Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

Aktueel

DIE TERREURAANVALLE OP 11 SEPTEMBER 2001

- DR PIET LIEBENBERG - JOHANNESBURG -

Die massale tereuraanvalle op die World Trade Center in New York en die Amerikaanse verdedigingshoofkwartier, die Pentagon, op Dinsdag 11 September 2001, is waarskynlik die begin van 'n wêreldwye terreurveldtog teen lande en volke binne state wat as simbole van onderdrukking en uitbuiting beskou word. Die terreuraanvalle sal verseker nie tot die VSA beperk bly nie. Die aanvalle in New York en Washington DC onderskeidelik, verteenwoordig die begin van 'n indirekte oorlog wat eintlik reeds lank aan die gang is en waarin terreur as metode om hele samelewings te ontwrig, gebruik word.

Die idee is om die burgerlike bevolking so vreesbevange te maak dat hulle te bang is om werk toe te gaan, te bang is om 'n kroeg, bioskoopteater, sportpaviljoen te besoek of om 'n trein, bus, trem of vliegtuig te bestyg uit vrees dat dit dalk die voorwerp van 'n terreuraanval mag wees. Kortom die bevolking moet amper te bang wees om hulle buite die deur van hul huise te waag. Die terroris kies die tyd, plek en geleentheid. Hy het dus altyd die inisiatief en die verrassingselement aan sy kant.

Terreur is nie 'n verskynsel op sy eie nie. Dit vorm deel van wat as rewolusionêre oorlogvoering bekend staan. As sodanig is terreur 'n middel tot 'n bepaalde doel. Hierdie doel is deurgaans polities gemotiveerd en spruit voort uit 'n bepaalde onderliggende ideologie of religie. Ideologie en religie is in sekere sin 'n tweeling. 'n Ideologie behels 'n sekulêre religie met dieselfde kenmerke as van 'n godsdiens, naamlik dat dit besit neem van al die uitgange van 'n mens se lewe, soos die Skrifwoord dit stel: ''Of jy eet of drink of enigiets doen, doen dit tot eer van God''. In die geval van 'n ideologie of valse religie staan die volgelinge daarvan ook, in die volle totaliteit van hul menswees, in diens van die betrokke ideologie of geloof.

Religies en ideologieë word dan ook gekenmerk deur onverdraagsaamheid en 'n totale onvermoë om tot skikkings of kompromieë te kan kom. Waar hulle wel bereid is tot skikking, is dit gewoonlik 'n taktiese skuif ter oorwinning, verswakking of vernietiging van die teenstander(s).

Dade van tereur soos wat ons onlangs in die VSA beleef het, kom feitlik altyd vanuit 'n sterk kompromislose religieuse of ideologiese grondmotief en kry geen werklike einde voordat die oorkoepelende ideaal en doel bereik is nie. Dit is selde iets wat deur kranksinniges of geestelik versteurdes beoefen word.

Terreurdade lyk vanuit 'n Christelik-westerse oogpunt gek, sinneloos en wreed, maar vir die aanstigters, beplanners en uitvoerders daarvan, is dit 'n legitieme oorlogshandeling wat met groot omsigtigheid en aan die hand van goeie inligting, koelkop en rasioneel beplan en deurgevoer word. Die gevolge van terreur lyk vir ons na die werk van kranksinniges en psigopate, maar in werklikheid sit daar intelligente breine, gerugsteun deur die jongste tegnologiese hulpmiddels daaragter. Die beplanners daarvan wil hul dade en sy verskriklike gevolge graag na die werk van mal mense laat lyk en in sommige gevalle - soos byvoorbeeld dié van die moord op dr Hendrik Verwoerd - gebruik hulle dan ook werklik geestelik versteurdes, juis omdat dit dikwels die leidrade laat opdroog en die ondersoekers verwar.

Dit is vanuit die Christelik-westerse oogpunt 'n verwerplike verskynsel, maar vorm nogtans deel van 'n metodiek van oorlog, bekend as die rewolusionêre oorlogvoering. Die wortels daarvan lê in die gryse verlede, maar die teorie en praktyk daarvan is in die loop van die twintigste eeu deur mense soos Mao Tse-tung van China; Von Guyn Giap van Viëtnam; die Kubaanse rewolusionêre regterhand van Fidel Castro, Che Guovarra; Carlos Marighella wat 'n deskundige is ten opsigte van stedelike terreur en andere. Dit is verfyn en ontwikkel sodat dit by verskillende omstandighede aangepas kan word.

As sodanig is dit een van die moeilikste oorlogsvorme om te bekamp, veral ook omdat die westerse brein terreur as iets losstaande beskou en dit nie herken vir wat dit is nie, naamlik 'n vorm van oorlogvoering. Terroriste beskou hulself as soldate vir een of ander heilige saak en is dikwels bereid om hulself en ander daarvoor op te offer. Wanneer hulle gevang word is hulle vermetel genoeg om op krygsgevangenes se status aan te dring.

In Suid-Afrika is ons lank reeds aan die ontvangkant van terreur. Dit het trouens 'n belangrike rol in die ANC se sogenaamde bevrydingstryd gespeel. Sedert die ANC/SAKP se oorname van die regering in 1994, het die klem verskuif na die beweerde wandade van die vorige regering, sodat dade soos die motorbomaanval op die Poyntongebou in Pretoria, die talle bomontploffings oral oor in die land en die aaklighede van die halssnoermoorde gerieflik verswyg is en in vergetelheid geraak het.

In hierdie rewolusionêre proses is gepoog om Suid-Afrika met behulp van sogenaamde burgerlike ongehoorsaamheid en terreur onregeerbaar te maak. Sodoende is 'n kultuur van wetteloosheid geskep. Mense is van kindsbeen af geleer om die staat en sy instellings te minag en om openbare en private eiendom as sigbare demonstrasie van hul ontevredenheid te beskadig of te vernietig. Optrede waarin mense hulle lewens verloor, word eweneens deur dié rewolusionêres as geregverdig beskou, want hulle erken geen onderskeid tussen burgerlike en militêre teikens nie. Vir hulle is almal wat hul nie openlik aan húlle kant skaar nie, eintlik deel van die vyand wat hulle beveg, en as sodig kwalifiseer hulle as teikens.

Die burgerlikes in die vier gekaapte vliegtuie en die duisende mense wat hul lewens in die World Trade Centre en die Pentagon verloor het, was daarom uit die terroriste se oogpunt wettige teikens. Hierdie feite word nie genoem om terreur goed te praat nie, maar om onsself op te skerp vir die ware aard van dié verskynsel. Dit het niks met gewone misdaad te doene nie, want terreur is 'n berekende handeling om maksimum effek en derhalwe maksimum propagandawaarde te verwerf. Hoe meer grusaam en dramaties hoe beter vir die terroris en sy saak. Ook probeer hulle hul saak altyd as hoogstaande en moreel voor te hou en die teikenland of -groep as die eintlike immorele en kriminele party te tipeer.

Wanneer die idee van terreur as 'n geregverdigde en legitieme handeling eers in mense se denke posgevat het, is dit uiters moeilik om dit weer stop te sit. Suid-Afrika van vandag lewer ten opsigte hiervan die voorbeeld. Die ANC/SAKP-volgelinge in die besonder en swartes in die algemeen het in so 'n mate deel van 'n negatiewe kultuur van werklike en denkbeeldige griewe en protes geword dat hulle nie meer die lus of geduld het om die normale kanale om dit te lug, te volg nie. Vandaar die amper voortdurende stakings, protesoptogte en ander ontwrigtingsaksies, ongeag die feit dat die ANC reeds meer as sewe jaar aan die bewind is.

Dit is egter die blankes in Suid-Afrika in die algemeen en die boere in die besonder wat as sondebokke uitgesonder word. Die swart massa is gefrusteerd as gevolg van die talle onvervulde beloftes. Die ANC leiers beweer hulle kan hul beloftes nie nakom nie omdat apartheid nog bestaan en die blankes nog die bevoorregte klas is. Die PAC beskuldig die ANC weer op sy beurt dat grondverdeling te lank sloer en hy probeer op hierdie wyse steun onder die ANC se linkervleuel te werf. In hierdie proses word Mugabe 'n held onder baie swartes, want hy mors nie nog tyd met onderhandeling nie.

Die idee word nou ook onder stedelike swartes versprei dat die land aan hulle behoort en dat elkeen van hulle reg-matige aansprake op grond het. Die gevolg daarvan behels 'n toenemende haat teen blankes, wat uiting vind in terreurverskynsels soos plaasaanvalle, moorde en verkragtings op blanke dorpenaars en stedelinge. Dit is verder belangrik om in gedagte te hou dat terreur vele fasette het.

Die vrees waarin blankes leef, die verlaging van hul lewenskwaliteit deurdat hulle hulself in hul huise soos in tronke moet verskans, die finansiële uitbuiting op talle wyses, die aantasting van die karakter van hul tradisionele skole, universiteite en kolleges, asook toenemende blanke werkloosheid as gevolg van ongeregverdigde diskriminasie op grond van velkleur, is indirekte vorme van terreur. Dit kan nie langer geduld word nie.

Blankes sal toenemend op hulleself aangewese wees vir beveiliging van lewe en eiendom. 'n Positiewe uitvloeisel van die onlangse terreur in die VSA mag wees dat die Weste 'n veel dieper insig in die aard van terreur as 'n onregstreekse vorm van oorlogvoering mag kom en tesame daarmee 'n groter begrip vir die aanslag teen die blankes in Suid-Afrika en Zimbabwe. Dit is nou die tyd om ons saak internasionaal te bemark.

Hierdie artikel is as 'n Politieke Oorsig op RADIO PRETORIA, Donderdag 20 September 2001

deur die skrywer aangebied.