Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die fondament van die Christelike geloof

AKTUEEL:
Is God se wysheid dan dwaasheid vir hierdie teoloë

SKRIFOORDENKING:
Die Here se vereistes vir ware reformasie van sy kerk

Is die NG Kerk nog die NG Kerk

Oproep tot Reformasie

Islam en sy profeet, Mohammed

Leerstellige suiwer liedere vir die erediens

Omstrede uitspraak van vroulike NG Kerk teoloog maak opspraak in die openbare pers

Die simbool van die Kruis

Die aantasting van ons waardestelsel

Waarom ons lotery veroordeel

President Krugerkinderhuis in krisis oor voortbestaan

Geloftefees

KERKLIKE JOERNAAL: 
Die Jesus Seminaar met sy filosofiese vooroordeel oor "Historiese Jesus"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Matriek-Eksamens ARSO-Skole

Wat staan CVO-skole te doen?

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Reformasie of Rewolusie

Volksverootmoediging - Hoe vertoon ons volkslewe?

PERSRUBRIEK: 
NG Kerk trap klei oor afvalliges vryhand het


"Voordag God 'n man geword het, was sy 'n vrou"

Kritiese beskouing oor belydenisskrifte in die Hervormde Kerk

KOMMENTAAR: 
"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"

Gesprek met die lesers

MEDIESE ETIEK: 
Ouerskap Fiasko

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 6 November 2000

SKRIFOORDENKING

DIE HERE SE VEREISTES VIR DIE WARE REFORMASIE VAN SY KERK

DS HLJ MOMBERG  -  PRETORIA-DIE KANDELAAR

OGGENDPREEK OP SONDAG, 20 AUGUSTUS 2000   -  DEEL 2
Vorige deel

1 SAMUEL 17 : 1 - 17

Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy lulle red uit die hand van die Filistyne.
1 Samuel 7 : 3

Die eerste gedeelte van hierdie preek, gepubliseer in die vorige uitgawe, het een van die die mees tragiese tye in Israel se verhouding met die HERE beskryf, naamlik dat die Woord van God nie meer verkondig is nie (Sam 3:1) en die tabernakel, as die sentrum van die godsdiens ontruim en ook die ark van sy toepaslike plek verwyder was. "Wanneer ware aanbidding afneem, dan floreer afgodery en eiesinnige godsdiens", aldus ds Momberg. Hy vervolg:

En dit is wat ons in hierdie Skrifgedeelte sien gebeur. Die ark is weg. Die tabernakel is ontruim. Die Woord van die HERE is skaars. So: wanneer die mense God ignoreer sal hulle verlief raak op iets anders, verslaaf raak aan iets anders. Na ‘n tyd mis hulle die HERE selfs nie eers meer nie. Ja die mense mag dalk dink dat hulle God terug wil hê, maar normaalweg wil hulle nie.

En dit lei tot die volgende:

3. (Waarom sekere reformasie nie slaag nie) Daar is ‘n stap wat Christene soms neem om terug te keer na God toe wat vreeslik baie soos reformasie lyk, maar dit is ver daarvanaf.

In 1 Samuel 7: 2 lees ons:

En van die dag af dat die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, het daar geruime tyd verloop -dit was twintig jaar -en die hele huis van Israel het agter die HERE aan geweeklaag.

Die hele huis van Israel het geweeklaag agter die HERE aan - en hulle het dit bly doen vir 20 jaar lank! Dis byna onmenslik lank! Dink u net hierdie skouspel van 20 jaar in. Hulle het hierdie gevoel dat hulle hulle mag oor hulle vyande verloor het. Hulle het begin verstik aan die wrede onderdrukking van die Filistyne. Hulle het geweet dat God dit nie vir sy uitverkore volk bedoel het om op hierdie manier enduit vol te hou nie. So, hulle het die dwaasheid aangevoel wat dit is om ‘n God in teorie te hê maar hulle ervaar nie sy teenwoordigheid en sy krag nie. Hulle het die Heilige Gees bedroef en uitgeblus, en nou is daar geen lewensvatbaarheid in hulle godsdiens nie. En enigeen behoort die leegheid van so ‘n soort godsdiens in te sien, om die gedaante van die godsaligheid te hê, kerkie kerkie te speel, maar die krag daarvan te verloën. Om soos Simson nog weer vir ‘n laaste keer te wil opspring om die vyande te verslaan maar intussen nooit te besef dat die HERE hom verlaat het nie. Dis so tragies jammer dat mense so lank moet neem voordat dit werklik tot hulle deurdring.

Dan begin hulle die lading van hulle sondes besef. Hulle weet dat God beslis iets beters vir hulle in die vooruitsig gestel het. Maar wat hulle ervaar is ellende op ellende. Misoeste, berowing, anneksasie van hulle grond en besittings. En dan doen hulle wat ons almal doen: Hulle begin weeklaag agter die HERE aan. Hulle begin te bid. Miskien versamel hulle ook mooi en groot beloftes on-der die lidmate. Hulle begin byeenkomste organiseer. En dit alles doen hulle vir jare!

Hulle word dan met hierdie vreeslike ontnugtering wakker geskud as hulle agter kom dat hulle huwe-liksmaats beplan om die huis te verlaat, of as hulle ontdek dat hulle geliefde kinders hulle tragies teleurgestel het. Gelowiges se kinders is in die tronke oor allerlei jeugmisdade. Hulle voel skuldig, want hulle weet dat hulle lankal opgehou het om te bid. Hulle voel so skaam omdat hulle so aanhoudend weer toegee aan daardie verloklike versoekings.

En dan - iewers op hierdie weg loop sit hulle in een of ander erediens en hoor ‘n inspirerende boodskap van bekering en hernuwing. Hulle voel sleg oor hulle lewens. Hulle voel aangekla. Miskien breek hulle geheel en al in ‘n stortvloed van trane uit. Met groot hartseer oor die ellende wat hulle oor hulleself gebring het.

Net soos Israel – weeklaag agter die HERE aan.

Let op - selfs nog voordat Samuel hulle gekonfronteer het, het hulle so geweeklaag agter die HERE aan. Vir jare lank. Maar dit was alles sonder vrug. Natuurlik was daar ook plek-plek ware geloof. Samuel was immers nog die hele tyd in hulle midde, en daar kon moontlik ook nog ander mense gewees het wat soos Samuel se ouers getrou in die godsdiens was - MAAR ...

En dit is die gedeelte van die boodskap waarna ons vandag moet kyk: Hulle het agter die HERE aan geweeklaag sonder noemenswaardige sukses – omdat hulle twee wesentlike dinge nagelaat het wat hierdie teks beveel, wat eintlik eerste moes gekom het.

As ons nou daarna gaan kyk, merk ons op dat Samuel nie enigiets spesiaal in sy instruksies doen nie. Wat hy doen is om hulle eers in hulle gang tot stilstand te ruk en daarna om hulle vanuit die wetboek ‘n opfrissingskursus te gee in hulle pad terug na God toe. Toerusting uit die verbondsboek in ware Reformasie. Dit is ons volgende hoofgedagte:

4. Samuel het die kerkvolk vanuit die genadeverbond opgelei hoe om vrugbaar te wees in hulle terug-keer na God toe.

1 Sam 7: 3a:

Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit,

A) Dis die eerste ding wat hulle moet doen. Hulle moet al hulle afgode vernietig. As julle ernstig is daaroor dat julle die HERE wil volg, hier is dan die manier hoe julle dit kan bewys. Weg met al julle eie bedinksels! Weg met julle eie sentimente! Weg met julle wêreldgelykvormighede. Weg met die lewensbegeerte om die modes van die wêreld slaafs na te jaag. Weg met daardie obsessies om by die ontspanningskultuur van die stadslewe in te wees. Weg met die suipersmentaliteit!

Ek probeer my soms indink, hoe ons pluralistiese samelewing sou reageer op ‘n hedendaagse soort Samuel wat op die toneel kom ver-skyn en aankondig dat die godsdienstige praktyke van die hele nasie waardeloos en sleg is. Dat ons waardestelsels korrup is.

Dis presies wat Samuel gedoen het. "as julle vir Jahwe as julle God wil hê moet julle na Hom alleen toe kom, en julle moet volledig op sy terme kom - nie julle s’n nie." Nie God en Mammon nie. Nie die HERE en die Astartes nie. God sal nie aanbidding van ‘n verdeelde hart aanneem nie. Hy vereis suiwerheid van hart. Enkelhartigheid. Dit beteken ‘n hart wat nie besmet is en wat nie vermeng is met ander passies en begeertes nie.

Die meeste van ons weet dit in ons harte. Hierdie mense in Israel het dit ook geweet. Hulle het immers reeds woorde gehoor soos: "Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, en al jou kragte." En ook "Jy sal geen ander gode voor my aangesig hê nie!"

Daar was dus geen onduidelikheid dat God van hulle vereis het dat hulle hulle harte op Hom alleen gerig sal hou nie. Dit is nie ‘n waarheid wat hulle vergeet het nie, en ons het dit ook nie vergeet nie. Ons weet dit maar al te goed.

Maar hier is dan die waarheid wat hulle vergeet het, net soos wat ons dit ook so maklik vergeet: Ons het die HERE nie meer so lief soos daardie tyd nie. ("julle het julle eerste liefde verlaat") Ons harte is verstik deur die dorings en distels van die sorge van hierdie lewe, die grootsheid van hierdie wêreld, die genot van hierdie tydelike bestaan van ons. Ons harte is heeltemal oorbeset met al hierdie lewensprogramme. Ons is so besig.

So,wanneer ons dan opnuut weer na die HERE toe kom, sal van ons vereis word om iets anders uit te ruk en dood te maak. Plek te maak, die oue mens af te sterf. Dit is die waarheid wat hulle vergeet het. En dit is hoekom hulle maar net aan en aangegaan het om te weeklaag agter die HERE aan al daardie jare sonder sukses. Hulle wou nie hulle lekker losbandige Astartes, hulle perverse heilige boomstamme, al daardie aanloklike afgode verwyder nie. En dit is ook die rede waarom so baie mense net tydelik, van korte duur opgewek word agter God aan vandag. God kom nie so eenvoudig net woning maak in enigeen nie. Daar moet ook vir Hom ‘n woonplek in jou binneste afgesonder word, geheilig word.

b) Dan is daar die tweede ding wat Samuel vir die kerkvolk geleer het om tot God se welgevalle te reformeer:

1 Sam 7:3b:

"en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne."

Want hulle was besig met ligsinnige godsdiens: Ligsinnige godsdiens wil eerder aanbid as wat dit wil dien. Dis nie asof aanbidding verkeerd sou wees nie, want dit is inderdaad goed en reg om te sing en erediens te hou. Dis ook nie asof aanbidding nie belangrik is nie, want dit is inderdaad baie belangrik.

Nou waar is die fout dan?

Aanbidding is bedoel om die oorloop van my ware lewe te wees wat ek uitstort voor die HERE (Soos Hanna in haar droewe gebed en haar stryd), maar dit is dus nie die een en al nie. Dit is ook nie die einde van alle ware godsdiens nie. Dis slegs maar die uiterlike en waarneembare oorloop van my egte verhouding met God.

Verstaan u dit wel? Aanbidding is wonderlik en fantasties, maar as ons dink dat dit al is wat God van ons vorder, maak ons ‘n baie groot fout. Om maar een ding te noem: God vereis suiwerheid, enkelhartigheid saam met aanbidding. (Kyk ook HK, Sondag 45). ‘n Suiwere Godsbegrip, ‘n suiwere sondebesef, ware verootmoediging, oorgegewe vertroue deur Jesus Christus se volkome offer. Godsdiens moet nie net suiwer wees nie. Dit moet ook ware diens wees uit ‘n dienskneggestalte. Dit is die probleem wat Samuel die kerkvolk aanspreek. God is nie maar hul gelukbringer wat hulle kan gebruik en manipuleer soos hulle wil nie.

Ons kan eenvoudig dit nie ignoreer, hoe belangrik egte diens is in hierdie woorde van Samuel aan die kerkvolk in die laaste deel van vers 3 is nie: "en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne." Want egte diens met die hele hart is die regte manier om ons gereed te maak om in God se teenwoordigheid te kom (Ps 15) en sy krag te ondervind (Fil 3). Daar is so ‘n enorme verskil tussen tussen om maar bloot net iets te verlang en of ons werklik voorberei daarvoor. Die egte geloofsdaad het vir Abraham daarop neergekom dat hy nie net verlang het om ‘n geseënde nageslag te hê waarvan hy die geloofsvader is nie, maar hy moes op grond van God se belofte ook voorbereidings tref om sy beloftes in ontvangs te neem.

En daar is mense hier wat na my luister wat wens dat hulle ‘n beter huwelik gehad het, maar hulle lig geen vinger om vir beterskap voor te berei nie. Daar is mense wat wens dat hulle kinders sal opgroei om werklik naby aan die HERE te lewe, maar wat nie getrou is om hulle kinders daarin voor te berei nie.

Hier is mense wat as dit moontlik kon wees dat ‘n nader wandel met God sommer moeiteloos uit ‘n pil sou kon kom, al die apteke sou uitkoop. Maar dit werk nie so nie. Nader leef aan God kom nie uit pille en bottels nie! En gevolglik het hulle steeds nog nie so na God toe gegroei al die jare wat hulle agter Hom aan weeklaag nie.

Dit is waarmee Samuel hier werk. Hy leer die kerk om op te hou huil agter die HERE aan en vir eens goeie konkrete besluite te neem. Ruk die afgode uit en dien die HERE alleen. Want hier is ‘n instruksie van die HERE met ‘n belofte wat ons nie kan ignoreer nie

Diens van die Here loop waarlik daarop uit dat die vyand se rug gebreek word. Die belofte is: Hy sal julle verlos uit die hand van die Filistyne. (7:3b).  Hier is ‘n versteekte skat van waarheid vir diegene wat die moed het om dit op te grawe en dit te omhels.

Dien die HERE en weerstaan die duiwel en hy sal van julle wegvlug. (Lees Deut 30: 1 – 10) Dit is dan ook troosryk, bemoedigend hoedat hier-die paragraaf in vers 13 eindig: "En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie, en die hand van die HERE was teen die Filistyne al die dae van Samuel."

Geliefdes, daar kom in die geskiedenis tye van groot afvalligheid. Ek meen dat ons tans in Suid Afrika ‘n geweldige afvalligheid beleef, en intussen kerm en klae ons agter die HERE aan, elke keer as daar ‘n kaping, ‘n moord, ‘n afdanking, ‘n petrolprysstyging ensovoorts, plaasvind. Die HERE gee in hierdie Skrifgedeelte instruksie: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.

Toegepas op ons situasie: As julle eg begeer om die kerk in die bane van die reformasie te stuur, verwyder dan die wêreldse dinge onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen. Hy belowe dat ons ook oor ons doodsvyande die oorwinning sal smaak.