Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Dit is nog nie die einde nie

SKRIFOORDENKING:
Doelgerigte stryd

AKTUEEL
Die terreuraanvalle op 11 September 2001

KERKLIKE JOERNAAL: 
Eredienste in Scottburgh

Klag van dwaalleer teen Prof Kruger gestop

NH Kerk besluit teen Skuldbelydenis oor Apartheid

Flitse uit APK se Sinode 2001

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommer oor Kurrikulum 2005

Geskiedenis en Aardrykskunde

Leon Wessels ereprofessor PU

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die saak van menseregte

PERSRUBRIEK: 
Kritiek op stellings in NG Kerkbode 

Die oppergesag van die Grondwet

"Big Brother" - slik

Prostitusie gewettig?

Kommentaar: 
Loerbroer

Gesprek met die lesers: 
Gesprek met die lesers 

MEDIESE ETIEK: 
Die gebed tydens siekte en genesing

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 5  No 6 November 2001

SKRIFOORDENKING

DOELGERIGTE STRYD

- DS LJ VAN DER MERWE - EM POSTMASBURG -

1 Sam 17 : 40 - 52

"Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.

"... So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie."                                                                                   1 Sam 17 : 45, 50

Die lewe is 'n stryd. 'n Stryd om die bestaan en voortbestaan. 'n Stryd teen die natuur, teen siekte en dood. 'n Stryd teen die duiwel en sy trawante, teen die wêreld, teen ons eie sondige self. 'n Stryd wat in hierdie lewe en op hierdie aarde nooit ophou nie.

In hierdie onophoudelike stryd kan ons nie verval in algemeenhede nie. Ons moet dié stryd doelgerig voer. In ons stryd teen die dorings en distels, die onkruid, die peste en die plae, teen die siekte en die dood, teen die duiwel, die wêreld en ons sondige self, moet ons op die man af sonder enige weifeling, vasberade optree. Soos Dawid toe hy die uitdaging van die reus Goliat weerstaan het.

Gekleed in sy eenvoudige herdersdrag, sy staf in die een hand en sy slingervel in die ander, het hy die gevegsterrein betree, Goliat tegemoet. Sy oog en sy hart was vasberade op die reus gerig. Daar was by hom geen sweem van aarseling, geen vrees en ook geen twyfel aangaande die uitslag van die geveg nie. Die geveg op lewe en dood het hy in die Naam van die HERE aangeknoop. Daarom was hy verseker van die oorwinning.

Ons beleef vandag 'n tyd waarin die satan alle magte teen die koninkryk van God en teen ons volk mobiliseer. Dit moet raakgesien en sy bedrywighede opgemerk word. Op alle terreine moet hy teengestaan word. Dit moet doelgerig gedoen word. Sonder om te weifel moet hy en sy handlangers bestry word. Die sonde in ons volkslewe, op maatskaplike gebied en in elkeen se eie lewens, moet met alle mag beveg word. En dan nie net verdedigend nie, asof met die rug teen die muur in die laaste vesting nie, maar aanvallend, met moed, durf en daadkrag in die Naam van die HERE.

Ons is antiteties ingeskakel in 'n meedoënlose stryd, 'n reuse worsteling: Ons is betrek in die oorlog van die satan teenoor die magte van die Christus. In die tema van hierdie oordenking het Goliat en Dawid dié oorlog verpersoonlik.

Vroeër, hier in ons vaderland, is Bybelse norme deur wetgewing gehandhaaf. Dit was alles pogings om in ons land 'n hoë sedelike peil onder ons mense te hê en te behou. Toe het ons veilig gevoel en beskermd geleef. Dit het egter veroorsaak dat ons in 'n sekere sin in ons stryd teen die kwaad ongeoefend geraak het. Daarenteen het ons oorgerus geraak.

Omdat ons vandag leef onder die dwingelandy van 'n vreemde ras wat onder ons kom woon het, mense wat ander uitgangspunte en lewensbeginsels as ons s'n huldig; omdat ander omstandighede ingetree het, en die samelewing al hoe meer goddeloos en verdorwe daar uitsien; omdat die wette wat ons so beskerm het, afgewater en herroep is, moet ons nou op onsself sonder hierdie beskermende wette, met die Woord van die Here in ons hart en hand, met God se hulp alleen, die kwaad bestry.

Ons mag nooit die pogings van die satan goedpraat, ondersteun of bevorder nie. Ons woorde en ons dade moet strook met die Bybelse norme. En hierdie norme moet ons inskerp by ons kinders. Met die oog daarop moet ons ons kinders vóórleef. Ons moet dié beginsels handhaaf in die praktyk van die lewe. Woorde wek maar voorbeelde trek.

Daar bestaan 'n wêreldbeweging wat daarop uit is om grense uit te wis. Daar word byvoorbeeld gepoog om 'n wêreldwye broederskap en 'n godsdienstige eenheid daar te stel. Maar hierdie gees van versmelting wat grense wil vervaag en laat verdwyn, is 'n anti-christelike gees. Want daar is maar net een God: die Vader, Seun en Heilige Gees! En daar is net een Middelaar tussen God en die mense: die mensgeworde Seun van God, ons Here Jesus Christus.

Ons roeping is om in dié opsig radi-kaal te wees. Ons moet die absolute teenstelling, die antitese, tussen die enige ware God en die afgode, tussen gelowiges en ongelowiges, tussen goed en kwaad stel. Ons moet die algehele, totale verskil tussen die diens van die Here en die heidense afgode proklameer. Ons sal openlik moet bely en daarby vasstaan dat die Here, ons God, die enigste Here is! Ons sal hierdie belydenis sonder enige voorbehoud moet uitleef. En, as die omstandighede dit vereis, sal ons bereid moet wees om daarvoor selfs te sterf.

So moet ons doelgerig stry. Ons moet praat en skryf en optree. Ons mag nie weifel nie. Ons moet ons roeping vasmaak. Ons moet die amp van gelowige ywerig en voluit beoefen.

Die Filistyne het in Dawid se tyd voor die dag gekom met 'n baasvegter, 'n magsfiguur. Aan die einde van die eeue sal alle satansmagte hulle konsentreer in een sentrale mag of menslike persoon, dié magsfiguur van alle tye, die antichris. Maar teenoor hom staan die groot Seun van Dawid, die Christus. Aan Hom is verleen alle mag in hemel en op aarde (vgl Matt 28:18; Openb 11:17). Hy sal hierdie Goliat, die reus van die laaste dae, vernietig. In beginsel het Hy dit reeds gedoen. Want toe Hy gekom het, het Hy doelgerig opgetree. As gevolg daarvan het dit Hom gebring na Golgota, na die kruis en in die dood. Daarmee het Hy oorwin. Hy het opgestaan en Hy leef! Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God vanwaar Hy regeer met Goddelike mag. En as Hy weerkom, sal Hy al sy en ons geestelike vyande in die verdoemenis stort. Maar vir sy volk, sy kinders, sal daar 'n ewige lente aanbreek as Hy hulle tuisbring in die stad van God (Openb 21:9 - 22:5)!

Daarom bestaan daar genoegsame rede om die stryd doelgerig aan te knoop en daarin tot die end te volhard. Die eindoorwinning is seker. Daarom moet ons sterk staan en die gespierde godsdiens van ons vadere met oortuiging bely en beoefen. Ons belydenis teenoor alle satansmagte moet wees: ''Ek kom na jou, ek staan teenoor jou, in die Naam van die HERE!'' In sy krag sal ons oorwin. Soos Dawid.

 

TWEEDE BEEN VAN WERKSWINKEL:

"VROUE IN KERK EN SAMELEWING"

POTCHEFSTROOM, 3 - 4 SEPTEMBER 2001 3 - 4 SEPTEMBER 2001

 

- DS BEN SMIT - BRITS-WES -

Na die eerste been van die werkswinkel wat groot reaksie en besware vanuit die Gereformeerde Kerke ontlok het, en selfs tot ‘n gesprek tussen die kuratore en prof Fika J van Rensburg gelei het, het 'n tweede deel van die werkswinkel op 3 en 4 September 2001, te Potchefstroom plaasgevind.

Pas na afloop van die openingsgeleentheid is die doel van die werkswinkel deur prof Fika van Rensburg verduidelik: Omdat daar volgens hom ‘n dooiepunt (impasse) in die kerklike gesprek oor die plek van die vrou bereik is, word gepoog om dit deur insette uit alle hoeke te verbreek. Inderdaad was daaromtrent dan ook van alle kante insette gelewer.

Die sprekers wat opgetree het en die temas van hulle aanbieding was die volgende:

Cilliers Breytenbach (Institute for Early Christianity and Antiquity, Humboldt-Universität zu Berlin) Relevant theoretical issues for constructing the status and role of women in Antiquity

Rolien Roos (Fakulteit Regte, PU vir CHO) The rights of women in South African Christian churches

Maretha Jacobs (Dept Nuwe Testament, UNISA) What difference can the sense feminist biblical scholars speak make in church and society?

Madipoane Masenya (Fakulteit Teologie, UNISA) Between two forms of authority: The Bible and African South African women’s experiences

Gerrie Snyman (Dept Ou Testament, UNISA) Narrative rationality, morality and readers’ identification

Johannes Vorster (Dept Nuwe Testament, UNISA) Hierarchy and the female recessive body in Early Christianity

Elna Mouton (Dept Ou en Nuwe Testament, Universiteit Stellenbosch  Reformed exegesis from within liminal spaces?

Louis Kruger (Praktiserende Advokaat, Bloemfontein)   Prejudice Against Woman in Christianity - Root Causes

Kathleen Boner (St Augustine’s Catholic College)  The status of women in the Catholic Church and its historical base

Laura Maleya (Ph D at PU vir CHO, van Kenya)  Feminism: Twists and Trends

Hans van Deventer (Fakulteit Teologie, PU vir CHO)  How to make the rough places plain - tradition and society and the role of women in the church

Pieter Botha (Dept Nuwe Testament UNISA)  The context of New Testament sexual morality

Athalya Brenner (Theology and Religious Studies, University of Amsterdam) Autobiographical criticism and Feminist Bible Criticism: "My" Song of Songs

Albert Thugwana and Koos Vorster (M-student, PU vir CHO Skool vir Kerkwetenskappe, PU vir CHO)   The status and role of women in African traditional religions

Douw Breed (Skool vir Bybelse Studies en Bybelse Tale, PU vir CHO; en Die Gereformeerde Kerk Waterkloofrand)   Voorskrifte vir betaamlike gedrag vir die vrou in 1 Timoteus 2: Vir die erediens of vir die huwelik?

Soos vanuit die lys van sprekers wat opgetree het, en ook met die oog op die vermelde temas verwag kon word, was stryd en radikaal uiteenlopende standpunte tussen Skrifkritiese en Skrifgetroue referente tydens die werkswinkel, kenmerkend. Die sterk verteenwoordiging vanuit die geledere van UNISA, lank reeds die broeiplek van Skrifkritiek, het ongelukkig die werkswinkel eensydig gemaak. Wanneer vanuit Gereformeerde kant beswaar teen Skrifkritiese standpunte en uitsprake gemaak is, is die verweer by geleentheid selfs geopper dat die onreg van ons land se verlede juis in Gereformeerdes se tradisionele (en volgens hulle uitgediende) gewortelde Skrifbeskouing geleë is.

Vir hierdie liberale "teoloë" is die Woord van God niks anders nie as ‘n antieke menslike geskrif, wat soos alle ander antieke geskrifte hanteer moet word. Die mening is selfs geopper dat teoloë nie bang moet wees om die Skrif op die tafel te plaas en te dissekteer langs die weg van historiese en literêre kritiek nie.

Verontrustend was die feit dat hierdie kritiese klanke ook vanuit die fakulteit teologie van die PU vir CHO opgeklink het. Meer spesifiek word verwys na kritiek gelewer deur mnr Hans van Deventer, wat (volgens die naamlys verstrek) verbonde aan die departement Ou Testament en blykbaar ‘n dosent in Bybelkunde aan die Vaaldriehoek-kampus van die PU vir CHO is. In die bespreking wat op een van die referate gevolg het, het hy "uit die kas geklim" en losgetrek met persoonlike standpunte wat skaars van dié van die UNISA teoloë onderskeibaar was.

‘n Opmerking deur een van die behoudende referente was, dat gesprekke en werkswinkels soos hierdie jou met die gevoel laat dat daar dambord op verskillende kleure gespeel word. In der waarheid is die vraag eintlik of ons nog op dieselfde bord speel. Want dit gaan in gesprekke soos dié oor standpunte wat so radikaal uiteenlopend en totaal onversoenbaar is, dat Skrifgetroue en Skrifkritiese teoloë eintlik niks meer vir mekaar te sê het nie.

In die lig van ‘n groot aantal behoudende teoloë se onttrekking van hierdie werkswinkel, laat dit mens onwillekeurig met die vraag: Is daar hoegenaamd nog sin en betekenis om op hierdie wyse ‘n platvorm te bied vir kettery van hierdie aard?

 

DIE NUWE (TT CLOETE-) PSALMBERYMING

-  DS JP COETZEE  -  (EM) PRETORIA-MEINTJESKOP   -

 

Psalmberyming behels vertaling, eksegese en woorkeuse

Oor die berymde Psalms wat in eredienste in gereformeerde kerke gebruik word, mag daar nie 'n ongeërgde houding bestaan nie.

Hierdie stelling kan verduidelik word deur die vergelyking van 'n psalm met 'n opera-aria. In die opera gaan dit oor musiek. Sy woorde en verhaal dien slegs om die pragmelodie te dra. Maar by Psalmgesang is die woorde en Bybelinhoud primêr en die melodie dien dié woorde en Skrifinhoud.

Psalms is oorspronklike gedigte in die taal wat as Bybelse Hebreeus bekend staan. Om Psalms in 'n ander taal te kan sing met die suiwere betekenis as die oorspronklike, is dit dus eerstens nodig om die Hebreeuse gedigte reg te vertaal. Dit is op sigself 'n formidabele taak. Onthou dat die digterlike taal van die Ou Testament grammaties en semanties (woordbetekenis) van byvoorbeeld die geskiedskrywing in Hebreeus verskil. Tog is daar nie verskil in die werkwoordvorme nie: die aktiewe vorm bly aktief, passief bly passief, die oorsaaklike vorm bly onveranderd hetsy iemand nou in Hebreeus 'n veldslag of 'n gedig beskryf. Die reëls vir sinsbou, ofte wel die sintaksis, verander ook nie. In 'n gedig is die onderwerp en voorwerp in 'n sin nie omruilbaar nie. Daarom is die vertaling wat psalmberyming voorafgaan so deurslaggewend.

Die Psalms is deel van God se Woord. Dit vorm deel van die Godsopenbaring. Daarom moet Skrifgetroue eksegese voorafgaan aan elke beryming van die psalms. Vir iemand wat nie die gesag en openbaringskarakter van die Bybel erken en bely nie, is bogenoemde van geen belang nie. Dit is vir so 'n psalmbewerker maar bloot van letterkundige belang. Dit maak dat gereformeerde belydende psalmsingers sorgvuldig sal moet oordeel oor wat tydens eredienste gesing word.

In die erediens behoort die ver-hewenheid wat in die aanbidding van God noodsaaklik is, tot uitdrukking te kom. Hierdie verhewenheid beteken sekerlik nie hoogdrawend-heid nie. Tog is woordkeuse van belang. So is dit byvoorbeeld onvanpas om in 'n beryming van psalms alledaagse woorde wat elkeen, ook ''die man op die straat'', verstaan en praat, te gebruik. Deesdae bestaan die neiging om eenvoud met platheid te verwar. Die Kerke van die reformasie het ook 'n historiese erfenis uit meer as een land en taal. Daarom is dit wys om moeilike Hebreeuse woorde te vertaal en daarna te berym met woorde wat deur die eeue heen 'n bepaalde betekenis in die kerke verkry het. Daarenteen is dit onwys en verskralend om met 'n beperkte woordeskat die psalmberymings te bewerk.

Beryming van Psalm 136

Die wyse waarop die Nasionale Sinode (GKSA 2000) se deputate vir psalmberyming hulle rapport aan die volgende Sinode (2003) voorberei, maak 'n kritiese ondersoek van die voorgestelde nuwe beryming deur TT Cloete en andere, tans reeds noodsaaklik.

Vertaling: Die Cloete-beryming is gebaseer op die 1983 vertaling van hierdie Psalm. Dit is trouens ook van toepassing op die beryming as geheel. Van 'n spesifiek eie vertaling deur die berymers is daar geen aanduiding nie.

In hierdie Psalm word 'n bepaalde vers as refrein gebruik. Ses-en-twintig keer: ''want sy goedertierenheid is in ewigheid'' (1933-53 vertaling). Elke refrein is gerig op die geheue. Hierdie refrein bevat onder andere die Hebreeuse woord ''gêsêd'' (spreek die g uit soos in die Afrikaanse woord ''gesels). Dit is 'n woord met 'n besonder ruim betekenis. Juis daarom is die woordkeuse by 'n vertaling van groot belang. Die 1933-53 vertaling van die Bybel volg die Nederlandse woord "goedertieren". Hierdie woordkeuse word deur die modernes veelal afgewys as 'n argaïsme of Nederlandisme. Tog is die woord nie vreemd aan Afrikaans nie. In die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) word die werkwoord "tier" met die betekenis van welig en geil wees, aangegee. Die Hebreeuse woord "gêsêd" het in hierdie psalmvers, volgens Koehler Baumgartner, Lexicon In Veteris Testamenti Libros (hierdie woordeboek is 'n standaardwerk) die betekenis van die oorvloedige goedheid van God in die verhouding tot sy volk. Dan is die gebruik van die woord "goedertieren" glad nie vergesog nie. Daarenteen laat dit jou nadink. Maar die Cloete-beryming volg die 1983 ver-taling en gebruik vir "gêsêd" die woord-jie "liefde". Sowel die 1983 vertaling as die beryming van Cloete is hier foutief. Die Ou Testament gebruik 'n ander woord vir "liefde". Verder moet in rekening gebring word dat "liefde" 'n begrip en emosie is wat mense ken en ervaar. Daarom moet, as dit oor die oorvloedige goedheid van God gaan, die verhewenheid van God bo die mens duidelik blyk.

Eksegeties staan dit vas dat hierdie psalm die verlossingsgeskiedenis van Israel besing. Dit word verwoord in die verse 10 tot 24. In die Heilige Skrif is hierdie heilsgeskiedenis meermale die begronding vir heilsverkondiging. Ons wys slegs op Psalm 105, en ook op Handelinge 7 waarin die rede van Stefanus beskryf is. Die vorm van Psalm 136 is sodanig dat dit as 'n beurtsang gesing kan word. Tog is dit nie die deurslaggewende by die verklaring, vertaling en beryming van dié Psalm nie. Die inleiding tot die Psalm, verse 1 tot 9 , besing die heilige deugde van God. Dit word in die slotvers herhaal. In die vertaling en/of beryming van die Psalm mag nie aan die heilshistoriese inhoud toegevoeg of iets weggelaat word nie.

Dit is betreurenswaardig dat die Cloete-beryming die heilshistoriese begronding wat hierdie bepaalde Psalm tipeer, nie goed weergee nie. In die oorspronklike teks word die geskiedskrywing begin met te verwys na die tiende plaag in Egipte. In die Cloete-beryming word dit nie eers genoem nie. Die oordeel van God, wat heilshistories deel is van die verlossing van Israel, kom nie ter sprake nie. As iemand hierdie Psalm vandag in Cloete se Afrikaans sing, kom die heil van God, wat in sy Woord meermale as oordeel en genade geopenbaar is, nie onder dié psalmsinger se aandag nie. Vir die huidige geslag sal die noem van hierdie weglating dalk as nie-wesenlik voorkom. Ons weet immers dat Israel ná die voltrekking van die tien plae uitgelei is. Maar dis 'n pragmatiese argument. Veral as mens na die Cloete-beryming in sy geheel kyk: Die totale historiese bou van die Psalm word in hierdie beryming gereduseer in die twee aanvangreëls van die verse 4, 5 en 6. So 'n reduksie is eksegeties nie verantwoordbaar nie.

So is ook sekere frases in die beryming eksegeties onjuis, byvoorbeeld in die refrein: "deur sy liefde onbeperk het hy wondere bewerk". Afgesien van die oneerbiedige kleinletter "hy" waarmee na God verwys word, is die bewering inhierdie refrein onjuis. God bewerk nie deur sy onbeperkte liefde wonders nie, maar wel deur sy Goddelike almag.

Vers 3 vermeld ook 'n dwaling: "Uit sy insig het ontstaan hemel, aarde, son en maan". Die oorspronklike Hebreeus leer dat God die son gemaak het met die doel om bedags te heers, en die maan en sterre in die nag. Dis juis God se skepping en skeppingsdoel wat in die grondteks beklemtoon is: "Wat die hemele met verstand gemaak het ... Wat die groot ligte gemaak het ... Die son om te heers oor die dag ... Die maan en die sterre om te heers oor die nag ..." (Ps 136: 5-9).

Die Cloete-beryming maak hiervan 'n soort kreatiewe evolusieleer, toegepas in 'n lekker-sê rympie. As hierdie psalmberyming in kerke gesing word, sal hierdie dwaalleer stelselmatig inslag vind en gelowiges op 'n dwaalpad lei.

Uiteraard ontstaan die vraag of hierdie psalmberyming ons nie terugvoer na die kerklike situasie van 1859 nie.

Poëtiese aspekte. Die berymings van Cloete word gekenmerk deur 'n botheid. Sy bewonderaars noem dit graag "gespierde poësie". Let byvoorbeeld hier op vers 1: "Loof die Here, Hy is goed, Hy die God wat ons behoed". Ons wys ook op byvoorbeeld Psalm 107: 1: "Loof God, Hy wat getrou is - hoe goed vir ons is Hy". In Afrikaans druk mens dit uit: Loof Hom, en nie "loof Hy nie". Van hierdie soort "gespierde poësie" kom oral in die beryming voor. Dit is 'n duidelike poging om rymwoorde te vind.

Mens moet ook billik teenoor die berymer wees. Hy moes so berym dat die huidige melodieë daarby gebruik kan word. Dié man moes modern dig, maar vir die gebruik van onder andere Geneefse melodieë. Afgesien van bostaande kritiek, is dit dalk een van die redes waarom hierdie beryming nie die slaagtoets kan deurstaan nie.

 

DIE NUWE LIEDBOEK VAN DIE KERK

JESUS CHRISTUS WEG UIT PSALMBERYMING

- DS DANIE HAASBROEK - PRETORIA -

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther teen 'n kerkdeur in Wittenberg (Duitsland) 95 stellings vasgespyker, waarmee hy beswaar teen wanpraktyke in die Rooms-Katolieke Kerk aangeteken het.

Op Hervormingsdag, Sondag 28 Oktober 2001, is die nuwe Liedboek van die Kerk deur die NG en NH Kerke offisieel in gebruik geneem.

Wat sy inhoudelike betref, moes daar in verband hiermee ook stellings teen 'n kerkdeur in Suid-Afrika vasgespyker word.

Eers moet ons billikheidshalwe erken dat daar wel goeie liedere in vervat is - as produk van jarelange werk. Met sekere van die gesange is daar geen fout te vind nie. Dit verskaf die vrymoedigheid vir dié kerke waar gesange tydens die eredienste gesing word, om dié te gebruik.

Dit blyk egter dat ten opsigte van die eerste deel van die Liedboek, naamlik die Psalmberyming, daar 'n groot probleem bestaan. Soos in die NAV (die 1983 Bybelvertaling) is daar ook in die Liedboek geen Messiaanse psalm te vind nie. Dis juis dié psalms wat die kruin van die Godsopenbaring vorm. Dit is die psalms waarin Jesus Christus besing word. Dis die grootste fout wat gemaak kon word, om die Messias uit die psalms weg te berym. Die volgende dien as voorbeelde:

PSALM 2:

In die teks van Psalm 2: 2 word Jesus as die Gesalfde beskryf. Die Hebreeuse woord hiervoor is Messias en in Grieks is dit Christus. Dat Jesus die Messias is, dui daarop dat God die Vader sy Seun van ewigheid af aangewys het en met die Heilige Gees gesalf en toegerus het tot 'n besondere taak, naamlik om Middelaar tusen God en die mense en ons Verlosser te wees. Hy sou van die hemel af na die aarde kom en 'n menslike gestalte aanneem (Jes 9: 5) om hierdie taak te volbring. Hy sou as die Regverdige vir ons sondes die skuld dra en sterf (Jes 53: 11). Deur die hoofletter van die woord Gesalfde te vervang met 'n klein letter word Jesus verdring en verval die geweldige tema van die Messiaanse verwagting in die Ou Testament. As gevolg hiervan open dit die pad van inter-geloof - naamlik dat die verlossing van sondes en menslike lyding en ellende deur enigiemand anders as Jesus Christus vervul kan word.

Voorts word Jesus in Psalm 2 ook besing as Koning (vers 6) en as Seun van God (verse 7 en 12). Ook dit is in die nuwe beryming met klein letters gespel!! (Vgl Matt 3: 17; Hand 4: 26, 13: 33; Heb 1: 5).

Psalm 45:

In hierdie Psalm word die Godheid van Jesus besing. Die Totius-beryming lui soos volg (vers 6):

U, Koning van so 'n ryksgebied,

het God met vreugdesalf oorgiet.

O God, u God, die maak U groot

bo elke vors en troongenoot.

Hierdie openbaring van die Godheid van Jesus Christus is in die TT Cloete-omdigting onherkenbaar. Hierdie Psalm, die verse 7 en 8, word in die Nuwe Testament, in Hebreërs 1: 8 en 9 na verwys. Dus is dit 'n bevestiging van wat in Psalm 45 geïnspireer en geopenbaar is.

Psalm 110:

Psalm 110: 1 verwys na 'n gesprek tussen die Vader en sy Seun. Dit dui op 'n gesprek wat in die voortyd, van ewigheid af, plaasgevind het. Hieruit kan afgelei word dat Jesus se ereposisie toe reeds bepaal was, en dat dit in die Ou Testamentiese tyd geopenbaar is. Psalm 110 lees in die 1933/53 Bybelvertaling soos volg: ''Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand ...''  Hierin kan ons waarneem dat Dawid in die beloofde Messias, in Jesus, geglo het en dat hy 'n baie sterk geloofsverhouding met Hom gehad het. Dit is waarom hy Jesus as ''my Here'' betitel het.

In die Nuwe Testament word dertien keer aangehaal uit Psalm 110. Dit bevestig weereens die profetiese verwysings van die Ou Testament wat in die nuwe Liedboek nie as sodanig besing word nie.

Om saam te vat:

In die Messiaanse Psalms vind ons die kruin van die Godsopenbaring. Hierin leer en lei die Bybel ons dat albei, die Vader en die Seun, Goddelike wesens in Een Persoon is, dat Elkeen Here is, dat die Vader sy Seun van ewigheid af verhoog en voorbestem het vir sy Goddelike amp en roeping as Middelaar.

Dat dit as hoogste waarheid uit die Skrif wegberym is, moet as 'n groot fout wat die Liedboek tipeer, beskou word. Daarom moet ernstig oor die gebruik daarvan besin word.

VRYMOEDIGHEID VIR DIE HANDHAWING VAN MESSIAANSE PSALMS

Die Godsopenbaring is betroubaar. Ook die Ou Testament is deur Jesus gegee en deur die Heilige Gees geïnspireer. Hy (die Christus) was van ewigheid af die Woord van God (Joh 1: 1, 14). Hy het deur die Heilige Gees Homself aan die profete en Bybelskrywers geopenbaar. Hieruit weet ons dat sowel in die Ou as in die Nuwe Testament dieselfde Outeur aanwesig was en dat gevolglik dieselfde evangelie in albei Testamente beskryf en aangebied is.

Voorts weet ons dat sekere Ou Testamentiese mense van Jesus se koms geweet en hom verwag het. Ook het Hy as die Boodskapper van God (in die gedaante van 'n Engel) in die Ou Testament aan bevoorregte persone verskyn. Hy het in die wolk- en vuurkolom voor die volk Israel in die woestyn op pad na die beloofde land uitgetrek en vir veertig jaar lank (nagenoeg 14 000 dae) hulle elke dag op sy besondere wyse van kos en water voorsien. Hoe kan daarenteen beweer word dat die Israeliete Hom nie geken het nie?

Dink ook aan die visioene waarin Hy, om enkele te noem, aan Hagar (Gen 16), Abraham (Gen 18) en Gideon (Rigters 6) verskyn het. By nadere ondersoek blyk dit dat die Joodse Messiasverwagting van die Ou Testament in die destydse wêreld selfs buite die volk Israel bekend was.

Voorts wys die belydenisskrifte (NGB, art 25, dat die seremonies en heenwysings van die Wet die betekenis van die voorafskaduwing van Christus se koms betref het. In Hom het hierdie seremonies en heenwysings hulle vervulling gevind. Daarom het die Ou Testamentiese mense reeds deel gehad aan Christus se verlossingswerk wat Hy met en deur sy lyding, dood en opstanding vervul het.

In Johannes 14: 6 sê Jesus: ''Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.'' Hierdie ''niemand'' het dus ook geldingskrag ten aansien van die mense in die Ou Testament. Hulle het dus die eretitels van Jesus in die Ou Testament en die Messiaanse Psalms herken en as deel van hulle tempelliturgie en later in hulle sinagoges aanvaar, verklaar en gebruik.

Dit is die konteks van die atmosfeer waarin die gelowige Ou Testamentiese mense gelewe het.

Koning Dawid het 'n sterk Messiaanse bekouing gehuldig. Die Heilige Gees het in hom gewoon (vgl Ps 51: 13). Hy het die komende Messias besing as sy Koning en God. Dit het in sy hart en in sy digwerke, wat as Psalms bekendstaan, vergestalting gevind. Deur die Heilige Gees gelei het hy dit verwoord in die rymvorm waarin dit aan ons oorgelewer is.

Na waarheid en getrouheid aan die Skrif behoort die Liedboek dus nie gebruik te word nie. Dit is 'n vorm van Bybelvertolking wat nie geoorloof is nie, Dit neem van die waarheid en profesieë weg (vgl Openb 22: 19): '' en dan sal God hulle deel wegneem uit die boek van die lewe ...''

 

'N NUWE KERK

- ARTIKEL DEUR PROF WJ SNYMAN, DIE KERKBLAD, JG 54, NO 1160. 7 SEPTEMBER 1951 -

In Mattheus 16:18 lees ons van die stigting van die Kerk van Christus. Dit is gegrond op die lyde en sterwe van Christus. Die Kerk van Christus omvat al die nasies (Matt 28:19; Gal 3:28; Kol 3:11). Dit word saamgebind deur die Heilige Gees (1 Kor 12:13; Ef 4:4). Die Kerk is bestem om eenmaal die aardryk te beërwe (Openb 21:2). Dit is wat ons glo aangaande die heilige, algemene, Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges.

Die individu gaan hier nie op in die gemeenskap soos in die nuwere stelsels, die Nasionaal-sosialisme of die Kommunisme nie. Op die belydenis van die Kerk volg immers die belydenis van die opstanding van die vlees en die ewige lewe.

Ewe min gaan in hierdie Kerk die verskillende volkere en nasies op in die gemeenskap van die mensheid. Hier is geen uiterlike opsmelting nie, maar innerlike saambinding deur een gesindheid, dié van Christus (Fil 2:5), en een burgerskap, 'n hemelse (Fil 3:20). Dit is die Kerk waarin ons geleer het om te glo.

Ons glo ook, dat ons Gereformeerde Kerk hiervan die suiwerste openbaring is, en geroep is om dit nog altyd meer hieraan te laat beantwoord.

Maar nou is daar blykbaar 'n nuwe kerk in konstruksie. Ook 'n wêreldkerk, wat die nasies van die wêreld omvat. Ook 'n fundament. Ook bestem om die aardryk te beërwe as woonplek.

Hierdie nuwe kerk dateer nie uit die eerste eeue, met die koms van Christus nie. Hy is ook nie die oprigter daarvan nie. Hierdie kerk het maar so pas ontstaan, na, en as produk van die Tweede Wêreldoorlog, al sou die voorgeskiedenis daarvan verder terugreik.

Die eerste fondamentsteen is gelê in 1946 op 'n konferensie van Christene en Jode te Oxford. Dit is ook gebaseer op lyde. Nie die soenlyde van Christus, wat versoen met God nie, maar op die lyde van die mensheid, en veral op die lyde van die Jodendom.

Die Jode het veral in die oorlog te veel te ly gehad. (Na bewering) het ses miljoen die prooi geword van weergalose rassehaat. In hierdie lyde van die mensdom het nie alleen Jood, heiden en Christen nie, maar ook Rooms-Katoliek en Protestant mekaar oor rassegedeeldheid heen en oor geloofsgedeeldheid heen gevind, nie as gelowiges nie, maar as mense.

Agter die rasseverskille en die geloofsverskille is die mens as mens weer ontdek. Hier is ook 'n geloofsband. Dit is die geloof in die mensheid buite en bo nasionale, rasse- en geloofsverskille. In hierdie geloof en op die "gemeenskap van lyde".

As fondament moet Katoliek, Protestant en Jood nou 'n vestingwerk bou wat nooit weer te gronde kan gaan nie. As ons Mattheus 16:18 hiernaas lê, dan moet ons vra: kan die bedoeling anders wees as 'n nuwe en miskien beter Kerk?

Die opbouing geskied ewe-eens deur prediking. Hier is dan ook 'n preekstoel, of liewer platform van "Priester", "Predikant" en "Rabbi". Die evangelie wat verkondig word is die evangelie van verdraagsaamheid. Wat afgebreek moet word, is godsdienstige en rasse-vooroordeel.

Alles word in diens gestel van hierdie prediking en propaganda: radio en bioskoop, geskrif en toneel, skool en universiteit. Veral die skool. Die kind moet veral daartoe opgevoed word. Die nuwere opvoeding bestaan dan veral daarin om godsdienstige en rassevooroordele, waarin al die leed en ellendes van die wêreld wortel, af te breek. So sal die wêreld van die toekoms gered word vir die kinders van God as 'n veilige woonplek.

Dus 'n wêreldkerk, op lyde gebaseer, met 'n toekomsverwagting, omvattend alle volkere, tale en nasies.

Dan verstaan ons die hartstogtelike prediking van rassegelykheid in ons tyd beter. Dit is nie net van Kommunistiese oorsprong nie. Dit ook wel. Maar die Kommunistiese propaganda het nou 'n bondgenoot, naamlik in die evangelie van die mens bo nasionale-, rasse- en godsdiensverskille.

Gelykstelling van rasse is slegs die een been van die driehoek: uitwissing van nasionale, rasse en godsdienstige verskille. Verskille op godsdienstige gebied is dan net so 'n groot euwel, miskien nog die ergste bron van haat. Inderdaad! Dit het ons gesien met die kruisiging van ons Here Jesus Christus. Trouens, rasseverskille loop dikwels saam met godsdienstige verskille. Die nasies van die wêreld is volksgewys gekersten. Die Westerse volkere het die Christendom aangeneem, die Oosterse nog nie. In Suid-Afrika val die rasselyn grotendeels saam met Christendom en heidendom. Maar dit moet weg - godsdienstige en rassevooroordele.

Twee kerke dan. Ons moet duidelik standpunt inneem.

Aan albei kan ons nie behoort nie. Ons moet kies tussen die Ou Kerk, wat alle volkere, tale en nasies omvat, ook rasse, maar saamgebind deur die Heilige Gees waardeur wel die teenstelling, maar nie die verskeidenheid wegval nie, en hierdie Nuwe Kerk, wat volkere, nasies en godsdienste, Jodendom en Christendom, Katolisisme en Protestantisme in naam van die Mensheid wil laat opgaan in 'n eenheid bo alle verskil.

Die Skrif leer ook aangaande die bestaan van 'n tweede kerk, juis in die laaste tye. Dit is ook gebaseer op lyde, naamlik dié van die dier wat van sy dodelike wond genees is (Openb 13:3). Hierin sal ook alle volkere, nasies en tale verenig wees (Openb 17:3); ook rykes en armes, vrymense en slawe (Openb 13:16). Dit sal ook opgebou word deur prediking (Openb 13:11); waarskynlik ook deur radio en bioskoop (Openb 13:14), en deur die skool (Openb 13:16). Die evangelie van verdraagsaamheid sal baie onverdraagsaam wees.

Daar sal tug wees in die vorm van "boikot" of "sanksies" (Openb 13:17). Die ou teenstellings van ras, nasie en godsdiens is dan wel opgelos in hierdie wêreldkerk. Maar 'n nuwe, skerper teenstelling het in die plek gekom, die Bruid van Christus en die Vrou op die Dier, Die ware teenoor 'n valse kerk.

In ons tyd verskyn hierdie eindverwikkelinge altyd duideliker aan die gesigseinder. Die gelowiges moet waaksaam wees, veral op die punt van "die onderwys en opvoeding van die jeug", Christelike-nasionale onderwys kry nuwe klem teenoor hierdie onderwys bo geloofs- en rasse- "vooroordeel". Kerk en skool is innig verwant.

 

GEZINA KRUGER  -  PRESIDENTSVROU BY UITNEMENDHEID

VOORDRAG GELEWER DEUR DS MECHIEL ADENDORFF OP 10 OKTOBER 2001 TYDENS KRUGERDAGVIERING, BY DIE OU BEGRAAFPLAAS/HELDE-AKKER TE PRETORIA

Hiermee wil ons eintlik aan God hulde bring vir die besondere voorbeeld van ‘n voortreflike huwelikslewe wat Paul Kruger en sy vrou aan die volk nagelaat het. In die proses gaan ons ander baie belangrike feite verby – feite wat luid roep om aandag, maar wat vanweë tyds- en ruimtegebrek eenkant gelaat word.

Paul Kruger was twee keer getroud. Hy is in 1842 getroud met Maria du Plessis, maar sy, én hulle baba, is in 1846 aan koors oorlede. In 1847 trou Paul Kruger met haar niggie, naamlik Gezina Suzanna Frederika Wilhelmina du Plessis. Die huwelik sou 54 jaar duur. Sy was vyf jaar jonger as Paul en het in hulle huwelikslewe geboorte gegee aan nege seuns en sewe dogters.

Johannes Meintjes beskryf haar in sy boek Presi-dent Paul Kruger as ‘n klein plompe vroutjie, sag, baie vroulik, vriendelik en gasvry. Sy was meestal stil en op die agtergrond met ‘n onselfsugtige liefde vir haar man. Uit hierdie beskrywing merk ons dat sy beskik het oor die voortreflikste versiering denkbaar soos deur die apostel Petrus voorgehou in sy eerste brief, hoofstuk 3: 4 - die onverganklike versiering van ‘n sagmoedige en stille gees wat baie kosbaar is voor God. Die luidrugtige afwesigheid van hierdie versiering het al die einde van meer as een huwelik beteken.

Vir haar man wat vanuit die aard van sy loopbaan dikwels met vele storms te doene gehad het, het sy steeds ‘n hawe van vrede tuis gebied. Hoe driftig hy ook al in sy toesprake en gesprekke na buite geraak het, was hy in haar teenwoordigheid ontspanne, en hy het haar altyd met die grootste teerheid en hoflikheid behandel.

Sy en die president het saans gewoonlik vroeg na bed gegaan, so teen nege uur, maar soggens het hulle baie vroeg opgestaan. In die presidentshuis te Pretoria het Paul Kruger dan baie vroeg reeds besoekers op die stoep ontvang, soms tot veertig, en tant Sanna het koffie en beskuit vir hulle aangebied. In die huis het daar die geur van koffie en gebak gehang, en sy was altyd besig met iets. Sy het selfs ‘n paar koeie agter op die werf van die huis in Kerkstraat aangehou. Niemand het haar ooit hoor kla nie. Moreel was sy net so sterk as die president, en sy het oor ‘n intuïtiewe begrip vir hom beskik.

Sy het soms ook vir mense wat haar genader het met besondere versoeke daartoe, as pleitbesorger by die president opgetree, en hy het dit altyd moeilik gevind om haar iets te weier.

Terwyl hulle nog op die plaas gewoon het, het sy dikwels tydens sy afwesigheid die boerdery behartig, wat onder meer ingesluit het suiker en koffieplantasies. Sy het haar besig gehou met die maak van kerse en seep en allerlei gebak, en uitstekende naaldwerk gedoen.

Gedurende die jaar 1881, terwyl die mans op kommando weg was, het ‘n gerug die rondte gedoen dat hoofman Maghato en sy stam gereedmaak om die vrouens aan te val. Vrouens en kinders van naburige plase het paniekbevange na die groot huis op Boekenhoutfontein gevlug, 40 in totaal. Die voorhoede van die swartes het skreeuend om die huis beweeg, vensters gebreek en die gordyne afgeruk. Die vrouens het by die vensters stelling ingeneem en met enige moontlike wapen verdedig. Boonop was ‘n kind van een van die buurvrouens tot die dood toe siek. Gezina Kruger het deurentyd alles en almal georganiseer. Op dié kritieke tyd bars daar toe ‘n storm los en in die geweldige reën kom die rivier af, sodat die volle mag van die stamhoof nie daardeur kon kom om die vrouens verder aan te val nie. Dit het geleentheid gebied aan Paul Kruger om huistoe te jaag en die saak te beredder. (Meintjes bl 112)

Sanna, of soos sy ook genoem is, Gezina, was ‘n barmhartige mens. As presidentsvrou het sy ‘n toelae van haar man ontvang, en daaruit het sy armes gehelp. Later, na haar man se vertrek na die buiteland, het sy selfs aan die vyandelike soldate wat haar huis bewaak het, verversings gestuur met die verantwoording dat jy volgens die Bybel ook jou vyande moet liefhê.

Tydens die Tweede Vryheidsoorlog het Nettie Eloff gewoonlik koerantberigte vir die ou president en sy vrou voorgelees. Gezina het dan haar medelye uitgespreek ten opsigte van al die slagoffers, ook aan vyandelike kant. Lede van die Krugerfamilie was landswyd op verskillende plekke in die oorlog betrokke. Terloops, die presidentspaar het toe reeds 120 kleinkinders gehad! By geleentheid is familie deur swartes vermoor, en Gezina het by haar man aangedring op ‘n onmiddellike strafekspedisie. Die president het geweier - sekerlik een van baie weinige kere - omdat hy vermoed het dat die moorde op Engelse aanstigting gepleeg is.

Namate die oorlog gevorder het, blyk dit noodsaaklik dat die president liefs uit Pretoria moes verskuif. Hy was reeds ‘n man van bykans 75 jaar, en kon nie meer aktief aan gevegte deelneem nie. Sou hy in die hande van die Engelse val, sou dit ‘n nekslag vir die Boere beteken.

Sanna was dikwels ongesteld en beweeg moeilik. Die president bekommer hom erg oor haar lot. Sy was te siek om te reis - volgens die dokter (Heymans) sou ‘n reis haar dood veroorsaak. (Meintjes bl. 241) Die president het geweet dat hy haar dalk nooit weer sal sien as hy haar agterlaat nie. Op aangrypende wyse skilder Anna M Louw in haar boek Die Groot Gryse die naderende afskeid (bl 268):

Byna ‘n week lank al luister hulle na die gedonder van kanonne in die rig-ting van Johannesburg. Dit kan nie swaarweer wees nie, dis Meimaand en die hemel vol rigtinglose wolkies. Tot die boodskap kom dat Johannesburg geval het, Pretoria word bedreig. Lord Roberts stuur ‘n blitskolonne om die spoor na Delagoabaai af te sny, maar eers sal hy darem by Louis Bo-tha, die nuwe kommandant-generaal, moet verbykom. En dié staatmaker sal glo vasstaan.

Nie dat hulle onvoorbereid is nie. Die spoorwa waarin die Uitvoerende Raad na Machadodorp sou uitwyk, is toegerus en staan gereed. Die presidentshuis is al dae aaneen ‘n byekorf met vlytiges wat beskuit in trommels pak, slope biltong kerf en velkomberse lug.

In dié dae soek hy dikwels vir Sannatjie op waar sy meestal alleen in haar sitkamer sit, omdat dogters, en kleindogters ook, alles uit haar hande vat om haar te laat rus, en tyd laat kry vir gedagtes.

Die Engelse, sê die koerante, het nou ‘n lugballon wat gedurig hoog in die lug is wanneer daar geveg word. Die Boere skiet op die goed maar, al sê party dis raak, sweef die goed maar gedurig in die lug. Bedags word daar met spieëls gewerk en snags is daar soekligte. Die Engelse gebruik gifbomme wat die gras geel maak en die mense vaak. En vroue wat wegvlug van die plase, word deur gewapende Kaffers gemolesteer.

"Waaraan werk jy, Moeder?" vra hy.

Sy buig haar kop dieper oor haar borduurwerk: "Kussingslope vir Alie." Sy wil gaan trou. "My hart breek", sê haar skouers. Maar hulle jok vir mekaar.

"Ou Man", sê sy, "jy sal mos nie te lank weg wees nie, nou het ek gedink …" ... "Moeder", sê hy, "aanstaande jaar wanneer die oorlog, as die Heer wil, verby is …"

Twee mense se harte breek nie op dieselfde oomblik nie, anders sou hulle vernietig word.

Tot sover Anna Louw.

Op die dag van die finale afskeid (29 Mei 1900) doen die president eers ‘n gebed saam met al sy familie wat kom groet het. Daarna neem hy sy vrou aan die hand en gaan kamer toe. Toe hulle weer verskyn, sy arm om haar skouers, sê sy: Dit is God se wil. My gebed is dat Hy jou sal bewaar. Paul Kruger druk haar teen hom aan, los haar en beskou haar aandagtig, swyend. Dan draai hy om en stap na die wagtende rytuig (landauer). Gezina gooi haar voorskoot oor haar gesig en verdwyn na agter.

Vir Paul Kruger was dit ‘n smartlike ervaring om Pretoria te verlaat, maar veel meer smarte het voorgelê. Hy het per trein na Machadodorp vertrek, wat kort na sy aankoms daar tot setel van die regering geproklameer is. Vanuit sy salonspoorwa behartig hy sy regeertaak. Vermetele Engelse proklamasies word met teenproklamasies bestry, en Boeremagte word bemoedig. Op 5 Junie het Lord Roberts Pretoria ingeneem. Ter wille van ‘n effens warmer klimaat verskuif Paul Kruger na Water-val-Onder waar hy twee maande lank in ‘n huis woon.

Mettertyd word dit duidelik dat die oormag van die Engelse te groot is, en op ‘n byeenkoms van lede van die Transvaalse en Vrystaatse regerings, saam met ‘n aantal Boere-offisiere, word besluit om die president na Europa af te vaardig om vir ‘n tydperk van ses maande die belange van die republieke te probeer bevorder. Paul Kruger vertrek na Lourenço Marques, waar hy tot sy teleurstelling feitlik as gevangene in die huis van die goewerneur aangehou word. Uiteindelik stel koningin Wilhelmina van Nederland ‘n oorlogskip Die Gelderland beskikbaar om die president na Europa te neem.

Ten spyte van vele eerbewyse deur baie mense op weg en ook in Europa, blyk die houding van die Franse en Duitse regerings te gereserveerd te wees om enige praktiese waarde vir die Boere te hê. Paul Kruger word in Den Haag ernstig siek, en na sy herstel gaan bly hy vir twee en ’n half maand in Utrecht, waartydens hy ‘n suksesvolle operasie aan sy oë ondergaan. Daarna gaan woon hy en sy gevolg vir agt maande te Hilversum, waar hy ‘n kabelgram ontvang dat sy vrou op 20 Julie 1901 oorlede is.

Paul Kruger het dit in daardie stadium nie geweet nie, maar haar dood is verhaas deur ‘n baie smartlike ervaring. Agt kleinkinders, siek aan masels en wanvoeding, is uit die Krugersdorpse Konsentrasiekamp, waar hulle moeder oorlede is, na Gezina gestuur. Binne nege dae het vyf van hierdie kinders gesterf. Twee weke later is Gezina self oorlede. Die Engelse het vir haar ‘n gepaste begrafnis gegee wat deur baie mense bygewoon is.

Paul Kruger het na die nuus van sy vrou se afsterwe hom weer in die Bybel verdiep. In ‘n weekblad De Amsterdammer verskyn ‘n tekening waarin die kunstenaar baie goeie insig in die karakter van die president toon. Die skets toon Kruger waar hy, nadat hy die tyding verneem het, met sy hoof op sy arm gestut, oor die Bybel buig en lees: Die HERE het gegee; en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!

Nog meer slae tref Kruger. Een van sy seuns sneuwel in die oorlog, en ‘n ander een, Tjaart, sterf op 30 September 1901 aan longontsteking. Eindelik sou hy ook in Europa van die vrede van Mei 1902 in Suid-Afrika verneem …

Van Hilversum het Paul Kruger op 11 Desember 1901 na Utrecht vertrek waar hy vir tien maande gewoon het. Later gaan woon hy en sy geselskap aan die Franse Riviera tot Mei 1903. Hy keer vir ‘n tyd lank terug na Hilversum, dan weer terug na die Riviera, en aan die begin van die somer in 1904 gaan woon hy in Clarens, Switserland, waar hy op 14 Julie van daardie jaar sterf.

Nog voor sy vertrek uit Pretoria het Gezina van dr. Heymans en sekretaris Bredell afsonderlik ‘n belofte verkry dat hulle die president sal terugbring na Pretoria, lewendig of dood. Die wens is dan ook uiteindelik vervul, en die plek waar ons vanmiddag staan, is getuie daarvan. Die grafte van twee Afrikaners wat in meer as een sin van die woord lewe, al het hulle gesterwe. Ons dank God vir hulle vroom lewenswandel.

 

''MY KERK IS MY KERK NIE MEER!''

- Die Treurlied van 'n Dopper -

Dit is die weeklag van 'n Dopper in die skemer van sy tydsbestaan.

My Kerk se eenheidstem in waarheidsleer en liturgie is verbabels in die geroesemoes van selflawaai. In die wysheid van onverstand en in die ''vernuwings''-deformasie wil elkeen nou sy eie mening lug asof dit die ware Evangelie is.

Die Nagmaal is nie meer soos Christus dit verorden het. Net 'n halwe waarheid bly van krag - die ander helfte geld nie meer. Die brood en wyn mag bly, ja - maar die wyse hoe Christus dit gedoen het en Paulus ons ook leer (1 Kor 11:25) van tafel - saam met beker - een as eenheidsdele van die groot geheel, het by ons 'n Ikabod geword asof strydig met die Woord van God.

Tyd is geld, so sê die mense mos, en ons mag dit nie vermors deur uit die banke op te staan en na 'n tafel heen te gaan. En God se beker kan, so sê die verwerpers van die Christusdaad, ons met vigs en smet besmeer en daarteen moet ons ons verweer.

Ons kan net sowel ons eie kelkies neem en daarmee kerktoe gaan - die kerk sal brood en wyn voorsien - en dan maar dadelik huiswaarts keer om daar in eie hoekie vasgekeer ons eie Nagmaalsfees te vier (solank dit nie aan tafel is) en onsself misleidend troos dat ons Skrifgehoorsaam is.

So moet Paulus dus maar kennis neem (en dit geld ook vir wie in die amp mag staan) dat sy eie siening outyds was en nie meer inpas by ons tyd.

My verstand staan stil - verstom oor die alwysheid van ons modernedom: Het ons vaders dan vir eeue lank in duisternis rondgetas, die Skrif se volle waarheid misgekyk en vergeefs gebid om die lig en leiding van die Gees - wyl hul, die geleerdes van ons tyd, op elke vraag 'n kitsklaar antwoord het?

Die Psalmgesang, die lied deur die Gees van God geïnspireer, wat die hele Bybel dek en heengryp na die ewigheid, is die hartklop van my kerk nie meer. En nou kom die mens met liedjies, selfgemaak, oneindig in getal, om te verbeter op wat die Gees ons gee en dink dat wat in eie oor welluidend klink, ook 'n ewigheidsoffer is. En baie van hierdie tuisgemaakte liedjies het die poorte van ons eie kerke al ingedring. En - dit leer die geskiedenis ons - as die Psalms in 'n Kerk verval, verval die Kerk in waarheidsleer.

En nou kom die sielsbenouingsvraag of die nuwe Psalm- herberymings wel die volle waarheid van die Woord sal dra met die ''vloekpsalms'' een en al volledig weergegee? Of sal dit maar hoofsaaklik gaan om 'n moderne saamgeflansde woordespel wat die diepste roersel van die siel nie raak en uiteindelik die Psalmdood in die Kerk kan wees? (So hoor ons reeds die doodsklok lui in van die herberymings wat tot ons kom).

Die Bybel is die Woord van God. Dit is 'n waarheid wat ewig vas bly staan as die fondament van ons Gereformeerde waarheidsleer. Want Paulus sê dan ook: die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Tim 3:16) en in Engels word gesê die Skrif is die asem Gods (NIV). Maar nou, nou is daar baie geleerdes wat beweer die Bybel bevat maar net die Woord van God - en daaraan kan getorring word. Hulself bepaal, na eie smaak, wat Woord van God is en wat nie.

Aan die fondamente van die Woord van God word in skrifkritiek gekloof, gekap, gekerwe. Van die krake het alreeds gekom in die 1983 se vertaling, waar God se Woord verander is om in te pas by mensesmaak. En hieraan het ons eie Kerk ook meegewerk en daaruit word gereeld gepreek.

As die fondamente ondergrawe word - al is die Kerk op rots gebou, soos ons Kerkembleem dit vergestalt - hoe kan die prediking dan nog waarheid bly?

Prediking, soos dit oor die radio tot ons kom, ook uit ons eie kerke, is soms skoon in woord en mooi van taal, selfs vol stories en verhaaltjies. Maar alles is so mensgerig dat die Woord van God skaars hoorbaar is - dit streel die oor maar mis die hart. Dit druk ook nie meer 'n spesifieke stelsel af soos dit in die verlede kenmerkend was.

Soms wonder ek of die Paulus-profesie (2 Tim 4:3,4),wat op kerkverval betrekking het en alles net om mensbehaging gaan, nie dalk in ons tyd ook verwerklik is?

Ons predikantgetalle groei voortdurend aan en tog bly ons Kerk se lidmaattalle taan. Die uitbreiding van die Koninkryk het by ons stagnant geraak. Duisende verlaat gereeld die Kerk terwyl nog massas in die niet verdwyn met baie gemeentes in 'n doodloopstraat.

Die vraag kom op - ek ken die antwoord nie - of dit nie is omdat baie predikante nie meer huisbesoek wil doen en die verdwaalde skaap verlore raak? Of is die gevaar nie dalk aktueel dat daar predikante is by wie dit meer om oorheersing as om bediening gaan en hul in hul eie waan selfs die gemeentes van Christus so na eie smaak wil ''vernuut'' asof hulself die mede-eienaars van Christus se gemeentes is! Ook dan word die uitbreiding van die Koninkryk stopgesit.

Of is dit omdat die prediking so leeg is aan die roepstem van die Woord van God - en eredienste vol van allerhande fieterjasies is dat so baie ongelowig word? Of is dit omdat baie van die kerkverlaters nie maar elders heen wil gaan om in die siel gevoed te word?

So klink my hartseer lied steeds voort, en hierin voel daar baie met my mee, dat in prediking en in lied, in liturgie en Sakrament, my Kerk nie meer my Kerk is nie.

Maar dank aan God vir sy genade ons betoon, dat daar in ons Kerk nog predikante is, al is hul die minderheid in getal, wat in hul hart nog Dopper is en nie verdwaald raak op die ''vernuwingsweg'', maar vir wie die erfenis van ons vaders (Ps 16:6) nog steeds ook mooi en kosbaar is.

Ds LS Kruger (em) Odendaalsrus

Johannesburg, Augustus 2001