|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 6 November 2001
MEDIESE ETIEKDIE GEBED TYDENS SIEKTE EN GENESING
- DR MC DURAND -
Die Here Jesus Christus leer ons om tot ons Vader wat in die hemel is te bid (Matt 6:9; Luk 11:2)..Daar is verskeie redes waarom hierdie spesifieke aanhef van die gebed belangrik is by siekte en gesondheid.
Die uitverkiesende genade van God die Vader
Eers moet ons besef wat n groot genade dit is dat ons God, die Alhoë, mag aanroep as Vader. Dit is deur sy ewige uitverkiesende genade dat Hy ons Vader is (Deut 32:6; Jes 63:8; Jes 63:16; Jer 31:9; 2 Sam 7:14; Ps 103:13; Ef 1:5). Dit is deur die middelaarswerk van die Here Jesus Christus dat Hy onsVader is (Joh 20:17; Ef 1:3). Dit is deur die werking van die Heilige Gees wat ons tot Hom kan roep: Abba, Vader! (Gal 4: 6). God openbaar Homself as Vader en leer ons daardeur in watter verhouding Hy met sy gelowiges staan - ook tydens siekte en genesing.
Die versekering van liefde en sorg
Wanneer God ons leer dat Hy ons Vader is, verseker Hy ons van sy liefde, goedheid en versorging. Meer as ons aardse vaders, gee God aan die wat vir Hom bid goeie dinge (Matt 7:9-11; Sien ook: Ps 103:13 en Ps 68:6). As Vader is Hy ryk oor almal wat Hom aanroep (Rom 10:12). Hy is n beloner vir die wat Hom soek (Heb 11:6). God is immers almagtig, hoe moet ons al hierdie dinge verstaan? Gelowiges word tog siek. Gelowiges ken ook lyding. Is dít sy liefde? Is dít sy goedheid? Is dít sy versorging van die uitverkorenes? Dit is moeilike vrae. Die vrae is so moeilik net omdat ons dikwels so traag is om die antwoorde te wil vind. Ons moet maar berus met die seker kennis dat ons siektes en lyding wél deel van sy liefde, goedheid en versorging is. Is dit al? Moet ons berus met hierdie kennis en daarom maar vrede maak met die lyding, asof die lyding maar die natuurlike lot van sommige mense is? Ons bely wel dat ons gesondheid en siekte uit die hand van die Vader na ons toe kom (Sondag 10, HK), maar wat doen ons wanneer ons siek geword het?
Wat is die betekenis van siekte en lyding?
Indien ons dink aan die oorsprong van die lyding en die dood van die mens, sal ons nader aan n antwoord kom. Die ellende en die dood van die mens is tog die gevolg van die sonde. Siektes is die troepe van God. Hý stuur hulle uit en Hý roep hulle terug (Calvyn kommentaar van Luk 4:39). Maar hoekom roep God dan nie al sy troepe van ons weg nie? Waarom neem Hy nie die gevolge van die sonde van ons weg nie? Wat is die belangrikste: Die lyding van die mens, of die oorsaak van die lyding? Wat is die belangrikste: Die gevolge van die sonde, of die sonde self? Sal ons daarom by ons Vader slegs vir die verligting van lyding vra sonder dat ons nie terselfdertyd aan die oorsaak daarvan dink nie (Calvyn se kommentaar op Matt 9:2)? Deur die siekte leer ons dat God ons naby is. God die Vader is deur die siekte besig met ons, hier op aarde. Hy is besig om die las en die pyn wat die sonde ons bring van ons weg te neem. Hy is besig om ons van ons op-standige wil te genees. Daarom vra ons aan ons Vader eerstens om die vergewing van ons sondes. Hy is genadig en sal verhoor. Daar is sekerheid, daarom is daar ook 'n vaste vertroue.
Die eis van eerbied
Alhoewel ons deur die lyding verseker is van die Vader se liefdevolle nabyheid, word ons met die gebed: Onse Vader wat in die hemele is, herinner aan sy grootheid en majesteit. Wanneer ons van die Vader se nabyheid in siekte en gebed geleer het, leer ons nou van sy oneindige verhewenheid (Sien ook Jes 66:1). Die Vader herinner ons om nederig te wees. Indien ons nie nederig is nie, kan ons aan die hemelse Vader nie die eer gee wat Hom toekom nie. Om net aan God as ons Vader te dink mag ons in die versoeking bring om met n onheilige familiariteit tot Hom te nader. Om net aan God in die hemel te dink mag ons in die versoeking bring om afsydig tot Hom te wees. Die aanhef van die gebed los hierdie probleem op: Ons word deur die gebed van die Here van die Vader se genade sowel as van sy mag geleer.
Die Vader is almagtig.
Dit verseker ons dat God volkome beheer oor ons lyding het. Hy laat ons siek wees en Hy laat ons ook gesond word op sy tyd en niemand of niks anders nie. Uit eerbied vir ons hemelse Vader sal ons nie ons siekte of ons genesing aan enigiets in die skepping toeskryf nie (Vergelyk Rom 1:25). Ons sal met siddering die siekte sowel as die genesing uit die hand van die Vader aanneem, met die woorde: Wat wil U hê, Vader (vergelyk Hand 9:6)? Die antwoord op hierdie vraag is duidelik: Ons moet God as Vader liefhê en Hom dien met ons hele hart, siel en verstand (Matt 22:37; Mark 12:30; Luk 10:27; Heb 8:10; 10:16). As Vader wil Hy geëer en gevrees word (Lev 19:32; Mal 1:6; 3:16; sien ook Sondag 46, HK). Hy eis volledige onderwerping.
Die siekte het hierdie vraag vir ons miskien makliker gemaak. Maar netso maklik kan ons hierdie vraag tydens die genesing vergeet. Nie net moet ons tydens ons siekte vra na wat die wil van ons Vader daarmee is nie. Ons moet ook tydens ons genesing van die siekte vra na wat die wil van die Vader daarmee is. Indien die siekte dit makliker vir ons gemaak het om God se almag te leer ken en Hom te vrees, moet ons Sy almag en die vrees wat Hom toekom tog nie vergeet wanneer daar genesing kom nie.
Ons Vader is in die hemel.
Dit dui nie net op die omvang van mag van sy koninkryk nie. Dit dui ook om die aard van sy koninkryk. Sy koninkryk is van die hemel en strek tot op die aarde. Lyding en die verligting van lyding is die saak van die Vader in die hemel. Deur die siekte leer die Vader ons van die uiteindelike genesing. Die genesing na liggaam en siel. Die volkome verlossing van liggaam en siel. Wanneer ons siek word kyk ons op na ons Vader in die hemel om nie net te dink van Wie die siekte is nie, maar ook tot Wie die siekte roep. Deur die siekte leer ons Vader in die hemel ons hoe ons moet lewe tydens ons siekte en ook tydens genesing as Hy dit so beskik.