|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
KERKLIKE JOERNAAL DIE JESUS SEMINAAR MET SY FILOSOFIESE VOOROORDEEL OOR "HISTORIESE JESUS" Die afgelope paar weke staan die saak van die betwyfeling van die heilsopenbaring in die kollig van beriggewing in die media. So bespreek Neels Jackson in BEELD van 13, 17 en 19 Oktober 2000, omstrede uitlatings van prof Andries van Aarde (teoloog van die Nederduitsch Hervormde Kerk) na aanleiding van sy boek: Fatherless in Galilee: Jesus, Child of God, wat volgende jaar in Amerika verskyn. Van Aarde is 'n lid van die wetenskaplike navorsingskring, die "Jesus Seminaar", wat in navolging van vrysinnige teoloë Bultmann, Tillich, Robinson, Van Buren en andere, die liggaamlike opstanding van Jesus verwerp. Dié Seminaar se benadering "getuig van filosofiese naturalisme, wat beteken dat die bonatuurlike nie aanvaar word in die lig van die moderne wetenskap nie", aldus Neels Jackson in BEELD, 19 Oktober 2000.In akademiese kringe bestaan die afgelope anderhalf eeu 'n soektog na die ''historiese Jesus''. Miskien omdat die resultate soms so omstrede en skokkend is, het kerke dit tot dusver grootliks geïgnoreer. ..., aldus Neels Jackson in BEELD, 19 Oktober 200. Hy skryf verder:
Prof Murray Janson het skerp kritiek op die uitgangspunte, werkwyse en bevindings van navorsing oor die ''historiese Jesus'' soos dié van die Jesus Seminaar.
Dié groep akademici is sedert 1985 betrokke by die soektog na die historiese Jesus - 'n soektog wat onder meer gelei het tot bevindings dat Jesus se lyk nie ná die kruisiging weer lewend geword het nie. As dit nie aan die kruis gelos is vir die wilde diere nie, is dit waarskynlik iewers in 'n onbekende vlak graf begrawe, word gesê.
Janson verwys onder meer na 'n opmerking van die Amerikaner John Dominic Crossan, gewese medevoorsitter van die Jesus Seminaar, in die nuustydskrif TIME dat die verhaal van die opstanding ''wensdenkery '' is.
Volgens Janson is die meeste Nuwe Testamentiese navorsers seker dat Jesus in die graf van Josef van Arimatea begrawe is.
Navorsers soos Crossan en prof Andries van Aarde, weerspreek volgens hom die ''byna konsensus'' van navorsers deur die eeue. Dit is dikwels die geval met die sogenaamde ''wetenskaplike metode'' van die Jesus Seminaar.
Janson kritiseer onder meer die Jesus Seminaar se benadering dat alles in die evangelies histories onwaar is totdat dit as waar bewys word. Dit is soos om te aanvaar iemand is skuldig totdat hy bewys dat hy onskuldig is.
Dié benadering getuig van filosofiese naturalisme, wat beteken dat die bonatuurlike nie aanvaar word in die lig van die moderne wetenskap nie. Wat Janson betref, kom dit neer op filosofiese vooroordeel omdat dit 'n standpunt inneem voordat alle kante van 'n saak oorweeg is.
Dit beteken ook dat die historiese Jesus vir die Jesus Seminaar per definisie 'n nie-bonatuurlike Jesus moet wees, sê Janson. Daarom verwerp hulle alles in verband met Jesus wat met die bonatuurlike te doen het: die wonders, genesings, uitdrywings, opstanding, profesieë en die inspirasie van die Bybel.
Janson meen ook dat die evangelies nie so laat in die eerste eeu geskryf is (en daarom minder histories betroubaar is) soos wat beweer word nie.
Hy het ook 'n groot vraagteken oor die waarde van die evangelie van Tomas, 'n dokument wat in 1948 in Egipte ontdek is en wat deur die Jesus Seminaar as histories meer betroubaar geag word as die vier evangelies in die Bybel.
Dit staan volgens Janson glad nie vas dat Tomas ouer as die ander evangelies is nie. Vir hom is dit duidelik dat die ander vier evangelies as bronne vir Tomas gebruik is.
Dié evangelie pas ook 100% in by die gnostiese denke van die ander dokumente wat daarmee saam ontdek is. Die gnostici het geglo dat die materiële boos is en dat net die wêreld van die gees redbaar is. Daarom het hulle uitgesien na die ontliggaming van die siel en glad nie na die opstanding van die liggaam nie.
Janson voer aan dat die Bybel se begrafnisweergawes deur die meeste Nuwe-Testamentici aanvaar word. Dit is tog net logies om te sê dat die plek van Jesus se graf sou bekend gewees het by Jood en Christen tegelyk.
Dit sou onmoontlik gewees het vir die opstandingsgeloof om te ontstaan het en te oorleef te midde van die bekendheid aan almal dat daar 'n graf met 'n lyk in is.
Niemand sou die dissipels geglo het as hulle die opstanding sou probeer verkondig het nie. Hul Joodse op-ponente sou mos maklik die hele affêre as 'n liegstorie kon ontmasker. Hulle sou selfs die liggaam kon toon en sodoende almal die swye oplê, sê Janson.
Hy verwys ook na 1 Kor 15 waar Paulus oor die begrafnis van Jesus sê dat hy die tradisie ontvang het en dit ver-der oorgee dat Christus gesterf het en begrawe is en op die derde dag opgestaan het en aan mense verskyn het.
As die kort tyd in ag geneem van die kruisiging in 30 n C tot 36 n C toe die tradisie reeds bestaan het, was daar nie tyd vir legendes om rondom die begrafnis te ontstaan nie. Die begrafnis was deel van die tradisie voordat die evangelie van Markus geskryf is en is dus baie oud. Die verhaal is ook eenvoudig en sonder teologiese besinning of die verdediging van standpunte. Daar is dus geen rede om te twyfel aan die teenwoordigheid van Josef van Arimatea en sy nuwe graf nie.
Ook die vroue se toekyk van die begrafnisgebeure moet outentiek wees. Die grafte van Joodse heiliges is met sorg bewaar, net Jesus s'n nie omdat dit 'n leë graf was. Verder bestaan daar geen ander begrafnistradisie nie.
Wat die leë graf betref, is dit verder onmoontlik om te verklaar dat Paulus so iets kon verkondig as dit nie regtig leeg was nie. Hy sou dit ten minste moes vergeestelik of iets dergeliks.
Die Bybelverhale is baie eenvoudig, anders as die sogenaamde evangelie van Petrus wat vol spektakulêre dinge is en duidelik legendariese elemente bevat, sê Janson.
Hy wys ook op die Joodse reaksie op die opstandingsverhaal. Dit was nie dat die lyk nog in die graf is of deur honde verskeur is nie, maar dat die dissipels dit in die nag gesteel het.
''Selfs die mees skeptiese navorsers gee toe dat ten minste die geloof dat Jesus opgestaan het, die absolute hart van die vroeë kerk en die Nuwe Testament is, al deel sommige van hulle self die geloof nie.'' Daarsonder is die hart uitgeruk. 'n Mens dink aan wat Paulus in 1 Kor 15 sê oor die geweldige gevolge daarvan as Christus nie opgestaan het nie. Daarsonder bly niks oor nie. ''Die Nuwe Testament staan en val by die liggaamlike opstanding van Jesus.''
Die Jesus Seminaar is vir hom iets tragies, sê Janson. Veral as hy moet hoor dat daar van agter die kateder vir studente vertel moet word dat die essensie van wat hulle geglo het nie waar is nie.
Al wat vir die Jesus Seminaar oorbly, is 'n bleek, magtelose, bloedlose Jesus wat ontdaan is van sy goddelikheid en hom nooit met sosiale en politieke dinge wou bemoei nie. As hul beeld van Jesus korrek sou wees, sou Hy nooit gekruisig gewees het nie. Dit is tragies dat die skerp punte van die evangelie hiermee weggevyl word, sê Janson.
Hy vind 'n ironie daarin dat die Jesus Seminaar so baie maak van die evangelie van Tomas. Tomas is immers die dissipel wat Jesus eers ''na sy laboratorium wou neem'' voordat hy die boodskap van die opstanding wou glo. Hy wou eers sien.
''So stel die mense van die Jesus Seminaar die vereiste dat Jesus moet inpas in die Prokrustesbed van hul filosofiese naturalisme, en bevind hulle Hom, helaas, te lig.''
Gelukkig het Tomas die volgende Sondagaand teruggekom. Toe wou hy nie meer sien nie, want hy het ontdek dat hy self gesien is, maar tog nie veroordeel is nie. ''En toe het hy miskien die mooiste belydenis van alle tye gemaak.'' sê Janson. ''My Here en my God.''
Hierdie artikel is in sy geheel oorgeneem uit BEELD, omdat die betrokke saak deel is van Skrifkritiek wat hierin tot uitdrukking kom, wat prof Murray Janson sterk en oortuigend weerspreek het . (Red - P vd K)