Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

DIE SAAK VAN MENSEREGTE

ONDERMYNING VAN DIE TRADISIONELE ORDE VAN ONS SAMELEWING

-   PIET VAN DER KOOI  -

God se Woord leer 'n orde vir die samelewing waaraan owerhede en onderdane (Rom 13: 1-7) hulle moet onderwerp, naamlik God se gebooie en insettinge (Deut 4: 40; Ps 119: 89-96; Matt 22: 37-40; Ef 2: 15). Hierdie gebooie en insettinge is die grond van die Bybelse geregtigheid vir die samelewing wat willekeurige en despotiese of tirannieke magsuitoefening bloot ter wille van die mag, en andersins ook bandeloosheid, dekadensie en tugteloosheid verbied. Daarvolgens dien die owerheidsgesag as 'n Goddelike opdrag, 'n amp wat in verantwoordelikheid aan God bedien moet word en die gehoorsaamheid van die onderdane as 'n Goddelike roeping en plig om aan te beantwoord met die bepaling om God lief te hê bo alles en die naaste as jouself. SOLI DEO GLORIA (Alles tot eer van God).

Die Bybel bevat prinsipiële riglyne oor die persoonlike, maatskaplike en sosiale verkeer in die samelewing. Bybels geïnterpreteer bestaan daar norme waaraan die lewe, staatkundig ook!, behoort te beantwoord. Dit behels tradisies, gewoontes en wette, wat in Christelike sin toegepas, daarmee moet ooreenstem.

Daarenteen is volgens die Grieks-heidense (skolastieke) denke en die verligte liberale gedagtes van ons tyd die individuele mens outonoom en self die oorsprong en normeerder van, onder meer, die owerheidsgesag. Die wesentlike tipering van 'n demokratiese bedeling is dat die gesag van die owerheid en die mag wat aan hom verleen is, slegs aan die volk of 'n bepaalde kieserskorps onderwerp en verantwoording verskuldig is.

Dit is die tiperende onderskeid tussen die voormalige bedeling van afsonderlike ontwikkeling en dié van die sogenaamde "demokratiese bedeling" wat in 1994, met die oordrag van gesag aan die ANC/SAKP, aangevang het. Daar word offisieel nie meer uitgegaan van 'n gesaghebbende Bybels-gefundeerde en gemotiveerde grondslag nie, maar filosofiese beredenerings oor 'n natuurstaat en die natuurreg - 'n vorm van ewolusionisme - dien nou as die verklaring vir die ontstaan en ontwikkeling van die menslike beskawing en die ontstaan van die staat en sy openbare gesag.

Volgens die natuurstaatopvattings is alle mense vry en gelyk en mag die een nie oor die ander heers nie. Gesag behels daarom 'n vrywillige oordrag van mag en onderwerping aan owerhede met die voorbehoud dat hulle moet voldoen aan die wil van diegene wat die mag aan hulle oorhandig het. Die mens beskou hom - liberalisties - as vry en gelyk en hy gehoorsaam slegs die wetgewing en bevele wat hy van en uit homself aanvaar. Dus begin die gesag dáár waar tot ooreenkoms gekom word om 'n gesamentlike regering in en aan te stel, aan wie die gesag verleen word om te regeer. En die norme waarvolgens so 'n owerheid mag/moet regeer, is beperk tot dit wat van onderaf (tans kragtens 'n verskanste akte van menseregte) aan hom opgedra is.

Die bekende anti-rewolusionêre Nederlandse staatsargivaris (Evangeliebelyder, soos hy homself genoem het), meester G Groen van Prinsterer, beklemtoon egter, met die oog op regte, die onmoontlikheid, die onvermoë, om vrugbaar die gevolge van die rewolusiebegrippe (die staatkundige omwenteling deur middel van die Franse Rewolusie) te kan bestry, solank nie erken word dat die grondslag van die reg in die wet en ordinansies van God lê nie: Die rewolusie het begin met die verklaring van die regte van die mens, dit vind geen einde voordat die regte van God weer verklaar en erken word nie, aldus Groen. Dus staan God se regte, ja hulle moet sentraal staan in die persoonlike, kerklike en politieke debat oor "menseregte" en die toepassing daarvan.

Die moraal-filosofiese gedagtes oor menseregte gaan uit van 'n vooropgestelde standpunt aangaande die sosiale gelykheid van alle mense. Dit steun vrylik op die Bybelse gebod teen doodslag (Gen 9: 6) maar verleen 'n liberale toepassing daaraan met die afskaffing van die doodstraf. Ook motiveer dit 'n horisontalistiese vertolking van die Goddelike bevel tot naasteliefde. Die gebod om die Here God lief te hê met die hele hart, siel en verstand (Matt 22: 37), word daarby nie as 'n primêre uitgangspunt betrek nie. Menseregte, toegepas in die praktyk van die sosiale samelewing, bevorder die beklemtoning van die aardse gerigtheid, die besorgdheid oor die stoflike dinge en belange wat, in Bybelse perspektief, vir die mens juis nie 'n alles oorheersende faktor behoort te wees nie en eerder as gawes van die Here beskou en uit sy hand ontvang moet word (Matt 6: 8, 31-34; Hand 14: 17).

As Christen-gelowiges aanvaar ons, danksy die reformatoriese werk van Calvyn en geesverwante, die skeppingswerk van God, die samehang van natuur en genade, die inwerking van die vloek oor die sondes wat rus op die aardse bedeling en die verlossende, wederbarende werk van Jesus Christus, as 'n eenheid van denke met die oog op die prediking van die geloof. Daarvolgens is die kwessie van gesag 'n Goddelike norm vir die kontinuëring van die menslike bestaan op aarde. Dit is Godself wat die norme daarvoor bepaal het, soos wat dit geopenbaar is in sy Woord.

Die Bybel verwys na die konkrete (sigbare en hoorbare) vergestalting van stam en taal en volk en nasie (Openb 5 9, 7:9, 10:11, 119, 13:7, 14:6). God se Woord verwys na die Goddelike plan tot verlossing van sondare en heil vir sy Kerk, sy volk, die uitverkorenes, volgens die Drieënige God se raadsbesluit (Dordtse Leerreëls, hfst 3&4, par 9-11). Die Skrif verbind die heil wat Hy bewerk aan die ontstaan en ontwikkelingsgang van volkere, om volgens sy wil oor die hele aarde te versprei. Die Nuwe-Testamentiese heilsbedeling sluit, met die opdrag om die evangelie aan die ganse mensdom te verkondig en dissipels van die nasies te maak (Matt 28:19; Mark 16:15; Hand 17:26-31), sonder uitsondering, al die volkere van die wêreld daarby in.

Ewenwel is die koninkryk van God geen aardse koninkryk nie. Dit mag nie sodanig vergelyk word nie. Juis daarom handel God se koningskap nie oor die direkte noodsaaklikheid tot verandering van die menslike maatskappystrukture nie. "Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie ... want die koninkryk van God is binne in julle (Luk 17:20).  Die koninkryk van God is primêr 'n proklamasie ten opsigte van God en sy diens (vgl Heid. Kat, V/A 123). Die Bybel is gerig op die eer van God, die "Soli Deo Gloria".

Die geregtigheid vir die samelewing waar die Bybel op wys, staan in die konteks van die volstrekte gehoorsaamheid aan God en sy gebooie. Daarby laat Godself, volgens Matt 5:45, ook die ruimte aan die nie-gelowiges in die samelewing, wat dus daarin tot uitdrukking behoort te kom, soos geen vervolging oor die ongeloof as sodanig nie. Die Skrif leer tewens om die lig so te laat skyn ... dat die goeie werke gesien sal word tot eer van die Vader in die hemele (Matt 5: 13-16). Dit mag nogtans (NGB, art 36) nie vertolk word as die goedkeuring en regverdiging van 'n multi-godsdiens- tolerante en/of godsdienslose staatsbeskouing nie. Vir die staatsorde besit "die ewige beginsels van God se Woord" genormeerde en standhoudende gesag.

Daarteenoor word tans - "hoe zijn de helden gevallen"!   - ook in Gereformeerde kringe 'n pluralistiese le-wenswyse as 'n Bybelse alternatief aanbeveel, "in die oortuiging dat so 'n samelewingsiening die mees gegronde hoop vir 'n vrye en verantwoordelike uitoefening van menseregte in die geheel-opset van al die Goddelik bepaalde instellings in die samelewing bied". Hierdie pluralistiese karakter van die samelewing kan die beste omskryf word as 'n feitlike aanvaarding en konkrete verwesenliking van die vryheid-, gelykheid- en broederskapstrewe van die Franse Rewolusie, met sy sogenaamde gelyke regte vir alle mense op elke plek van hul bestaan. Dat 'n relativering van die norme wat voorheen gesag gehad het en gehandhaaf is, hieruit voortspruit, blyk duidelik uit die volgende kwotasies (vry vertaal):

"Westerse samelewings dra al hoe meer 'n pluralistiese karakter, dit wil sê, hulle vertoon in toenemende maat 'n bonte geheel aan moraalopvattings en lewensoortuigings, waarby aan die individuele vryheid om volgens eie oortuiging te mag leef, steeds meer waarde toegeken word. Omdat egter mense met al die verskillende morele opvattings in vrede moet kan saamleef, het tegelyk die behoefte gegroei om saam te stem oor 'n aantal morele basisreëls en beginsels, wat vir die samelewing noodsaaklik is." (G Manenschijn)

"Ook al glo 'n mens wel aan 'n goddelike Skepper, wat aan die mens waardigheid en regte verleen, nogtans word algemeen gepoog om die regte, wat vir almal geld en wat almal behoort te erken, te regverdig en te begrond volgens argumente wat, so veel as moontlik, almal ongeag geloof of wëreldbeskouings, sal oortuig" (R.Veldhuis).

Om die saak van menseregte tot eenvoudige proporsie te herlei, kan dus gevra word: is dit uit God of is dit uit die mens? Spruit menseregte voort uit die wysheid van Bo? Is die wysheid van Bo kenbaar sonder die geopenbaarde Woord en Wet van God? Die Woord van die Here verwys na die wysheid van Bo, "die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid voorbeskik het tot ons heerlikheid" (1 Kor 2:7; vgl ook 1 Kor 3: 10-20; Heid Kat, Sond 3).

Die omstandighede dat ons tans onderwerp is aan 'n grondwet en regering wat "menseregte" as die grondslag van die samelewing aanvaar en toepas, veroorsaak die omkering van ons staatsbestel wat ervaar word in alle omstandighede van ons bestaan.

Dit raak die persoonlike lewe met wat jy mag/moet of nie mag/moet doen nie Dit raak die gesins- en familieverbande wat beperk word in die vrye uitoefening daarvan. Die gereformeerde grondgedagte van soewereiniteit in eie kring geld nie meer nie. Dit is onderwerp aan die oppergesag van die reg wat sy tentakels ook hieroor uitgestrek het. Die ouderlike gesag is nie meer slegs verantwoordelik aan God nie, maar ook aan die staat wat sy gesag opdwing volgens die verklaarde en algemeen aanvaarde regte van die mens.

Oor die onderwys is reeds genoeg geskryf dat die Bybels-Christelike karakter daarvan aangetas word, dat dit ook onderwerp is aan die beginsels van gelykheid van geloof, ras, klas en geslag. Die grondslag van die akte van menseregte is ook op hierdie terrein die norm wat tans staatkundige geldingskrag geniet.

Selfs die kerke is by die uitoefening van hulle diens en kerkregering in 'n mate reeds onderwerp aan die mensgerigte grondslag van die staat en daar word reeds voorspel dat, byvoorbeeld, wat as diskriminasie teen die vrou beskou word, dat hulle in die Afrikaanse Protestantse en Gereformeerde Kerke nie in die kerklike ampte mag dien nie, aan die grondslag van die liberale wetgewing gebind gaan word.

Die staat en samelewing is tans in sy bestaan en funksionering aan die handhawing en toepassing van menseregte onderwerp. Vir Christene beteken dit dat die gesag van die liberale wetgewing opgedwing word, dat hieraan 'n gesag verleen word wat bo die Woord van God verhef is.

Dit betref alle fasette van die bestaan. Daarom moet ernstig en diep daaroor besin word in hoeverre ons as Christen-Afrikaners ons hieraan kan onderwerp. Wat staan ons te doen? Kan ons hierdie prinsipiële grondslag van die Grondwet en die Staat aanvaar? Of is daar 'n alternatiewe pad wat die Here se Woord aan ons wys en voorskryf?