|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 6 November 2001
OPVOEDING EN ONDERWYSGESKIEDENIS EN AARDRYKSKUNDENUWE KURRIKULUM IN STAATSKOLE
''Mense kan leer en lees oor die foute van die verlede''
Alet Rademeyer berig hieroor in BEELD, Vrydag 19 Oktober, dat soos dit verwag kon word, die sillabus van geskiedenisonderwys oor 'n ander boeg gegooi gaan word, waarmee Christene en Boere-Afrikaners in die besonder, hulle onmoontlik mee kan versoen. In die toepassing daarvan sal dit die leerlinge, kinders van verbondsouers, al hoe meer vervreem van hul verlede wat geken en in ere gehou moet word. Doelgerigte eindeksamens sal lei tot 'n verpligting om die leerplan te bemeester en te vertolk in vraestelle. Dit vervreem die kinders van hulle ouers en voorgeslagte en bevorder die globalistiese een-węreldbeskouing en New Age religie. Soos die berig in BEELD verskyn het, bring ons dit onder die lesers se aandag.
Geskiedenis en aardrykskunde soos dit in die nasionale kurrikulum as deel van die leerarea sosiale wetenskappe uiteengesit word, sal leerlinge voortaan 'n meer verteenwoordigende beeld van sosiale strukture in die land gee.Volgens prof Billy Fraser, hoof van die departement onderwys en opleidingkunde aan die Universiteit van Pretoria, sal leerlinge te doen kry met ''aktuele aspekte waarmee die geskiedenis hom besig gehou het''.
Fraser het gesę baie mense gaan nie van die nuwe kurrikulum hou waarin ''hulle kan leer en lees oor die foute van die verlede'' nie. ''Maar dit is nodig sodat die foute nie herhaal word nie.''
Fraser waarsku dat net soos daar nou bewerings is dat 'n vak soos geskiedenis in die verlede ''eenogig'' aangebied is, dit weer kan gebeur. ''Geskiedenis is uiters subjektief en onderwysers gaan 'n groot taak hę om dit 'deursigtig' aan te bied.''
Die ander groot uitdaging is dat dit wat in die kurrikulum staan, moet ooreenstem met dit wat in die klasse aangebied word en in die leermateriaal is.
Mnr Nico Erasmus, departementshoof van geesteswetenskappe van die Hoërskool Menlopark in Pretoria, sę daar is positiewe ontwikkelings in die nuwe kurrikulum. Die geskiedenishandboeke van 1987 word steeds gebruik en word aangevul deur die onderwyser se eie aantekeninge. Hy sę hy is positief oor die verwagtings en uitkomste wat in die kurrikulum gestel word.
Hy het gesę graad 9's leer nou oor die Tweede Węreldoorlog, die Midde-Oosterse konflik, die VVO, die Anglo-Boere-oorlog en unie tot republiekwording. In die nuwe kurrikulum gaan met baie van dié geskiedenis weggedoen word.
Graad 9's gaan onder meer leer oor nasionalisme en identiteit in Suid-Afrika, apartheid en die teenstand daarteen, apartheid onder druk in die jare sewentig en tagtig, die węreld se reaksie op apartheid en die nuwe visie vir Suid-Afrika van 1990 tot 1999.
In die geskiedenis oor Afrika sal gefokus word op węreldkapitalisme, nuwe vorms van kolonialisme, die inligtingsera en MIV/vigs en Afrika.