermeld dat dit ons aan niks ontbreek het nie.
Daar was 'n paar krisisse wat die hoof gebied moes word. Dit betref fatale rekenaarprobleme wat ten koste van, alles tesame, ongeveer R10 000-00, met die advies en praktiese bystand van br Nico van der Dussen elke keer herstel en tegelykertyd opgegradeer is.
Die getal intekenare neem onverpoosd toe. 'n Bewys dat die blad gevestig is. Daarom is dit 'n besondere voorreg om die vaste lesers- en intekenaarskring van Die Kerkpad te bedank vir die deel wat hulle bygedra het met die morele en finansiële ondersteuning van ons redaksie en administrasie. By hierdie geleentheid wil ons graag die aandag vestig op enkele blyke van waardering wat aan ons redaksie toegeken is.
BLYKE VAN WAARDERING
''...Dankie vir die insiggewende, diepgang en aktuele sake in die
blad. Ons wense is dat die blad tot uitbreiding en eer van die evangelie en God sal wees.
'n Voorspoedige 2000 en mag Kersfees 'n Christenfees sal wees en bly. Ons beste wense.''
(1 November 1999)
''... Mag die Drie-enige God van hemel en aarde u die genade gee om
voort te gaan met hierdie groot en belangrike werk in sy Koninkryk. Ek persoonlik vind
groot inspirasie en bemoediging uit Die Kerkpad.''
(12 Februarie 2000)
''Baie dankie vir die twee eksemplare (Julie en Sept 2000) wat ek ontvang het. Ek was verbaas om te sien dat Die Kerkpad 'n volwaardige 'tydskrif ' is. Ek het, om eerlik te wees, 'n blaadjie verwag van 'n paar bladsye, en wat kry ek, 'n blad wat kant-en-wal vol breinprikkelende en sielsverrykende leesstof is. Baie geluk aan u en die redaksiekommissie met hierdie puik en leersame blad. ...'' (2 September 2000)
Daar is talle soortgelyke boodskappe en dankbetuigings wat aan ons redaksie geadresseer is. Ons volstaan egter met die publisering van die bogenoemde as voorbeelde van gedurende die afgelope jaar. Baie dankie! Ons sal graag met die krag en wysheid van die Here en sy Heilige Gees voortgaan met die publikasie van ons blad in die nuwe jaar wat voorlê.
SIMPOSIUM OOR SKRIFGESAG
Ons wou graag hierdie jaar rondom Hervormingsdag, 31 Oktober, die opvolg simposium oor Skrifgesag gehou het, soos dit die vorige jaar in die vooruitsig gestel is. Dit kon nie realiseer nie omdat besluit is om dit te koppel aan die verskyning en bespreking van 'n werk oor die ontstaan van die Bybel. Dit is 'n Nederlandse boek waarvan ons die vertaal-en publikasiereg verkry het. Hierdie boek stel onder andere die Skrifkritiek teenoor die konteks van die betroubaarheid van God se Woord. Die vertaalwerk word waargeneem deur sewe teoloë, deelnemers aan die Simposium van laasjaar, wat nog nie almal gereed is met die werk wat aan hulle toebedeel en deur hulle aanvaar is nie. Ons hoop om vroeg volgende jaar die werk te voltooi en die boek te laat druk en bekend te stel. Tegelyk daarmee sal besluit kan word oor die datum van dié simposium. Terloops wil ons graag hier vermeld van die Kongres van die Vereniging Bybel en Volk, wat DV op Saterdag, 17 Maart 2001, in die Gereformeerde Kerk Pretoria, die ''Paul Krugerkerk'' gehou gaan word. Die kongrestema van behandeling is: Die gesag van die belydenisskrifte wat in die gedrang is. Dit word gedoen aan die hand van twee voordragte, die eerste oor die ontstaan en noodsaak van die bin-ding aan die belydenisskrifte (in die besonder die Drie Formuliere van Eenheid) en die tweede oor die relativering daarvan en verwerping van dié binding in die praktyk van die persoonlike en kerklike bestaan. Die voordragte word agtereenvolgens gelewer deur myself (P vd K) en ds Hendrik Hefer van die Nederduits Gereformeerde Kerk, Brakpan-Suid.
Dit is 'n saak wat baie sterk met dié van Skrifgesag teenoor Skrifkritiek verbind is. Teken asseblief dié datum aan vir bywoning.
ADMINISTRATIEF
Terwyl dit die laaste uitgawe van hierdie (vierde) jaargang van ons blad betref, versoek ons vriendelik aan diegene wat nog nie intekengeld hiervoor bygedra het nie (let op die getal 3 naas die naam op die adresstrokie van die koevert), dat dit asseblief vóór die einde van die jaar en die verskyning van die eerste uitga-we van die volgende (vyfde) jaargang, oorbetaal sal word. Ons sluit 'n spesiale inlêvel vir diegene wat dit raak, in plaas van die stereotipe in.
Ons vestig ook graag die aandag daarop dat van die vorige uitgawes, vanaf die heel eerste in Maart 1997, beskikbaar is vir diegene wat daarin belangstel.
As gevolg van die voortdurende styging van koste vir Jotha Drukkers se papieraankope en posversending is besluit om die gewone tarief vir (her-)intekening vir die volgende jaargang met R 10-00 te verhoog na R 70-00. Ons volstaan met die reël dat diegene wat dit beslis nie kan bekostig nie en tog graag die blad wil ontvang, dit aan ons moet vermeld sodat ons dit kan aanpas teenoor donasies wat bykomend ontvang word. Baie dankie vir almal wat op dié wyse bygedra het en in die jaar wat voorlê weer sal bydra.
Mag die Here in die jaar 2001 met u en ons almal wees en die werk van ons harte, hoofde en hande seën tot die eer van sy Naam.®