|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 6 November 2000
PERSRUBRIEK NG KERK TRAP KLEI OOR AFVALLIGES VRYHAND HET- GEPUBLISEER IN DIE AFRIKANER, 13 OKTOBER 2000 -
Die wyse waarop afvalliges binne die NG Kerk van hul nuwe vryheid misbruik maak om vrysinnige standpunte die wêreld in te stuur, het die NG Kerk in groot moeilikheid, veral ook daar die NG Kerk nog nooit 'n kerkgenootskap was waar tug 'n groot rol gespeel het nie. Die enigste plek waar tug nog in die NG Kerk sy gesag laat geld het, was by die oortreding van die sewende gebod. Deesdae gebeur dit ook slegs maar selde.
Die nuwe vryheid waarbinne die NG Kerk deesdae opereer, het tot gevolg gehad dat vrydenkers soos proff Sakkie Spangenberg en Christina Landman sonder vrees van optrede teen hulle, hul vrysinnige idees straffeloos kan verkondig. Prof Spangenberg verkondig sinkretistiese idees wat daarop neerkom dat Jesus Christus nie die enigste Middelaar is nie, en dat ander godsdienste se leerstellings ook tot saligheid kan lei. Prof Landman is waarskynlik die mees kontroversiële akademikus in die NG Kerk. Maar in haar nuutste publisiteitsfoefie het sy laat waai met die opmerking dat dit verpligtend gemaak moet word dat voornemende huweliksmaats reeds vóór die huwelik seks moet beoefen.
Te midde van al hierdie afwykende beskouings het ook die betwyfeling van die Drie Formuliere van Eenheid sterk op die voorgrond getree. Dit was veral in die NH Kerk dat dit ter sprake gekom het, maar dit is ook 'n debatspunt in die NG Kerk.
Dit het tot gevolg gehad dat 'n voormalige moderator van die sinode van die NG Kerk, prof Pieter Potgieter, in 'n brief aan Rapport van 8 Oktober 2000 van hom laat hoor het, waaruit sy frustrasie met die huidige situasie ten duidelikste na vore kom.
Sake is reeds so ernstig binne die NG Kerk dat prof Potgieter dit nodig vind om te verklaar dat die Bybel nog steeds die Woord van God is. Dit ver-meld hy met erkenning van die feit dat talle stemme reeds opgaan wat probeer beweer dat dit nie die geval is nie. Dit bring hom by die argument dat iemand wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, fundamentalisties is al dan nie. Dit gaan nie daaroor of iemand wat dit nie aanvaar nie, nog as 'n Christen erken behoort te word al dan nie - dit gaan daaroor of hy fundamentalisties is.
Dan vind prof Potgieter dit nodig om te motiveer dat die Drie Formuliere van Eenheid erkende belydenisskrifte is ''totdat die teendeel bewys word en die kerk dit aanvaar.'' Hy redeneer dus dat dit wel kan gebeur dat die kerk besluit dat die Drie Formuliere nie meer toepaslik op die huidige situasie is, en dus van afstand gedoen kan word. Sy probleem is natuurlik reeds dat die Verenigende Gereformeerde Kerke (van die Swartes en die Kleurlinge) die Belhar-belydenis as vierde belydenisskrif aanvaar het, en die NG Kerk nog worstel met die vraag of hy dit ook moet doen of nie.
Dan kom prof Potgieter met die probleem dat die NG Kerk met die beskuldiging te doen kry dat die kerk debat smoor. Inderwaarheid sit die kerk met die probleem dat sekere van sy akademici die basiese bybelse waarhede nie net bevraagteken nie, maar verwerp, en hy niks doen om dit hok te slaan of hierdie akademici tot orde te roep nie.
Die duidelike bybelse stappe ten opsigte van tug moes hier in werking tree, wat kan eindig in uitsetting uit die kerk indien daar geen inkeer en berou is nie. Inteendeel is die afwykendes toegelaat om ongestoord en ongehinderd hul dwaalleringe te predik, en kan (of wil) iemand soos prof Potgieter niks doen om hulle aan bande te lê en tot orde te roep nie.
Vandaar sy brief aan Rapport om sy en die kerk se onmag om teenoor hierdie dwaalleraars op te tree te benadruk. Die NG Kerk lei oneindig skade as gevolg daarvan, en NG-lidmate is besig om geheel-en-al hul vertroue in die kerk te verloor.
Die verste wat prof Potgieter kom, is om te meld dat die NG Kerk bepaalde reëls het, en dat debatvoerders minstens hulle by die reëls moet hou. Volgens hom is daar plek vir teologiese debatte, maar ''daar is 'n spesiale pad om te loop'', maar nie dat die waarhede van die Bybel die uitgangspunt van enige debatsvoering moes wees - juis die een wat glad nie deur die twisskrywers in aanmerking geneem word nie. Prof
Spangenberg het byvoorbeeld geen bybelse gronde vir sy standpunt dat die weg van saligheid nie noodwendig deur die soensverdienste van Christus aan die kruis hoef te loop nie. Sy enigste motivering is die humanistiese uitgangspunt dat God nie so wreed sou wees om diegene wat nog nooit van Hom gehoor het nie, tot die ewige verdoemenis te veroordeel.
Dan kom prof Potgieter met 'n eis dat diegene wat verskil van die standpunte van die NG Kerk, dit voor die sinode moet kom lê. Daardeur erken hy inderdaad ook dat die sinode sy gesag verloor het, want hierdie dwaalleraars steur hulle glad nie aan sinodes en sulke instellings nie, maar maak gebruik van die sekulêre pers om hulle gedagtes die wêreld in te stuur. Hulle word ook nie tot orde geroep nie, maar daar word slegs ''broederlike gesprekke'' sonder enige gesag met hulle gevoer.
Prof Potgieter sluit sy betoog met 'n baie groot waarheid af. As hierdie mense voortgaan om hulle eie koers in te slaan, te maak soos hulle luskry, en hulle glad aan enigiets steur nie, ''sal ons geloof later vir niemand meer 'n vaste anker wees nie.''