|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
Hoofartikel
DIE FONDAMENT VAN DIE CHRISTELIKE GELOOF
''Niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus'', aldus die apostel Paulus in 1 Korintiërs 3 : 11. Hy beskryf dit verder in die brief aan die Efesiërs: ''So is julle dan ... medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is'' (Ef 2 : 19 en 20). Hierdie fondament is niks minder as die volle openbaring van God se Woord in die Ou en Nuwe Testament, soos dit deur die heilige mense van God, ''deur die Heilige Gees gedrywe'', gespreek en op skrif gestel is nie (2 Pet 1 : 21; NGB, art 3). Hierdie Goddelike fondament is onaantasbaar vir diegene wat dit aanvaar as die basis van hulle geloof. Maar soos Paulus dit stel in 1 Korintiërs 3, gaan dit ook daaroor hoe op dié fondament gebou word.
Die tyd waarin ons lewe word in die besonder gekenmerk deur betwyfeling van die betroubaarheid van God se Woord. Eintlik word oor God se Woord gedisputeer en nie alleen oor die openbaring van die skepping (Gen 1 - 3) nie, maar ook oor die maagdelike geboorte en die opstanding van Jesus Christus. Dit word dan as mites verklaar. Dit kan soms grof en uitdagend, en andersins ook subtiel en oënskynlik geloofwaardig, gelees word in die sekulêre en kerklike pers, asook in boeke en geskrifte. Daarmee word die fondament van die Christelike geloof aangetas en die bouwerk van God, die huis van God, die Christelike kerk, bedreig.
Dié bedreiging bestaan onder andere uit (a) betwyfeling van die historisiteit van die bybelse geskiedskrywing; (b) kwasie wetenskaplike en teologiese aanpassing van die Goddelike inspirasie van die Heilige Skrif; (c) relativering van die normatiewe gesag van die Bybel; en (d) betwyfeling van die maagde-like geboorte van Christus en sy liggaamlike opstanding. Daar is voorgangers, leraars, hoogleraars en ook ander, lidmate van kerke van die gereformeerde tradisie, wêreldwyd en ook in ons land (by name van die GKSA, NGK en NHK), wat op die een of ander wyse skuldig staan aan die aantasting van die betroubaarheid van God se Woord. Dit bring geloofsgetroue lidmate in verwarring. Dit diskrediteer die Christelike geloof en open die pad vir die gelykstelling met ander gelowe, soos die Boeddhisme, Hindoeïsme, Islam en ander. Net soos die Christelike geloof se ''betwyfelbare'' heilige geskrif, het ook dié gelowe heilige boeke wat aan kritiese interpretasie onderhewig staan. Uiteindelik vorm hulle almal saam 'n veelsydige kyk op 'n gemeenskaplike heilsweg tot verbetering van die aardse bestaan en hoop op die lewe in die hiernamaals!
Die Bybel word ontbybel en aan die menslike kritiek onderwerp. Voorts word die bestaan van God en sy beheer oor die wêreld en wat daarop plaasvind, sy voorsienigheid (HK, Sond 9 en 10), betwyfel en 'n eietydse geloof geheg aan ketterye wat in die geskiedenis van die Christelike kerk in ander gestaltes lankal teengestaan en gemotiveerd verwerp is. Om aan dié omstandighede te ontsnap, is die gesag van die belydenisskrifte nou vervang met 'n interpreterende geloofsverklaring (Geloofsverklaring 2000) wat stilweg kerklik gesanksioneer word. Die volgende dien as voorbeelde van bogenoemde be-dreigings insake die punte (a) tot (d). Dit verwys nie na betrokke persone wat dit huldig, verwoord of propageer nie, maar beskryf slegs die simptome en feite soos dit gehuldig en op die een of ander wyse openbaar bekendgestel is.
(a) Die historisiteit van die bybelse geskiedskrywing word betwyfel en selfs ontken deur, ten eerste, die aanvaarding van hipotetiese evolusieteorieë oor die ontstaan van die heelal en die aarde, asook die spontane ontstaan en ontwikkeling van die lewe met as hoogste vorm die verskynsel van menslike bestaan; Die aanvaarding van buitebybelse gegewens naas die bybelse geskiedskrywing wat (gesaghebbend) toegevoeg word aan die verklaring van die bybelse teks, byvoorbeeld terme soos die onderskeiding van oergeskiedenis en beskrewe geskiedenis en die veronderstelde bestaan van pre-Adamiete; Die betwyfeling van die wonders van die sprekende slang in die paradys, die sprekende esel van Bileam, die vis en wonderboom in die geskiedenis van Jona, ook die wandeling op die see van Jesus en Petrus, soos dit in die Nuwe Testament geopenbaar is. Die dialektiese verklaring van die Skrif kom handig te pas om die bybelse teks nie letterlik en histories te eksegetiseer nie, maar om slegs te let op die boodskap wat dit aan vandag se lesers wil oordra.
(b) Die Goddelike inspirasie van die Heilige Skrif, die werk van die Heilige Gees om die werk wat God in sy heilige Drie-eenheid voorgeneem en tot stand gebring het, om dit volgens dié Goddelike beplanning en voorsienigheid te voleindig (Hand 15:18; Ef 1:11), word op talle wyses betwyfel en in ongeloof betwis. Dit begin met die uiteenrukking van die bybelse geskiedskrywing, deur dit aan te pas aan die rasionele verstaan in die lig van 'n godsdienstige Joodse kultuur, wat in die tyd van die ballingskap deur die priesterstand bevorder is. Die heilshistoriese sleutel tot die ontsluiting en verklaring van die Ou Testament in die lig van die moederbelofte (Gen 3:14-19), die vyandskap tussen die saad van die vrou en dié van die slang en die belofte van die komende Messias, kwyn en verdwyn in die neiging om die teks van die Ou Testament nie antiteties nie, maar eksemplaries en allegories te verklaar. Dit blyk uit talle eietydse boeke en geskrifte wat te koop aangebied word, asook uit boodskappe wat op preekstoele in die eredienste en in boeke en traktate gelewer word. Sodoende word verbygegaan aan die katastrofale gevolge van die sondeval en die redding wat God in die verskyning van sy ewige Seun en die unieke versoening wat Hy deur sy lyde en sterwe bewerk het. Dis is 'n eksegetiese relativering van die Skrifgesag aangaande die Goddelike inspirasie van die Here se Woord! Want die Heilige Gees het dwarsdeur die Ou Testament die gedagtes van die Bybelskrywers gelei om van die komende Verlosser te profeteer (vgl Luk 1:54,55; 68-75; 24: 25-27; Hand 8:28-35; 2 Pet 2:21). Die Nederlandse Geloofsbelydenis in art 2 tot 7 en die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, vr/antw 22, verwys na die geloof aan die Goddelike inspirasie van die Heilige Skrif en, voortspruitend, na die onbetwyfelbare Christelike geloof soos dit aan die hand van die Apostoliese Geloofsbelydenis in twaalf artikels (Sondae 8 tot 22) uitvoerig uiteengesit is.
(c) Die normatiewe gesag van die Bybel, met as basis die Tien Gebooie (Ex 20:1-17; Deut 5:6-21), word in 'n kultuur-historiese konteks geplaas sodat dit in die veranderde lewensomstandighede van ons tyd nie meer voorskriftelik is nie. Ons lewe in 'n ander bedeling waarin die etiese norme bepaal word deur te disputeer oor die bybelse teks en die betekenis daarvan aan te pas aan die morele eise van ons tyd. Dit betref onder andere die posisie van die vrou ten aansien van die leer- en regeerampte in die kerk en die gewaande ras- en geslagsgelykheid met die morele verval, van homoseksualiteit en 'n onbetaamlike aanvaarding van vóór- en buitehuwelikse seks. Dit betref ook 'n valse verdraagsaamheid ten opsigte van die oortreding van die ander gebooie soos egbreuk en dié met betrekking tot die openbare samelewing.
Op die terreine van die staat word norme pragmaties bepaal en algemeen aanvaar solank dit die beoogde rus en vrede bevorder. Die geopenbaarde wil van die Here is nie meer die bepalende faktor nie, maar 'n liberale verklaring van menseregte geld as die voorskriftelike, absolute en algemeen aanvaarbare norm met offisiële sanksie van die kerke (GKSA en NGK). Ook word reeds (gerieflik) gelyke erkenning en gelykstelling verleen aan nie-Christelike, heidense en Oosters-panteïstiese godsdienste en op religieuse gebied met hulle saamgewerk om ''wêreldvrede'' te bevorder en "to combat racism''. Internasionale samewerking word nagestreef met denominasies wat in die terminologie van die NGB, art 29, as valse kerke of sektes onderskei kan word. Nie om te trag om hulle tot die ware Christelike geloof te bekeer nie, maar om gesamentlik sekulêre en politieke doelstellings na te strewe.
Genoeg om aan te toon dat die normatiewe gesag van die Bybel vervang word met morele waardes wat voortspruit uit pragmatiese oorwegings met die oog op die omstandighede van ons bestaan. Nie die Woord van die Here nie, maar die menslike rede word al hoe meer die maatstaf vir 'n aanvaarbare etiek in die samelewing. Let asseblief daarop dat dit nie vingerwys na persone nie, maar wel na beskikbare rapporte en verslae en na artikels wat in die sekulêre en kerklike (GKSA, NGK en NHK) tydskrifte verskyn het en waarna reeds, in talle opsigte, eerder in ons blad verwys is.
(d) Resente koerantartikels (BEELD, 13 en 17 Oktober, geskryf deur Neels Jackson) maak melding van die betwyfeling van die maagdelike geboorte van Christus en sy opstanding uit die dode. ''Bybelverhale van vaderlose Jesus 'nie letterlik waar' ... Die geboorteverhale van die latere evangelies van Matteus en Lukas moet nie gelees word as letterlike geskiedenisse nie. In die wêreld van destyds het mense in elk geval nie geskiedenis geskryf soos ons dit vandag doen nie. Hulle het verhale vertel om boodskappe oor te dra.''
''Die maagdelike verwekking is volgens navorsers nie noodwendig 'n historiese waarheid nie, maar dit beteken nié dat daar geen waarheid in is nie. Die teologiese waarheid wat dié verhale wil oordra, is dat Jesus van God kom. Wat Jesus se kruisiging betref, meen navorsers dat sy liggaam nie lewend geword het nie. As dit nie aan die kruis gelos is vir die aasvoëls en wilde diere nie, is Hy waarskynlik in 'n vlak graf begrawe. Verhale oor die leë graf het volgens hulle waarskynlik nie 'n historiese grondslag nie.''
''Veel theologen vandaag geloven dat een letterlijk genomen maagdelijke geboorte zonder meer tekort doet aan de mensheid van Jezus. Als Gods Zoon werkelijk mens geworden is, dan moet Hij dat op dezelfde manier geworden zijn als wij. Dan moet Hij niet alleen een menselijke moeder, maar ook een menselijke vader gehad hebben.'' (Dr K Runia. 1990. In: ''Vragen van onze tijd''. Kampen: Kok, bl 49)
Dit is duidelik dat teoloë wat dergelike sienings of ''resultate'' van wetenskaplike navorsing huldig en propageer, nie die inspirasie van die Bybelskrywers deur die Heilige Gees verreken nie. Vir hulle is die Bybel 'n boek met verhale en mites waaraan 'n bepaalde betekenis geheg kan word. Die genoemde betwyfelinge van die betroubaarheid van die bybelse geskiedskrywing en die normatiewe leiding wat dit aan ons voorhou, is duidelike tekens van verval van die Christelike geloof wat op die fondament van die apostels en profete, waarvan Jesus Christus self die hoeksteen is, gebou is.
''Niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. As iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels - elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen'' (1 Kor 3: 11-15).
®