Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

Hoofartikel

"DIT IS NOG NIE DIE EINDE NIE"

Dit was 'n onverwagte skok op 11 September wat die westerse wêreld skielik tot die besef gebring het dat die moderne kommunikasiemiddele en openbare beskermingsaksies nie die terreuraanvalle op die Wêreldhandelsentrum in New York en die Pentagon in Washington kon voorkom het nie. Sedertdien het daar 'n paniese vrees vir onkeerbare terrorisme dwarsdeur die wêreld ontstaan. Die wêreldleiers voel hulle magteloos om terreur in die gedaante van selfmoordaksies, asook in biologiese vorme en die toepassing daarvan, te voorkom. Die ''vrede op aarde'' is, nieteenstaande die bestaan en funksionering van die organisasie van die Verenigde Nasies, aan flarde geruk. Amerikaansgesinde nasies span saam om die anti-Amerikaansgesindes te dwing om ekstreme terrorisme in hul midde uit te roei en oortreders uit te lewer vir strafregtelike vervolging. Geweld word reeds met geweld beantwoord teen die outonome staat waar die beweerde aanstigter van die terreur, Osama bin Laden, hom bevind en beskerm word. In hierdie artikel wil ons dié gebeurtenisse en gevolge daarvan, in die lig van die Skrif beskryf en daaroor besin.

Toe God in die begin die hemel en aarde gemaak en as woonplek en kultuurbodem vir die menslike geslag toegerus het, was dit ''baie goed'' (Gen 1: 31). Hy het as die almagtige Skepper aan die eerste mensepaar die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul. Sonder die sonde sou die verspreiding van die mense oor die aarde en die onderlinge kommuni-kasie in 'n skone harmonie, tot eer van die H

Toe God in die begin die hemel en aarde gemaak en as woonplek en kultuurbodem vir die menslike geslag toegerus het, was dit ''baie goed'' (Gen 1: 31). Hy het as die almagtige Skepper aan die eerste mensepaar die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermeerder en die aarde te vul. Sonder die sonde sou die verspreiding van die mense oor die aarde en die onderlinge kommuni-kasie in 'n skone harmonie, tot eer van die Here, plaasgevind het. Die aarde sou 'n oord van vrede en geluksaligheid wees. Die sondeval van die voorouers van die ganse menslike bevolking het hierdie heerlike toekoms wat dalk kon gewees het, verongeluk. Sedertdien is die aarde om die mens se ontwil vervloek (Gen 3 : 17). Dié vloek het die aarde tewens omskep in 'n arena, 'n gevegsterrein, waar die gevalle engel, die Satan, God beveg oor die beheer daarvan. God laat dit toe dat die duiwel, die Satan, rondloop soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind (1 Pet 5: 8).

Dis die geloof in God en die gehoorsaamheid aan sy gebooie wat skeiding maak tussen die kinders van die Here en dié wat Hom en sy heilsdade verwerp. Vóór die sondvloed was daar aanvanklik tussen hierdie uiteenlopende geslagte 'n daadwerklike skeidslyn. Die Bybel noem dit in Genesis 6: 1, dat die seuns van God (die kinders van die Here) die dogters van die mense (dit is hulle wat God nie gedien het nie) as vroue geneem het, almal wat hulle verkies het.

Sodoende het die vyandskap (Gen 3: 15), die onderskeiding tussen die saad van die vrou en die saad van die slang, verander in 'n sintese van gelykgesindes as gevolg waarvan die boosheid op die aarde oorheersend geword het. Dis waarom die Here die aarde en al sy bewoners, met die uitsondering van Noag en sy seuns en hulle vrouens, deur middel van die sondvloed verdelg het. Dit is die Here wat dit bewerk het en niks en niemand ontsien het nie, behalwe dié in wie Hy 'n welbehae gehad het. Hy beskik tot vandag toe oor sy skepping, Hy regeer en onderhou dit. Hy pas dit op en lei dit volgens sy Goddelike verborge wil en voorbeskikking.

Ná die sondvloed, toe die menslike geslagte weer uitgebrei het, het God die familieverbande, volgens hulle verspreiding op aarde verdeel in tale en nasies (Gen 10: 5, 10, 18, 20, 25, 31 en 32). Die Babelse toring was 'n mislukte poging om God se wil te weerstaan: ''Laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie''. Dit was 'n berekende strewe om die sintese van gelykgesindes, soos dié van vóór die sondvloed, opnuut te realiseer. Dit was 'n opstand teen die gesag van God wat deur sataniese ingewing bewerkstellig is. Die Satan se mag is egter beperk tot dit wat die HERE hom toelaat. Hy het geen mag van homself nie.

Daar is geen twee magte op aarde, 'n bose en 'n goeie, soos sommige filosowe dit voorhou en doseer nie. Die HERE het ingegryp en die tale van die mense verwar, sodat die een die taal van die ander nie meer kon verstaan nie. So het dan sy wil geseëvier dat die mensheid tog in tale, volke en nasies uiteengeval het. Dit het dit moontlik gemaak dat God een besondere volk (in wording), die volk Israel, kon uitverkies en roep om, tot die volheid van die tyd (Gal 4: 4), as sy verbondsvolk te funksioneer (Gen 17: 1 - 9; Hand 13: 17).

Van dié tyd af is die aanslag van Satan gerig op die nageslag van Abraham, Isak en Jakob om hulle van die verbond met die HERE afvallig te maak. Dit is soos Psalm 2: 2 en 3 dit beskryf: "Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!''

Hiervandaan af gebruik die HERE die omliggende volkere om te dien vir geografiese begrensing, soms vir uitbreiding, soms vir voorsiening van voedsel en noodsaaklike boumateriale en soms ook vir die tugtiging van sy verbondsvolk. Dit begin reeds met die geskiedenis van Josef in Egipte, toe hy deur sy broers as slaaf daarheen verkoop is en uiteindelik die hoogste pos daar beklee het om die volk van die HERE te red van hongersnood. As gevolg van die plae wat God oor hulle gebring het, is die Egiptenare gedwing om die volk te laat gaan om hulle te vestig in die beloofde land. Dáár in Kanaän was die boosheid van die mense so groot dat die volk Israel die opdrag gekry het om hulle, man, vrou en kind, met die swaard om te bring en hulle land in besit te neem. Dis soos die Here God sy verbond bevestig het. Eenmaal in die land Kanaän gevestig bestuur en regeer God sy volk soos Hy dit op die berg Sinaï aan Moses in sy belofte en eis van seën en/of vloek geproklameer het.

Dit is soos die geskiedenis van Israel van toe af verloop het. Beurtelings geseën en gestraf, afhangende van die trou of ontrou aan die HERE se insettinge en gebooie. Dit is duidelik aangetoon in die historiese en profetiese tekste van die Bybel dat die HERE die harte verhard of bekeer het, dat Hy deur middel van sy Gees die Bybelskrywers geïnspireer het om sy wil te openbaar. Hy het die Farao se hart verhard, Moses en Josua gelei, Saul se hart verhard en Dawid geïnspireer, die profete gebruik om sy troos of oordeel oor te dra aan die volk en byvoorbeeld Nebukadnesar en Kores laat optree vir onderdrukking en redding van sy volk net soos dit Hom behaag het.

In die volheid van die tyd het dieselfde God, die God van die Ou Testament, die maghebbers van die wêreld: die Romeinse keiser en sy uitvoerende gesag, gelei om die geboorte van Christus volgens sy wil te laat plaasvind. Die algemene sensus van die tyd is, toe Maria swanger was en sy saam met Josef na Betlehem gegaan het om daar beskryf te word, gelei volgens sy Goddelike wilsbeskikking opdat die profesieë vervul sou word. So ook die verloop van die geskiedenis van Jesus toe Hy op aarde sy Goddelike sending, in die tweeledige gestalte van God en mens in een persoon, volgens die wil van die Vader in die hemel volbring het. Na sy opstanding en hemelvaart en die vestiging van sy Kerk op aarde, vind vervolging van die apostels en lidmate van die Nuwe Testamentiese Kerk plaas. ook volg die verwoesting van Jerusalem, dit alles soos Jesus Christus tydens sy bestaan op aarde voorspel het. In dit alles is Christus dié Een wat vanuit die hemel regeer en dit alles volgens die Goddelike mag wat aan Hom verleen is, toelaat, voorbehou en beskik.

Hierdie beskikking van God om sy Kerk op aarde te laat voortbestaan, te vergader, te beskerm en te onderhou, is deel van die voorsienigheid, soos die Heidelbergse Kategismus daarna verwys in Sondag 10, Vr/Antw 27: ''Die almagtige en alomteenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat ... alles ons nie per toeval nie maar uit sy vaderhand toekom''.

Die profesieë in die Bybelboeke Daniël en Openbaring van Johannes beskryf onder andere, die ontwikkeling van die wêreldmagte temidde waarvan die Here sy Ou en Nuwe Testamentiese Kerk bewaar, beskerm en onderhou. Die wêreldgeskiedenis word bepaal volgens sy Goddelike wil. In dié lig moet die openbarings van Daniël en Johannes gelees en verstaan word. As ons só daarna kyk, dan kan ons, as gelowiges ons in alles toevertrou aan die Here, dié God wat in die Ou en Nuwe Testament dieselfde is. Dit is Hy wat trou bly aan sy verbond, wat Hy vandag in die Kerk van die Nuwe Testament vervul. Die ander kant van die munt is dat Hy ook getrou bly aan die vervulling van sy toorn oor 'n wêreld wat in sonde en ongeregtigheid versink.

Die Here laat in sy almagtige wilsbeskikking toe dat die wêreldheersers trag om die hele wêreld aan 'n sataniese een-wêreld godsdiens (die New Age) en 'n een ekonomiese geldmag te onderwerp. Dit vind plaas op die patroon van Psalm 2: 2:  ''... die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde ...'' Dieselfde Psalm antwoord daarop: ''Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik'' (verse 4 en 5).

In die Nuwe Testament openbaar die Gees van die Here, wat die Bybel geïnspireer het, die verbintenis van die valse kerk met die wêreldmagte. "Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saamvergader teen die Here en sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes (die destydse hoof van die volk Israel, die valse kerk van dié tyd) en Pontius Pilatus (die plaaslike verteenwoordiger van die Romeinse wêreldmag) het saam met heidene en die volke van Israel vergader ... om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind ...'' (Hand 4: 26 - 28).

Dit wat nou gebeur het, met die terreuraanslae in Amerika en die plaaslike ''oorloë en gerugte van oorloë'' (Matt 24: 6, Mark 13: 7) behoort ons nie te verskrik of te verontrus nie. Ons sien in geloofsvertroue die hand van die Here daarin, dat Hy vir sy Kerk op aarde nog die tyd, ruimte en geleentheid skenk om voort te bestaan en in gehoorsaamheid aan sy Woord te vergader en die evangelie te verkondig.

In hierdie geval het die Here dit beskik dat die hart van die een-wêreld- en een-geldmag (in Amerika) getref is in 'n onverwagte terreuraanval wat gelei is deur mense wat, onder God se toelating, deur die Satan beheers is om by wyse van selfmoordaksies die hele wêreld te skok en die feitlike magteloosheid teenoor God ten toon te stel. Daar is nog tyd, daar is nog ruimte en geleentheid vir die uitlewing van die Christelike geloof en die voortbestaan en funksionering van Christus se kerk. En ''dit is nog nie die einde nie ...'' (Mark 13 : 7). Sonder diskussie oor die betekenis hiervan, kan hierdie teks beslis ook gestel word in die perspektief van Christus se wederkoms op aarde, aan die einde van die dae.

Ten slotte 'n verwysing na (in die lig van hierdie be-skrywing van God se regering en beheer oor wat op die aarde gebeur en moet plaasvind) prof Adrio König se liberale vertolking van die gebeure waarmee hy God as die almagtige Beskikker van die lotgevalle van die wêreld uitskakel.

Sy woorde (in DIE KERKBODE, 21 September 2001): "Toe die Boeing 767 van American Airlines teen die noordtoring van die World Trade Centre in New York vasgevlieg het, was God hewig ontsteld omdat die mense wat Hy gemaak het so wreed kan optree. Om te sê Hy het dit beskik, is godslasterlik. Om te sê Hy het dit net toegelaat, is ook onaanvaarbaar, want dit maak Hom 'n medepligtige.''

Sodoende erken prof König nie die Goddelike almag en beskikking oor die woelinge van die aardse bestaan nie. Hy bring nie die Bybels profetiese gesag, dat die wêreld bestaan by die grasie en beskikking van God, in rekening nie. "Christene se hoop is in die opstanding gesetel en nie in God se albeskikking nie", sê hy. Daarmee maak hy dit wat in die wêreld gebeur, soos nou, los van die Christelike geloof en troos in God se voorsienigheid, van sy regering en beheer van die wêreld, ter wille van die voortbestaan van sy Kerk, tot die bestemde tyd van Christus se wederkoms.