Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

KOMMENTAAR

LOERBROER

- REDAKSIONELE HOOFARTIKEL IN DIE HERVORMER, 15 OKTOBER 2001 -

Wat is ons houding teenoor Loerbroer (ofte wel 'Big Brother')? Party mense haat die program, ander is daaraan verslaaf. Dit wil tog lyk of die program ons met 'n paar moeilike vrae konfronteer. Het die vervaardigers van die program 'n morele verantwoordelikheid teenoor die publiek? Is dit moreel regverdigbaar om 'n groep mense bloot te stel aan onnatuurlike omstandighede? Is die program self moreel regverdigbaar of staan dit in die teken van 'n gemeenskap waar die vraag na reg en verkeerd nie meer gevra word nie?

Reg en verkeerd

'n Mens mag nooit vergeet dat elke mens 'n sedelike wese is nie. Dit is wesenlik deel van die mens om volgens bepaalde norme en waardes te leef. As iemand geen norme of waarde het nie, is hy of sy waarskynlik geestelik versteurd. So 'n persoon eindig gewoonlik in een of ander inrigting of in die tronk. Die punt is: Enige normale mens vra voortdurend, bewustelik of onbewustelik, na wat reg en verkeerd is.

Moraliteit en sedelikheid varieer van mens tot mens. Daar bestaan nie 'n standaard moraliteit nie, selfs nie onder Christene nie. Wat vir die een verkeerd is, is dikwels vir die ander nie verkeerd nie. Vir die een is dit verkeerd dat daar op Sondag besigheid gedoen en sport beoefen word, vir 'n ander is dit nie so erg nie. Vir die een is homoseksualiteit of saamwonery 'n gruwelike sonde, vir ander is dit 'n alternatiewe lewenstyl.

Die postmoderne tyd waarin ons leef, het opnuut 'n skeptisisme oor wat reg en verkeerd is na vore gebring. Ook dit is niks nuut nie - deur die geskiedenis is daar talle voorbeelde van mense en tye waar elkeen maar gemaak het soos hy wil,waar die standpunt ingeneem is dat daar nie regtig 'n vaste norm van reg en verkeerd is nie.

Amoralisme

Die ergste vorm van etiese skeptisisme is 'n amoralisme. Amoralisme is nie 'n anti-moralisme nie. Dit is nie 'n denksisteem waarin moraliteit beveg word nie. Dit is 'n denksisteem waar die vraag na reg en verkeerd gewoon net nie meer gevra word nie. Dit is wanneer moraliteit en etiese beginsels nie meer 'n probleem of ter sprake is nie.

Dit is net soos met ateïsme. As ateïsme tot sy verste gevoer word, is die vraag nie meer of God bestaan of nie - God is gewoon nie meer ter sprake nie.

Elke vorm van amoralisme of etiese skeptisisme is lynreg in stryd met die Christelike geloof. Vir Christene is daar 'n norm van reg en verkeerd - en dit is die Heilige Skrif.

Maar afgesien van die Skrif, is dit gewoon wesenlik deel van ons menswees om dinge as reg en verkeerd te beoordeel. Enige vorm van amoralisme is tegelykertyd 'n stuk ontmensliking wat plaasvind.

Die debat oor Loerbroer

In die debat oor Loerbroer (vergelyk in dié verband die artikels en briewe in die media) is dit nogal opvallend dat mense hoofsaaklik skryf oor die persoonlikhede van die mense wat in die huis in Randburg bly. Dit is selde dat iemand beswaar maak teen die drankmisbruik, naaktheid, Godslastering, vyandigheid en seksuele aggressie wat in die program na vore kom.

M-Net se standpunt is dat dit nie hulle verantwoordelikheid is om al hierdie dinge van mense weg te hou nie, net so min as wat hulle flieks met geweld, seks of Godslastering van mense weghou. Die kyker moet self besluit wat hy wil kyk. M-Net se belangrike oogmerk is om die 300 miljoen Rand wat aan Loerbroer spandeer word, te verhaal en 'n wins daarop te maak. Dit is nie hulle taak om die publiek te beskerm teen immorele optrede nie.

Die standpunt wat M-Net inneem, is die klassieke amorele standpunt. Moraliteit is nie ter sprake nie. Reg en verkeerd is nie die debatspunt nie. Dit word aan die individuele kyker oorgelaat. Die enigste punt wat ter sake is, is of programme geld maak.

Werklikheidtelevisie het gekom om te bly. Dit is uiters effektief omdat dit teer op mense se natuurlike nuuskierigheid en behoefte om oor ander mense te skinder. Net so het ander programme met geweldstonele, Godslastering en eksplisiete seks gekom om te bly, want dit verdien groot geld. Dat dit in die proses mense se waardesisteem vernietig en ons laat verval in 'n onmenslike amoralisme, is blykbaar nie ter sake nie.

Dit bring mee dat veral Chris-tenouers 'n enorme verantwoordelikheid het om hulle kinders te begelei wanneer hulle televisie kyk. As die mense in die Loerbroerhuis God se Naam misbruik, kaal loop, drank misbruik of wat ook al, skep dit die geleentheid om met hulle die noodsaaklike gesprek oor reg en ver-keerd aan die gang te sit. Op so 'n wyse kan ons weer 'n geslag opvoed wat tog sensitief is ten opsigte van wat reg en verkeerd is.

Net so 'n laaste gedagte. Volgens een van die produksieleiers van M-Net was daar 'n groot aandrang van die publiek dat die sogenaamde shower hour na die aand verskuif moet word, in pleks van in die oggend wanneer al die mense werk. Die rede vir die versoek is dat mense wil sien hoe die mense stort. Dit moet M-Net ter ere gegee word dat hulle die versoek geweier het, omdat dit die huismaats te veel sou blootstel. Maar illustreer dit nie iets van die sieklike gees wat onder mense heers nie? My ma het my geleer dat jy nie vir 'n meisie loer as sy stort nie. Skynbaar is daar mense wat geen morele probleem daarmee het nie. Is ons 'n nasie van skinderbekke en afloerders?