|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 6 November 2002
Aktueel
OKTOBER: MAAND VAN BESLISSENDE GEBEURE
- RADIO PRETORIA SE NUUSKOMMENTAAR, DINSDAG 1 OKTOBER 2002 -
O
ktober is moontlik die mooiste mooiste maand, maar Oktober is ook gevul met datums van geskiedkundige waarde veral rondom ons volk se stryd om selfbeskikking en onafhanklikheid.Op 10 Oktober herdenk ons die geboortedag in 1825 van die man wat meer as enigiemand anders in die geskiedenis van die Boerevolk simbool van ons heldedom geword het, Paul Kruger, president van De Zuid-Afrikaansche Republiek.
Daar is ook ander lotsbepalende datums in Oktober, veral in 1899. Op die sewende word die Britse troepe gelas om hulle vir die oorlog te mobiliseer. Op die negende, die dag voor sy verjaardag, bestel Kruger n ultimatum aan die Britse gesant in Pretoria. En op die elfde verklaar die Boererepublieke oorlog teen Brittanje.
Die heroïese stryd was ongelukkig ook die begin van die einde van die bestaan van die twee trotse republieke. Heelwat jare later, op 2 Oktober 1986 was daar ook n lotsbepalende besluit geneem toe die magtige Amerika sanksies teen Suid-Afrika ingestel het ter ondersteuning van terreur en rewolusie wat hy nou so ywerig wil beveg.
Ons staan midde in ons soveelste stryd om herwinning van ons verlore vryheid. Maar wat gaan die basis van daardie vryheid wees wanneer ons dit weer eendag kry. Dit is miskien gepas om hier aan die begin van Oktober n keer te kyk na enkele staatsbeginsels wat ons voorvaders as belangrik genoeg beskou het om voor te veg. Die beginsels is in die Transvaalse grondwet vervat. Want, soos Mazzini, een van die groot Europese nasionaliste van die negentiende eeu, dit uitgedruk het: God het met die geboorte van elke volk n eie roeping op sy wieg neergeskryf. Daardie eie aard en roeping is sy bestaans-rede; daarsonder sal n volk een of ander tyd ten gronde gaan.
Naas die republikeinse regeringsvorm staan vryheid en soewereine grondbesit hoog op die agenda. Artikels 2 tot 5 van die Grondwet van 1896 stel dit onder meer soos volg: Zy wil zich bij de beschaafde wereld als een onafhankelyke en vrye volk erkend en geëerbiedigd zien, en Het volk zoekt geen uitbreiding van grondgebied en wil die alleen volgens rechtvaardige beginsels wanneer het belang der Republiek de uitbreiding raadzaam maakt.
So anders as die Britse imperialisme waarteen die Boerevolk so lank geveg het. Maar ook: Het volk wil zyn grondgebied ongeschonden bezitten en in bezit houden.
In Artikels 8 en 11 word gepraat van die behoud van die volk se godsdienstige beginsels, van die nakoming van ooreenkomste, van die handhawing van orde, wet en reg en die onafhanklikheid van kerk en staat.
n Hoë prys word ook op geregtigheid voor die howe gestel.
Deur dit alles loop n goue draad van volkskap, want die grondwet is vir n volksrepubliek geskryf. In Oktober 2002 vind die eerste van n reeks volksbyeenkomste plaas wat ten doel het om uiteindelik uit te loop op n volksverteenwoordigende gesag. Dit mag voortydig klink, maar ons glo dit is raadsaam om nou reeds hierdie staatsbeginsels as grondslag neer te lê, want in hierdie beginsels lê standhoudenheid.
DOBBELKULTUUR
As oor sekulêre aangeleenthede besin word is daar tweërlei argumente wat saak maak. Dit betref in die eerste plek die prinsipiële, wat vir ons as die belangrikste beskou word. Maar daar is ook wel praktiese oorwegings wat aangevoer en in die diskussie betrek kan word. So het daar 'n redaksionele artikel in die dagblad BEELD, Donderdag 26 September 2002 (bl 14), verskyn waarin vandag se saak van die dobbelkultuur krities ontleed en prakties bevraagteken word. Sonder prinsipiële vereenselwiging met die algemene redaksie van Beeld, publiseer ons graag dié kritiek. Goeie redes bestaan waarom sekere organisasies bekommerd is oor die van 'n "dobbelsamelewing" nadat dit bekend geword het dat Suid-Afrika in November ook 'n daaglikse loterytrekking gaan instel.Eenvoudige sakebeginsels sê vir 'n mens dat die Nasionale Loteryraad nie dié daaglikse trekking sou goedkeur nie as die weeklikse Lottotrekkings nie 'n groot geldelike sukses was nie - vir die burokrasie wat die Lotto beheer. Suid-Afrikaners se versugting na rykdom het meegebring dat dobbelary binne 'n paar jaar gevorder het van een keer weekliks tot twee keer weekliks tot elke dag.
Die gevare wat 'n dobbelkultuur inhou, is baie. Veral in Suid-Afrika, waar miljoene mense brandarm is en letterlik nie kos het om te eet nie, is dit uiters gevaarlik om baie geld baie vinnig as geelwortel voor hul neus te hou.
Die ironie van dobbelary is dat dit nie die mense benadeel wat die geld het om weekliks 'n paar rand aan 'n kaartjie te bestee nie. Maar in Suid-Afrika werk sake 'n bietjie anders. Miljoene werklose mense verdien 'n paar rand deur los werkies te doen. Met daardie geld moet hulle dikwels gesinne onderhou. Wie kan sulke mense verkwalik as hulle swig voor die versoeking (wat nou daagliks voor hulle neuse geswaai gaan word) om hul paar rand eerder op 'n dobbelkaartjie uit te gee?
Dis die probleem met 'n dobbelkultuur. Die armstes van die armes vestig hulle hoop op 'n wins uit dobbelary - maar dikwels wen hulle week ná week geen sent nie.
As 'n dobbelkultuur eers gevestig is, heers dobbelary oor gesonde verstand. Pleks van kos koop of byvoorbeeld geld spaar om 'n klein onderneming op die been te bring wat later weer vir ander werk kan skep, word die beskikbare geld op dobbelkaartjies gewaag.
Daar is ook ander probleme met die hele dobbelopset in Suid-Afrika. In die laaste weke is al hoe meer indringende vrae gevra oor wie nou eintlik uit die hele dobbelopset ryk word. Ja, daar is 'n handjievol mense wat wen, maar waar gaan die miljarde heen wat Jan en alleman uitgee? En hoekom word pro rata so min van die geld wat geïn word, aan liefdadigheidsorganisasies gegee? ...
Die armes mag nie verder verarm word onder die dekmantel van welsyn wat daaruit voordeel gaan trek nie.
Die regering het ondertussen die daaglikse lottotrekking gekeer. Red-PvdK