|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 6 November 2001
PersrubriekDIE BYBEL EN CHRISTELIKE NORME EN WAARDES SPEEL GEEN ROL IN SA WETGEWING EN REGSPLEGING NIE! Op 2 Augustus vanjaar het regters TT Spoelstra en G Webster in die Pretoriase Hooggeregshof geoordeel dat dele van die Wet op Seksuele Oortredings ongrondwetlik is. Die implikasie van hierdie uitspraak is dat prostitusie nou in Suid-Afrika gedekriminaliseer is. Hierdie uitspraak moet egter nog deur die Grondwetlike Hof bekragtig word.PROSTITUSIE GEWETTIG?
- VOORBLADARTIKEL IN DIE HERVORMER, 1 SEPTEMBER 2001 -
Die uitspraak
Die uitspraak het gespruit uit 'n appèlsaak van 'n selferkende prostituut teen haar skuldigbevinding dat sy geld ontvang het in ruil vir onbehoorlike dade met 'n man. Haar verweer was dat die skuldigbevinding haar grondwetlike regte van vryheid, privaatheid, geslagsgelykheid en die reg om 'n inkomste te verdien, skend. Die regters het haar gelyk gegee.
Die regters het in hulle uitspraak gesê dat die Wet op Seksuele Oortredings gegrond is op 'n moraal en etiek wat nie in ooreenstemming is met die basiese beginsels van die grondwet nie.
Die regters het verder in hulle uitspraak verklaar dat seksuele dade tussen volwassenes as sodanig nie 'n misdaad is nie. Die feit dat iemand daarvoor vergoed word, maak dit ook nie 'n misdaad nie. Die regters het verder bevind dat dit ongegronde diskriminasie is dat die persoon wat geld ontvang vir seksuele dade, vervolg word, maar die een wat daarvoor betaal, nie vervolg word nie.
Die regters het verder bevind dat die bedryf van 'n bordeel steeds onwettig is, aangesien dit nie berus op iets wat tusen twee individuele plaasvind nie, maar 'n openbare besigheid is wat die hele gemeenskap raak.
Die Debat
Daar is die afgelope paar jaar heelwat debat gevoer oor dekriminalisering van prostitusie. Meeste van die regsgeleerdes het die standpunt ingeneem dat dit nie die hof se taak is om in sy uitsprake Bybelse beginsels toe te pas nie. Die hof kan net op een wyse uitsprake lewer, en dit is aan die hand van die oppergesag in Suid-Afrika, naamlik die grondwet.
Verder word die standpunt ingeneem dat geen seksuele daad tussen enige volwasse persone as 'n misdaad beskou kan word nie. Dit beteken dat ook homoseksuele omgang nie 'n misdaad is nie. Die mening word gehuldig dat dit nie die staat of die hof se taak is om moraliteit te bevorder nie, maar dat dit die taak van die kerk is.
Ander is van mening dat die saak nie so envoudig is nie. Daar is steeds lande wat beskou word as moderne demokrasieë, waar prostitusie in al sy vorme onwettig is en vervolg word. Talle owerhede aanvaar steeds die verantwoordelikheid om die openbare sedes en moraliteit te beskerm en te bevorder.
Navorsing het getoon dat die gemiddelde lewensverwagting van 'n prostituut ongeveer 34 jaar is. As gevolg van siektes, blootstelling, aanrandings en veral die gebruik van dwelmmiddels sterf talle prostitute op 'n baie vroeë ouderdom. Verder is prostitusie een van die belangrikste oorsake dat Vigs baie vinnig versprei. Indien die uitspraak van die hof gaan lei tot 'n toename in prostitusie, kan dit gebeur dat Vigs ook vinniger gaan versprei.
Vir maatskaplike werkers skep die uitspraak ook heelwat vrae. Kinders van 'n ma wat geld verdien deur prostitusie word dikwels van haar verwyder. Indien 'n ma op 'n wettige wyse inkomste verdien, op watter gronde kan kinders uit so 'n gesin (en ouderlike gesag) verwyder word?
Nog 'n voorbeeld
Indien die Regskommissie wat tans besig is met die opstel van konsepwetgewing in verband met seksmisdade die gedagtegang van regters Spoelstra en Webster volg, en sou die Grondwetlike Hof die uitspraak bekragtig, is die moontlikheid baie sterk dat die regering 'n nuwe wet sal aanvaar wat prostitusie geheel en al dekriminaliseer.
Indien die regering besluit om alle seksdade tussen volwassenes te dekriminaliseer, sal dit nog 'n voorbeeld wees van wette wat die afgelope tyd afgeskaf is wat 'n groot impak op die moraliteit van die Suid-Afrikaanse samelewing het.
Die afgelope jare is aborsie gewettig, die regte van homoseksuele erken, pornografie is gewettig en alle publikasiebeheer is afgeskaf. Daar is die afgelope tyd begin met 'n veldtog om sekere dwelms soos dagga te dekriminaliseer.
Die kerk in Suid-Afrika
Die uitspraak van die regters Spoelstra en Webster, asook die kommentaar van regsgeleerdes, maak dit baie duidelik dat die Bybel en Christelike norme en waardes geen rol in die Suid-Afrikaanse wetgewing en regspleging meer speel nie. Die regering raadpleeg nie die kerke wanneer nuwe wetgewing beplan word nie. Wanneer regters uitsprake maak, is hulle enigste norm die grondwet van Suid-Afrika - 'n wet wat in sigself volledig sekulêr is. Die kerke in Suid-Afrika sal in die toekoms toenemend gekonfronteer word met die werklikheid van 'n sekulêre staat wat geen waarde heg aan die kerk se standpunt nie.
Die kerke het die afgelope tyd dikwels uitsprake gelewer oor die moraliteitskrisis waarin Suid-Afrika verval het. Indien prostitusie volledig gewettig word, sal die krisis verder verdiep.