Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

KERKLIKE JOERNAAL

KLAG VAN DWAALLEER TEEN PROF KRUGER 'GESTOP'

Die kuratorium van die Potchefstroomse Teologiese Skool het 'n aanklag van dwaalleer teen prof (em) Andries Kruger van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika ''gestop'', aldus Neels Jackson in BEELD, Woensdag 3 Oktober 2001.

Hy vermeld voorts dat 'n uitvoerige studie van Kruger se standpunte nou deur teoloë van die kerk gedoen gaan word ''om te bepaal of hy inderdaad gedwaal het''.

Kruger is sedert 1996 haaks met die kuratore, die liggaam wat toesig hou oor professors, oor sy standpunt dat iemand wat nog nooit die Bybel se inhoud gehoor het nie, tog gered kan word.

Kruger meen die Bybel leer dat 'n mens God goed genoeg kan leer ken uit die natuur en die manier waarop dit deur God onderhou en bestuur word, om tog deur Hom gered te word. So iemand word dan deur die drieënige God en dus deur Jesus Christus gered.

Die kuratorium het egter vroeër besluit dat die standpunt teenoor die gereformeerde belydenisskrifte staan.

Kruger het geappelleer, maar die nasionale sinode (Januarie 2000) het die kuratore gelyk gegee en dat Kruger moet swyg oor die siening van hom.

Hoewel sy finansiële sekerheid in die gedrang kon kom as hy dit nie sou doen nie, het Kruger se gewete hom nie toegelaat om stil te bly nie. Hy is oortuig dat hy die waarheid veral volgens die Bybelboek Romeine leer en dat hy sy kerk moet help om op hierdie punt te reformeer.

Die gevolg is dat hy aangehou het om sy standpunt te verkondig en dat 'n klag van leerdwaling teen hom aanhangig gemaak is.

Na indringende gesprekke tussen die kuratorium en Kruger en sy regsverteenwoordiger, is daar besluit om eers 'n omvangryke studie veral oor Romeine 1 tot 4 oor die teologiese kwessie te laat doen.

Daarop het Kruger, aldus die berig in BEELD, gesë dat dit beteken dat die klag teen hom heeltemal van die baan is. "Goddank, ek is vreeslik bly dat ek oor die kruin is. Dis 'n geweldige ding''.

Dr Jan Ras, voorsitter van die kuratorium, en ds Pieter van der Walt, ondervoorsitter, het egter gesë dat die klag net voorlopig gestop is. As dit uit die studie blyk dat Kruger tog verkeerd was, sal daar weer voortgegaan word met 'n klag teen hom, aldus dr Ras.

Die studie wat onderneem gaan word, kan na verwagting jare duur. Kruger sê hy sal miskien nie eens meer leef wanneer dit afgehandel word nie.

Intussen het Kruger, wat nou in Colesberg bly, betrokke geraak by die bediening van die gemeentes Philippolis en Bethulie, aldus Neels Jackson se berig in BEELD.