Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

KERKLIKE JOERNAAL

FLITSE UIT DIE AP KERK SE SINODE 2001

Om ons lesers in te lig oor verloop van sake, die volgende verslag

gelewer deur ds Mechiel Adendorff van die Sentrale Kerkkantoor

Die Tiende Sinode van die AP Kerk het van 3 tot 8 September 2001 in die kerkkompleks van die gemeente Wonderboom vergader. ‘n Sakelys van sowat 400 bladsye is deurgewerk.

1. STATISTIEK EN VERSKERPTE BEDIENING

Die sinode het met kommer kennis geneem daarvan dat die samelewing in Suid-Afrika, ook volksgenote, al hoe meer verheidens. Die verskynsel beïnvloed blykbaar ook die lidmaattalle van gereformeerde kerke aangesien daar ‘n daling by al die kerke oor die afgelope paar jaar voorkom. Dit is egter ook ‘n wêreldwye verskynsel in baie kerke.

Onder die diepe besef van die hoë roeping van die kerk in hierdie wêreld, het die sinode besluit dat leraar en kerkraadslede hulle bediening veral wyksgewyse sal verskerp. Waar sommige kerke veel baat vind by ‘n stelsel van omgeegroepe, selgroepe of huiskerke, is die beoogde werkswyse in die AP Kerk sterk gebonde aan die bestaande gereformeerde kerkregeringstelsel. In dié struktuur kan die ouderling as bestuurder van sy wyk beskou word, bygestaan deur sy diaken en leraar. As bestuurder van sy wyk behoort hy deur middel van gereelde wyksbyeenkomste waarby elke lidmaat in sy wyk betrek word, sorg te dra dat al die gewone kerklike werksaamhede daar, biine die grense van sy wyk, gedek word: geestelike verdieping deur middel van Bybelstudie, sendingwerk, evangelisasie, diens van barmhartigheid, jeugwerk, die uitdra van Christelik-etiese beginsels en bestryding van euwels - dit is alles take waarby die lidmate in elke wyk betrokke moet raak. Wanneer ‘n mens daaraan dink dat elke vierkante sentimeter in die land binne een of ander wyk val, kan die uitwerking en invloed van hierdie verskerpte bediening moeilik oorskat word.

2. ONDERWYS EN OPVOEDING

Die sinode het besluit dat die onderwys in openbare skole nie meer die ideale onderwysmedium vir Boere-Afrikanerkinders is nie, aangesien die inslag die kinders vervreem van hulle Calvinisties-Gereformeerde godsdiens en Boere-Afrikanerkultuur. Kerkrade is versoek om ouers aan te moedig om hulle kinders te plaas in skole waarin Christelik-volkseie onderwys moontlik is. Die ideaal van Christelik-Calvinistiese volkseie ouerskole moet steeds nagestreef word. Wanneer omstandighede dit noop, is die kerk geroepe om self oor te gaan tot die oprigting van kerkskole. Sou dit werklik nodig word, sal dit prinsipieel in orde wees om kerkskole te stig waarin enige Boere-Afrikanerkind gehuisves kan word, of selfs skole eksklusief vir kinders uit AP kerkgeledere, wat uitsluitlik onder beheer van AP kerkrade sal staan.

3. DIENS VAN BARMHARTIGHEID

Die sinode het ‘n beroep gedoen om alle diakonieë en kerkrade om die Gesamentlike Diakonale Kommissie (GDK) wat in Pretoria tot stand gekom het, te ondersteun deur diakonieë landswyd te organiseer ten einde gekoördineerd en doelgerig die probleme rondom die taak van barmhartigheid wat op gemeenteskaplike terrein val, aan te pak. Die verarming van blankes, en veral volksgenote wat deur "regstellende aksie" en ander diskriminerende maatreëls werkloos raak of benadeel word, lê swaar op die hart van die kerk. Diakonieë is ook versoek om besondere aandag te gee aan plakkerskampe waar blankes woon.

4. HULDEBLYK VIR 26 OOO VROUENS EN KINDERS WAT TYDENS DIE TWEEDE VRYHEIDSOORLOG  IN KONSENTRASIEKAMPE GESTERF HET

‘n Roerende huldeblyk is tydens die sinode voorgelees waarin hulde gebring is aan (in die woorde van Emily Hobhouse) die vroue van Suid-Afrika, wie se verduring van beproewing, onderwerping en verlies van onafhanklikheid onder dwang, waardigheid onder vernedering, geduld onder smart en kalmte by die dood vir die nageslag as besieling dien.

5. VOORTDURENDE VEROOTMOEDIGING

Die sinode was oortuig dat daar ter wille van die eer van die Here en die heil van die kerk en die welsyn van die samelewing in die algemeen ‘n dringende behoefte is aan voortdurende verootmoediging. Die verootmoediging verg van elke sondaar, die tollenaar en die Fariseër, eerlike selfondersoek en belydenis van oortreding van elk van die tien gebooie in gedagte, woord en daad, selfs in sy verfynste vorm. Almal het gesondig, en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. (Rom. 3:23.) Die gelowige wat hom nie willoos aan die huidige vlaag van sonde oorgee nie, maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag …. hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie …. (Ps. 1:1 en 2). Daartoe is elke lidmaat dringend opgeroep.

6. GELOFTE VAN JAN VAN RIEBEECK

Die sinode het kerkrade en gemeentes versoek om reg te laat geskied aan die gelofte van Jan van Riebeeck soos bewoord op 6 April 1654, naamlik om 6 April tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot ‘n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die Here wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.

7. BEDIENINGSHULP AAN HULPBEHOEWENDE GEMEENTES

Die sinode het kennisgeneem daarvan dat sedert stigting van die kerk in 1987 ‘n bedrag van ongeveer 5½ miljoen rand aan bedieningshulp bestee is sodat selfs die kleinste gemeente pastoraal deur ‘n leraar versorg kon word.

8. DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE AKADEMIE

Die Teologiese Skool is amptelik deur die Onderwysdepartement ingevolge die onderwyswet 1997, as ‘n privaat instituut vir tersiêre onderwys geregistreer onder die naam Afrikaanse Protestantse Aka-demie. Die sinode het etlike besluite geneem waarin beslag gegee is aan die struktuur en funksionering van die Akademie. Die Akademie beskik volgens die registrasie oor die bevoegdheid om BA en BTh grade toe te ken.

9. TEKSTE BY DORDTSE LEERREëLS

Die sinode het op aanbeveling van sy Kommissie vir Kerkleer en Christelike Etiek ‘n groot aantal toepaslike tekste by die Dordtse Leerreëls aangebring sodat lidmate dit (sodoende) deur middel van Bybelstudie kan bestudeer.

10. LIEDBOEK VAN DIE KERK

Die sinode het besluit om die nuwe sangbundel wat deur die jarelange samewerking van Afrikaanse gereformeerde kerke tot stand gekom het, na gemeentes te verwys vir sang buite die erediens, en kommentaar word ingewag sodat die eersvolgende sinode verdere besluite oor die Liedboek kan neem. Intussen mag gemeentes tydens eredienste net gebruik maak van die ou Psalm en Gesangboek. Daarmee het die sinode te kenne gegee dat die enigste verantwoordelike wyse waarop oor die Liedboek besluit kan word, is om die liedere onbevooroordeeld deeglik aan Skrif- en Belydennisskrifte te toets en ook musikaal te beoordeel.

Die volgende sinode van die AP Kerk vind DV in 2004 plaas.