|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 5 No 6 November 2001
REDAKSIONEEL
Die ervaring van die laaste sewe weke wys opnuut dat die aarde, ten spyte van alle goedbedoelde (liberale) doelstellings, nooit in 'n oord van vrede en geluksaligheid omskep kan word nie. Daar is geen enkele menslike of bo-menslike poging, behalwe die herskeppende werk van Jesus Christus, wat dit kan bewerkstellig nie.Daar is baie vrae wat gestel en baie antwoorde wat gepubliseer is oor wat met die terreuraanslae in New York en Washington op 11 September gebeur het. Die sekulêre en kerklike pers is tot nou toe nie daaroor uitgepraat nie. Hierdie uitgawe van ons blad gaan ook nie daaraan verby nie. Maar ons staan in dit alles onwrikbaar vas in die geloof dat niks toevallig geskied nie. Die Here laat die Satan toe om die mense te verwar en die geloof van die Here se kinders te toets of dit eg en heg is. In wat gebeur het, herken ons die almagtige en alomteenwoordige God van die Ou-Testament as dié Een wat ook in die Nuwe Testament en tot vandag toe dieselfde is. Daarom is die terreur wat deur sataniese magte uitgeoefen word, vir ons nie van die grootste verskrikkings nie. Die heilshistoriese openbarings in die Ou en Nuwe Testament leer ons om daardie verskrikkings in God se waarheid en krag te trotseer.
Groter as dit is die onverskilligheid oor die leer en regering van die Here se Kerk. Menslik gesproke staar ons die onder-gang van die Christelike geloof tegemoet. Die sekulering van die kerk, die gelykstelling van alle godsdienste en die anti-christelike dwang wat die staat uitoefen, bevorder 'n liberale lewenspatroon wat ook binne die kerk aanvaarbaar gemaak word. Dit is nie slegs deur van sy lidmate nie maar, meer verleidelik, deur van dié teoloë, professore en predikante, wat nie Skrifgetrou die antitese handhaaf, leer en dit voorhou nie! Met die oog daarop die kritiese redaksie van ons blad. Elkeen se werk sal getoets word. So ook die arbeid wat ons verrig met die verskyning van ons blad. Mag dit bydra vir 'n reformatoriese koers binne die Kerk van Christus.