|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS WAT STAAN CVO-SKOLE TE DOEN? Kurrikulum 2005 as onderwysbeleid van die nasionale onderwysdepartement dwing die menssentriese onderwysfilosofie af, onder andere deur die eis dat alle godsdienste as gelykwaardig in die klaskamer behandel moet word. Hierdie veronderstel dat godsdiens vir die kind 'n voorwerp van studie moet wees, iets wat dan as ondergeskik aan die menslike oordeel gestel word.In Kurrikulum 2005 word die politieke agenda van humanisme en Godversaking versteek in 'n groot hoeveelheid didaktiese waarhede en nuttighede, sodat kritiek teen die verpolitisering deur die regerende politieke party afgemaak sou kon word as kritiek teen noodsaaklike vernuwing.
Drie sake is van kardinale belang in CVO-onderwys en word as die belangrikste kriteria beskou vir die registrasie van onafhanklike skole volgens die nuwe Skolewet:
Geen skool mag oor hierdie sake ligsinnig wees nie, omdat enige onverantwoordelike optrede die hele bewe-ging in gevaar stel. Een belangrike element van uitkomsgebaseerde onderrig is om toe te sien dat die on-derwys aflewer volgens verwagting en volgens verantwoorde norme. Die stelsel wat hiervoor ontwikkel is binne OBE, is baie doeltreffend.
Ons moet besef dat die staat se mag as publike beskermer deur God verleen is. Dit is 'n internasionale mandaat, maar die party-politieke mag van die staat is tydelik, plaaslik en aanvegbaar.
Romeine 13 : 1 - 7 roep die Christen op tot gehoorsaamheid aan die gesag van die staat in sy rol as publieke beskermer, terwyl Handelinge 4: 18-20 die riglyn gee vir die Christen se optrede teenoor die gewaande party-politieke mag van die staat: Hierteen moet daar getuig word met woord en daad wanneer dit afwyk van die Woord van God, soos wat bevind kan word met Kurrikulum 2005. Die bedryf van ons onderwys moet egter altyd van hoë gehalte wees, minstens hoër as die minimumvereistes van die staat, en ons finansies moet ouditeerbaar en eerlik wees.